Читать книгу Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux - Страница 10

Hoofstuk 7

Оглавление

In die volgende paar weke tree hulle op soos hulle afgespreek het. Philip kom haal Nicolette smiddae by haar kantoor as nie een van hulle laat werk nie en dit gebeur nogal dikwels dat hulle dan vir Jack raakloop. Hy is altyd die vriendelikheid self. Groet hulle, bly altyd ’n ruk staan om eers te gesels en waai hulle agterna asof hulle doen en late nie die minste uitwerking op hom het nie. As hulle middagete eet by die plekkie net om die hoek van hulle gebou, is Jack ook gereeld daar. Dis nie ongewoon nie, hy en Nicolette het altyd daar geëet. Sy het eers gedink sy en Philip moet miskien ’n ander plek soek, maar dit sal juis haar plan verydel. Hy moet haar saam met Philip sien. Wat vir haar meer onrusbarend is, is dat hy ’n hele paar keer daar sit en eet met ’n donkerkopmeisie wat vir haar na ’n ballerina lyk. Lank, baie maer, streng teruggekamde swart hare en ’n klassieke gesig. Dis ’n nuwe meisie, nie deel van hulle ou vriendekring nie.

“Hoe kan ek hom jaloers maak as hy ’n ander meisie sit en aangaap?” vra sy daardie aand moedeloos vir Elizma.

“Dis duidelik dat hy jou ook jaloers wil maak. Dis ’n spel wat albei kan speel.”

“Dit maak my nie jaloers nie,” sê Nicolette kwaad.

“As jy so sê.”

“Ek steur my nie aan hulle nie, ek sit met Philip en gesels.”

“Dis goed. Hou so aan. Die blote feit dat Jack dit probeer, wys hy is bekommerd.”

Nicolette wens sy kan dit glo, maar sy ken Jack te goed. Hy is nie ’n alleenloper nie, hy wil altyd tussen en by mense wees. Hy is veral nie ’n man wat sonder ’n meisie aan sy sy wil wees nie. Sy gaan bedroë daarvan afkom as hy nou op iemand anders verlief raak. Waar sy dus klaar besluit het om nie die langnaweek saam met Jack weg te gaan nie, verander sy nou van plan.

“Ek dink ek sal maar gaan,” sê sy vir Philip. “Ek moet hom seker ’n laaste kans gee. Ons kan nie net mekaar vermaak met ander mans en meisies nie.”

“Soos ek gesê het, dis jou keuse. As jy seker is dit is wat jy wil doen, moet jy dit doen.”

Sy voel tog half sleg hieroor al weet sy nie hoekom nie. “Wat doen jy vir die langnaweek?” vra sy.

“Ek het nie planne gemaak nie.”

“Jy gaan tog seker nie net hier sit nie?”

Hy glimlag skewerig. “Ek het dit al baie naweke gedoen. Ek is een van daardie soort mense wat nie voel elke langnaweek moet tot op die droesem geledig word nie. Om by die huis te bly en in my tuin te vroetel en te lees, is vir my baie lekker.”

Dit klink vir haar ook lekker, maar sy sê dit nie. Twee jaar aan Jack se sy het haar al gewoond gemaak aan ’n lewe waarin daar altyd opgehoopte werk is, take wat nie lewensbelangrik is nie, maar wat net van week tot week verder teruggeskuif word omdat elke naweek of vakansiedag vir iets gebruik word. Some wat losgerafel het en nie ingesit word nie, wasgoed wat ophoop, klein goedjies. Naweke is nie om te rus nie, dit moet gebruik word om uit te gaan en dinge te doen.

’n Ander komplikasie is haar ma. Sy het een middag ná werk by die woonstel aangekom net nadat Philip vir Nicolette afgelaai het en sy het binne sekondes die ring aan Nicolette se vinger gesien. Sedert Nicolette se pa vyf jaar gelede oorlede is, is mevrou Meiring baie bedrywig. Sy dien op allerlei rade, sy ondersteun al die kunste en het kort-kort ’n ander man aan haar sy, al het sy haar dogters verseker sy sal nie weer trou nie. Hulle wens eintlik sy wil, want sy bly nog in die huis waarin hulle grootgeword het en hulle bekommer hulle dat sy alleen is. Aan die begin wou sy hê Nicolette moet in die huis aanbly, maar sy het nooit daarop aangedring toe sy sien dis belangrik vir haar om onafhanklik te wees nie.

