Читать книгу Al die lieflike dade - Charl-Pierre Naudé - Страница 12
Baksteenboek
ОглавлениеKoffietafelboeke.
Wat ’n lomp affêre!
Is ’n koffietafelboek ’n boek,
of die ding self waaroor dit gaan?
(Ter illustrasie, die ene oor natuurrampe:
Stamp jy aan sy tafeltjie
is die momentum van die publikasie
’n katastrofe in die kleine.)
Beskou hierdie geval:
My vrou het op haar rusbank
aan die slaap geraak met haar geliefde sierboek
oor bouwerk met bakstene
(’n historiese relaas) oor haar bolyf oopgetrek.
Sy klem nog aan die rande, lieweling;
kyk die swaar skutblaaie
wat oploop na ’n nok soos ’n sarkofaag se deksel.
Ek staan net en staar, daar’s tog iets gewyds aan
(benewens die oorhang van die hakskene).
Liefs die TV afskakel
(’n program oor honde wat aanhou blaf …)
Bricks, A World History. Volkleur:
Die bakstene op die omslag pak haar toe soos … ja, ’n kwilt,
so ek wil nie onnodig steur nie.
Ek kyk menigmaal na haar, hoe sy blaai deur haar boek
oor die klipharde strukture,
kwaad-ongelukkig en soekend na haarself –
miskien na ’n opening,
vir my en haar, om deur te stap.
As mens bou, moet dit darem wees
met die oog op landskap.
En ek het dikwels al gewonder
oor die muur wat sag vertoon in ’n stroompie,
of die baksteenmausoleum wat deure opdroom
vir oopgooi elke somer.
O, die fresko’s
wat nie voor die wandelaar kom staan
en hom blokkeer nie, maar hom eerder
inroep na die lieflike verdwynpunt;
of daardie kobaltblou moskee, glansend
soos plate water vir die tweedimensionele oog,
en ná die versaking mos betrek deur flaminke …
Baksteen moet kan meegee,
moet gerus kan wegsink.
Dis ’n saak van geloof.
’n Mens moet op bakstene kan loop
wanneer jy weg van die grond is.
Alle mense is Petrusse, Galileërs op die lugmere,
atmosfeerpelgrims
wat op- en afklim
met trappe van vergelyking.
Sy slaap. Hoe rustig slaap sy nou.
So dikwels bieg sy
wat sy wil hê is vastigheid.
Maar vir geloof om geloof te wees
moet bakstene kan sug.
’n Glipsie, so aanneemlik:
Die baksteenboek gly uit haar ontdooiende hande
en ek vang dit met ligte hande
voor dit op die vloer val.
Ál die swaar fondamente van die tyd
styg, en verdwyn in die verte
soos enorme wegfladderende baldakyne
so lig soos haar ooglede,
gedra deur vlinders
wat die hemel beskryf.