Читать книгу Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux - Страница 14

Hoofstuk 11

Оглавление

Die Sondagkuier by haar ma verloop beter as wat Nicolette in haar wildste drome kon raai en sy sou dit sonder voorbehoud geniet het as sy haarself net kon dwing om op te hou vergelykings tref. Om mee te begin, deel Philip haar ma se liefde vir tuinmaak, iets wat sy eintlik weet, dis net die omvang wat haar verbaas.

Vandat hulle uit Philip se motor klim en haar ma hulle tegemoetkom, duur dit ’n goeie halfuur om by die voordeur te kom soos die twee elke plant bespreek. Philip het ’n bondel steggies in een hand en in die ander ’n hand vol saad waarvoor haar ma gou plastieksakkies moet gaan soek as sy wil hê Philip moet sy tee drink. Nicolette wat lief is vir ’n mooi tuin en haar ma s’n nog altyd waardeer, kan nie help om Philip se entoesiasme te vergelyk met Jack se onvermoë om ’n aalwyn van ’n petunia te onderskei nie. Sy onthou die rampspoedige oggend toe sy en Jack langs die swembad gelê en haar ma hom bygesleep het om haar te help onkruid uittrek. Haar ma, so omgeknikker deur Jack se blou oë, was dom genoeg om hom alleen te los en in ’n ander deel van die tuin te werk. Teen die tyd dat sy teruggekom het, was die helfte van haar kruie daarmee heen.

Die tweede verrassing is hoe goed hy en haar swaer klaarkom. Adinda, Nicolette se suster, en haar man, Paul, is ook genooi en Paul is ’n stil mens wat beter met elektroniese masjiene kommunikeer as met mense.

“Jou dikdooie swaer,” het Jack na hom verwys.

Dit het Nicolette altyd gehinder, want sy en die res van die familie wat vir Paul goed ken, weet wat hulle aan hom het. Hy mag stil wees, maar hy het ’n dodelike sin vir humor as hy hom tuis voel in die geselskap. Ongelukkig het dit nie Jack se geselskap ingesluit nie. Jack intimideer vir Paul op een of ander manier sodat hy letterlik nooit sy mond oopmaak in Jack se teenwoordigheid nie. En hoe harder Nicolette gewerk het om Paul vir Jack te verduidelik, hoe smalender kon Jack wees. Dit het die punt bereik waar Nicolette voor die tyd uitgevind het of Paul by haar ma gaan wees voor sy dit sou waag om Jack soontoe te neem.

Maar Philip en Paul vind mekaar binne minute. Nicolette kan nie hoor waaroor hulle praat nie, omdat sy moet luister na Adinda se gelukkige stories oor swangerskap en hoe goed sy voel; sy kan net sien dat die twee mans lekker gesels.

“Jy’t ’n baie aangename familie,” sê Philip vir haar toe hulle die middag terugry. “Ek hou van hulle almal.”

“Hulle hou van jou ook.”

“Paul het my goeie raad gegee aangaande my motor.”

“Regtig?” vra sy verbaas. “Wat makeer die motor?”

“Hy begin sukkel. Ek moet hom inruil voor hy te oud word.”

Dis vir Nicolette Grieks. Vir haar lyk Philip se motor na ’n soliede soort van ’n liggrys kar; hoe oud of mankoliekig hy is, sal sy nie kan sê nie. Sy sê ook nie vir hom wat Adinda se mening was oor die verlowing nie.

“Jy’s mal,” was haar suster se uitspraak. “Daar is geen vergelyking nie. Jack is so eksoties soos ’n katjiepiering. Pragtig om na te kyk en ’n reuk wat jou duiselig maak, maar jy kan nie dag ná dag met ’n bos katjiepierings in jou huis leef nie. Jy sal naar word van die soetigheid daarvan.”

“Jy en Ma is ewe erg,” het Nicolette gesê. “Volgens Ma is Jack ’n pou en Philip ’n tarentaal. Nou praat jy van katjiepierings.”

“Die les is dieselfde. As jy weet wat goed is vir jou, gooi jy vir Jack uit en hou baie styf aan Philip vas.”

