Читать книгу Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten - Страница 22

KANTNOTA

Оглавление

Vir die chronologie van gebeure tydens die Kaapse besoek was Ella verplig om wéér swaar op Thomas Maas se onbetroubare mededelings te leun. Natuurlik kon Donna beperkte leemtes invul, maar Jan Enslin en Frans Marais wou niks weet nie, glo uit persoonlike, kollegiale en professionele lojaliteit.

En Matias en Gabriela Torres was onopspoorbaar, asof weggeraap.

Frans Marais van Bloemfontein kon sy nog in ’n mate verstaan. Maar Jan Enslin? Sielkundige, traumaberader, Thomas Maas se boesemvriend en vertroueling, al uit studentedae. En boonop was hulle huisvriende, die Mase en Enslins.

Daaroor het Ella gewonder: Is dit dan nie juis logies dat Jan Enslin graag sal wil help om weer vrede, vergifnis, genade en algemene lankmoedigheid tussen Thomas en Donna te herstel nie?

Maar hy wou Ella nie eens sien nie, het haar deur sy assistent van sy deur weggehou. Die truuk om haar as pasiënt voor te doen kon sy nie weer probeer nie, Thomas Maas sou sy vriend teen die sluwe private speurdertjie gewaarsku het.

Eers baie later, uit ’n onverwagte oord, het sy broksgewys die feitelike bewyse begin kry waarna sy so hard gesoek het. Whatsapps met tekste en foto’s wat haar oplaas in staat gestel het om Thomas Maas se eensydige relase te begin toets.

Maar toe was dit al amper te laat, toe was daar al ’n dooie liggaam.

Die versoeking van Thomas Maas

Подняться наверх