Читать книгу Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten - Страница 21
Thomas se weergawe
ОглавлениеLa Pampa | Vrydag 6 November
Laat Vrydagmiddag, tydens Amalia Rojas Daneel se tweede konsultasie, vra sy: “So, meneer Maas, wat wil jy alles van my weet?” Op haar gemak, seker van haarself.
“Eers vir die rekord,” sê hy. “Jy sê jou man kom volgende week terug uit Argentinië. Via Londen. Kom hy dan saam, vir ’n egpaarkonsultasie?”
“Néé, hy kom nie saam nie. Ek dink ek het reeds so gesê.”
“Ek maak net seker of julle nie intussen anders besluit het nie. Weet hy van jou planne?”
“Om hom te los? Nee, ons moet dit nog bespreek. En dis nie iets wat vinnig gaan gebeur nie, ons huwelik is erg kompleks. Dis mos ’n soort saketransaksie, het ek gesê. Dit gaan lank vat om alles ontknoop te kry.”
Hulle sit weer in die sitkamerdeel, sy op die bank waar hy die vorige keer haar mooi kuite bewonder het. Vandag het sy jeans aan. Hulle oë ontmoet en dit voel vir hom of hulle mekaar in ’n oomblik van digte stilte opweeg, asof elkeen moet besluit hoeveel die ander een te vertrou is, hoeveel waarde hulle aan mekaar se woorde kan heg. Dit is anders as die Woensdae en Sondae daar onder die bome wanneer Florie perdry. Daar is hulle losser, gemakliker in mekaar se geselskap. Die vier mure van die kantoor bring iets formeels aan hulle omgang.
“Vertel my meer van jou agtergrond,” sê hy.
“Ek het mos al van my lewe in Argentinië vertel.”
“Ja, maar dis sosiale geselsies. In die konsultasie soek ek bietjie meer besonderhede, spesifieke detail.”
“Wat van die opnemer?”
“Ook jou keuse. Ek het jou gesê hoekom ek dit graag gebruik.”
“Oukei.”
Hy is verras. “Is jy seker?”
“Ja, en luister weer mooi, daar moenie misverstande wees nie.”
Hy skakel dit met die afstandbeheerder aan, sy knipbord en haar lêer op sy skoot. “Goed, kom ons begin.”
“So, jy wil alles van mý weet,” sê sy. “Maar ek weet niks van jou nie.”
“Ek’s nie die pasiënt nie.”
“Ons praat tog van wedersydse vertroue, Tomás. Hoe kan ek jou vertrou as ek niks van jou weet nie?”
“Wat wil jy weet?”
Haar armbande klingel sag toe sy swart hare wegdruk. Sy kom orent en gaan staan weer by die venster skuins agter hom. Hy wonder of sy dit aspris doen om sy gemaklike liggaamshouding te versteur, hom uit sy gemaksone te dwing, sodat hy telkens half moet omdraai om haar te sien en met haar te praat.
Met haar arms voor haar bors gevou, starend na buite, sê sy: “Hoe lank is julle al getroud?”
“My huwelik is nie ter sake nie.”
Sy swaai om na hom. “Nie? Maar jy vra uit oor mýne.”
“Net meer as twintig jaar.”
Sy draai terug venster toe en sê, asof sy met iemand daar buite praat: “Ek en Fred … uh, ons is tien jaar getroud. Voor hom was dit Nicolás. Nie eens twee jaar nie. Toe’s hy ook weg.”
“Fred is jou tweede man?” Hoekom het hy nooit eens aan so ’n moontlikheid gedink nie? “Jy was in Argentinië getroud?”
“Nicolás wou my los. Toe gaan hy dood,” sê sy. “Jy sien, Fred is dus met ’n weduwee getroud. ’n Treurende, ryk weduwee.” Sy kom terug en gaan sit weer op die bank, kruis haar bene, vra met ’n frons: “Help dit jou, Tomás, om my beter te verstaan?”
Sy vertel alles so saaklik, amper sinies.
“Wat bedoel jy met Fred is toe ook weg?”
Sy bepeins die vraag en sê: “Wel, hy’s nie hier nie, is hy? Hy’s weg. Uit my lewe uit.”
“Jy en Nicolás, is daar kinders?”
“Net seks. Liefdelose seks.” Weer ’n oomblik se oordenking. “Nee, daar wás liefde. Eenrigtingliefde. Net van my af. Onbeantwoord. Jy sien, daardie huwelik was óók ’n saketransaksie. Dit was gereël. Ons is van jongs af uitgesoek en voorberei om met mekaar te trou sodat die families van twee groot Argentynse grondbaronne verenig kon word. Sodat die bloed van Anchorena en Rojas kon vermeng.” Twee, drie hartslae voor sy voortgaan. “Ja, ek skat daar sou seker, uiteindelik, tog kinders moes wees. Die families het dit van ons verwag om nasate te produseer. Maar sy liefde het hy vir iemand anders gehou. ’n Verbode en gedoemde liefde. Sy pa sou hom onterf en uitskop. Toe gaan hy dood.” Sy glimlag. “Oor ons kan jy ’n hygroman skryf.”
“En Fred?”
Weer die kort stilte asof sy sukkel om haar gedagtes in woorde te orden. “Wat kan ek sê? Kom ek stel dit só: met hom was alles ook vergeefs. Ek vind by geen man geluk nie!”
“Julle het darem saam ’n aansienlike sakeryk opgebou.”
“Ek soek nie nóg geld en aardse besittings nie. Ek soek liefde, ek wil ’n ma wees. Soos ander vroue.”
“En hy wou geld maak. Kan ons net vir ’n oomblik terugkeer Argentinië toe? Weer na Nicolás, as jy nie omgee nie.”
“Wat van hom?” Krapperig.
