Читать книгу Al die lieflike dade - Charl-Pierre Naudé - Страница 10
’n Dier se heldedaad
ОглавлениеEk praat hier
van ’n koningsdier,
’n beskermer van die gode
wat sy verskynings in ons huis
gemaak het op tabernakelkussings.
Dag en nag het hy die tuispoort bewaak
met ’n deurstuiter se leeuemoed.
Waar is jy nou,
klein kosmiese pluis?
Jy was ons profeet in ’n mandjie.
Allermins die geringste; jy was groter
as enigiets in die mites of die kunste.
Daardie dwergbedrieër,
sluiterspoed,
wat knipoog spot met die Duisternis
(ek praat van die gekalibreerde
aanskouingsdaad),
was my dié dag genadig,
en nou nog onthou ek presies wat ek gesien het:
Sy, droewige diertjiebaas wat eenkant staan
in ’n hoek van haar ommuurde binnetuin;
rougewaad druipend in stuiwende landsreën.
Die graf was gegrawe, die kissie het gewag
om neergelaat te word:
drie plat kerse in (geen vuurhoutjies nie);
’n hand vol klawers, speelballetjie,
en toegedraai in sy kombersie,
die lyk van haar kat.
(Ons katjie,
sy oë was so groot soos duikhorlosies
wanneer hy ontwaak …)
Ek is geen boer nie – God sy dank –
maar kniediep, sindsdien,
wel skoppensboer.
(Ook g’n graaf nie.)
Die plegtigheid is daardeur nie verhinder nie.
Die geniepsige verbygaan ook nie,
die swart huwelik van grond en lug –
ons dapper diertjie vooraan.
Ek sien hom nog: die pootjies wat hy uitstoot
van onder die doodsdeken
op sy flinke aanstap:
’n perd wat rem aan sy teuels, geharnas,
’n grimas op die bakkies, windbril op –
oë wat blind en wydoop staar.
Agter hom die wa
met ál ons dooies op. (Dit lyk mos na
iets uit Jeronimus Bosch!)
Al die half- en moeilik en onversadigbaar
beweenbares
doem skielik op die lyksvlot voor ons op.
En ons droefheid, die geesteswaters,
was onkeerbaar. (Miskien die slegte weer?)
’n Driekwart-vergetene onder my verwante
is skielik weer teenwoordig in ’n hand
wat van onder die gevallenes uitsteek;
my pa, my ma; háár pa en oupa en oom ook,
en iemand wat gesterf het in ’n droom.
Ook die niggie met floudood; en my eerste soen,
en die bode wat omgekantel het in ’n visioen.
Ons katjie is klein maar ’n baie sterk trekdier –
en álle smart sleep hy agter hom aan.
Die hart skeur oop, en dit reën!
Die dooies word runnikend aangesleep
uit die gate, in gordyne;
en geliefdes kom aan uit die laaie;
dit dra kleinode aan, gelukbringers, ontgane servetringe
en ’n vuurtjie wat blink in ’n amulet.
Self het ek aan al die blindes gedink
wat ek nooit as te nimmer in my lewe gesien het nie;
aan die onbemerkte kinders so plat soos koeverte,
en aan die lydingskennis van my morele waan.
En aan die dood. Selfs die dood.
O, aan die dood van ál die randgevalle
wat glimmer in my ooghoeke
as die hooikoors toeslaan.
Ons diertjie het toe opgestyg
nes die groot boeke voorspel –
soos ’n ongewone swaan.
Toe ons weer sien, het hy vleuels
wat Marc Chagall vir hom aangeverf het.
En die wa wat hy trek,
wat knars deur die voor- en kunsgeskiedenis,
en per ongeluk twee kleuters omgery het in Bruegel,
het toe die lugspoor gevat, al hoe ligter
belaai met pruike.
(Terloops, daar is plekke in die mantel van die hemel
wat net soos die aarde lyk –
dit kon ons hoor aan die brekende kruike.)
’n Rooi wiel het afgeval bo die horison
en ’n ton geweeg aan die Afrikaanse kant,
toe ’n streep getrek oor die uitspansel
waarin Louw se beiteltjie nou ’n verfkwas was.
Ons het net daar gestaan,
met ’n planeet in die bors
wat al hoe ligter word terwyl die donker sak.
Uiteindelik, soos mens kan verwag
van weerballonne, moes ons verneem ons katjie,
(en almal van julle, kamerverlaters met die verskoning
van sterfte), sal nooit weer terugkom nie.
Maar hoe verkeerd was ek nie!
Op ’n dag stap ek in
by ’n winkel en daar is hy, ons vurige
maanhaarheld uitgestal op ’n stukkie velt.
In ’n opgevryfde vlekkie son
het hy gebrul en geraas,
in die ovaal raampie
van ’n bronsborsspeld.