Читать книгу Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux - Страница 8

Hoofstuk 5

Оглавление

Elizma is nog nie terug toe Nicolette die voordeur van hulle woonstel oopsluit nie. Philip dra haar bagasie vir haar in en maak dadelik aanstaltes om te loop.

“Kan ek nie vir jou iets maak om te drink nie?” vra sy.

“Nee dankie.”

Sy steek haar hand uit en gee hom ’n ferm handdruk. “Baie dankie dat jy saamgekom het, Philip. En dat jy ingewillig het om saam te speel. Ek waardeer dit en ek hoop ek kan eendag ’n klip uit jou pad rol.” Sy sit haar hand op haar hart. “As ons klaar is hiermee , gaan ek kyk of ek jou meisie … wat is haar naam?”

“Amelia,” sê hy.

“Gaan ek kyk of ek jou Amelia tot haar sinne kan bring. Dit sal my groot tevredenheid gee.”

“Dankie,” sê hy. “Ook dat jy my saamgenooi het. Kan ek nie bydra tot die koste nie?”

“Nooit,” sê sy en kry ’n glinstering in haar oë. “Jack het betaal, nie ek nie, en dis jy wat al jou brandstof uitgery het.”

“Lekker slaap,” sê hy en loop uit.

Sy pak uit terwyl haar badwater loop en het net uitgetrek om in die bad te klim toe die deurklokkie weer lui. ’n Oomblik lank bly sy net so staan, haar kamerjas los in haar hand. Elizma sal nie die klokkie lui nie, sy het mos ’n sleutel. Dit kan net Jack wees en vir ’n konfrontasie het sy nou glad nie krag nie. Môre miskien, as sy haar storie agtermekaar het.

Sy loop suutjies tot by die voordeur en loer deur die ogie. Dis Philip, nie Jack nie. Sy trek vinnig haar kamerjas toe en knoop die gordel vas voor sy die deur oopsluit.

“Jammer,” sê hy verleë toe hy haar kaalvoet sien staan.

“Ek wou net in die bad klim. Het jy iets vergeet?”

“E … nee. Kan ek net vir ’n sekonde inkom?”

“Natuurlik.” Sy staan eenkant en maak die deur agter hom toe.

Hy vroetel in sy sak en haal ’n klein fluweeldosie uit. Dis nie nuut nie; dis om die waarheid te sê so oud dat die fluweel byna heeltemal afgeslyt is. “Dit sal meer geloofwaardig wees as jy ’n ring dra.”

“Haai, nee, Philip,” sê sy ontstem. “Dis nie nodig nie en die laaste ding wat ek van jou verwag.”

Hy knip die dosie oop. “Die ring was my oorlede ouma se verloofring. Ek het my oupa se name, sien, en toe my ouma dood is, het sy die ring vir my nagelaat.”

“Ja, maar die idee is seker dat dit vir jou toekomstige vrou bedoel is, Philip!”

“Ons verlowing gaan meer gewig dra as daar iets tasbaars is soos ’n ring,” sê hy en hou die dosie uit na haar.

Sy kyk af. Dis die fraaiste ring wat sy nog gesien het. Sy het nog altyd van antieke juwele gehou en hierdie ring is ’n meesterstuk. In die middel is ’n kleinerige diamantjie, maar dis omring van opale, klein robyntjies en pêrels. Vir haar lyk dit na ’n miniatuurbossie blomme. “Dis pragtig!” roep sy.

Hy trek die ring los van sy verweerde kussinkie en hou dit uit. “Gee vir my jou hand.”

Sy gehoorsaam omdat sy haarself nie kan help nie. “Maar dis te kosbaar,” protesteer sy nog.

Hy glip die ring oor haar vinger. “En dit pas,” sê hy tevrede. “Ek was bang dis te klein of te groot. My ouma het dun vingers gehad.”

Sy kyk verstom na die ring. “Dit is miskien bietjie styf,” gee sy toe. “Maar ’n goeie ding, sou ek reken. Sal nie maklik afval nie.” Sy voel versigtig oor die steentjies met haar ander hand. “Philip,” sê sy onstuimig en kyk op na hom. “Jy kan dit nie doen nie. Dis net ’n speletjie en hierdie ring is … is net te mooi. Dis bedoel vir jou regte verloofde, die vrou met wie jy gaan trou. Jy moet dit hou vir Amelia.”

“Sy stel nie op hierdie punt belang in my nie,” sê hy. “En soos ek nou-nou gesê het, ons storie gaan meer gewig dra met iets so konkreet soos ’n verloofring.”