Nicolette moes lag. “Hy is nie myne om vas te hou nie! Ons voel niks vir mekaar nie. Het Ma nie verduidelik nie? Ek het Philip bygesleep omdat ek vir Jack tot sy sinne wil bring, niks meer nie.”

“Onsin. As jy bietjie moeite doen, kan hy vir jou lief word en jy vir hom.”

“Maar dis glad nie die plan nie! Ons is nie lief vir mekaar nie, ons is net vriende. Nes Jack besef wat hy verloor het, gee ek Philip se ring vir hom terug en dan is dit alles verby. Jy weet mos hoe ek oor Jack voel.”

En, moet sy ’n paar dae later erken, dit begin lyk asof dit werk. Jack kom die oggend na haar kantoor op ’n tydstip toe Herman nie daar is nie en hy lyk ernstiger as normaalweg.

“Wat doen jy vanaand, pop?” vra hy, sy blou oë op haar gesig.

“Niks nie,” sê sy voor sy besef dit sou dalk slimmer gewees het om te sê sy gaan uit.

“Kan ek jou kom haal? Ek dink dis tyd dat ons gesels.”

“Waaroor?” vra sy en knip haar oë.

“Oor ons. Ek en jy.”

Sy voel ’n opgewonde tinteling in haar binneste, maar hou haar ongeërg. “Ek veronderstel so, ja.”

“Ek sal jou sewe-uur kom haal.”

“Seker,” sê sy.

Ongelukkig kom Philip by die woonstel aan net toe sy gebad en aangetrek uit die kamer kom. Sy het moeite gedoen met haar voorkoms en die baie sensuele roomkleurige sybloes ná werk gaan koop.

“Nicolette,” sê Philip toe hy haar sien. “Jy lyk baie … mooi.”

“Dankie.”

Hy het ’n CD in sy hand. “Ek het dié vir jou gebring om na te luister. Jy’t gesê jy …” Hy sit dit op die boekrak neer. “Maar jy gaan uit, lyk dit my.”

“Ja.”

“Dan wil ek nie steur nie. Luister maar daarna wanneer jy tyd het en sê my wat jy dink.”

“Dankie,” sê sy weer en kyk hom agterna toe hy vinnig verdwyn.

“Haai, sies,” sê Elizma beskuldigend. “Hy wou …”

“Ek weet, maar ek gaan vanaand saam met Jack uit en ek wou nie hê Philip moet nog hier wees as hy kom nie. So ’n konfrontasie sal dit bederf. Ek dink my plan is besig om te werk, Jack het vanoggend baie ernstig gelyk.”

Elizma skud net haar kop. “Jy speel met ’n goeie man se gevoelens, Nicolette.”

Die verwyt irriteer Nicolette buite verhouding. “Watse gevoelens? Daar is niks tussen my en Philip nie! Goeiste, jy weet dit mos. Ons is vriende en hy weet presies wat die doel van alles is. Hoe kan jy sê ek speel met hom? Die verlowing is net ’n spel en hy is bewus daarvan!”

Elizma gee haar net ’n lang kyk en sê nie verder iets nie. Gelukkig kom Jack betyds, vir ’n wonder, en hulle ry na hulle geliefkoosde restaurant. By hierdie tafeltjie het hulle altyd gesit, oor hierdie vasie met sy twee roosknoppe het Jack vir die eerste keer erken hoe mal hy oor haar is. Dis alles nog dieselfde en toe sy in sy gesig kyk en die kerslig in sy oë sien flikker, is dit soos ’n geliefkoosde film wat sy op video opgeneem het en nou weer speel. En tog is dit nie dieselfde nie. Die tafel is te na aan die deur en elke keer dat nuwe mense inkom, spoel ’n vlaag koue lug oor Nicolette se rug. Philip sou dit besef het en die kelner gevra het om hulle te skuif. Hy sien sulke goed raak. Toe hulle een middagete by ’n opelugrestaurant gaan eet het, het sy nie eens agtergekom sy sit so dat die son direk in haar oë skyn nie, maar hý het en binne minute het die kelner die sambreel geskuif.

