Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 13

Sondag 7 JANUARIE 2018 Lees Jeremia 31:7-14

Оглавление

’n Tuiste

In trane sal hulle kom, met smeekgebede, maar Ek sal hulle lei … (v. 9).

Hy is die God vir die treurendes en smekendes, die blindes en kreupeles, vir dié wat sug in die pyne van verwagting en verydeling. Hy is die Here vir die bywoners en vreemdelinge, vir dié wat sukkel met die lewe en met hulleself. Hy weet hoe om trane af te vee.

Hy is ons God, omdat Hy ontwrigte en ontheemde mense soos ons by Hom laat tuis kom. Omdat Hy ons behandel asof ons buitengewoon is.

Dit is soos Hy is. Hy maak oorwinnaars van hulle wat nog nooit enigiets gewen het nie. Hy gee vryelik aan dié wat nooit gedink het hulle sal ooit iets ontvang nie. Hy vul dié wat nog net smagting geken het met sy goedheid. Hy weet hoe om oorvloedig uit te deel.

Hy is ons God, omdat Hy bevlekte en verskrikte mense soos ons vat soos ons is. Omdat Hy ons teen Hom vasdruk en ons nooit weer los nie.

Hy eis nie van ons om onberispelik koers te hou nie; Hy sal ons self lei tot waar Hy wil hê ons moet wees. Hy verwag nie van ons om kop omhoog alles en almal in die oë te kyk nie; Hy sal ons self aan die hand neem en ons leer om ons vrese te oorkom. Hy weet hoe om onvoorwaardelik lief te hê.

Hy is ons God, omdat Hy struikelende, dwalende mense soos ons leer om onbevange te dans.

____________________

Here, ons Here, ons het by U tuisgekom.

U het ons kom haal, U het ons diep uitgehaal.

U het van niets iéts gemaak. Ons loof U!

Uit die beek 2018

Подняться наверх