Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 11

Vrydag 5 JANUARIE 2018 Lees Lukas 2:22-40

Оглавление

Kyk, hierdie Kindjie

Sy vader en moeder was verwonderd oor

die dinge wat van Hom gesê is (v. 33).

Reeds die skaapwagters het ’n vreemde verhaal by die Kindjie se geboortekrip vertel – kan jy jou indink: engele wat uit ’n oop hemel sing! En nou kom ’n ou man, ene Simeon van Jerusalem, boonop met ’n nuwe, salwende storie vorendag: Here, my oë het u verlossing gesien, ’n lig tot verligting van die nasies.

As hy maar daar opgehou het, ou Simeon … Maar eensklaps kry sy sagte lied ’n onheilspellende klank: oor val en opstanding, oor ’n teken wat weerspreek sal word. Van mense se gesindheid wat aan die lig sal kom en ’n swaard wat deur die moeder se siel sal gaan.

Dit was natuurlik die res van die waarheid, dit wat ons eeue later alte goed sou leer ken: Kersfees hou nie vir altyd nie. Die feesvrolikheid is net ’n deel van die werklikheid, en soms is dit ’n bitter klein deeltjie. Ons is gouer as wat ons gereken het weer terug in ’n wêreld vol onsimpatieke uitsprake en klipharde eise, en sonder musiek.

Ja-nee, ons word nie té lank toegelaat om ons bekommernisse te vergeet nie. Daar kom ’n tyd dat ons dit nie meer kan miskyk of probeer ontken nie.

Maar laat ons tog ook nie ons vermoë om verras te word prysgee nie. Te midde van die klipharde werklikhede wat ons elke dag bestorm, breek daar soms ’n onverwagte lig deur.

Verwonder jou dan aan God se helder goedheid, en baai jou gesig en lyf en siel in daardie Lig.

____________________

Here, U is ’n skynende werklikheid in my lewe. U oortref al my verwagtings.

Uit die beek 2018

Подняться наверх