En Jack het net rooiwyn bestel. Weliswaar ’n baie goeie wyn, maar sy is net nie lief vir rooiwyn nie en sy sê dit al twee jaar lank. Philip bestel witwyn vir haar, maak nie saak watse kos hulle bestel het nie.

“Jy lyk só mooi,” sê Jack vir haar en sy oë gloei. “Soos ’n eksotiese wit roos. Ek wens jy kan sit waar ek nou sit en sien hoe die sy oor jou skouers val en jou nek ontbloot dat dit lyk na die stingel van ’n lelie.” Hy tel haar hand op en speel met haar vingers. “Ek wens jy wil hierdie potsierlike ring afhaal!”

“Potsierlik?” snak sy en ruk haar hand uit syne. “Dis nie ’n potsierlike ring nie. Dis pragtig.”

Hy maak sy mond oop om terug te kap en besluit wyslik daarteen. “Nee, jy’s reg, dis ’n mooi ring, maar jy kon dit maar vanaand by die huis gelos het.”

“Nee, ek is te bang dit raak weg.”

“Jy is nog kwaad vir my,” sê hy.

“Glad nie.”

Dis nie die lekkerste ete wat Nicolette nog geëet het nie, maar waarom sy so voel, kan sy nie sê nie. Jack is sorgsamer as normaalweg al weet hy nie van die koue op haar rug nie; hy sê alles om haar hart sag te maak, sy stem word diep en donker soos fluweel as hy haar vertel wat haar oë en lippe en lyf aan hom doen. Sy luister na hom, sy lig haar glas en drink ’n vingerhoedjie vol wyn; die kos is baie lekker en tog is dit asof sy op ’n afstand staan, asof dit nie sy is wat daar sit nie, maar ’n ander meisie. Sy wat Nicolette is, staan langs die deur en bekyk die twee voor haar, koelkop en onbetrokke. En sy is nie seker wat sy van hulle dink nie.

Toe die kelner die spyskaart weer bring dat hulle nagereg en koffie bestel, stoot Jack dit eenkant. “Net die rekening, asseblief,” sê hy. “Ons sal by die huis koffie drink.”

Dit voel vir haar asof die aand baie gou verby is, want in die woonstel, al bly Elizma in haar kamer, is die atmosfeer nie so dat mens intiem kan gesels nie. Maar dis na sý woonstel wat hy ry, nie hare nie. En dat hy alles so beplan het, kan sy ook dadelik sien. Net sagte lampe is aangeskakel, op die koffietafel staan ’n bos rose, die skinkbord met koffiegoed is reg.

“Ons wil nie nou al koffie hê nie, wil ons?” vra hy toe sy sit. “Ek het vir ons sjampanje in die yskas.”

“Wat is die geleentheid?” vra sy toe hy haar borrelende glas vir haar gee.

Hy trek sy baadjie uit en kom sit langs haar. “Kom ons noem dit ’n reünie.” Hy tik sy glas liggies teen hare. “Die hereniging van twee mense wat onnodiglik uitmekaar geruk is.”

“Gesondheid,” sê sy en drink ’n sluk.

Hy sit sy glas neer en rus sy hand agter op haar nek. “Ek blameer jou nie, pop, ek het jou nie goed genoeg opgepas nie en in die proses het jy byna tussen my vingers uitgeglip.”

“Is dit?”

Hy lag, die diep lag wat haar altyd laat smelt het. “Het jy gedink ek verstaan nie? Het jy gedink ek sien nie deur die spel nie?”

“Watse spel?”

Sy vingers gly warm in haar nek af, rus in die kuiltjie van haar sleutelbene. “Dis nie jou skuld nie, ek het dit verdien,” sê hy. Hy leun vooroor en soen haar op die lippe. “Hoe koel is jou lippe,” fluister hy. “Hoe eenkant. Jy weet mos ek is lief vir jou.”

“Weet ek dit?”