“Wel, ja, dis seker so, maar …”

Hy buig verby haar en sit die dosie op die boekrak neer. “Ek is jammer ek het jou uit die bad gekry. Wel te ruste.”

Sy wil nog weer ’n keer dankie sê, maar hy is weg en sy druk die deur stadig toe en stap terug badkamer toe. Soos ’n robot gly sy die kamerjas van haar skouers af en klim in die bad, haar linkerhand in die lug voor haar. Sy sak onder die warm water in en draai haar hand stadig heen en weer. Dis net die mooiste ring wat sy nog ooit gesien het. As sy kon kies, as sy dit self kon ontwerp , sou sy dit presies so wou gehad het.

Dis boonop die eerste ring wat sy present gekry het. Jack is nie iemand wat juwele koop nie. Hy is eintlik glad nie ’n man wat presente aandra nie. Blomme, ja. Hy bring altyd blomme en laat groot rangskikkings rose aflewer op haar verjaardag. Sy het al heelparty kere geskimp dat sy nie sal omgee vir iets meer tasbaar nie. Nie soseer omdat sy duur juwele wil hê nie, meer omdat sy die krapperige stemmetjie in haar kop wil stilmaak. Om ’n bloemis te bel en blomme te laat aflewer, vereis min energie. Om na ’n juwelier te gaan en iets besonders vir jou geliefde uit te soek, impliseer dat jy tyd en geld en liefde afgestaan het. Dit hoef ook nie noodwendig juwele te wees nie. Elizma het byvoorbeeld haar hart gesit op ’n stel blou-en-wit koppies wat sy in ’n winkel gesien het en Heinz het net gewag tot hy genoeg geld het voor hy een aand daarmee by die woonstel aangekom het. Hy doen dit dikwels, bring vir haar ’n verrassinkie, iets wat hy weet haar hart sal bly maak. Nie Jack nie.

“Ek maak dan jou hart bly,” het hy geterg toe sy dit in ’n selfbejammerende oomblik vir hom genoem het. “Is ek nie genoeg nie?”

Almiskie, dink sy nou en draai die ring heen en weer. Sy wip toe sy die voordeur hoor oopgaan en stemme in die woonkamer praat. Dis Elizma en Heinz wat teruggekom het en hy bly blykbaar nie, want ná ’n paar minute hoor sy Elizma groet en klap die voordeur weer.

“Hallo!” roep Elizma. “Is jy hier?”

“In die bad,” roep Nicolette terug. “Ek is nou daar.” Sy was haar gou en na vyf minute kom sy uit, weer in haar kamerjas en met ’n handdoek om haar kop.

“Lekker naweek gehad?” vra Nicolette.

“Baie lekker, dankie, en jy?”

Nicolette trek die handdoek af, buig haar kop vorentoe en begin haar hare droogvryf. “Heerlik,” mompel sy tussen die nat hare deur.

“Jy en Philip goed klaargekom?”

“Mm,” sê Nicolette en vryf verwoed.

“Ek kan nie met jou praat solank jy onderstebo hang nie,” sê Elizma. “Ons het vanmiddag groot geëet, jy kan dink, skoonma het haar lekkerste kos gemaak, maar is jy honger?”

“Nee, glad nie. Sal ’n bietjie vrugte eet.” Nicolette kan nie langer onder haar hare wegkruip nie, sy skud dit agteroor en kam dit glad.

“Vertel nou eers,” neul Elizma en gaan sit op die armleuning van die bank. “Hoe het dit toe verloop? Het jy en Philip goed klaargekom? Wat dink hy van jou plan? Voel hy nie beledig dat jy hom so gebruik nie? Wat sê ek beledig, gekrenk is die regte woord. Voel hy nie ge- …”

Nicolette hou haar linkerhand voor Elizma se neus op. “Verloof,” sê sy.

Elizma staar na die hand, buig vooroor en bestudeer die mooi ring in stomme ongeloof. “Nico,” sê sy en druk al twee hande oor haar mond. “O wee. Nee, ek glo dit nie.” Sy begin lag tot haar oë traan. “Ek trek alles terug wat ek gesê het. Jy weet beter as ek. Ek was doodseker die hele spul gaan uitloop op ’n gemors en komplikasies wat geen regdenkende mens kan soek nie. Ek het vir Heinz vertel en hy het net sy kop geskud en gesê vir hom klink dit na sotterny en jy gaan …”

“Hoekom het jy vir Heinz vertel?” onderbreek Nicolette haar.