“Wat is daardie ring aan jou vinger?” vra sy toe sy dit raaksien, “Wys, dat ek sien.”

Nicolette hou haar hand gedweë uit. “Is dit nie mooi nie?”

“Lieflik,” sê haar ma en haar oë flonker. “En jy dra dit aan jou trouvinger. Het Jack uiteindelik op sy knieë gegaan?”

“Nee, Ma, ek is verloof aan Philip.” Toe sy sien hoe haar ma se oë rek, praat sy vinniger. “Ek is nog van plan om hom aan Ma te kom voorstel.”

“Wie’s Philip?” kryt haar ma. “Waar is Jack?”

Nicolette val weg met haar verduideliking oor waarom sy en Jack besluit het hulle pas nie regtig by mekaar nie en sy en Philip wel.

“Hoe kon dit so skielik gebeur het?” vra mevrou Meiring.

“Ek ken Philip al lank.”

“Ek het nog nooit van hom gehoor nie. Waar is Jack?”

“Waar hy nog altyd is. Ons sien mekaar by die werk. Ons is nie kwaaivriende uitmekaar nie.”

Haar ma lyk of sy nie ’n woord hiervan glo nie. “Ek moet met hom praat,” sê sy. “Wat gaan met hom aan? Julle twee is al hoe lank saam en ek dog jy is so lief vir hom en …”

“Ma gaan nie met hom praat nie,” sê Nicolette streng. “Dis tussen ons en dis verby.”

“Dis seker nie onwaarskynlik nie,” gee haar ma toe. “Ek weet ek het partykeer gedink julle pas nie regtig bymekaar nie, want hy is lief vir jol en jy nie, maar waar kom hierdie Philip so skielik vandaan? Dis mos nie logies nie? Ek sien jou vir twee weke nie en skielik is daar ’n ander man op die toneel.”

’n Paar dae later kom haar ma weer daar aan, op pad na die opera en hierdie keer is Philip daar. Hy het vir Nicolette ’n CD gebring en hulle staan nog daaroor en gesels toe mevrou Meiring op haar gewone flambojante wyse ingewaai kom.

As mense vir haar sê sy lyk meer na haar dogters se suster as hulle ma is hulle amper reg. Toe haar ligbruin hare begin grys word, het sy dit rooi gekleur. Sy lyk nie net jonk nie, sy trek ook so aan.

“As ek sewentig is, mag julle my middeljarig noem,” het sy aangekondig. “Nie ’n dag vroeër nie.”

Philip kyk op toe sy inkom en herken die familietrek. Nicolette het mevrou Meiring se oë en hartvormige gesig. Nicolette lyk verskrik, maar stel hulle gou aan mekaar voor.

“Aangename kennis,” sê mevrou Meiring sjarmant en bekyk hom van kop tot tone. Wat sy sien, stel haar nie teleur nie. Hy is nie naastenby so aantreklik soos Jack nie, maar hy is nie ’n onaansienlike man nie. Sy gesig is reëlmatig; ’n mooi reguit neus, sterk ken en ferm mond en sy grys oë kyk haar sonder skroom aan. ’n Volwasse man, is haar eerste indruk. Selfs sy wat dol is op Jack sal die eerste een wees om te erken Jack is nie volwasse nie. “Jy is vir my ’n groot verrassing,” sê sy. “Hoe is dit dat ek nie van jou geweet het nie?”

“Ons was self verras,” sê hy.

