Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 49

Sondag 11 FEBRUARIE 2018 Lees 2 Konings 2:1-12

Оглавление

Soms ’n skouspel

Terwyl hulle gesels-gesels verder gegaan het, was daar skielik ’n wa van vuur … en Elia is in ’n stormwind op, die hemel in (v. 11).

“Die tyd het gekom dat die Here vir Elia … in die hemel sou opneem,” sê die 2 Koningsskrywer in vers 1. Wat ’n skouspel was dit nie! En byna net so fenomenaal soos dié gebeure was, so boeiend is die voorafgaande verhaal:

Die ou profeet se jong opvolger, Elisa, wil sy mentor nie ’n oomblik uit die oog verloor nie. Hy weet wat kom, en dalk is hy bang om alleen gelaat te word. Dalk is hy onseker oor wat ná Elia se vertrek met hom sal gebeur.

Daarom volg hy Elia tree vir tree, bestemming ná bestemming. Hy sweer: “So seker as die Here leef … ek sal u nie alleen laat gaan nie” (v. 2). Wanneer die ander profete hom met die feite oor Elia se weggaan konfronteer, ruk die jong Elisa hom op: “Moenie daaroor praat nie” (v. 3).

Alles sou uitloop op ’n laaste gesprek tussen die twee, en ’n laaste vraag van die ouer man: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen …?” (v. 9).

’n Dubbele deel van u gees! roep die jong man oorstelp uit (vgl. v. 9). Ek wil soveel as wat ek kan van u behou, as ek dan alleen moet verder gaan.

Ja, God se werke is soms skouspelagtig, en soms lyk dit doodgewoon. Maar Hy doen dit altyd ten bate van sy kinders. Soms is dit ’n ewige beloning, soms ’n eindelose troos. Elisa sou ten minste hieruit kon aflei dat hy nooit die profetepad alleen sou stap nie. Wel sonder ou vader Elia, ja, maar nooit sonder Vader God nie.

____________________

Here, ek het dit só nodig om u werke te sien.

Wys my! En troos my daarmee, asseblief.

Uit die beek 2018

Подняться наверх