“Hy sal tjoepstil bly, jy ken hom. Ek het hom met sy hand op sy hart laat sweer dat hy deel is van die komplot of anders is jy nie meer sy tweede beste vriendin nie.” Sy begin weer lag. “En nou is dit nie eens meer nodig nie. Ek haal my hoed vir jou af, nie net het ek nie geglo jou plan gaan werk nie; in my wildste drome het ek nie gedink dit gaan so vinnig werk nie!”

“Waarvan praat jy?”

“Jy sê julle is verloof, dan nie? Is hierdie pragtige ring ’n verloofring, of wat?”

“Ja, maar …”

“Wag,” keer Elizma. “Ek weet wat gebeur het. Jack het te hore gekom van jou plan en vir Mauritz net so gelos en hiernatoe gejaag met die ring.”

“Nee,” sê Nicolette. “Ons het eers omtrent ’n halfuur gelede teruggekom.”

Elizma se lag droog op. “O, goeiste. Was dit onplesierig? Het Jack sowaar berge toe gery en julle daar loop konfronteer? Hoe aaklig moes dit nie vir die arme Philip gewees het nie. Sies, Nico, dis nie regverdig teenoor hom nie. Dis jy wat hom in so ’n haglike posisie geplaas het. Was Jack baie kwaad? Ek hoop hy was vir jou kwaad en nie vir die arme Philip nie. Maar dis die mooiste ring wat ek nog gesien het, hoor. Dit lyk antiek. Ek het nie geweet Jack het sulke goeie smaak nie.” Sy hou haar hand in die lug.“Jammer , ek wil die man nie in die gesig vat nie, maar jy moet saamstem daardie dasse wat hy dra, om nie te praat van …”

“Is jy klaar?” vra Nicolette. “Kan ek dalk praat?”

“Absoluut,” verseker Elizma haar. “Ek kan nie wag om alles te hoor nie. Begin van die begin af.”

“Ons het die twee dae baie geniet,” sê Nicolette en gaan sit oorkant Elizma. Sy trek haar vingers deur haar klam hare en skud hulle droog op ’n manier wat weer vir Elizma jaloers maak.

“Philip was ’n baie gawe metgesel en het die rustigheid net soveel soos ek geniet.”

“Tot Jack opgedaag het.”

“Ek dog jy het gesê jy gaan nou luister?”

Elizma druk ’n vinger teen haar lippe. “Ek swyg. Vertel.”

“Ons het gestap en by die waterval gesit en vleis gebraai en geslaap. Philip het glad nie gedink my plan is so vergesog nie en hy het nie beledig gelyk nie. Hy het net een voorstel gemaak.”

“Dat hy ’n koeëlvaste baadjie koop?”

“Nee! Dat ons verloof raak. Dat ons vir mense sê ons is verloof. Wel, vir Jack hoofsaaklik.”

Elizma se gesig is ’n prentjie. Die onheilige lag verdwyn uit haar oë en haar mond val letterlik oop. Vir ’n volle minuut staar sy net na Nicolette. “Ekskuus?” vra sy flou. “Sê weer?”

“Dis logies,” sê Nicolette. “Ek wou ook eers lag, maar ek dink hy het ’n punt. Hy sê Jack beskou hom as so skadeloos dat hy nie jaloers sal wees as hy hoor ek en Philip was die naweek in die berge nie. Hy sal reken dis soort van asof ek en my broer weggegaan het. Nie dat ek ’n broer het nie, maar jy weet wat ek bedoel.”

“Ja?” vra Elizma in ’n piepstem.

“Ja. My eerste reaksie was ook dat dit verregaande is, maar ek moes besef hy is reg. As die plan is om Jack te laat skrik, moet hy ordentlik skrik. Ek het toe ingestem en ons het huis toe gekom.”

“En het hy die ring die hele naweek met hom saamgedra?”

“Moenie laf wees nie. Hy het dit nou-nou hier aangebring. Ek het jou mos vertel hy bly al die tyd in daardie ander vleuel. Ek was net van plan om in die bad te klim toe hy hier aanklop met die ring.” Nicolette bekyk die ring opnuut. “Ek wou dit nie vat nie, dis te waardevol. Te uniek, sou ek sê. Was sy ouma s’n, vertel hy. Hy’t sy oupa se name.”

“Dit mag wel wees,” sê Elizma. “Maar mens dra nie so ’n waardevolle ring sommer vir die grap nie.”

“Ek voel ook so.”