Nicolette red hom deur haar ma uit te vra oor die opera en saam met wie sy gaan. Haar ma antwoord geredelik genoeg, maar haar oë bly dwaal na Philip, al neem hy glad nie deel aan die gesprek nie. Dat iets hier nie dadelik klop nie, kan sy sien. Twee jaar lank het sy Nicolette in Jack se teenwoordigheid gesien, die sterre in Nicolette se oë, die onbetwisbare aantrekkingskrag tussen die twee. Dat haar jongste niks voel vir hierdie man behalwe vriendskap nie, kan enige aap sien. Hoe Philip oor die saak voel, kan sy nie sê nie. Sy gesig en veral sy oë gee niks weg nie en wat hierdie kastige verlowing beteken, kan sy in hierdie stadium nie peil nie.

“Wel,” sê sy laggend al bly haar oë skerp. “Baie geluk. Wat het geword van ouers vra?”

“Haai, Ma, niemand doen dit meer nie.”

Mevrou Meiring raak liggies aan haar dogter se wang. “Ek weet, Nicky, ek terg net. Ek sal tog daarvan hou om jou Philip beter te leer ken.”

Dis op die punt van Nicolette se tong om te sê hy is nie “haar” Philip nie, maar op daardie oomblik kom Elizma binne, haar een skouer skeef getrek soos sy haar swaar boektas dra en onder die ander arm ’n dik pak skrifte. Philip is onmiddellik by om te help dra en sy wys hom dankbaar waar om alles neer te sit. Terwyl sy vir mevrou Meiring groet, probeer sy hard om nie vergelykings te tref tussen Jack en Philip nie, want hoe meer sy van Philip sien, hoe sekerder weet sy hy is ’n man op wie mens kan staatmaak.

“Ons sal kom kuier,” belowe Nicolette haar ma. “Philip sal daarvan hou om Ma se tuin te sien. Hy’t ’n daktuin wat skrik vir niks.”

“Is dit so?” vra mevrou Meiring en begin plante praat met Philip. Sy wil ook nie vergelykings tref nie, maar sy onthou met pyn hoe Jack eendag sonder ontsag, maar met baie sjarme, haar eerste orgideë afgepluk het om dit langs haar bord te sit. ’n Galante gebaar, maar sy sou verkies het as die orgideë aan die plant gebly het. “Wag, ek moet ry. Ek kan nie heeldag met julle jongmense staan en babbel nie,” sluit sy af. “Ek sal vir jou steggies maak,” sê sy oor haar skouer vir Philip en waai by die voordeur uit in ’n wolk parfuum.

“Sjoe, dis verby,” sê Nicolette dankbaar.

Philip kyk haar geamuseerd aan. “Wat het jy verwag gaan sy sê?”

“Ek weet nie, dis juis die probleem.”

Jack is bly toe hy hoor sy het besluit om saam te kom vir die naweek; terselfdertyd lyk hy nie of hy ooit getwyfel het aan haar antwoord nie.

“Is jy seker die goeie Philip gee nie om nie?” vra hy met tergliggies in sy oë.

“Nee,” sê sy met haar kop omhoog. “Hy het werk om te doen en hy gee glad nie om nie.”

“Ek sal jou so agtuur Saterdagoggend kom haal,” sê hy. “En pak genoeg in, ons kom eers Maandagmiddag terug.”

“Ek wil met my eie motor ry.”

“Hoekom?” vra hy. “Daar is nie vreeslik baie parkeerplek nie, jy sal sien as ons daar kom. Die chalets sit soos neste teen die krans en soos dit is, gaan daar ’n klomp motors wees.”

“Hoeveel mense gaan?” vra sy agterdogtig.

Hy waai net sy hand deur die lug. “Ag, ons gewone klomp, maar daar is baie toerusting om saam te neem, behalwe die kos. Hugo bring al die vleis omdat sy oom ’n slaghuis het.” Hy gee haar ’n lysie. “Dis wat jy moet saambring. Elsa het mooi uitgewerk wat elkeen moet bring.”

Die Saterdagoggend staan Nicolette weer voor die ingang met haar tas en ’n boks kruideniersware, maar daar is verskille. In die eerste plek is dit nie ’n lieflike, stil, wolkelose oggend soos drie weke gelede nie, dis swaar bewolk en so ’n doureëntjie val soos wasem teen haar gesig en laat haar koud voel. In die tweede plek is Jack laat sodat sy koulik staan en rondtrap en in die derde plek sien sy al minder uit na ’n naweek by die see saam met ’n horde mense.

