Читать книгу Al die lieflike dade - Charl-Pierre Naudé - Страница 13

Meermin

Оглавление

Onthou, alle onthou, is ’n geestesreis.

Dis “binneland infoeter, circa 1840”.

Maar só verskil ons rekonstruksies:

Osse, waens, kom as ’t ware agteruit

oor die Drakensberg van die ander kant af;

voortrekkers, soos Naudé, wat op sy kruitvat sit

en terugwaarts bespied tot teenaan die see.

(En só het die ou weidolers, buite weste

nes inboorlinge, die mooiste Kaap

mos uiteindelik bereik,

van die eie juk se vervloeking verlos.)

Maar laat ek u nie opsaal met die kronieke

van geheue of die feilbare meganika daarvan nie.

Groot, in die ou dae, was afstande –

wat my laat dink aan ’n poskaart van my pa

met Kopenhagen se meermin daarop,

aan sy kindertjies gestuur, op sy oorsese vaart.

Ontvang 1967. Durban.

Mamma het vir ons die fabel toe voorgelees,

met iets van ’n soel weeïgheid daarin.

Ek onthou hoe ek die treurigheid voel roer

maar nog geen duit daarvan verstaan het nie.

Onthou mens agteruit – of vorentoe?

Ná jare, uiteindelik, net nou die dag,

kry ek die meermin van Kopenhagen

eieogig te sien,

waaroor pa so hartstogtelik uitgewei het.

Die kleure van sy poskaart het nooit verdof nie

danksy, uiteraard, dié vaslegging ter plaatse.

En daar staan ek op die kaai, in my pa se ou skoene.

Sy vingers ruik na ink

en hy dink aan die matrose wat hier moes verdrink het.

Net links van hom ’n handjievol toeriste

uit vreemde lande,

op die gevaarlike plek vergader.

Die lug is skerp en die standbeeld sit

– amper binne reikwydte –

weemoedig op haar klip in die water,

’n kuit wat langs ’n skeen invou

en saamsmelt tot ’n vin.

Weens verweer, word gesê, vervaag sy effe.

Tyd is altyd min.

Verbaas onthou ek

hoe onimposant en klein die ou beeldjie is,

en tog die piëtisme wat omstanders openbaar het,

hoe beurte gemaak word om kiekies te neem

sodat die flitse nie inskyn op mekaar nie.

Ek wou as kind my hand

(verbeel ek by terugskoue)

na haar uithou, die ongelukkige nimf –

die vae geur van wee en die sensuele,

maar die seestraat wat ons skei, was onoorbrugbaar.

Sy was ’n skone vis wat ook vroumens is,

maar nóg in water, nóg op land kan woon.

Het sy my ook jammer gekry?

Die daglig het nou steil getaan.

My vrou,

die bontbaadjie van ’n kameradier,

het vir oulaas rondgestaan.

Die laaste skywe spieëllig het hulself helderder omskryf

om die monument,

en toe het die pelgrims, steeds onbegrypend,

uiteengegaan.

Al die lieflike dade

Подняться наверх