Читать книгу Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten - Страница 18

KANTNOTA

Оглавление

Ella het haar gevra, maar Donna was amper seker dat sy Amalia Rojas Daneel nie die Finzi-aand tydens pouse in die foyer gesien het nie. Sy kan verkeerd wees, het sy gesê, miskien het sy haar net nie herken nie. Want sy het haar daardie eerste Sondag net baie vlugtig by die perdryskool gesien.

Thomas het egter erken dat hy Amalia tussen ’n groep mense raakgesien het. En sy vir hom. Sy het nog met die program vir hom gefladder, glasie in die ander hand. Hy het vir Donna gesê: “Gaan sit julle solank, ek gaan net gou ’n draai loop.”

Sy het effens van haar groep opsy gestaan toe hy aankom en gesê: “Ek moes dit gedink het. Ek sien die klarinetspeler is Patty Maas, maar assosieer dit toe nooit met my terapeut nie. Dit was pragtig. Jy’t ’n baie talentvolle dogter.”

“Dankie. En jy lyk … wel, sprankelend.” Nie soos ’n vrou wat besluit het om haar huwelik tot niet te maak nie, het hy nog gedink. Ook gewonder: Waar’s haar metgesel, sy sou tog nie alleen gekom het nie?

“Ek merk die hele gesin is hier om haar te ondersteun,” het Amalia gesê en aan haar vonkelwyn geteug. “Almal saam perde toe, almal saam konsert toe.”

“Sou nooit kon dink dat jy van Finzi hou nie.”

“Hoekom nie, mag perdeliefhebbers nie klassieke musiek geniet nie? Ek’s gereeld hier.”

“Niemand kan jou miskyk nie.”

Sy het gelag. “As dit ’n kompliment is … dankie!”

Dit was, sy het oë laat draai. “Luister, oor jou en Fred, ek veroordeel niemand nie. En ek verstaan sulke goed, dat die liefde soms, vir sekere paartjies, tog nie vir ewig is soos die sprokies dit wil hê nie. Dis altyd jammer.”

Die trek aan haar mondhoeke toe sy antwoord, het hy onthou: “Jy verstaan dit? Uit professionele ervaring, of persoonlik?”

Die finale klokkie lui. “Ons moet ingaan,” het hy gesê.

Sy het haar halwe glas na hom uitgehou. “Sien jou Vrydagmiddag, meneer Maas. Vir jou professionele mening oor liefde en sprokies.”

Die versoeking van Thomas Maas

Подняться наверх