Toe Jack opdaag, is hy nie alleen nie. Elsa en haar vriend Martin sit agter in die motor, die bak is klaar volgelaai en sy moet voor sit met haar bene pynlik skeef gebuig om plek te maak vir die boks by haar voete.

“Dit lyk vir my na reën,” sê sy toe hulle ry.

“Ag, jy gaan dit nie eers agterkom nie,” verseker Jack haar. “Wag tot jy sien hoe mooi dit is.”

Elsa buig van agter oor en raak aan Nicolette se skouer. “Dis lekker om jou weer te sien, Nico.”

Nicolette gee ’n stywe glimlag en wonder hoekom dit net Philip is wat haar naam nooit afkort nie. Vir die res van die mensdom is sy Nic, Nicky, Nico en vir ’n ruk het Jack haar Lettie genoem om haar te treiter. Sy gesels nie eintlik saam terwyl hulle ry nie, maar sy dink oor haarself. As sy nie nou opvrolik en besluit om die naweek te geniet nie, gaan dit onplesierig wees. Dis haar eie besluit om saam te kom en as sy Jack nog ’n kans wil gee, moet sy minstens bereid wees om saam te speel.

Die chalets is inderdaad so mooi soos Jack belowe het en toe sy deur die een stap wat aan die meisies toegewys is, kom haar gewone optimisme na vore. ’n Lekker ruim woon-eetkamer, ’n mooi kombuisie en twee slaapkamers, elk met drie beddens in. Sy sit haar tas op ’n bed neer en gaan pak die kos in die kombuis uit. Behalwe Elsa is daar nog niemand anders nie en toe Nicolette voor die groot vensters staan en uitkyk oor die rotse en hoe die see daarteen spat, begin sy dink sy gaan die naweek geniet.

Die rustigheid is van korte duur. ’n Uur later is die ander daar en haar kop spin. Motors hou stil en mense peul uit. Die chalet is skielik vol meisies met tasse en sakke en bokse voorraad. Jasse en baadjies word oral neergegooi, die kombuis is vol mense wat tee of koffie maak. Die mans sak ook op hulle toe en daar is ’n gedreun van stemme, koppies wat klink, planne wat luidkeels aangekondig of verwerp word.

Ná ’n uur van chaos blyk dit dat die mans nou uitgaan op die boot en dat die kombuis nie vir kosmaakdoeleindes gebruik gaan word nie.

“Ons dra alles af na die braaiplek,” gebied Jack wat as leier optree. “Dan kan julle alles regkry en as ons met die boot inkom, kan ons braai.”

Nou word dit eers chaoties, want almal praat gelyk, besluit wat afgedra moet word en wat nie. Almal grawe deur kartonbokse en winkelsakke, herpak die goed, argumenteer oor hoeveel van alles moet saamgaan, wie die drank bring, wie die vuur gaan pak en aansteek. Die enigste genade, sover dit Nicolette aangaan, is dat die wolke lig en ’n flou son skyn teen die tyd dat hulle onder by die strandjie is. Daar is ’n hele paar klipbraaivleisplekke, maar net een het ’n sinkdak oor. Nie groot nie, maar tog. Daar is ook ’n lang betontoonbank en ’n ruwe wasbak en sy lei af dis eintlik die plek waar vis skoongemaak word. Op die oomblik is dit toegepak onder kos en snorkels en die hemel weet wat alles.

Die mans neem beurte om uit te gaan op die boot, aangesien dit net vier op ’n slag kan vat. Net om die boot in die see te kry, duur ure. Nicolette is verbaas toe sy sien dit is drie-uur teen die tyd dat die vuur brand en daar ’n mate van orde ontstaan tussen bakke slaai en hope broodrolletjies en kiste bier of wyn. Terwyl hulle wag vir die mans om terug te kom, gaan stap sy ’n ent en sit op die rotse vir ’n ruk. Dis inderdaad ’n baie skilderagtige, ongerepte baai, soos Jack belowe het. Sy wens net daar was nie soveel mense nie. Iemand het boonop ’n radio gebring en die musiek speel so hard dat mens nie die see of meeue kan hoor nie. Maar sy betig haarself vir die tiende keer om nie so krities te wees nie en die naweek te geniet.

