Читать книгу Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux - Страница 9

Hoofstuk 6

Оглавление

Jack se gesig verdonker. Hy staan ’n tree terug, vee sy hare van sy voorkop af en bly kyk na haar. Vir ’n lang ruk sê hy niks nie. “Jy en Philip,” sê hy.

Sy voel dronkerig in haar kop. “Ja.”

“En dit gaan al lank aan.”

“Ons was nog altyd goeie vriende,” sê sy en wens Elizma wil uit die kamer kom en haar red. “Dis eers dié naweek dat ons besef het ons gevoel is …”

“Strooi,” sê Jack.

“Ek is baie jammer,” sê sy vals. “Maar ek het ook agtergekom jy het jou eie lewe en jou eie aktiwiteite en ek is nie eintlik deel daarvan nie. Ek meen, dis nie asof ek en jy sou trou of so iets nie. Ons is nie verloof nie en mens se hart …”

“Nonsens.”

“Dis waar, Jack,” sê sy, haar stem nou sterker. “Jy doen wat jy wil en ek val in as dit kan, maar ek en jy …”

“Jy is mal oor my.”

“Nie meer nie. Ek is nou verloof aan iemand anders.”

“Aan Philip!” sê hy veragtend.

Dit maak haar kwaad. Philip is ’n goeie mens en sy is ’n mate van lojaliteit aan hom verskuldig. “Ja, aan Philip. En ek sal dit op prys stel as jy niks beledigends van hom sê nie.”

“En dit net omdat ek nie die naweek alleen op ’n bergpiek wou loop sit nie.”

“Dit was bloot die laaste strooi,” sê sy. “Dit het my oë oopgemaak.”

Hy staar nog al die tyd tastend oor haar gesig en stadig verander die donker uitdrukking in sy oë. “Ek sien,” sê hy kalmer. “Ja, ek dink ek verstaan.”

“Ek is bly. Dit is dus nie meer betaamlik dat ek en jy hier staan en ek nogal in my nagklere en … Philip sal nie daarvan hou nie.”

“Philip sal nie daarvan hou nie?” vra hy. Hy gooi sy kop agteroor en begin lag. Hy lag uit sy maag uit, hy lag die lag wat gewoonlik gemaak het dat sy saamlag. “O, pop, my liewe pop,” sê hy toe hy tot bedaring gekom het. “O, jou klein onnut. Ja, ek sien. Ek verstaan. Jy en Philip is verloof.”

“Presies,” sê sy onseker, haar oë soekend oor sy gesig na die oorsaak van sy gelag.

“Mag ek dan die eerste wees om jou geluk te wens?”

“Dankie.”

Hy buk af en soen haar kuis op die wang. “Ek hoop julle sal baie gelukkig wees.”

“E … dankie.”

Hy tel haar hand op en kyk na die ring. “Tot ’n ring ook,” sê hy, sy oë vol dansende liggies. “Die man is inderdaad paraat. Ek sal spesiaal môre ’n draai by hom gaan maak om hom geluk te wens. Is die troudatum al vasgestel?”

“Nee, natuurlik nie.”

“Julle is seker nie haastig nie,” sê hy.

“E … nee.”

“Natuurlik nie.” Hy soen sy vingerpunt en waai dit in haar rigting. “Lekker slaap, pop.”

Sy kyk hom fronsend agterna toe die deur toegaan. Die gesprek het glad nie verloop soos sy dit voorsien het nie. Hy lyk allesbehalwe ontsteld. Hy lyk, om die waarheid te sê, dik van die lag.

Elizma loer uit haar oop kamerdeur en kom nader. “As jou beste vriendin het ek die reg om saam te luister,” sê sy. “Daar was geen manier wat ek my hare sou blaas terwyl jy vir Jack vertel nie.”

Nicolette draai om en kyk haar vraend aan. “Het jy gesien hoe vrolik is hy hier weg?”

Elizma knik. “Wel, ek kon hom nie sien nie, maar ek het hom gehoor. Aan die begin wou ek net onder my matras induik, want ek het gevoel hier kom ’n groot rusie, maar toe …”

“Toe kry hy so ’n duiwelse lag in sy oë,” sê Nicolette in ’n plat stem. “Hy sien dwarsdeur my plan, die ring ten spyt.”

