Читать книгу Die versoeking van Thomas Maas - Chris Karsten - Страница 7
ОглавлениеCHRONOLOGIE VAN DIE ONDERSOEK
Donna se weergawe
1ste ontmoeting met Amalia Rojas | Sondag 18 Oktober
Selfs Oupa ry saam. En Antonie, rolstoel en al. Nie Patty nie, sy is by ’n repetisie, vir die gesin se volgende uitstappie: die Finzikonsert vir klarinet en klavier, met Patty op die klarinet.
Vandag s’n is om die jongste Masie se verjaardag te gaan vier. Aan Florie se slaapkamermure is nie plakkate van akteurs en popsangers nie. Haar neus het sproete, haar hare is die kleur van strooi en pal in ’n ponie, en naskools boer sy in T-hemde, jeans en tekkies. Teen háár mure pryk perde.
Hulle laatlammetjie.
Hulle is so trots wanneer sy en Thomas oor hulle kinders praat. Donna het selfs ’n slag gesê sy voel asof hulle as ouers spesiale seëninge ontvang het, asof ’n engel se vinger elke verwekking aangeraak het. Vir drie mooi, talentvolle spruite, wat eendag, so glo Donna, voetspore gaan trap wat deur ander opgemerk sal word, spore wat nie in sand toegewaai sal word nie.
Patty met die talente vir musiek. Florie se sagte hart vir diere, spesifiek perde. Antonie die petrolkop – dirt bikes was sy ding. Tot sy ongeluk twee jaar terug. Dít het alles verander. In dieselfde jaar het hulle Donna se ma begrawe. Ook toe die begin, so blyk dit nou, van haar pa se slepende siekte.
Nóg sy nóg Thomas is ’n perdemens, jaagduiwel of besonder musikaal – sy kan “Let It Be” en “Sweet Home Alabama” op die klawers uittokkel, hy “Hound Dog” en “La Bamba” op ’n kitaar se snare tjingel. Waar hulle kinders se liefde vir musiek, kragfietse en perde vandaan kom, slaan hulle dronk. Donna het eenkeer gelag en vir Thomas gesê: “Jý’s die sielkundige, jy behoort mos sulke goed te weet!”
Patty het ’n Buffet Crampon-klarinet gekry, Antonie ’n Honda CRF250X. Vandag is dit Florie se beurt. Ook sý, het Donna en Thomas gereken, verdien iets spesiaals, veral op haar tiende verjaardag, groot genoeg vir ’n perd se rug. En kry sy haar sit en hou van die rug, goed, dan is perdrylesse háár geskenk. Dalk later selfs haar eie perd.
Maar natuurlik kom Antonie se ongeluk toe ter sprake.
“Daardie Superman,” sê Donna die aand in die bed toe hulle oor die perdrylesse praat. “Onthou jy, die Superman wat destyds van sy perd afgeval het? Wat verlam is? Ek dink hy’s intussen dood.”
“Dit was ’n fratsongeluk, Donna.”
“Hy was ’n ervare ruiter.”
“Sulke goed gebeur,” sê Thomas. “Ongelukke gebeur.”
“Soos met hom, en soos met Antonie.”
“Waaroor g’n mens beheer het nie.”
“Hy was Superman! Florie is net ’n kind. Sy was nog nooit eens op ’n perd se rug nie. Sy sien hulle by die skou en op TV, dis al.”
“Hy was net ’n gewone mens, ’n akteur, Donna, g’n Superman nie.”
“Ek wéét hy was net ’n akteur. Maar hy was groot, sterk genoeg om Superman te wees. Toe val hy af en breek sy nek.”
“Hoeveel kinders val van perde af?” vra hy.
“Hoeveel kinders val van motorfietse af?” vra sy. “Wat het jy gesê, Thomas, toe jy my omgepraat het om vir hom die motorfiets te koop? Elke seun met ’n motorfiets val die een of ander tyd, dis par for the course, maar hulle staan op en ry weer. Dis wat jy gesê het. Soos wanneer ’n perd jou afgooi. Dit was jou woorde, onthou jy? Net, Antonie het nie opgestaan en weer gery nie.”
“Donna …”
Die stekie moet sy áltyd inkry. Al weet sy dat dit onregverdig is, dat dit niemand se skuld is nie, net God se wil. Want hoe verklaar jy so iets? Ander seuns breek ’n arm, of been. Antonie breek sy T11- en T12-werwels. An act of God. Hy gee, Hy neem.
Nou is hulle op pad in die rigting van Honeydew, na die perdryskool aan die westelike buitewyke van Johannesburg.
En agter in die Kombi vra haar pa so in die algemeen, maar Donna vermoed dit is spesifiek vir Florie se ore bedoel: “Waarheen ry ons nou eintlik?”
“Dis mos ’n geheim, Oupa,” sê Florie.
“Watse geheim?”
“My present.”
“Watse present?”
“Dis my verjaardag, Oupa!”
“O, jy verjaar? Hoe oud is jy nou?”
“Ag, Oupa … Oupa weet mos goed.” ’n Knorrigheid in die stem oor die oupa wat so vergeetagtig is, of besig is om haar siel uit te trek te midde van ernstige sake soos verjaardae.
Donna het simpatie met Florie. Natuurlik weet Oupa goed hoekom hulle waarheen op pad is. Soms is hy aspris, kastig vergeetagtig. Of hou hom doof. Wanneer dit hom pas om speletjies met die kinders te speel. Ander kere is dit eg. Jy kan dit in sy oë sien. Dit is asof sy oë ook verward word wanneer hy régtig nie kan onthou of mooi kan hoor nie.