Hy sit albei sy hande op haar skouers en gly hulle heen en weer oor die syerige materiaal. “Wil jy hê ek moet jou vra om te trou? Jy weet ek wil nie nou al trou nie, ek het gedink jy voel dieselfde, maar as dit is wat jy wil hê …”

Sy rol haar skouers asof iets haar hinder. “Ek dwing geen mens om te doen wat hy nie wil doen nie.”

Hy soen haar weer al hou sy haar lippe geslote. “Of ons trou of nie, maak tog nie saak nie. Jy weet jy is die enigste meisie vir my.

“Wat van Tanya?”

Hy lag weer. “Twee kan mos die speletjie speel, of hoe? As jy vir ’n oomblik dink ek glo dat jy en die goeie Philip …”

Sy ruk los uit sy greep. “Nie ’n woord nie,” waarsku sy. “Nie ’n woord oor Philip nie.”

Sy oë vernou effens. “Dan bespreek ons ook nie vir Tanya nie.”

Sy drink nog ’n sluk sjampanje en voel hoe die borreltjies warm in haar keel af kielie. Daar is iets hipnoties in sy stem, in sy hande wat stadig oor haar skouers beweeg. En dis ’n bekende spel, dis iets wat hulle al soveel keer gedoen het. Sy voel asof haar ruggraat sag word, sy sit nie meer regop na hom en kyk nie, sy begin ingee.

Terwyl hy praat, vir haar vertel hoe begeerlik sy is, hoe sy nog altyd die mooiste vrou in die wêreld is, voel sy sy vingers teen haar bors en sy raak weer verwyderd, bekyk die tafereel van ’n afstand. So ’n aantreklike man, dink sy afgetrokke. Kyk hoe buig hy oor die meisie, kyk hoe vaardig knoop sy vingers die sybloes los. ’n Geoefende man, elke sin wat hy sê het sy al soveel keer vantevore gehoor en gelees en op die silwerdoek gesien, daar is niks nuuts nie.

Hy trek haar regop aan haar hand. “Kom,” sê hy. “Jy het nog nooit van die bank gehou nie. Kom ons gaan kamer toe, my lelie van die dale, my roos, my eie, eie speelpop.”

Sy ruk haar rug so hard regop dat sy eintlik seerkry en sy gryp na die pante van haar bloes. “Ek is nie ’n pop nie, Jack!”

Hy glimlag net. “Jy is my speelding,” sê hy in sy fluweelstem. “My eie speelding, my beste speel …”

“Nee,” sê sy hard en knoop haar bloes toe. “Nee, wag.”

Op hierdie oomblik lui die telefoon op die lamptafeltjie langs haar en sy is so verward dat sy outomaties haar hand uitsteek en dit optel, al hoor sy vir Jack swets.

“Liefling!” kryt ’n stem in haar ore. “Wat gaan aan? Hoekom mag ek nie vanaand oorkom nie? Hoe kan jy my elke dag begrawe onder die bosse rose en dan net op my antwoordmasjien sê ek mag nie vanaand oorkom, jy is besig nie?”

Nicolette maak haar mond oop om iets te sê, maar die meisie gee haar nie eintlik kans nie. “Rooi rose,” sê sy. “Jy het my bed en my kamer vol rooi rose gesprinkel en voor ek kan dankie sê, los jy net ’n boodskap en …”

Nicolette hou die telefoon uit na Jack. “Dis vir jou,” sê sy en staan weg. Sy trek haar bloes reg en kam haar vingers deur haar hare. Sy kan nie hoor wat hy vir die meisie – Tanya? – sê nie, maar hy klink baie kwaad. Sy stem is laag en sissend. “Ek gaan badkamer toe,” sê sy vir hom. “Neem jou tyd, ek is nie haastig nie en jy het baie om te verduidelik.”

In die badkamer spat sy koue water oor haar gesig en staar na haar weerkaatsing in die spieël. Sy voel besoedel. Sy wil al haar klere uittrek en onder die stort gaan staan. Sy wil haar tande borsel en haarself ontsmet, maar al wat sy doen, is haar hare borsel en vars lipstiffie aansmeer. Toe stap sy terug.

“Ek kan verduidelik,” sê hy toe hy haar sien. “Jy kan my nie verantwoordelik hou vir een of ander meisie se histeriese uitbarsting nie. Ek was onder die indruk ek het die telefoon uitgetrek.”

