Читать книгу Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten - Страница 12

Donna se weergawe

Оглавление

Rolf se simptome | Vrydag 30 Oktober

Doen wat jy predik. Daarom het sy en Thomas ’n ou reël: selfs al tref ’n komeet die aarde, éérs gesels hulle. Vir dertig minute. Hulle private saamtyd elke dag. Net hulle twee, g’n kind, g’n kraai, g’n niks of niemand tussenin nie. En die kinders weet: dit is evangelie. Want – en dit weet die kinders nié – om ’n huwelik op die smal weg te hou is harde werk. Maar die laaste paar weke haper dit met saamtyd. Dit is asof al hoe meer buitedinge neig om in te meng. Florie se perdrylesse, haar pilatesklasse, die kinders se eindeksamen, Thomas se vergaderings saans om besprekingspunte voor te berei vir die agenda van hulle komende konferensie.

Vanaand, gelukkig, kruis twee Maasplanete se wentelbane darem weer ’n slag, en oor ’n glasie wyn vra sy: “Het jy toe kans gehad om weer met dok Manzi oor Pa se voorskrifte te gesels?” Die Coxleon is maklik, dit is vir verligting van gewrigsontsteking en nie ’n chroniese medisyne nie. Die Dopaquel is meer ingewikkeld. Dit is glo ’n mood stabiliser vir buierigheid. Vir ’n pasiënt wat een oomblik so voel, dan weer sus, eers opgewek, dan neerslagtig. En alles tussenin. “Praat ons van bipolêre versteuring? Is dit wat met Pa fout is?”

“Nee, Donna, dis nie wat dok Manzi sê nie. Hy’s nie jou pa se dokter nie, hy gee net ’n algemene tweede opinie, sodat ons nie net op dokter Google hoef staat te maak nie. Buitendien, ek het jou pa nog nóóit manies gesien nie, nie in al die jare wat ek hom ken nie. Hy kan omtrent nie eens lag nie.”

“Thomas!”

“Netso het ek hom ook nooit as depressief ervaar nie. Soms bietjie af, maar wie voel nie soms af nie?”

“Hoekom sal hy dan al daardie pille drink?” vra sy.

“Dalk as voorsorg. Dok Manzi sê sommige mense gebruik Dopaquel ook as susmiddel, veral ouer mense, dit help hulle slaap, al sal hy dit nooit as slaapmiddel aanbeveel nie. En ons kan jou pa kwalik reguit vra waarom hy dit gebruik. Dán sal jy sy bui sien! As hy hoor ons krap in sy persoonlike goed, tussen sy pille rond. Wat as daar Viagra rondlê?”

“Jimmel, Thomas.”

Maar Aricept, dit is die een wat haar pla. Dit plaas Dopaquel in ’n hele ander lig. En dit is hoekom sy gevra het dat Thomas weer met dok Manzi daaroor gesels. Voor sy ’n gesprek met haar pa gaan hê oor sy pille. Hoe sy dit gaan aanvoer, weet sy nog nie.

Sy lees weer uit dok Manzi se e-pos: Cognitive symptoms worsen as brain cells die and connections among cells are lost. Cholinesterase inhibitors, like donepezil, are prescribed to treat cognitive symptoms related to confusion, memory loss, thinking, language, judgment, reasoning … thought processes, in other words.

Sy kug en kyk na Thomas, sweer sy het weer daardie visgraat in die keel, sluk aan die wyn. “Het hy daarop uitgebrei, het hy toe gesê wat hy met al die vername mediese woorde bedoel?”

“Dok Manzi sê hy kan niemand diagnoseer op grond van ’n pil se naam nie, veral nie ’n ander dokter se pasiënt nie. Hy beantwoord bloot ons vrae oor drie soorte medikasies. Hy sê inhibeerders soos donepezil – wat onder die handelsnaam Aricept voorgeskryf word – is bedoel om kognitiewe simptome vir ’n tyd te beperk of te stabiliseer. Maar dit kan nie … daar’s géén medisyne wat skade aan breinselle kan vertraag of stop nie. Hy reken jou pa se dokter vermoed ’n degenerasie van sy breinselle.”

“Nee!” sê sy. “Hy’s verkeerd. Met Pa se denkprosesse is totaal niks verkeerd nie. Ook nie met sy geheue nie. Of met enige van sy verstandelike vermoëns nie. Dit weet jy tog self. Kyk hoe help hy vir Antonie en Florie met hulle wiskunde. Kyk hoe gesels hy met Patty oor Bach en Finzi en ander komponiste.” Sy sit ’n oomblik na haar vingers en kyk, sê sag: “Praat hy van demensie? Alzheimers?”

