Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 63
Sondag 25 FEBRUARIE 2018 Lees Genesis 17:1-7
ОглавлениеVerbintenis
“Dit is ’n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag” (v. 7).
Die Here se verbintenis met sy kinders berus nie op hul vroomheid of getrouheid of godsvrug nie. Hy is aan sy kinders verbind omdat Hy so sê. Omdat Hý hierdie verbintenis met hulle aangaan.
By Abraham was daar hieroor geen misverstand nie; hy het immers geweet wie hy is en waar hy vandaan kom. Hoe die Here hom geroep en aan hom ’n nuwe land en nuwe moontlikhede gegee het.
Veral, verál, het Abraham geweet wie die Here is. Wie Hy vir hom en sy mense is: die Toekomsmaker, die Hoopgewer.
En nou, te midde van hierdie dramatiese bevestiging van die Here se verbintenis aan hom en sy mense, het Hy boonop vir Abraham ’n nuwe naam gegee. ’n Hoorbare, herkenbare versekering van die verbintenis wat Hy, die grote God, met hierdie mens aangaan. Eenvoudig, nie waar nie? En ingrypend. Want wanneer Hy vir Abraham op sy nuwe naam roep, sal hierdie verbondskind sonder twyfel weet: Ek is Syne.
Hy hoef dus nie meer in die nuwe land te probeer naam maak nie; sy nuwe naam is aan hom gegee. Hy kan nou bloot vanuit hierdie sekerheid in sy nuwe toekoms gaan leef. En weet: Ek is onvervreembaar aan God verbind.
Hierdie geskiedenis bevry ook ons, die Abrahamskinders, van ons wanhopige probeerslae, al ons dapper pogings. Ons behoort aan Hom, Hy het ons aan Hom verbind. Hy het so gesê en so sal dit wees en bly. En watter Godskind sal dit waag om hieroor te stry?
____________________
Here, ek dra trots en dankbaar die naam wat U my gegee het.
Ek heet Kindjie. Dit is mos die naam waarop U my roep.