Dit laat haar lag. “Maar daar sal altyd ander meisies wees, Jack. Altyd. Jy kan nie jou hele lewe lank die foon van sy mik af los nie. Kan jy my huis toe neem?”

Hy is nou nukkerig. Sy mooi gesig is op ’n plooi getrek en hy gryp sy baadjie en rem dit aan. “As jy net wil luister …”

Sy skud haar kop. “Nee wat, en as dit enige troos is, die oproep het nie veel effek gehad nie. Ek het tot my sinne gekom voor dit gelui het. Jy moet maar aangaan met al jou meisies, Jack. En moenie weer vir my blomme stuur nie, dis ’n vreeslike mors van geld.”

In die motor probeer hy net een keer nog pleit, maar om by ’n meisie te pleit, is nie sy sterk punt nie, hy vererger net die saak.

“Dankie vir die ete,” sê sy toe hy voor haar gebou stilhou. “En ek wens jou sukses toe.”

“Jy’s ’n koue vrou, Nicolette,” sê hy. “Ek het dit nog altyd gedink. Vol nukke en spesifikasies. Jy’s nie soos ander meisies nie. Ek het dit daardie naweek by die see weer gesien. Altyd eenkant, altyd te hooghartig om deel te wees van die pret.”

“Hooghartig?” vra sy. “Is dit wat jy dit noem?”

“Ag, pop,” sê hy skielik weer wanhopig en gryp na haar. “Vergewe my, vergeet wat ek gesê het, ek weet nie wat ek sê nie, dis jy wat my tot raserny dryf.”

“Los my,” sê sy kwaad.

Hy gryp net harder na haar en begin haar soen, of probeer soen, want sy ruk haar kop heen en weer. Sy wag dat die motordeur oopgeruk word en Philip haar kom red, maar dit gebeur nie, dis doodstil in die straat. “Philip!” roep sy.

Hy los haar so vinnig dat sy teen die deur val. “Jy dink tog nie …?” Hy begin lag. “O, vader behoede my, jy dink tog nie daardie dooie drel gaan soos ’n prins op ’n wit perd aangejaag kom en jou op sy saal gooi nie? Philip? Jy moet mal wees as jy my verruil vir so ’n …”

Daar is nie veel ruimte in die motor nie, maar sy trek haar arm terug en klap hom met meer geweld as wat sy geweet het sy besit. Sy klap hom so hard dat haar handpalm brand, toe ruk sy die deur oop en klim uit. Sonder om eens terug te kyk, hardloop sy na die ingang en storm die hysbak binne.

Elizma is nog wakker en kyk belangstellend op toe Nicolette inkom. “Lekker aand gewees?” vra sy minsaam.

“Nee!”

“My aarde,” sê Elizma. “Jy lyk asof jy met ’n leeu gestoei het. Jou lipstiffie is oor jou gesig gesmeer en jou hare …”

“Leeu,” sê Nicolette veragtend. “Papbroekige muis, sou ek sê. Hoe ek ooit kon gedink het daardie skepsel is die son en maan gaan my verstand te bowe. Hoekom het jy dit nie raakgesien en my teen hom gewaarsku nie?”

“Wel,” sê Elizma taktvol. “Ek het altyd probeer sê ’n mooi gesig is nie alles nie, selfs al is dit so mooi soos Jack en …”

“Ek wil nie hoor nie. Ek is moeg en gaan nou slaap.”

“Goeie plan,” sê Elizma. “Ek lei af die saak is dus opgelos.”

“Opgelos?” vra Nicolette en hoor ’n histeriese klankie in haar stem. “Weet jy watse gemors dit nou is? Het jy enige idee waarin ek my begewe het?”

“E … nee,” sê Elizma. “Maar jy sal seker vir my verduidelik as jy kalmer is.”

Nicolette gaan na haar kamer en druk die deur toe. Sy gooi haar lankuit op die bed en begin huil tot haar kussingsloop nat is.

Christine le Roux Omnibus 8

Подняться наверх