Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 4

Оглавление

Voorwoord

Uit die Beek is Afrikaans se oudste Bybeldagboek. Die eerste weergawe hiervan het reeds in 1925 verskyn, in Nederlands, en sedert 1927 staan dit as Uit de Beek bekend. Volgens sommige bronne is die naam ontleen aan Psalm 110 se laaste vers soos dit in die Nederlandse Statebybel lui: “Hij zal op den weg uit de beek drinken; daarom zal Hij het hoofd omhoog heffen.”

In 1929 is dié dagboek vir die eerste keer in Afrikaans gepubliseer, met die titel wat dit sedertdien dra. Hierdie publikasie het ’n baie spesiale verbintenis met die Van Wijk-familie. Ds AJ van Wijk was die eerste skrywer, en sy kleinseun, die bekende ds Attie van Wijk van Wellington, het die skryf hiervan die afgelope tien jaar waargeneem. Laasgenoemde het die prysenswaardige reggekry om lesers stelselmatig en gedissiplineerd deur die hele Bybel te begelei. Só het getroue Uit die Beek-lesers die afgelope klompie jare die Bybel van hoek tot kant deurgelees, en hulle kon saam met die skrywer nadink oor hoe hierdie Woord die lewe se elkedagse eise én oorwinnings belig.

Dit is my voorreg om Uit die Beek 2018 aan gelowiges te bied. Die daaglikse Skriflesings volg grootliks dié van die bekende leesrooster Revised Common Lectionary (RCL) se liturgiese Jaar B. En met die aanbreek van Advent, dié van Jaar C. Die RCL word wêreldwyd gebruik, ook met groot vrug en vreugde deur baie gemeentes in ons land.

My gebed is dat almal wat in tye soos dié ’n boek soos dié aanskaf en gebruik, elke dag die Woord se verkwikkende krag sal beleef. En hul kop oplig.

BAREND VOS

Warrenton, Augustus 2017

Uit die beek 2018

Подняться наверх