“En nou?” vra haar vriendin.

“Ek is nou moeg,” sê Nicolette kwaad. “Ek gaan nou in die bed klim en my boek lees. Ek is moeg vir mans.”

Sy droom die hele nag deurmekaar stories waarin sy en Philip en Jack saam met ’n skare jillende jongmense op ’n boot is. Sy wil afklim, want die see is stormagtig, maar Jack keer haar en dit raak net deurmekaarder, met mense wat eet en drink en dan meteens almal in die berghut sit. Sy is bly toe dit oggend is en sy kan opstaan.

By die werk speel Herman ’n CD wat klink soos ’n drukboor wat oor ’n stamperige pad loop.

“Draai dit sagter,” sê sy. “Jinne, Herman, so vroeg op ’n Maandagoggend is dit bietjie kwaai.”

“Verkeerde voet uit die bed geklim?” vra hy simpatiek, maar draai dit tog af. “Horrible naweek gewees?”

“Nee, baie lekker naweek, dankie. Ek het net ’n effense hoofpyn.” Sy skakel haar rekenaar aan en begin werk. Werk is ’n goeie ding, dit dwing haar kop weg van die verkeerde soort gedagtes.

Maar sy voel sy moet met Philip praat en gou ook, voor Jack by hom kom. Daar is ’n telefoon op haar lessenaar en dat Herman gaan saamluister, is buite die kwessie. Sy staan op en dié keer draf sy sommer met die trappe na die agtste verdieping. Sy waai net vir die ontvangsdame en haas haar die gang af na Philip se kantoor. Daar bly sy vinnig staan, want hy het iemand by hom.

“Nicolette,” sê hy toe hy haar sien en staan op.

“Jammer,” fluister sy. “Wou jou net ’n oomblik spreek. Sal later terugkom.”

Hy kom agter sy lessenaar uit. “Net ’n oomblik,” sê hy vir die man wat oorkant hom sit. “Verskoon my. Is iets verkeerd?” vra hy toe hy in die gang voor Nicolette staan. “Jy lyk oorstuur.”

“Nee, nee,” fluister sy en kyk om haar rond of iemand luister. “Maar ons moet praat. Jack het gisteraand daar aangekom en hy … hy gaan jou vandag kom gelukwens. Hy’t so gesê.”

“Ja,” sê hy op sy kalm manier. “Dis in orde. Ek is hier.”

“Jy verstaan nie,” sê sy dringend. “Eers het hy kwaad geword en toe’t hy begin lag. Ek dink nie hy glo my nie. Ons sal ons plan … of ons sal iets anders of …” Sy vee oor haar voorkop. “Ek het sleg geslaap gisternag.”

“Daar is regtig niks om jou oor te kwel nie,” sê hy. “Ek kan ongelukkig nie nou praat nie, ek het nogal ’n besige dag voor my. Doen jy vanaand iets?”

“Nee.”

“Waarom kom eet jy nie by my nie?”

“By jou?” vra sy dom.

“In my woonstel, ja. Dis in die wesvleuel, soos ek gesê het. Die nommer is 12A. So sewe-uur? Of moet ek jou kom haal?”

“Nee,” sê sy. “Nee, dis nie nodig nie, ek sal dit kry, maar wat van Jack en wat sal hy …”

“Jack is glad nie meer jou bekommernis nie,” sê hy. “Laat dit aan my oor. Sewe-uur vanaand?”

Sy knik en loop half oorbluf terug na haar kantoor. Hy ken nie vir Jack soos sy hom ken nie. As hy besluit om snaaks én sarkasties te wees, sal hy die arme Philip vermorsel. Sy skud haar kop en wonder hoekom sy nog altyd aan hom dink as arme Philip. Sy is die een wat hier rondfladder, nie hy nie. Hy het totaal ongestoord gelyk.

“Jack was hier rond,” sê Herman vir haar toe sy weer sit. “Ek het gevra of hy na jou soek en hy het nee gesê. Het julle baklei, of wat?”

