Читать книгу Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten - Страница 19

Donna se weergawe

Оглавление

Sundowning | Donderdag 5 November

“Ons saamtyd vanaand, Thomas,” sê Donna oor die foon, “kan ons dit by Pa gaan hou?”

“Donna …”

“Ek weet. Nie eens die kinders nie. Maar ek’s bekommerd oor hom. Ek dink met jou agtergrond en kennis van sulke persoonlike traumas sal dit goed wees as ons ’n slag openlik met Pa gesels.”

“Ek dog jy sê hy wil nie daaroor praat nie.”

“Hy’t nie ’n keuse nie,” sê sy. “Dis in ons almal se belang dat ons dit uitpraat. Hy’s deel van ons gesin, ons moet weet wat aangaan.”

Die sitkamer lyk nog nes sy dit laas gesien het, met die vakkundige boeke en tydskrifte, die skaakbord en teleskoop, almal op dieselfde plekke. Nou ook ’n boek oor die skrywer Iris Murdoch langs sy TV-stoel.

“Wil julle eers tee hê, of wil julle my eers ondervra?” vra Rolf.

“Pa,” sê Donna, “ons wil net help. Moenie ons wegstoot nie.”

“Jy’t gehoor wat die dokter sê.”

“Ek het gehoor hy sê hulle kan nie ’n diagnose maak nie. Maar tog skryf die neuroloog inhibeerders voor om sekere simptome te behandel. Kognitiewe simptome, noem hy dit. Soos vergeetagtigheid en verwarring.”

“Dis veronderstel om te keer dat die asetielcholien afbreek,” sê Rolf. “Die chemiese boodskapper tussen senuweeselle. Maar ek dink dis te laat, ek dink ek’t klaar plaak op die brein.”

“Watse plaak?” vra sy. Hoekom sê die dokter niks vir haar van plaak op die brein nie?

“Ek moes vroeër met die inhibeerders begin het. Van daardie neurosenders, die boodskappers, hulle is klaar aan mekaar vasgegom, reken die neuroloog. ’n Akkumulasie van lipofuskien, noem hy dit. Dit kom met die ouderdom. Pes van ’n ding. Soos smeltdraadjies wat vasbrand. Dan blok dit boodskappe na jou geheue, of na enige ander plek in jou brein. Verkeersknope ontstaan. Breinplaak en breinknope. Dis wat hier binne besig is om te gebeur,” sê Rolf en tik met ’n voorvinger teen sy voorkop.

“Maar dis nie te sê dis alzheimers nie, Pa,” sê Donna driftig en hoopvol.

“Nee, daarvoor moet hulle eers ’n gat boor, deur my kopbeen in my brein in. Om van die grysstof uit te kry vir ’n biopsie. En ’n gat in my brein, dis nie ’n goeie ding nie. ’n Breingat kan van my ’n vegetable maak. Nog voor hulle weet wat fout is. Dalk boor hulle die gat en grawe stukkies van my brein uit, toets dit en besluit my vergeetagtigheid was maar net die gevolg van hoë ouderdom. Dan’s dit te laat, dan maak dit nie meer saak nie, nè?”

“Maar, Pa,” sê Thomas, “hoekom praat jy klaar van breinplaak en breinknope asof dit ’n gegewe is?”

“Ek’s ’n wiskundige. Getalle en ruimte en figure is my kos. Nou begin ek daarmee vashaak. Dis ’n teken, is dit nie? Dis hoekom ek deur die internet breinnutriënte en breinboosters uit Mexiko bestel. Ek wil nie oor ’n jaar met somme sukkel as ek vir Florie moet help nie.”

“Help dit?” vra Thomas.

Rolf se oë is op sy groot hande, die vingers wat met die trouring speel wat hy steeds aan die dik vinger dra. Hy praat sonder opkyk. “Ek sien in boeke praat hulle van ‘sundowning’. Dis glo ’n tipiese verskynsel – aan die einde van die dag, wanneer júlle, die compos mentis, skemerkelkies skink, begin ons, die verstrooides, geestelik uitrafel. Namate die son sak, raak ons al hoe kênser. Dis seker wat met my ook aan’t gebeur is – ek beleef geïsoleerde kêns episodes van sundowning en raak dan letterlik die pad byster.” Hy staan op en gaan sit die ketel aan, sê oor die kombuistoonbank: “Daar het julle dit. Maar nou’s ek weer piekfyn. My helder oomblikke. Nog iets? Of kan ons nou maar tee drink en oor iets anders gesels, miskien oor eksoplanete?”

