Читать книгу Al die lieflike dade - Charl-Pierre Naudé - Страница 14

Die ritueel

Оглавление

Snaaks hoe dinge met ’n doel gedoen word,

en dan lyk dit so na die skep van chaos

van hier by my tafeltjie waar ek sit en rook.

Daai twee wat vroeër verbygestap het,

die karre wat heen en weer oor die nat teer fluit –

beplanning sit daaragter, hoor.

Alles vergeetbaar, nietemin, van hier, behalwe

die triestige groen bakkie wat nou meer as een keer

aan die voet van die restaurantterras verbygevaar het.

Met sy laaste rit het iemand alleen agter

op die oop bak gestaan, hande seremonieel

op die kajuitreling, en toegegooi onder ’n swart seil.

Ekstra stadig word daar bestuur, soos in ’n stoet;

toe merk ek dié “passasier”, só kierts, moet

’n rekwisiet wees, want g’n ledemaat van hom beweeg nie.

Só moes Julius Caesar op sy strydwa gery het

met die herdenkings van sy seges

jare ná sy dood, onder ’n lanferlap

op pad na die arena as ’n beeld vir die onthulling.

En weer het die ritueel verbygekom (triomfantelik?).

Seker iets by die huis vergeet, kon my nie skeel nie.

Ek fantaseer toe die figuur is ’n terdoodveroordeelde;

en terwyl motreën uit die bewolktheid neersif

wonder ek wat die wyse van sy teregstelling gaan wees.

Ná my koffie het ek huis toe geloop

en die gedoente weer teëgekom, dié keer by sy eindpunt:

’n Lint oor die grasperk het huisraad verdeel.

Die vrou het by haar kind gestaan, en die man daar wat sy seil

styf span oor sy hoop goed op die bakkie, hý het gehuil.

Al die lieflike dade

Подняться наверх