Читать книгу Al die lieflike dade - Charl-Pierre Naudé - Страница 9
Wetenskap
Оглавление– Seepunt
Ek stap die rumoerige aandstraat af.
Elke lamplig hang soos ’n ster in sy draadhelm.
Die neonvoorkante van die restaurante
wentel verby my soos polsende sfere
in ’n dofblink planetarium.
’n Chinese eetplek.
Dís waar ek dié aand
die skepping begin verstaan het.
Elkeen van ons is immers
’n primitiewe sterrekundige;
ons stoor die universum
versigtig in skoendose.
En op ’n dag, skielik,
val ’n Pandoraboks met ou, vergeelde jeugfoto’s
(juis dáárdie dag en datum)
van ’n rak, en dit trek
deur die lug soos ’n wetenskap.
Die armsalige vierkante, wat so probeer rol.
Lewe in die baaierd, sê mense,
is bloot toevallig.
Hulle sê ook alles is haarfyn beplan.
Selfs asreën, sneeu.
Elke Jesus-vlokkie,
heksagonaal.
’n Katedraal.
Deur slawe gebou.
Gees. O, gees.
Waarin alles neerdaal.
Verder sê hulle die ruimte
en alles daarin buig.
(Maar as daar mense by betrokke is,
dán is dít glo ’n ongeluk.)
Ons sit oorkant die paartjie,
hulle het pas klaar geëet.
Sy maak knipgeluidjies
by elke oor, en die oorbelle kom los.
Met slanke voorarms leun sy op haar elmboë,
handpalms na bo
soos kelke aan halms,
en in haar een hand wieg die steentjies,
robynrooi,
soos twee hemelliggame.
God. Wetenskap. Die liefde.
Die een behoort die ander
meer gereeld te sien.
In my geestesoog
bemerk ek nog die boog van haar nek,
die effens vooroor buig om die geliefde te soen –
gewigtig die oomblik,
net die skyn van ’n trilling;
en hoe líg-grasieus
sy die planete gedra het.