“Nee,” sê sy gemaak lig. “Ons is nie meer …” Sy haal diep asem en besluit sy kan netsowel begin jok. Hoe gouer hoe beter. “Ek het die naweek verloof geraak.”

Hy swaai so vinnig om dat sy stoeltjie zoem. “Verloof? Aan wie?”

“Ek dink nie jy ken hom nie. Philip de Waal.”

“Slaan my dood,” sê hy verstom. “Maar wat van Jack? Hy het nie eintlik ontsteld gelyk nie.”

“Waarom sal hy? Ons het saam besluit dat ons nie regtig by mekaar pas nie. Dis nie asof ons mekaar nou haat nie.”

“Wel,” sê hy. “Wel. En hier kwel ek my omdat jy al die jare so gedienstig doen wat hy wil en sê wat hy wil en …”

“Ag, skei uit,” sê sy suur.

Hy kyk na haar en rol sy stoel terug na waar dit was. “Gaan jy vir ons koek koop om dit te vier?”

“Nee.”

“’n Hamburger vir middagete?” vra hy hoopvol.

Sy moet lag. “Ja, ek sal vir ons middagete koop. Toe, werk nou. My liefdeslewe is regtig nie so interessant nie.”

Toe sy teen halfsewe die aand aantrek, wonder sy wat op aarde mens aantrek as jy gaan eet by jou verloofde wat nie eintlik jou verloofde is nie. Formeel of informeel? Op die ou end borsel sy net haar hare tot dit blink, trek ’n swart fluweellangbroek en wit bloes aan en groet vir Elizma wat haar gefassineerd bekyk.

“Kan hy kook?” wil sy weet.

“Hoe moet ek weet?” sê Nicolette. “Dis nie asof ek hom ken nie, is dit? Ek voel ons moet praat, dis al. ’n Sterker strategie uitwerk.”

“Soos?”

“Ek weet nie. Sien jou later.” Sy tel haar handsak op en stap die gang af na die hysbakke wat in die sentrale gedeelte is.

Die drie vleuels loop soos die speke van ’n wawiel uit die middelste as en sy neem die hysbak wat na die wesvleuel lei. Toe sy op die twaalfde verdieping uitklim, lyk dit vir haar nes die gang voor haar en Elizma se deur behalwe dat die nommers glad nie klop nie. Dit begin by 120 en loop tot by 126, wat ook min of meer is soos sy dit ken, aangesien daar ses woonstelle op elke verdieping is, maar waar hy aan die 12A kom, begryp sy nie. Dis eers toe sy half moedeloos aan die einde van die gang bly staan dat sy die trappe sien en ’n bordjie met 12A en ’n pyltjie wat boontoe wys.

Sy stap die trappe huiwerig op, maar dit eindig inderdaad voor ’n deur waarop 12A staan, en sy klop. Philip maak byna dadelik die deur oop. Sy hempsmoue is halfpad opgerol en uit die kamers agter hom kom ’n heerlike geur.

“Hallo,” sê sy. “Ek het gedog ek het verdwaal en …”

“Kom binne,” sê hy. “Naand, Nicolette. Ek moes jou gesê het dis die dakwoonstel.”

Hy lei haar na binne en vir die volgende tien minute sê sy nie ’n dooie woord nie. As sy oor die saak gedink het, sou sy gereken het Philip bly in ’n woonstel nes hare of miskien kleiner. Daar is op elke verdieping drie eenslaapkamerwoonstelle en dieselfde hoeveelheid met twee slaapkamers, soos hare. En dis glad nie wat hy het nie. Hy bewoon wat vir haar lyk na ’n huis bo-op die gebou.

Dit strek in alle rigtings uit, met glasdeure na alle kante. Die woonkamer loop uit op ’n tuin. ’n Regte tuin met groterige bome, tuinmeubels en bakke en potte vol plante met blomme. Die huis – sover sy kan sien – is karig gemeubileer in die sin dat daar min meubels is, maar wat daar is, lyk vir haar van hoë gehalte. Groot roomkleurige rusbanke en leunstoele, ’n mooi kas of twee, ’n glaskoffietafel.

