Читать книгу Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten - Страница 20

KANTNOTA

Оглавление

Met die skryf van die verslag aan Donna Maas onthou Ella hoe sy ’n slag tydens die ondersoek gewonder het oor hoe Thomas Maas se kop nou eintlik werk. Hy, wie se vak en beroep dit is om te verstaan hoe ánder mense se koppe werk, om ánder se emosionele toestand en geestelike ewewig te peil. Want in sý kop moet iets geskuif het. Sy vyandigheid het begin plek maak vir ’n soort inskiklikheid, amper bereidwilligheid om inligting aan te bied.

Maar namate haar ondersoek gevorder het, hoe meer skepties het sy geword oor die kamtige simpatieke luisteraar en sagte prater van daai eerste ontmoeting in sy kantoor. Dit het haar gepla dat haar aanvoeling haar só in die steek kon laat. Gewoonlik kan sy iemand met ’n oogopslag reg opsom. Daarom het sy regtig hard gaan sit en dink oor Thomas Maas en sy gladde bek, haarself gedwing om met al haar vrae oor hom in haar laaste gedagtes aan die slaap te raak.

Toe kry sy ’n antwoord. Wel nie ’n plotse openbaring met ’n dramatiese afval van oogskille nie. Bloot die slotsom: Thomas Maas is ’n slim man met baie geleerdheid en mensekennis en soos sy hom probeer peil het, het hy háár gelyke tyd getakseer, geweeg en lig bevind, en besluit hy gaan haar manipuleer en misbruik – om sy eie agterent te probeer red!

Eenvoudig, sinies, en slu. Gebruik sy vrou se PI om sy eie onskuld te bewys. Word die lydende party, betoog hoe daai listige flirt hom in die soetheid van haar heuningkoek probeer verstrik het. Maar uiters belangrik: die sogenaamde spontane en eerlike inligting wat hy aan daai dun PI uitlap, dit moet fyn gesif, geselekteerd, genuanseerd wees.

Die versoeking van Thomas Maas

Подняться наверх