Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 48

Saterdag 10 FEBRUARIE 2018 Lees Markus 1:32-39

Оглавление

Eenkantgebed

Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ’n eensame plek en daar gebid (v. 35).

Die nuus oor Petrus se skoonma se genesing het sonder twyfel vinnig en wyd versprei, en dit het die desperates nuwe moed gegee. Én ’n nuwe koers laat inslaan, reguit na die Geneser uit Nasaret.

Dit het ’n hele bedrywigheid tot gevolg gehad: Baie siekes, skryf Markus, is van allerhande kwale genees. En, soos ’n mens van Jesus sou verwag, is baie duiwels op hul plek gesit (vgl. v. 34).

Maar hierdie Geneser het ook sy eie behoeftes gehad, sou dit blyk. Daarom het Hy iewers in die voordag, toe dit nog donker was, die pad gevat en gaan bid. ’n Afgesonderde plek gaan soek, weg van die gedrang, die opgewondenheid, die verwagtings, en daar sy Vader se aangesig gaan soek.

God is oral en altyd te vind, maar sy kinders – klaarblyklik ook sy geliefde Seun, ten minste in die verhale wat oor sy aardse verblyf vertel word – het dit nodig om Hom in die stilte en in eensaamheid te gaan opsoek. Hulle wil te midde van die baie gesigte Hóm sien. Hom hoor tussen die gedruis van soveel stemme deur.

Jesus se volgelinge was onthuts om Hom op daardie eenkantplek te vind. “Almal soek U,” het hulle Hom laat verstaan (v. 37).

Hoe lank voordat hulle sou begryp dat God se kinders hul Vader se aangesig en stem nodiger het as enigiets anders? Sodat hulle nie sou vergeet hoe hulle voor sy ander kinders behoort te lyk en wat hulle alles in sy Naam vir hulle moet sê nie?

____________________

Here, ek kom skuil by U teen die elkedagse

gedrang. Kyk na my, praat met my. Ek het u woorde en u oë nodiger as brood.

Uit die beek 2018

Подняться наверх