“Ek het maar gekoop wat ek nodig gehad het,” verduidelik hy. “’n Sin vir binnenshuise versiering het ek nie.” Maar oor die tuin is hy meer entoesiasties.Hy wys vir haar wat daar was toe hy die plek gekoop het en wat hy alles bygevoeg het.

“Dis baie mooi,” sê sy flouerig. “Ek het nie eens geweet daar bestaan so ’n plek nie. Ek dog al die woonstelle lyk maar … wel, dieselfde.”

“Ek hou van ruimte,” sê hy. “Seker omdat ek grootgeword het met die Vrystaat se uitgestrekte vlaktes om my. Ek hou nie daarvan om ingehok te voel nie en hier kan ek my verbeel alles is oop en wyd.”

“Dit is.” Sy leun oor die relings om die daktuin en kyk af op die stad. As sy haar kop skuins draai en effens oorbuig, verbeel sy haar sy kan die agterkant van haar woonstel sien.

“Ek het vir ons pasta gekry by die Italiaanse delicatessen,” sê hy toe hulle later aansit. “Van basiese kosmaak weet ek, maar nie van deftige kos nie.”

“Jy hoef nie soveel moeite te gedoen het nie.”

“Dis nie moeite nie. Ek het net gedink ons sal hier meer privaat wees om te praat as in ’n restaurant en jy het gelyk asof jy iets op die hart het.”

Sy lig haar glas. “Het Jack jou toe kom gelukwens?”

Hy knik net en gee die slaaibak aan.

“En?” vra sy toe hy niks verder sê nie. “Hoe was hy? Wat het hy alles gesê?”

“Niks buitengewoons nie. Hy het my net gelukgewens.”

“Was hy nie onplesierig of … so iets nie?”

“Nee.”

Sy sit terug in haar stoel, ’n bitter blik in haar oë. “Hy speel een of ander duistere speletjie. Toe ek hom gisteraand vertel, was hy eers kwaad. Soort van. Ontsteld, in elk geval, en toe slaan hy net so om en wens my geluk, maar ek kon sien hy is dik van die lag.”

“Lag?”

“Ja. Asof hy weet ek speel net ’n speletjie en dis in orde, hy sal saamspeel.”

Philip sit net na haar en kyk. Hy draai sy wynglas stadig in die rondte tussen sy vingers en sy sien vir die eerste keer dat hy baie mooi hande het. Skraal vingers. Hy sug effens voor hy weer praat. “Hy het wel vir my gevra of ek beswaar het as jy oor drie weke vir die naweek saam met hom en ’n groep vriende weggaan. Hy sê dis lankal gereël.”

“Hy jok,” sê sy kortaf. “Dis waar hy die afgelope naweek was en volgens hom was dit groot pret. Middernagfeeste op die strand en die meisies wat die mans in die nag met water gooi.”

“Hoekom wil hy hê jy moet saamgaan?”

“Hy dink ek sal dit geniet.”

“En sal jy?”

“Natuurlik nie.” Sy raak ingedagte en sit haar slaai afgetrokke en eet. “Tensy hy iets wil bewys.”

“Hy het geklink asof hy iets in die mou voer,” sê Philip. “Dis miskien te sterk gestel. Hy het my baie mooi gevra. Belowe hy sal jou goed oppas, my verseker dis alles baie ordentlik, die meisies slaap in die een chalet en die mans in die ander.”

Sy kyk op. “En wat het jy gesê?”

“Dat dit vir jou is om te besluit. Ek is nie ’n tronkbewaarder nie.”

Sy leun terug in haar stoel. “Ek wonder … Hy weet ek hou nie van sulke wilde, deurmekaar naweke nie. Dink jy hy gaan probeer om … om alles beter te organiseer sodat hy my kan wys sulke uitstappies kan tog vir my lekker wees? Dink jy dis dalk sy eerste poging om my terug te wen?”

“Ek weet regtig nie.”

“Miskien moet ek gaan,” sê sy. “Kyk of dit so is. Hom ’n kans gee om te bewys dat hy iets kan organiseer wat ander mense se welsyn ook in ag neem.”

