Читать книгу Al die lieflike dade - Charl-Pierre Naudé - Страница 16
Die meisie wat “Montesquieu” nie kon spel nie
ОглавлениеMontesquieu (Franse denker uit die agtiende eeu)
het behoorlik die aap uit die mou gelaat
in die geskiedenisklas op hoërskool.
Ek sien nou nog hoe smoorkwaad die bonkige onderwyser
sy stok vir die vensterwasser swaai en hom toesnou
dat hy nie “Montésk” kan spel nie “en so dom soos ’n kluit is” –
terwyl die verskrikte man buitekant niks daarvan uitmaak nie.
Montesquieu – wat die waardes van die edellui as meer-as-
net-koekvretery verduidelik het, en hulle geskets het
as deugdevrate wat net verbysterd kan staan
oor die gepeupel se laelak-poginkies tot hoogspringery –
was ’n sluisdeur tussen stygende waters:
eer, ’n onderskeiding; en die gemeenplaas regverdigheid.
“Kán jý Montesk spel, meisiekind?” eis die onnie van die nuweling.
“Nee, Meneer,” en sy skud van skuheid vuurvliegies uit haar hare.
Keer op keer het sy gespel – Montesquieu – maar gáns verkeerd:
’n profane ster, sowel as blondine, aan my hemeltrans.
Tot vandag toe
laat sy my iets van die rewolusiedenker verstaan:
dat skone dade en goeies nié dieselfde is nie.
(Hoewel dít nie sou verhoed dat Montesquieu self
in die olie-en-waterkolk wat Suid-Afrika is,
verdwyn nie –
hy wat uitnemendheid en regverdigheid wou versoen.)
Sy was beeldskoon, maar kommin in die oë van die ander meisies
wat, hoe sal ’n mens sê, ’n bietjie bourgeois was vir haar.
Eintlik was húlle die gemene deler
en sy, fyn verstotene uit ’n spoorwegbuurt, die edele een.
Van onder haar kuif het sy woordloos ’n verdrag
met my – ’n swak plek in die landsbolwerk – gesluit,
een laatmiddag ná tennis toe sy laat weet het
sy wil my iets in die SkeiNatkamer gaan wys.
Daar, in ’n magsgreep van skoonste afmetinge,
het sy skaam-glimlaggend maar doelgerig
’n stukkie kant deur haar oefenjurk se een mou getrek
en haar skoolmeisiebra met die toegeswolle oë
langs ons op die tafel neergesit om aan te hou asemhaal
in ’n sylangse eksperiment – die aanloop
tot groter kennisspronge – en haar hals vir my oopgetrek
om vinnig te kan inkyk.
Ek het al gehoor van dié gladde apies met die wakkerbly-oë
wat styf teen ’n meisie se bolyf hou, ’n sysagte spesie ongelooflik
gewild
in die menslike sirkus, en immergereed vir die hoogste sport.
Wat my bygebly het daarna was nié “Dis al” van Celliers nie.
(Dit ook, en haar deemoed in die oomblik van heerskappy.)
Miskien was ek verleë, want in my kop het dit bly zoem:
Monteskee! Monteskee!
soos apies wat skree,
dae en weke en maande aaneen,
uit die woude van Madagaskar, die Ama-tydsones
van geel en groen politieke klimate,
die vryheidskreet van die glansvelprimaat.
En, o,
daar is niks – gooi maar ín die handdoek! –
wat daardie kennisdraende “Swazi’s”, die bourgeoisie,
sal kan doen om dit te keer nie.