“Nee, Pa,” sê Donna, “só maklik is dit nie.”

“Geïsoleerde episodes, Pa?” vra Thomas.

“Wat van die kar wat Pa daardie slag by die winkelsentrum vergeet het?” vra Donna.

“Wat van die dag toe Pa van die afspraak met Patty vergeet het?” vra Thomas.

“Wat van die sleutels in die yskas?” vra Donna.

“Dêm Lizzie,” brom Rolf.

“Wat van –”

Hy keer met sy hande. “Goed, goed, wat daarvan? Julle moet ou Wollie sien. Praat van vergeetagtig. Hy moet partykeer eers mooi dink oor die perd se oorhoekse skuif, maar wen steeds. Los my, ek sal julle betyds waarsku wanneer die plaak en knope erger word en Herr Alz aan my voordeur kom klop.”

Donna ken haar pa. As hy só is, gaan hulle vanaand geen verdere openbarings uit hom kry nie. Breek hulle verniet hulle koppe? Is dit tog maar net ’n geval van verstrooidheid te wyte aan ouderdom? Of is haar pa in ontkenning van sy werklike toestand? Hy is bereid om te erken dat hy soms vergeetagtig is, maar reken dit is bloot te wyte aan bietjie aanpaksel op sy ganglia, wat hy met spesiale omega-3-konkoksies uit Chihuahua of Tijuana sal opklaar. Soos vlos vir tandeplaak.

“Pa, Thomas gaan volgende week vir ’n paar dae Kaap toe, vir ’n konferensie. Sal Pa omgee om by ons te kom bly tot hy terug is? Om my te kom help met die kinders, en studies, en so aan?”

Hy oorweeg dit, vroetelend aan die trouring. “Weer in Florie se kamer?”

“Sy slaap mos in elk geval by my wanneer haar pa nie daar is nie,” sê Donna.

“Antonie is juis weer erg mismoedig,” sê Thomas. “As Pa en hy –”

“Ja, goed,” sê Rolf, begluur Thomas sydelings asof hý die oorsaak van alles is, van sy verstrooidheid, van Antonie se melancholie, van haar angstigheid, sommer ook die ellendige toestand waarin die hele land verkeer.

In die kar terug huis toe vra Donna: “Wat dink jy? Oor Pa?”

“Ek dink hy’s in denial. Hy gebruik al ses maande daardie medikasie. Hoe lank voor die tyd het hy al begin agterkom dat iets met hom skort? Jy hol nie dokter toe net omdat jy vergeet het om jogurt in jou trollie te sit nie. Hoeveel keer het hy dalk al vergeet waar hy sy kar geparkeer het? Of waar sy sleutels is?”

“As hy in denial is, hoekom daardie boek oor Iris Murdoch daar langs sy stoel? Het jy dit gesien? Daar was mos ’n fliek ook oor haar, met Judi Dench. Sy’t alzheimersiekte gehad.”

“As jou geheue met die ouderdom nie meer so goed is nie, begin jy spoke sien. Dis te verstane, dis menslik, jy dink aan die ergste. As jy ’n liggaamlike pyn het, dink jy aan kanker, as jou verstand nie altyd meer so helder is nie, dink jy aan demensie, aan iets wat besig is om jou gees te sloop, en uiteindelik ook jou liggaam. Ek dink jou pa het gedoen wat mens van hom sou verwag het: met die eerste tekens het hy nie gesit en tob en wag nie, maar besluit om proaktief op te tree en die ding te beveg.”

“Die ding?”

“Wat dit ook al is … ouderdom, verstrooiing, demensie, alzheimers.” Sy oë op die pad, op die ligte van ander karre, haar hand soekend tot sy syne vind. “Donna, selfs al is dit die ergste, daar lê nog jare van ’n goeie lewe vir hom voor. Daardie sluwe ding, dit bekruip jou stadig, neem jou lewe geleidelik oor, nie skielik soos ’n terminale siekte nie.”

“Ja, ek het ook vanoggend bietjie op die internet gaan lees. Dis hoekom ek jou gevra het om vanaand saam te kom.”

“Moenie jy ook nou begin wroeg nie.”

Sy voel hoe hy haar hand ’n druk gee en sy leun na hom oor. “Dankie dat jy gekom het. Ek weet mos jy’s my krag. Óns krag. Sonder jou …” En sy los sy hand en soek vir ’n tissue. “Sorry, ek’s sommer net emosioneel. Ma, Antonie, nou Pa. Solank jý net daar is.”

“Ek ís daar. En hier!”

Die versoeking van Thomas Maas

Подняться наверх