Читать книгу Al die lieflike dade - Charl-Pierre Naudé - Страница 6

Voorwoord

Оглавление

(of: Hoe die mens ontstaan het, en toe die digkuns)

Deur gelykenisse

kom die mens en sy wêreld tot stand,

brei hy na buite uit:

eers hyself ín homself

(die voet lyk soos die hand);

daarna word die heinings in pale voortgeplant.

Die blinkertjies wat hy pis

om sy reis aan te dui, of in die bome hang

om sy perk af te merk,

weerspieël mekaar naderhand

soos ’n skool visse sigself:

Onmoontlik om te sê

waar die oorsprong lê.

Hier kom die wiel,

loshande,

soos die seisoene wat nooit ophou aanrol nie,

in vier kwarte opgedeel soos buurmanne

wat mekaar nodig het, en dus van die siel,

by verstek, ’n simbool is.

En die gode uit die bergstroom getap

en oorgeskink

in volkome ongelyke en klingelende emmers,

wel, dít was mos iets wat ’n verklaring kon bied

vir ongemaklike dinge.

Voortaan sou ’n kwatryn

volgens voorskrif van Bo

met let-ter-gre-pe ploeë,

en vier sye hê nes ’n dorpsplein.

En die tweeledige koeplet?

Dit was ’n bok wat nog sy horings het

maar hom darem kon gedra

en deeglik gehou het by die burgerwet.

Die ritmes

van opgediepte Romeinse teaters

het moeilik gerym

met “windmeulens”, “unie” en “bond”;

maar was tóg verstaanbaar:

Voeg maar net water by

en bak dit verdomp in die bietjie son.

Nóg later

het die reëlmaat en funksie van gedigte

(gewaande dryftuigies, of wel

strooibiljette-met-ballas)

verander toe dit na Afrika gekom het.

Siestog, ’n verskeepsding genaamd die villanelle –

výf seiltjies uit die Pentateug

en ’n vierflappige evangelie

wat sing aan die fokkemast;

God, alewig die getel! –

hoe berekend het die mensdom

oor die waters geloop, mens kon sweer

dit was geloof.

Die epos, ’n storiewa

wat in die ou dae die kosmand huis toe ge-jie-jie het,

was op die nuwe vasteland ’n stamelkas

wat bulkend op bergriwwe strand,

en moes van meet af aan opklink.

Wildernis, bosse, die onmeetlike …

Die strofes groei hier baie dig,

dis nie varings nie; natúúrlik word nie lu/-kráák af/-ge/-káp

nie! Wa-

wag. Lyk my hier’s ’n bietjie deurgetraptheid, ja-

ja: ’n paadjie

en pale daarlangs geplant

met maskers op wat grinnik. Goddank,

’n ooptetjie en,

jou werklikwaar (gerugte van gehoor),

die gevaarlike stank: ’n giftige, vleisetende,

lieflike

inheemsblom,

en wat is dit wat daar uitsteek – bo die kroonfrille –

voorwaar …

my eie kop

Al die lieflike dade

Подняться наверх