Sy kry die gevoel dat niemand van haar verlowing weet nie, want niemand sê iets nie. Jack sou hulle seker ook nie vertel het nie. Hy is die hele tyd aan haar sy as hy nie op die boot is nie en sy moet erken dis lekker om weer by hom te wees, om te sien hoe hy almal kan saamsleur met sy planne en entoesiasme, soos altyd die onbetwisbare leier, die een wie se grappe snaakser is as die res, wie se voorstelle altyd dadelik aangeneem word.

Maar sy is moeg toe hulle die aand nog om die vuur sit en sy begin verlang na ’n warm stort en ’n sagte bed. Sy is kennelik die enigste een wat so voel; almal sit knus om die vuur, paartjies in mekaar se arms. Jack het sy duikpak uitgetrek en verklee en hy sit langs haar, sy arm om haar skouer. Dit hinder haar sonder dat sy kan sê waarom. Dis tog soos dit was, twee jaar lank. Die besitlike manier waarop hy met haar hare speel, is iets wat hy altyd gedoen het.

“Ek is baie moeg,” sê sy teen tienuur. “Môre is nog ’n dag.”

“Spoilsport,” kla Jack.

“Ek weet, maar ek is regtig nou koud en vaak.”

Een van die ander meisies wil ook gaan slaap en hulle dra van die oorskietgoed terug na die chalet. Nicolette stort, klim oor tasse en toerusting en kruip in die bed. Maar as sy gedink het sy gaan slaap, het sy dit mis. Teen middernag begin die res terugkom en hoewel hulle in luide fluisterstemme mekaar maan om stil te wees, is die lawaai so erg dat sy wawyd wakker lê. Krane loop, ligte word aan- en afgeskakel, mense giggel en proes. Sy kom ook agter dat Jack se storie van een chalet vir die mans en een vir die meisies nie heeltemal korrek is nie. Dis onteenseglik ’n man se stem wat sy uit die aangrensende slaapkamer hoor. Sy is ná ’n ruk lus om op te staan en vir almal te gil dat sy nie omgee wie waar slaap nie, solank hulle net asseblief nou tot rus kom sodat dit kan stil word.

Dit gebeur eers omtrent drie-uur. Teen daardie tyd het sy ’n hoofpyn van spanning en ergernis en vat dit haar lank om weer aan die slaap te raak.

Toe sy Sondagoggend wakker word, reën dit. Nie saggies nie, dit sous. Omdat die chalets grasdakke het, was sy nie bewus van die reën tot sy in die kombuis staan en uitkyk nie. Sy moes oor slapende liggame in die woonkamer struikel om daar te kom, maar die eerste beker warm koffie beur haar op. Terwyl dit nog stil is, was sy skottelgoed en probeer orde skep uit die bakke en houers oorskiet wat die hele plek vol staan.

“Jy’s altyd die klein huisvroutjie,” het Jack haar altyd gespot. “Iemand moet dit doen,” was haar verweer.

Teen elfuur is almal op. Verfrommelde slaapsakke lê op die woonkamervloer, die kombuis word weer chaoties en haar hoofpyn vererger.

“Wat gaan ons vandag doen?” vra sy vir Jack toe hy so uitgelate soos altyd by hulle instap. “Dit reën.”

Hy soen haar op haar kroontjie. “Dit pla ons mos nie, pop.” Soos ’n sirkusmeester wat sy sweep klap, begin hy organiseer en twee uur later sit Nicolette weer onder die karige sinkdak by die baai, wéér omring van kos en broodjies wat gesmeer moet word terwyl die mans uit is op die boot of sommer van die rotse af snorkel. En daar is nou een faktor by wat haar meer miserabel laat voel: die swartkop-ballerina is daar. Wanneer en hoe sy daar gekom het, weet Nicolette nie; vir al wat sy weet, steek Jack haar nog die hele tyd in sy chalet weg. Haar naam is Tanya en sy hou haar eenkant. Sy het in afgryse gekyk na die houers vol kos en toe op ’n rots gaan sit soos Lorelei.