“Maar jy dra dit dan.”

“Hy het aangedring.”

Elizma se wenkbroue lig. “Is Philip die soort man wat aandring?”

Nicolette draai ’n string hare op haar vinger, haar oë in die verte. “Weet jy, ek het agtergekom ek weet glad nie watse soort man hy is nie. Ek ken hom as iemand wat nooit sy mond oopmaak nie, wat oor sy voete val as mens hom gaan sien in sy kantoor. Jy weet? Soort van lomp en onbeholpe en skaam.”

“Ek weet nie van die onbeholpe nie,” sê Elizma. “Maar ja, hy is stil en inkennig en allesbehalwe opdringerig.”

“Ja,” gee Nicolette toe. “Ek dink nog altyd hy is nie opdringerig nie, maar hy … ek weet nie. Hy weet wat om te doen en hy val nie regtig oor sy voete nie. Hy is … hy is prakties en so.” Sy skud haar kop. “Maar ek weet nie. Ek het gedink ek het hom klaar opgesom en ek het nie.”

“En hy is gewillig om deel te wees van so ’n klug – om jou selfs hierdie mooi ring te laat dra?”

Nicolette lyk ’n oomblik lank weer skuldig en helder dan op. “Ja, maar dis ’n klug waarby hy ook kan baat, sien.”

Elizma kyk haar onbegrypend aan. “Hoe?”

“Daar’s ’n meisie op wie hy al jare sy oog het. Nee, dis ernstiger as dit. Hy sê sy is die enigste meisie vir hom, dis hoekom hy nog nie getroud is nie. Hy is al sewe en dertig, weet jy?”

“Watse meisie?”

“Ek ken haar nie, maar haar naam is Amelia en ek het onderneem om my bes te doen om hulle bymekaar te bring. Hopelik skrik sy ook as sy besef hy het nou iemand anders.”

Elizma lyk baie skepties. “Jong, ek hoop julle weet wat julle doen. Vir wie gaan julle nou almal vertel van die verlowing?”

“Vir almal. Dis net jy wat weet dis net speel-speel.”

“En julle ouers?”

Nicolette sug. “Ek het nog nie regtig sover gedink nie, maar ek veronderstel hulle sal ook moet hoor. Philip kan dalk nog stilbly, want sy ouers bly ver weg, maar jy weet self, my ma is al om die hawerklap hier by my, sy sal dadelik die ring raaksien. Nee, ons sal maar moet jok. Dis jammer, maar nodig. ’n Verlowing is tog nie bindend nie, nes Jack besef wat hy verloor het, verbreek ons die verlowing. My ma sal nie omgee nie, jy weet hoe erg is sy oor Jack.”

Elizma staan op. “Wanneer gaan jy vir Jack vertel?” Sy dink aan iets. “En wat laat julle dink hy gaan dit glo? Jy ken skaars vir Philip en meteens is julle verloof.”

“Dis maklik. Philip het my daarop gewys dat Jack nie eintlik weet wat ek doen, of saam met wie ek is, as ek nie by hom is nie. Ons sal net sê ons is al lankal vriende en het nou besef ons is vir mekaar gemaak.”

“Ek gaan nou bad,” sê Elizma beslis. “Jy laat my kop draai en dis môre skool.”

“Ek gaan ook vroeg inkruip,” stem Nicolette saam. “Wat van bietjie rooibostee?”

“Dit sal lekker wees.”

Nadat Elizma gebad het, help Nicolette haar om haar hare in te draai en sy sit agter haar met die haardroër toe die deurklokkie lui.

“Wie’s dit dié tyd van die aand?” vra Elizma vies.

Nicolette giggel. “Ek hoop nie dis weer Philip met nog verlowingsgeskenke nie.”

“Maak oop,” sis haar vriendin. “En ek is nie hier nie. Ek sal my hare verder in die kamer gaan blaas.”

Nicolette stap na die voordeur en maak oop.

“Pop!” sê Jack en lig haar van haar voete af.

Sy is glad nie voorbereid om hom nou al te sien nie en sy laat amper toe dat hy haar soen voor sy wegruk.

“En nou?” vra hy, glad nie afgesit nie. “Ek het spesiaal vroeg teruggekom sodat ek hier kan inloer. Jis, maar ons het ’n lekker twee dae gehad. Sien jy hoe ek verbrand het? Die son was skerper as wat ek verwag het en …” Hy hou nog sy arm om haar lyf. “Ons het klaar afgespreek om dit oor ’n paar weke weer te doen. Ek weet jy hou nie van so ’n groot klomp mense nie, maar jy kan nie dink hoeveel pret ons gehad het nie. Mauritz het net twee van die chalets bespreek en daar is ons toe so ’n klomp dat ons omtrent in die baddens moes slaap.”

