Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 45

Woensdag 7 FEBRUARIE 2018 Lees Psalm 147:3-6

Оглавление

Berusting?

Die Here laat die hulpeloses weer opstaan … (v. 6).

Om te val is nie moeilik nie. Selfs ratse, superfikse atlete kry dit reg. Om dan te bly lê is doodeenvoudig. Dit vra geen verdere besluit nie, bloot berusting. Die stille aanvaarding van jou lot.

Die ding met bly lê nadat jy geval het, is dat dit met verloop van tyd ál moeiliker word om op te staan. Dat jy later aan dié situasie gewoond raak. Nog erger: dat jy begin dink dit hoort maar so. Daar is selfs dié wat vir hulle ’n lewe in hierdie vervalle posisie verbeel.

Hulle weet nie meer dat daar méér is nie, dat ’n lewe wat koponderstebo en terneergedruk geleef word, ’n “gestadigde dood” is – soos die ou formulier dit verwoord het. Hulle het vergeet dat ’n lewe bo die bestaansminimum jou ’n aptyt kan gee vir ’n selfs beter uitsig. Of dalk het hulle bloot moed opgegee. Gods water maar oor Gods akker laat loop.

Maar wie sal dit waag om te sê dat die Here enigiets maar net laat loop? Wie, wat oor ’n greintjie Godskennis beskik, sal kan beweer dat Hy bloot toekyk hoe sy kinders lê? Dat Hy willoos toelaat dat hulle vergaan?

Nee, Hy ken hulle. Hy weet alte goed dat hul hulpeloosheid uit ’n verslae gees ontspring en dat dit nie sal help om hulle met mooipraatjies, motiveringstoesprake of opruiende preke te probeer orent help nie.

Daarom buk Hy, die allerhoogste God, voor sy kinders en tel hulle op. Hoog, sodat hulle kan sien en hulle aan sy vergesigte vir hulle kan vergaap.

____________________

Here, wys my weer u plan vir my lewe, asseblief.

My klein wêreldjie maak my só benoud.

Uit die beek 2018

Подняться наверх