“Verstaan tog, Donna. Hy sê sulke simptome is net vermoedens. Daar’s geen toetse wat byvoorbeeld alzheimers by ’n lewende pasiënt kan diagnoseer nie. Dit kan net gedoen word deur mikroskopiese ontledings van die breinweefsel. Nadoods. Die beste is om self ’n ernstige gesprek met jou pa te hê en te probeer vasstel wat regtig aan die gang is. Dalk selfs saam met hom na sy eie dokter toe te gaan sodat jy dit by die dokter self kan hoor. Gebruik sy episodes van vergeetagtigheid en verwarring as aanknoping. Hy sal tog verstaan dat sy dogter bekommerd is. As daar nie ernstig fout is nie, as sy verstrooiing aan ouderdom te wyte is, ander aand se verdwaaldheid net ’n eenmalige kortsluiting was, goed dan, dan klink ons ’n glasie daarop en jy’t vrede in jou gemoed.”

“Maar wat as dit so is? Sy dokter sal mos nie sommer sulke medisyne voorskryf bloot op ’n vae vermoede nie?” Die graat bly in haar keel, ook ’n branderigheid in haar oë. Sy snuif en sluk weer, en voel sy hand vertroostend op hare.

“Moenie spoke begin opjaag nie, Donna. Ons moet hierdie ding mooi uitpraat, ek’s seker jou pa is net versigtig. Voorsorg, soos ek gesê het.”

En toe lui Thomas se sel. Sy sien hoe hy na die nommer kyk en aarsel. Hy beëindig die gelui.

“Ek sal môre met Pa gaan praat,” sê sy. “En ek wil saamgaan na sy dokter toe, uit sy mond hoor wat aangaan.” Sy aarsel ’n oomblik. “Maar ek’s seker dis sommer niks nie. As dit ernstig is, sou hy al vir my gesê het … Hy sou mos, nè?”

“Ja, hoekom sal hy dit wil wegsteek, vir sy eie dogter?”

“Dalk is dit nie –”

En wéér onderbreek sy sel hulle. “Jammer,” sê hy, “as dit ’n pasiënt is, moet hy maar wag tot môre.” Druk dit weer dood en terug in sy sak, hopelik nou op Mute.

“Dis dalk nood,” sê sy.

“Ja, dalk mevrou Gericke. Sy kon juis nie gister ’n afspraak nakom nie. Haar verslaafde seun het verdwyn.”

“Dalk het hy iets oorgekom?”

“Dan’s dit in elk geval nie iets wat ek kan of moet hanteer nie. Ek sal haar later terugbel.”

Donna staan op. “Laat ek gaan kyk hoe dit met ons spruite gesteld is, hulle gaan netnou kom kos soek. O, en wat van Kersgeskenke?”

“Jou departement, is dit nie?”

“Wat wil jy hê? Tog net nie ’n boor of ’n tang of so iets onder ’n Kersboom nie.”

“Ek sal vir myself ’n boek gaan koop, en jy kan dit toedraai, met ’n kaartjie: Aan my wonderlike man, met liefde!”

Sy lag. “Wie sê jy’s so wonderlik?”

Hy staan ook op. “Ek sal by Antonie gaan inloer.”

Dit is een van sy ander huislike rituele wat deesdae bietjie afgeskeep word. Om saans ook spesiale aandag aan die kinders te gee. Deur die dag sien sy na hulle om, luister sy, help waar sy kan, ry hulle rond. Saans is dit Thomas se beurt. Dit is nie altyd moontlik nie. Hy werk dikwels tot donker, want baie pare kan hom eers na-uurs besoek. Hy is ook baiemaal vir dae van die huis af weg, Kaap toe, Baai toe, buurlande, selfs oorsee, ook as gasdosent by universiteite, ’n gesogte spreker op konferensies en oor die radio. Soos binnekort weer in Kaapstad, die jaarlikse byeenkoms van sielkundiges en psigometriste.

Wanneer hy uitstedig is, moet sy regstaan met tyd en energie vir drie kinders – een in ’n rolstoel. Nou ook die stres oor haar pa.

Sy hoor hoe Thomas aan Antonie se kamerdeur klop.

“Wat?” roep Antonie van binne.

Donna sien hoe Thomas na haar loer en sy oë rol. “Kan ek inkom?”

“Hoekom?”

“Ek wil net bietjie gesels.”

“Waaroor?”

Donna sug. As Antonie in so ’n bui is, is dit dikwels wenslik om hom met rus te laat. Maar dit kan ook júis ’n kreet om hulp wees. Die dilemma is: Draai jy om en stap weg? Of maak jy ’n oorlas van jouself tot hy jou inlaat?

“Ek het ’n moeilike dag gehad,” sê Thomas vir die toe deur. “Ek het ’n simpatieke oor nodig.”

