Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 12

Saterdag 6 JANUARIE 2018 Lees Jesaja 60:1-6

Оглавление

Die nuwe dag

Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring (v. 1).

Vir die vernielde stad het daar eensklaps uitkoms gekom, ’n belofte wat hom ’n nuwe asem gee. Kyk dan net, Jerusalem! Maak oop jou oë, en sien hoe jou kinders na jou toe kom, hoe jou rykdom vermeerder. Hoe die vergane glans uiteindelik na jou toe terugkeer.

En laat daar geen twyfel wees oor wie jou eertydse skade en skande omgekeer en jou weer ’n baken van hoop gemaak het nie: Dit is die Here en sy magtige teenwoordigheid. Dit is Hy wat die son weer laat opkom en ’n nuwe dag oor jou uitgeroep het.

Laat die nuwe hoop in Jerusalem dan dié boodskap bring, sodat God se kinders dit nooit sal vergeet nie: Daar is geen duisternis wat Hom kan oorweldig nie. Sy stem het die laaste sê. Donkernag sal altyd voor dagbreek swig.

En laat niemand verras wees oor die nuwe lig se aantrekkingskrag nie. Skyn dan ook oor hulle wat jou opsoek, die vriend en die vreemdeling, wanneer jou lewe ’n stralende getuienis van God se magtige teenwoordigheid word. Laat deel hulle in die warmte wat so mildelik jou deel geword het.

Verheug jou in hierdie voorreg, want waar Hy geëer word omdat Hy lig bring, en waar dié lig na ’n medemens se skemerte herlei word, daar is Hy tuis.

____________________

Lei ook my, vriendelike Lig, deur hierdie duisternis.

Skyn ook oor my, o magtige Teenwoordigheid,

dat ander ’n plek kan sien én vind by my.

Uit die beek 2018

Подняться наверх