Nicolette is ewe min lus om weer te begin kos maak, maar in die gietende reën is daar nie eintlik ’n keuse nie. Tanya gee blykbaar nie om om nat te word nie, sy lyk soos ’n nat rob op haar rots.

Die mans is weer teen vieruur terug omdat daar nou ’n wind opgesteek het en dit gevaarlik is op see. Alles en almal is nat, die wind waai die reën onder die afdak in, maar dit beïnvloed niemand behalwe Nicolette nie. Om warm te word, begin almal drink en Jack sit sommer ’n hele bottel witwyn langs haar neer.

“Dan hoef ek nie kort-kort te kom kyk of jou glas vol is nie.”

Sy bly liewer stil. Sy kry so koud dat sy haar voete nie meer kan voel nie en haar langbroek is waternat. Alles is nat, selfs haar reënbaadjie, en wyn is nie wat sy wil hê nie, dit maak haar net kouer en ongelukkiger. Maar Jack is op sy stukke. Hy drink te veel, sy kan dit altyd sien as sy blou oë nog blinker word. Hy slaan een arm om Tanya en die ander om Nicolette en kyk sy vriende triomfantlik aan.

“Is ek ’n gelukkige man of wat?” roep hy vir sy vriende. “Het ek die twee mooiste meisies aan my sy?”

Almal fluit en lag en Jack maak vir homself nog ’n bottel rooiwyn oop. Nicolette maak haar los uit sy arm en trek die bak broodrolletjies dieper na die middel van die tafel, want hulle is ook al nat van die waaiende reën. Dit begin donker word en vanselfsprekend sukkel die vuur, al is dit onderdak. Reëndruppels sis op die rooster en die wind word kouer. Nicolette kan nie verstaan waarom sy die enigste een is wat so ellendig voel nie. Die ander het nog minder geslaap en niemand het sedert ontbyt geëet nie.

“Ek dink ons moet begin braai,” stel sy voor. “Die vuur brand uit en word nat.”

“Nee, dis nog te vroeg,” sê Jack. “Ons hou nou eers partytjie. Is dit nie pret nie?” Hy lag uitgelate toe die wind ’n plastieksak gewaste slaai skep en oor die sand rol.

Nicolette is die enigste een sober genoeg om dit agterna te sit en sy word ’n hele ent natter voor sy terug is en die servette en ligter goed op die oorlaaide tafel probeer anker.

“Ag, komaan, pop,” sê Jack vir haar en skink haar halfvol glas weer vol, soveel so dat dit oorloop. Hy lag net en lek sy vingers af. “Vang nou gees, man. Kyk hoe lyk jou gesig.”

“My gesig is nat,” sê sy. “My hare is nat, alles is nat.” Sy slaan haar arms om haar bevrore lyf en probeer haar waaiende hare uit haar oë en mond hou. Een van die ander wat ook al te veel gedrink het, probeer by die kis bier kom en struikel. Hy gryp na die tafel en trek die pak wors af op die sand.

“O, aarde,” lag hy proestend. “Ons sal dit in die see moet afspoel.”

Nicolette maak haar oë toe, want sy voel hoe trane begin brand. Sy is te moeg, te honger, te nat om eens meer te probeer voorgee dat sy dit geniet. Sy wil net in ’n hopie gaan lê en huil en toe sy ’n hand op haar skouer voel, swaai sy om om Jack se oë uit te krap, maar dis nie Jack nie, dis Philip. Hy dra ’n kakiekleurige reënbaadjie en sy hare lê nat oor sy kop, tot sy brillense is vol waterspatsels.

“Philip,” sê sy. “Dis so … so aaklig!”

“Ek weet,” sê hy en vat haar hand vas. “Kom.”

Christine le Roux Omnibus 8

Подняться наверх