Sy trek ’n gesig.

“Baie ordentlik, pop,” verseker hy haar. Sy gesig is inderdaad rooierig, maar hy is van nature so bruingebrand dat dit nie maklik sigbaar is nie. Sy oë lyk net blouer en sy tande witter. Sy swart hare val souterig oor sy voorkop en sy onderdruk die begeerte om dit terug te vee. “Ons het een chalet vir die vroumense en een vir die mans gemaak. Jy hoef nie bekommerd te wees nie en glo my, volgende keer gaan jy saam. In die middel van die nag het die vroue besluit om ons ’n poets te bak en emmers water deur ons vensters te gooi en …”

Nicolette maak haar oë toe. Sy word moeg net om na hom te luister. “Dis nie my soort van ding nie,” sê sy. “Jy weet dit.”

“Maar dit was soveel pret! Natuurlik is alles toe nat en jy kan dink die meeste van ons het toe al bietjie te veel bier gehad, maar na ons alles opgedroog het, hou ons toe ’n middernagfees op die sand.” Hy lag uitgelate by die herinnering. “Ek het nie veel geslaap nie, dit kan ek jou verseker. En ek gaan nie weer sonder jou nie. Ons het op die kalender gekyk en oor drie weke is mos ’n langnaweek. Ons het sommer klaar weer die chalets bespreek en jy gaan saam.”

“Jack,” probeer sy keer. “Jy weet ek is nie ’n ou vir ’n boot nie.”

“Jy hoef nie op die boot te gaan nie. As ons uitgaan, kan jy swem of op die strand lê. Dis die lieflikste baai, ek weet nie hoekom ons nog nie vantevore daar was nie. Behalwe die chalets is daar net ’n paar huise. Stil plek, jy sal daarvan hou.”

Die naweek klink vir Nicolette allesbehalwe stil, maar sy sê dit nie, sy wag net dat Jack ophou vertel. “Dit word nou koud vir op die strand lê.”

“Nee wat,” sê hy. “Ek het die koue nooit gevoel nie. Ons het natuurlik duikpakke aangehad.” Hy kyk af na haar asof hy haar nou vir die eerste keer raaksien. “Gaan jy my nie binnenooi nie?”

“Dis laat.”

“Ek sal nie nee sê vir ’n glas wyn nie.”

“Ek dink nie so nie,” sê sy en soek na die regte woorde om haar nuwe rol mee te speel.

“Iets is verkeerd,” sê hy en vou sy hand onder haar ken. “Wat is dit, pop?”

Sy druk sy hand vies weg. “Gaan jy my nie vra hoe mý naweek was nie?”

Hy klik sy tong. “Jammer, diertjie. Hoe was dit toe?”

“Wil jy nie weet wie ek saamgevat het nie?”

Dit dring uiteindelik tot hom deur dat sy nie reageer soos normaalweg nie en hy plooi sy gesig dadelik om belangstellend te probeer lyk. “Vertel my van jou naweek,” nooi hy. “Maar kan ek nie eers ’n glas wyn kry nie?”

Sy bly staan waar sy is. “Nee. Ek het vir Philip saamgenooi.” Die lag verdwyn nie dadelik uit sy gesig nie.

“Philip,” sê hy. “Philip wie?”

“Moenie jou dom hou nie, Jack,” sê sy ongeduldig. “Philip de Waal.”

Hy staar na haar. “Hoekom wou jy dit doen?”

“Ek moes iemand saamneem. Jy’t self so gesê en Philip is my … my beste vriend.”

“Is dit so?” vra hy en sy oë vernou. “Van wanneer af?”

“O, van lankal af. Ons deel soveel … e … soveel belangstellings.”

Hy staan lank na haar en kyk, so skerp dat sy verleë raak en wegkyk. “Jy en Philip, nè?”

Sy lig haar linkerhand. “En hierdie naweek het ons vir die eerste keer besef hoe … e … hoe …” Sy maak hard keel skoon. “Hoe lief ons vir mekaar is en nou is ons verloof.” Sy lig haar hand hoër sodat hy noodgedwonge na die ring moet kyk.

“Verloof?”

“Ja,” sê sy. “Ons is verloof.”

Christine le Roux Omnibus 8

Подняться наверх