“Praat met Ma, julle het mos julle bonding time.”

“Ma se gedagtes is by baie ander goed. By Oupa, by julle, by kos, by alles.”

Antonie weet wat laas Maandag met Oupa gebeur het, sy het al die kinders ingelig. Sulke voorvalle is familiesake en word uitgepraat, nie geheim gehou nie. Dit is deel van die verhouding van openhartigheid en vertroue wat hulle met hulle kinders probeer handhaaf. ’n Poging om ook oopheid en wedersydse vertroue te vestig in veral tienergemoedere, wat dikwels so gevul word met verbeelde of werklike emosionele krisisse en geheime. Tieners het mos die neiging om op te krop en ’n stoompot sonder uitlaatklep te word. Tot die emosies uitbars, verwyte rondvlieg soos kartetse wat sonder aansien des persoons tref en wond.

Dit is wat hulle probeer keer.

Sy stap nader en fluister vir Thomas: “Laat ek probeer.” Harder: “Antonie?”

Steeds die stilte, dan: “Het Oupa weer weggeraak?”

“Nee,” sê sy, “hy’s orraait. Kan ek inkom? Net vir ’n paar minute?”

“Die deur is nie gesluit nie.”

“Gaan gesels met hom,” sê Thomas. “Ek en die dogters sal iets vir ete aanmekaartimmer.”

Sy druk die deur oop. Antonie sit by sy lessenaar, sy rug deur toe, kyk nie om nie. Die vertrek ruik bedompig, soos ’n hospitaalkamer met vae ondertone van medisyne, liggaamsreuke, urine, sweetweerder. Sy gaan sit op die bed, merk die rekenaarskerm is donker. Sy en Thomas wonder dikwels wat hulle seun alles hier in sy kamer doen wanneer hy so afgeslote is. Sy huiswerk doen hy klaarblyklik pligsgetrou, en hy is intelligent, soos sy skoolrapporte getuig. Geen klagtes van die skool af nie. Op oueraande het sy klasonderwyser wel een en ander opgemerk oor Antonie se toenemende ingekeerdheid, dat hy in sy hoekie sit as blote waarnemer en klasbesprekings vermy.

Dis nie dat hy onbeskof is nie, sê mevrou Juries. Nee, net dat hy nie meng nie. En asof sy nie altyd tot hom kan deurdring nie, of hy agter ’n skild skuil. Sy vrees as hierdie afsydigheid toeneem, kan hy begin neig tot asosiale gedrag. Op sigself natuurlik nie ’n probleem nie, meen sy, want introverte is tog meestal per definisie asosiaal, is hulle nie? Tog voel sy dat Antonie se geval anders is, want tot sy ongeluk was hy die toonbeeld van juis ’n ekstrovert. Hy is aantreklik en het na buite geleef, hy was gewild, die middelpunt van ’n groot groep vriende. Daarom was die verandering in sy persoonlikheid ná sy ongeluk vir haar so opmerklik. Maar sy verstaan dit goed. So in sy rolstoel kon hy mos nie meer deel van die aksie wees nie, en dit sou tog ’n uitwerking op sy gemoed hê. Want hy word al hoe meer op die kantlyn gedruk, of beweeg self eenkant toe.

Sy noem hierdie goed, sê mevrou Juries, sodat hulle as ouers ook bedag kan wees, oplet vir tekens as sy asosiale gedrag dalk begin degenereer tot ántisosiale gedrag.

Ja, het Thomas dié aand op pad terug huis toe gesê, mevrou Juries is heeltemal reg. Want APD – antisocial personality disorder – is nie bloot ’n persoonlikheidsverandering nie, eerder ’n persoonlikheidsversteuring. APD kan selfs met sosiopatiese gedrag geassosieer word, ’n mediese en kliniese kondisie wat meebring dat die lyer mettertyd ’n totale minagting ontwikkel vir sy medemens, empatie verloor vir ander se gevoelens.

Jimmel, wat probeer jy sê, Thomas?

Hy sê hy het self al sulke gevalle teëgekom, van APD-pasiënte wat begin om die grense tussen reg en verkeerd te verontagsaam.

Jy bedoel hulle oortree die wet?

Kriminele gedrag is ’n gevaarlike uitvloeisel daarvan, het hy gesê. En hulle het ooreengekom om ’n ogie te hou.

Antonie kyk uiteindelik om na waar sy op sy bed sit.

“Pla ek?” vra sy. “Waarmee was jy besig?”

“Niks nie. Besig met voorbereiding vir Maandag se wiskunde. Kan ek môre by Oupa gaan kuier? Ek moet hom iets vra oor algoritmes.”

