Читать книгу Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten - Страница 10

KANTNOTA

Оглавление

Terug in haar kantoor – met ’n beker koffie, swart en bitter – skakel sy haar rekenaar aan, maak haar lêers oop, versprei die ingesamelde foto’s oor haar lessenaar. Beskou elkeen indagtig, nie net om elke beeld te absorbeer nie, maar om veral die konteks te oorweeg.

Later draai sy na haar skerm en lees weer die raamwerk van haar verslag. Sy frons, onseker oor presies waar sy die pit van die flussiese gesprek in die Botaniese Tuin moet inwerk. Sy kan daarmee wegspring, die bom sommer vroeg laat ontplof. Maar gaan haar kliënt ná so ’n hartklemmende aanhef steeds emosioneel kapabel wees – of gewoon lus – om ook die res te lees, wetend dat die nuus nie beter gaan word nie? En die res is juis belangrik ten einde die hele omvang van die affair te verstaan, vernaam die infame afloop daarvan.

Sy leun oor en trek twee foto’s nader. In ’n fliek sou Sue Greene en Themba Morena byspelers genoem word. Die instrukteur en die stalopsigter. Byspelers in haar private PI-ondersoek, maar in ’n hofsaak sou hulle getuienis beslissend wees teen ’n beskuldigde.

Themba, eers sku, het uiteindelik later meer deure as net dié van Amalia Rojas se perdestalle vir haar oopgesluit.

Maar Sue was die aanvanklike punt van kontak. En soos Ella voorsien het, het haar nuwe vriendskap met Sue gehelp dat sy die soms wasige aanloop van die toe nog vermeende affair tussen duideliker lyne kon begin lees. En Ella glo as sy die volgorde van gebeure verstaan, verstaan sy ook beter hoe die koppe van die karakters werk wat sy ondersoek.

Ja, het Sue gesê. Meneer Maas het wel Maandagaand 19 Oktober daar opgedaag vir die vergadering om die reglement en kostes vir die volgende jaar te bespreek. Hy het inderdaad ook ’n paar vrae gevra. Hy was veral besorg oor die veiligheid van sy dogter. Maar haar antwoorde het hom kennelik tevrede gestel, want hy het nog ’n ruk vertoef. Selfs saam met Amalia Rojas ’n glasie wyn geniet.

Trouens, hy was só tevrede dat hy Dinsdag gebel het om sommer vir die Woensdag nóg ’n les vir Florie te bespreek. Daar was nie ’n opening nie, maar Amalia het dadelik ingegryp en kon Florie indruk. Meneer Maas wou toe weet of Amalia die Woensdag daar sou wees sodat hy sy waardering persoonlik aan haar kon oordra. Want Florie was glo so entoesiasties dat sy elke dag sou kom ry, sou sy ’n sê gehad het.

“En het die hele gesin toe weer Woensdag saamgekom?” wou Ella weet.

“Nee, net pa en dogter,” het Sue gesê. Want sy kon goed onthou hoe lekker gesellig Amalia en meneer Maas weer onder die restaurant se bome gesit en kuier het toe sy Florie ná die ryles na haar pa toe gevat het.

“En die Sondag daarna?”

“Weer net hy en Florie.”

“Ek raai Amalia en meneer Maas het weer oor ’n glasie wyn gekuier,” het Ella gesê, “terwyl hy vir Florie gewag het.” Die patroon nie te moeilik om op te merk nie.

“Ja,” het Sue geantwoord. “En ’n paar dae later was hy wéér hier. Laat die middag. Maar toe sonder Florie. Gesê hy’t ’n afspraak met Amalia. Oor perde. Hy’t teen daardie tyd seker al haar persoonlike selnommer gehad, want die afspraak was nie op my boeke nie.”

“Hoe’t jy geweet hy was hier?”

“Die hek. Ek moes die hoofhek vir hom oopmaak.”

“Weer onder die bome? Of was hy by haar huis?”

“By die restaurant.”

“Maar jy sal weet van al sy besoeke?”

“Binne werksure, ja. Want ek moet die hek oopmaak. Na-ure, vir haar private gaste, beheer Amalia self die hek uit haar huis.”

En Sue sou dan nie geweet het of Thomas Maas ook in die privaatheid van Amalia se huis kom perdesake gesels het nie.

Toe Ella groet, het Sue ’n laaste opmerking sydelings laat val: “Amalia het geblom.”

“Dit was vir jou so opvallend?”

“O ja.” Sue het eers bietjie geaarsel: “Want ek het die indruk gehad dat sy geneig was tot neerslagtigheid.”

“Oor die huwelik?”

“Oor haar persoonlike lewe het sy nooit gepraat nie. Dalk met meneer Maas, hy’s mos ’n sielkundige of iets. Dalk help hy haar om weer te lag.”

Die versoeking van Thomas Maas

Подняться наверх