Читать книгу Al die lieflike dade - Charl-Pierre Naudé - Страница 15
Madonnas
ОглавлениеGeruime tyd reeds vind ek Madonnas interessant:
Die groot meesters wat so aan die teken gaan
aan die Moeder van die Verlosser, opvallend dierbaar.
Daar’s die Madonna-restaurant hier naby,
waaroor die vorige gedig ook te vertelle het.
Daar gaan sit ek soms en dink leedvermakerig
aan die Protestantse kerkvaders en hul armsaligheid,
vuurvreters wat nie ’n behoorlike pizza kon bak nie;
en ek kyk na die Madonna-afdrukke teen die muur.
En wat my opval moet tog vir die meesters ook
’n gewigtige saak gewees het, hoe om heiligheid te puur
uit die sinlikheid van sulke jongmeisiegesigte.
Die meisie moes lýk of sy onverpoos en eenduidig dink
aan die ligbaan van God met sy drie beroemde flitsligte.
Die bejaarde suurknolle op die markplein doen dít moeiteloos.
Hier is die jong moeder van Jesus, en sy wonder heimlik
of lourierblaartee, nee, bokhoringpoeier, die vrug sal teëhou.
En daar is sy weer: Kyk hoe oorvloedig haar gedagtes
agter die wildjagter aan dwaal, na waar sy pyle sweef.
G’n wonder nie in die middel van haar borskas pryk
’n deurboorde lewerpoedinghart wat lyk op ’n uterus.
Maar daar is wel ’n geval wat wys hoe goed
die eksperiment soms kon werk – die aangrypende Madonna
van Edvard Munch, haar hare dekadent swart en onbedek,
die kaal borste en die sensueel neergeslane,
nié opgehefte, ondeemoedige blik van die oë –
’n kindgeraamtetjie in die een hoek …
Het sy haar soms tot prostitusie gewend?
Wat is die kuns sonder reddeloosheid.
Hoe sónder skaamte is haar uitstraling,
die gebrandsteekte siel van haar skrale lyf,
en die onbevlekte ontvangenis daarvan.