“Natuurlik weet ek, Florie, ek terg net,” sê Oupa.
“Ons weet almal, net jý weet nie van jou present nie,” sê Antonie van heel agter in die Kombi.
Dit is Annie wat dié spesifieke ryskool aanbeveel het. Die dogter van Annie se vriendin is al twee jaar daar. Doen glo dressage, sê Annie met ’n rol van haar oë.
Partykeer wonder Donna hoe Thomas ooit sy praktyk sonder Annie Philander sal kan bedryf? Annie het ook die afspraak gemaak: Sondagmiddag drieuur, en vra vir Sue by die perdryskool se ontvangs.
Thomas draai in na die imposante ingang. Die naam ROJAS EQUESTRIAN CENTRE met laser in swart plaatmetaal uitgesny en bo teen ’n wit suileboog vasgebout. Groot dubbele hekke van swart gegote yster. Weerskante palissadeheinings wat lyk of dit die hele landgoed omring.
Florie roep met handeklap uit: “Perdry! Perdry!”
Thomas leun na die paaltjie met die interkom, druk ’n knoppie, kondig Florie se afspraak aan. Die hekke gly oop.
In geil groen weikampe kyk blink perde nuuskierig op na hulle Kombi wat stadig tussen witgekalkte paalheinings verbyry. Florie hang by haar venster uit. Die aromas van veld en hooi en diere bereik Donna se neus en sy sit haar palm op haar man se bobeen om gerusstelling te soek.
Sy hou van die netjiese opset. Hierdie is duidelik nie ’n agterplaasbesigheid nie. Lyk of daar groot geld in dressage is.
By die vurk draai Thomas na links, by die bordjie met die pyl na ontvangs.
Florie spring uit en stap saam met Donna en Thomas. Die vrou agter die toonbank glimlag. “Die jonge dame is seker Florie Maas. Ek’s Sue.”
Later sit hulle almal op die klein paviljoen in die arena, Donna se oë stip op Florie. Nou uitgedos in gehuurde ruiterdrag en swart veiligheidspet op die mooi bruin ponie. Sy en die ponie word al in die rondte gelei. Haar kind lyk so klein en broos daar in die saal, so gesnaar van spanning.
Maar Donna merk hoe sy mettertyd begin ontdooi. Sy sien dit aan die manier hoe Florie ingenome na hulle begin loer elke keer wanneer sy by hulle verbykom, by hierdie waarderende skare van vier.
Die uur is gou verby. Buite onder die restaurant se bome sê Thomas vir Florie: “Toe? Jy’t maar skrikkerig gelyk?”
“Kan ek weer kom?” Onseker of die verjaardagpresent nou verby is.
“Was jy nie bang nie?” vra Donna.
“Nee, dit was baie lekker.”
“Goed,” sê Thomas, “dan bespreek ons nog ’n paar lesse en kyk of jy regtig daarmee wil aangaan.”
“Dankie, dankie!”
Thomas staan op en sê vir Donna: “Kom ons gaan kyk sommer nou na datums wat almal pas.”
Die ontvangslokaal is leeg, geen Sue nie. Maar dan verskyn ’n ander vrou met ’n glimlag. “Florie se ouers?” Sy is donker en aantreklik. Blas vel, swart hare, donker oë. Vol lippe.
“Ja,” sê Donna. “Ons wil nog ’n les bespreek, sy’t dit so geniet.”
“Ek’s Amalia Rojas,” sê die vrou. “Sue is besig met ’n ander les.” Sy praat goed Afrikaans, maar met ’n duidelike aksent, wat Donna nie kan plaas nie.
“Rojas?” sê Thomas. “Jy’s die eienaar?”
“Die einste. Vir wanneer wil julle die les bespreek? Dalk meer as een, ons is taamlik vol.”
“Vir volgende naweek,” sê Donna.
Amalia Rojas tik op die rekenaar. “Ons het weer ’n opening vir Sondag vieruur?”
Rojas? Watse van sou dit wees? wonder Donna. Spaans? Een of ander Suid-Amerikaanse land?
“Ons vat dit,” sê Donna.
Sy tik weer. “Goed, afgespreek. Sien julle volgende Sondag.”
Hulle stap deur toe.
“O, meneer Maas …”
Hy steek vas en draai om. Donna wag in die deur.
“As julle belangstel, aangesien dit lyk of Florie nou meer dikwels gaan kom perdry. Ons het môreaand ’n vergadering. Voorligting vir nuwe lede, spesiale aanbiedings. As julle Florie vir ses maande of ’n jaar wil laat aansluit, gaan dit aansienlik goedkoper wees. Julle moet net self die gepaste ruiterdrag koop. Klere is belangrik, soos in enige sportsoort. Julle kan ook ander ouers ontmoet, dit sal julle dalk meer gerusstel as julle hoor hoe hulle oor die ruiterkuns voel. Ons begin sesuur. In die restaurant. Niks formeels nie, net gesels.”
“Dankie,” sê Thomas, “ons sal probeer kom.”
Toe hulle uitstap, sê Donna: “Jy moet maar alleen kom.” Sesuur saans op ’n weekdag is nie ’n goeie tyd vir ’n ma van drie skoolgaande kinders om te lank uit die huis te wees nie. Darem tyd vir ’n pilatesklas.