Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 20

Sondag 14 JANUARIE 2018 Lees 1 Samuel 3:1-10

Оглавление

God se stem

Die woord van die Here is in daardie tyd min gehoor … (v. 1).

Samuel het sy kleintyd in die kerk deurgebring. Só vertel die Bybelskrywer ons. Sy mentor – nie onverwags nie – was die ou priester daar, ene Eli. Maar, sug die skrywer, die Here se stem is in daardie tyd maar selde gehoor.

Dit is seker dié dat die ou priester niks vermoed het toe die seun na hom gehardloop kom met die storie oor ’n stem wat na hom geroep het nie. Selfs nie die tweede keer nie. Eers ná die derde roepslag lui daar ’n klokkie by die tempeldienaar en kan hy die regte raad aan die seun gee.

Tog vreemd dat die man wat van beter moes geweet het so horende doof was. Die skrywer verklap wel dat die ou man se oë swak geword het, maar klaarblyklik was die sig in sy geestesoë ook maar erg aangetas …

Die vraag is: Hoe gebeur dit dat God se stem skaars word, en feitlik onherkenbaar is wanneer dit wel (in die plek waar Hy aanbid word!) gehoor word? Is dit die priester se skuld? Is dit as gevolg van die manier waarop hy en sy kinders God se genadegawes misbruik het?

Die verhaal sê: Ja, dit is so. In hoofstuk 2 word God se oordeel oor Eli en sy huis uiteengesit, en die openbaring aan klein Samuel sou dit bevestig.

Sal dit dan vandag steeds so wees dat God se oordeel nie by die sogenaamde heidene en godloënaars begin nie, maar by die kerk se mense? By hulle wat van beter moet weet? Wat lankal moes agtergekom het dat God se stem stil geword het, ook daar waar hulle Hom aanbid?

____________________

Here, U moet tog nooit ophou om met u kerk te

praat nie. Skud ons wakker, laat ons luister!

Uit die beek 2018

Подняться наверх