“Dit klink vir my of Fred net ’n verowering was, ’n tweede prys, omdat jy Nicolás nooit regtig kon kry nie. Sy liggaam, ja, maar nie hart en siel nie.”
“Ek hét hom gehad!” sê sy meteens driftiger. “Hy was myne, álles van hom, niemand anders sou hom kry nie.”
“Wat sou gebeur het as hy nie gesterf het nie?”
“Hy sou my leer liefkry het. Ons sou gelukkig gewees het. Met ons kinders.”
“Hy sou van sy groot jeugliefde afgesien het?”
“Sy plek was by my. Die doel was dat ons ’n nuwe dinastie vestig, die grootste in die Pampas.”
“Wat het gebeur?”
“Uh, karongeluk. Ek wil nie daaroor praat nie, dis verby.”
“Wil jy praat oor jou grootwordlewe daar? Onder die bome het jy bietjie daaraan geraak, hoe gelukkig jou kinderjare was?”
“Ja, my pa het my bederf. Bederf my steeds. Ek’s die appel van sy oog. Estancia Los Toldos is ons familieplaas. ’n Beesplaas aan die Rio Salado. Angus en herefords vir die uitvoermark, spesifiek die VSA en Europa. Sê as ek te veel goed herhaal, ek kan nie onthou wat ek alles onder die bome gesê het nie.”
“Nee, vertel.”
“Later het my pa ander plase bygekoop. Vir my ’n perdeplaas. Estancia Dos Yslas. Maar natuurlik was my plek by Nicolás, op een van die Anchorenas se plase. Wat wil jy nog weet?”
“Van jou skoonfamilie. Die Anchorenas. Watse soort mense is hulle – het jy van jou skoonouers gehou, het hulle van jou gehou?”
Sy betrag hom met so ’n trek aan die mondhoeke. “Hou jý van my, Tomás?”
“Jy’s my pasiënt, Amalia.”
“Mag jy nie van jou pasiënte hou nie?”
“Vertel my van die Anchorenas.”
“Regte ou suurgat.”
“Jou eertydse skoonpa?”
“Jy!” Sy lag. “Darem nie so erg nie. Daar in die tuin was jy heel ontspanne, dit het selfs gelyk of jy darem ’n klein bietjie van my geselskap hou.”
“Toe was jy nie my pasiënt nie. Vertel van Nicolás.”
“Die Anchorenas was die eerste van Argentinië se groot beesbaronne. Die patriarg, Juan Esteban de Anchorena, was ’n Bask. Hy’t in 1818 uit Spanje in Buenos Aires aangeland en ’n vellehandelaar geword. Teen 1860 was hy en sy seuns die grootste grondbesitters in Argentinië.”
“En joune?”
“Mý voorouers het eers in die 1880’s uit Spanje gekom. Onder Julio Argentino Roca se bewind het die land gegroei tot die sewende rykste ter wêreld. Kan jy dit glo? Hulle was slagters en vleisverpakkers in Buenos Aires tot my oupagrootjie sy eerste plaas in die Pampas gekoop het, met sy eie vleisbeeskudde.”
“Vertel my van jou Estancia Dos Yslas?”
“’n Mayordomo bestuur die plaas vir my. My pa hou natuurlik ’n oog. Ons teel perde. Ons het ook boorde aangeplant vir lemoene en pruime en pekanneute. Maar my perdestoeterye is my trots. Die bergmannponie waarop Florie ry, sy kom van Dos Yslas af.”
“Jy praat die hele tyd van ons, asof jy steeds deel is van jou perdeplaas. Maar jy sit hier, duisende kilometer ver.”
“Ek gaan twee keer ’n jaar soontoe. My hacienda is ingerig en word reggehou vir my besoeke. Daar boer ek op die saal van my criollo.”
“Klink of jou hart steeds daar lê. As jy en Fred eendag finaal uitmekaar is, julle sakebelange uitgesorteer en die egskeidingsbevel uitgereik is, gaan jy terug, dalk permanent?”
Sy bestudeer hom. “Terug? Miskien. Dit hang af.”
“Van wat?”
“Ek weet nie. Van hoe ek dan voel. Dit gaan lank duur, jare dalk. Ek leef nie so ver vooruit nie, ek leef vir nou en hier.”
“Intussen hou jy jou besig met die Rojas Equestrian Centre?”
“Ja, soos ek al gesê het: ek hoef nie noodwendig na Dos Yslas terug te gaan om by my perde te wees nie, ek laat kom hulle sommer na my toe. Dan verlang ek nie so erg huis toe nie.”
“Nou die aand by die Finzikonsert, jy was darem seker nie alleen daar nie?”
Sy lyk verras, begin dan skelmpies glimlag. “A, Tomás, is dit ’n strikvraag?”
“Wonder sommer net. ’n Mooi vrou soos jy, van bed en tafel geskei.”
“Dit sal so klein bietjie roekeloos wees, dink jy nie – ek beskuldig hom van rondslapery, dan doen ek dieselfde? Ek was saam met Gabriela, ’n vriendin.”
Hy maak die lêer toe. “Nou ja, dis dan al waarvoor ons vandag tyd het.”
“Tot volgende week,” sê sy met die opstaan.
“Nee, eers die week daarna, reël met Annie. Volgende week is ek nie hier nie.”
“O,” sê sy en hy kan sweer dat sy teleurgesteld lyk, asof sy uitsien na ’n volgende uitpraat. “En Sondag – jy en Florie?”
“Ek vlieg al Sondag.” Hy sal graag meer wil weet oor haar kort en treurige lewe saam met Nicolás. “Konferensie in Kaapstad.”
“Oukei, sien jou oor twee weke.”
En uit is sy, skielik haastig, asof sy pas onthou het van nog ’n afspraak.