Читать книгу Al die lieflike dade - Charl-Pierre Naudé - Страница 18

Die onbekende ontmoeting

Оглавление

– Alexandrië, Egipte

Alexandrië –

weeïge krygersnaam

wat so vroulik klink,

uit die hoefyster van oorlog

en sout gesmee

tot ’n flikkerende halssnoer

van wandelende strate op stelte,

ingediep in die modder

van die geskiedenis –

jou reikende arms pluk sterrestelsels

uit die blink branders.

Vir iemand

wat jou beeltenis optrek

uit die diep asemteug

van see en vergetelheid

terwyl voggordyne van jou wegval

soos rinkhalsvelle,

is jý, hier,

Cleopatra.

Vrou, ek ken nie

eens jou taal nie, maar op daai trap

in jou dwarreling van lap,

klim jy soortgelyke

sporte

van die onbeteken-

baarheid, as ek.

Antieke Los Angeles

van die versengde engele;

gedroomde, uitgeweke Olimpos,

dikwels mensliker as die oorspronklike;

verbasterde Mediterreense Wene

tot lieflikheid gesing deur die allerheiliges,

die stilgemaakte “barbare” –

dáár, die planetarium

met sy uitspansel boeke,

die juweel van herroeping:

geverfde duifeier

in die oogkas van die Oudheid.

Bruin wieg

van roosblaar en pêrel,

is jý –

Jy kyk terug, en ek

vorentoe

en in hierdie verskerwende

hawe van vertrekke,

waar verlore wêreldwonders

en wasige toeverlate mekaar ontmoet,

raak ons mekaar skaars

aan

in die twee skadu’s

wat kruis.

Al die lieflike dade

Подняться наверх