Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 62

Saterdag 24 FEBRUARIE 2018 Lees Markus 1:14-15

Оглавление

Tyd vir die koninkryk

Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom” (v. 15).

Die Doper verdwyn van die toneel, sy padmakerwerk is voltooi. Die Een vir wie hy die pad geskraap het, tree nou op die voorgrond. Die tyd het aangebreek.

Dit sou ’n tyd word wat die wêreldgeskiedenis beïnvloed soos geen ander daarvoor of daarna nie. God se geliefde Seun sou mense en nasies se bestaan op ’n beslissende manier beïnvloed. Definieer en herdefinieer. Landsburgers sou ook koninkrykskinders word. Ontheemdes en ontworteldes sou erfgename word. En verloorders sou die grootste moontlike prys wen.

Dit alles was van die begin af Jesus se verkondigde en geleefde boodskap: Die tyd vir die koninkryk van God het aangebreek. ’n Genadetyd soos nooit tevore nie, sou die begunstigdes spoedig agterkom.

Maar nie almal sou dié tyd en dié koninkryk se betekenis begryp nie. Met hulle sou Jesus baie moeite doen. Hy sou hulle onder meer help deur stories te vertel wat só begin het: Met die koninkryk gaan dit soos met … (vgl. Matt 13:47; 25:1). Of: Die koninkryk kan vergelyk word met … (vgl. Matt 13:24; 18:23; Luk 13:18, 20).

Sonder uitsondering sou Hy die koninkryk van God se korreksie op die plaaslike koninkrykies aankondig en sommer ook aanbring. Hy sou sommige teregwys, ander troos en genees. Hy sou almal met ope arms uitnooi. Só sou Hy wys hoe tydig die koninkryk van God is en hoe genadig naby dit aan die koningskinders gekom het. As hulle dit maar net sou raaksien, dit aangryp en omhels.

____________________

Ook ék is ’n erfgenaam van u koninkryk, Here. Leer my om my erfenis te eer en gereeld te vra wat U wil hê ek daarmee moet doen.

Uit die beek 2018

Подняться наверх