Читать книгу Al die lieflike dade - Charl-Pierre Naudé - Страница 8

Blomme van Algiers

Оглавление

Op die savanne pryk geen kastele

met gragte en opslaanbrûe of burgtorings

met kantele uit die oudheid nie;

nóg dof-beskilderde koningstente

wat vol ruis en weer sak,

soos die wange van God.

Sulke ou-ou vestings bestaan nie op die savanne nie.

Blokhuise, ja, dié gebluste swartoogkonkas

nie veel ouer as ’n eeu nie;

of skotteltjies vlam hier en daar

van ’n mensheid-in-die-knop

– sigbaar uit die lug –

wat blik-aan-die-enkel rondkletter in die nag

en dan verdwyn en ’n sleepspoor agterlaat;

en die getingel en -sug

van ’n amulet.

Kastele, wat oorgebly het, is

daar nié op die savanne nie.

Daar is ook geen miershope in Antarktika nie.

Maar hier in die Maghreb

waar ons ’n paar dae gelede neergestryk het,

staan getepelde moskeekoepels uit die vyftiende eeu

soos ligbeierende teepotte

wat brou aan die tyd

terwyl kleure soos papegaaie weerkaatsend

van dakstoepe af klokkeleer “nou, nou, nou!”;

en kom ’n pasja se vrou agter borswering orent

met oë van Ottomaanse turkoois en smarag

waarin die verf altyd nat word

(soveel eeue gelede) –

sodra die stoorman,

verder na benede,

sy veerpen in die logboek bêre.

Die hoekstene hier is vierkantige rotsblokke

waarin die minstes en hul griewe in staatsie lê.

By kiste só dig kon niemand ooit insien nie.

Die aaneengesnoerde en witgekalkte

pak- en koopmanshuise,

sulke stoere korwe, eweneens gehak

uit ewigheidsklip,

met swaarmoedige donker vertrekkies

soos dikwandselle, en halfdeurtjies

wat soos bobbejaantjies aan die binnekosyne klou;

en daardie venstergat

met die twee kinders daarin soos ’n poppekas

vól grootmenswee, net bokant die kopersmid

sélf halfmens-gebukkend onder sy lae plafon,

hier waar steë steil op- en afkringel en ’n aardbol

op ’n vensterbank om sy baie kort as tol –

dis ouer as enigiets wat bly staan het op die savanne.

Seuns speel lugsokker

op die betonveld van ’n museum se plat dak.

Onder hul voete loop besoekers en tik

aan die uitgestalde okkerneutvorm

van ’n seevaartuig, grootte van ’n wynkuip,

wat lugspuwend

soos ’n walviskalfie bedoel was om te vaar

maar ootmoedig droogvoets met die Syroete langs

aan pale op ’n dra-kontrepsie gebring is

lank voor die tyd van die Weste,

as die eerste duikboot

(komplimente uit die Koran).

Vreemd, hoe die vreemde

’n mens laat tuiskom.

Net in die oomblik

word jy iets ewigs gegun.

Een vroegaand ry ons dieper

die dofverligte stadsgeraas in,

tussen swenkende ligbane, die tierende verkeer ín;

ons gesigte teen mekaar gedruk,

oë wat flonker –

twee verskrikte hase.

Hoe sal ek dit vergeet –

weerlig wat sny deur die droë hemel;

en die blomstalletjies van Algiers

wat in die stad rondom bly opflits het

soos glashutte in die donker.

Al die lieflike dade

Подняться наверх