“Natuurlik sal ek jou vat.” Of sal sy kan? Nee, sy wil met Rolf gaan praat oor sy pille, oor die Aricept, en ’n afspraak by sy dokter probeer kry. “Maar bietjie later, ek en Oupa moet eers gesels, ek wil hom Maandag dokter toe vat.”

“Ek dog Oupa is orraait.”

“Dis nie oor sy val nie, daardie skrape is al amper gesond. Slaaploosheid. En jy weet hoe hardkoppig hy is. As ek hom nie vat nie, sal hy nooit self by ’n dokter uitkom nie.”

Donna loer weer na die swart skerm. Waarna het hy gesit en kyk? Sy het al gewonder oor Antonie se seksuele belangstellings en behoeftes. Hy word oor twee maande agtien, volgende jaar in matriek. En hy is aantreklik. Stel hy belang in meisies? Ja, natuurlik, watter jong man stel nie in meisies belang nie? En die neuroloog het genoem dat niks hom verhoed om eendag kinders te hê nie, selfs al is hy vir die res van sy lewe in ’n rolstoel. Is dit waarna hy gekyk het toe sy en Thomas aan die deur klop? Na foto’s van sexy vroue? Terwyl hy wonder oor watter meisie van vlees en bloed ooit intiem sal wil wees met ’n kreupele in ’n rolstoel? En dit kan ’n volgende rooi vlag wees, naas antisosiale simptome. Dat Antonie onbewustelik afkerig van vroue word, selfs ’n aversie ontwikkel juis omdat hulle oënskynlik so buite sy seksuele bereik is. Omdat hy die persepsie het dat hulle ’n weersin in hom as patetiese parapleeg het, dat hulle hom sien as net ’n halwe man wat bejammer moet word, dat hulle hom dwing om tevrede te wees met foto’s op ’n rekenaarskerm. Dit het ook alles die potensiaal vir ongesonde gedrag.

“Antonie, jy sal met my praat as iets jou pla, nè? Jy moenie hier in jou kamer sit en opkrop nie.”

“As iets my pla? Ja, Ma, daar ís iets wat my pla. Dit pla my baie, dit maak my mal.”

“Wat’s dit? Praat met my.”

Hy swaai om, terug na sy rekenaar, druk op ’n toets, op die skerm verskyn ’n webbladsy met diagramme. Donna leun nader, haar oë op die opskrif en subhofies:

UAB Spinal Cord Injury (SCI) Model System

Understanding SCI: Part 1 – The Body Before and After Injury

Understanding SCI: Part 2 – Recovery and Rehabilitation

Adjusting to Life after SCI

Hier en daar is iets waarop sy vir ’n breukdeel huiwer. Sy en Thomas ken die meeste van hierdie SCI-modelle en inligtingsbladsye al uit die vuis.

Pain

Depression

Bladder Management Options

Bowel Function SCI

Urinary Tract Infection

Respiratory Health

Personal Care

Driving

Exercise

Adaptive Sports and Recreation

Getting the Right Wheelchair: Manual Wheelchair; Power Wheelchair; Maintenance Guide for Users of Manual and Power Wheelchairs

Employment

Aging and SCI

Ja, hier is dit:

Sexuality and Sexual Function: Written for both men and women with Spinal Cord Injury, this fact sheet discusses the impact of SCI on sexuality, dating, sexual arousal, orgasm, fertility, and relationships.

Pregnancy and Women with SCI

Caregivers

Spasticity

Gait Training

Research for a Cure in SCI

Donna sit terug.

Antonie kyk van die skerm na haar. “Dís wat my mal maak, Ma. Ek’s sewentien jaar oud, en dis wat vir my wag vir die res van my lewe. Ek pie in my bed, Ma. Is dit wat ek gaan doen tot ek eendag in ’n rolstoel van ouderdom doodgaan? My bed natmaak? ’n Doek dra soos ’n baba, Ma?”

Sy strek haar hand uit en vryf oor sy voorarm. Dit is die eerste keer dat sy haar seun so driftig hoor praat, met sulke aggressie.

“My kind –”

“Ek kan nie só leef nie, Ma.”

En dan laat sak hy sy ken op sy bors en swyende snikke ruk sy bolyf. Sy staan van die bed op en gaan buk by die rolstoel, vat haar seun om die skouers, druk haar gesig in sy nek. Watse troos het jy vir jou verlamde tienerseun? Hy wat veronderstel is om sy jong lewe daar buite saam met maats te geniet, rond te hardloop agter rugbyballe aan, met meisies te flirteer, saam op veldfietse te jaag. Pleks daarvan bekommer hy hom oor sy onbeheerbare blaas. Is dit regverdig?

Hulle sit lank so, totdat Thomas klop. “Kom, die kos is op die tafel.”

Die versoeking van Thomas Maas

Подняться наверх