“Doen hy dit nie normaalweg nie?”

Sy skud haar kop en lag. “Sy matelose entoesiasme sleep gewoonlik die wa deur die drif, maar nee, prakties is Jack nie.

Hy sal nie een onderdeel van sy duiktoerusting vergeet nie, maar hy sal nie daaraan dink dat mens ook moet eet of drink of slaap nie.”

“Wel,” sê Philip in ’n neutrale stem. “Dis vir jou om te besluit. Soos ek gesê het, ek is nie jou oppasser nie.”

Sy knik. “Ek sal sien hoe ek voel. En ek sal in my eie motor gaan sodat ek kan ry as ek wil.”

“Dis altyd ’n goeie riglyn.” Hy skink haar glas weer vol en stel voor hulle drink koffie op die terras aangesien die wind nie waai nie.

Dit is tog koeler as wat sy voorsien het en toe hy vra of sy nie liewer binne wil sit nie, skud sy haar kop. “Nee, dis so lieflik hier met die hele stad aan ons voete.”

Hy verdwyn in die huis in en kom terug met ’n dik oopknooptrui wat hy oor haar skouers hang. “’n Goeie tante van my het die trui vir my gebrei en ek het dit nog nooit gedra nie.”

“Dankie,” sê sy en glip haar arms in die moue. Die dun bloes wat sy aanhet, is heeltemal ontoereikend. Sy moet die moue ’n hele paar keer oprol voor haar hande weer uitsteek en soos sy al heeldag elke vyf minute doen, kyk sy eers weer na die mooi ring. “Dis regtig die mooiste ring,” sê sy. “Ek sal dit soos goud oppas.”

Hy glimlag net vir haar. “Het jy nog iets op die hart gehad?” vra hy na hy hulle koffie geskink het. “Jy het vanoggend so ongelukkig gelyk.”

“Nee,” sê sy verleë. “Behalwe miskien dat hy … Wel, toe hy gisteraand so geamuseerd lyk toe ek hom vertel, het ek kwaad geword en gedink ons sal hom … jy weet?”

“Nee, ek weet nie. Wat moet ons doen?”

Sy trek die dik trui stywer om haar bors. “Saam gesien word of so iets. Hy moenie dink dis net ’n grap nie.”

“Ons kan dit doen, ja. Het jy iets in gedagte?”

Sy voel baie ongemaklik. “Nee, ek weet nie. Uitgaan of so.”

“Ons kan saamry werk toe,” stel hy voor. “Sal dit nie help as ek jou in die middae by die kantoor kom haal nie?”

“Ja, dit sal seker, maar ek wil jou ook nie verontrief nie. As jy dalk iets anders wil doen of ná werk êrens heen moet gaan …”

“Dan spreek ons so af. Daar is seker dae dat jy ook ná werk ander draaie wil ry, maar as dit nie die geval is nie, ry ons saam. En ek kan jou kom haal vir middagete.”

“Ag, ek eet sommer ’n broodjie.”

“Ek ook. Ons kan dit saam doen.”

“Dankie,” sê sy en kyk hom streng aan. “Maar die laaste ding wat ek wil doen, is om jou geld te kos. Ons betaal elkeen vir sy of haar eie kos.”

“As dit jou gelukkig sal maak.”

“Ja,” sê sy ferm. “Ek het hierdie ding aan jou opgedring. Dit mag nie vir jou onkoste meebring nie.”

Hy haal net sy skouers op en vir die res van die aand praat hulle nie weer daaroor nie. Hy wys vir haar sy CD-versameling en sy vind dit wonderlik. Toe dit te koud word buite, sit sy op die mat in die woonkamer en hy speel vir haar snitte wat sy wil hoor. Toe hy haar later by die hysbak groet, dink sy daaraan dat sy jare laas so ’n vreedsame, gesellige aand deurgebring het.

Elizma is nog wakker toe sy instap. Sy staan haar tande en borsel toe Nicolette inkom en kyk vraend om. “Lekker aand gehad?”

“Verbasend lekker.” Sy beskryf eers die dakwoonstel, die kos en toe die musiek. “Ek het nie geweet ons gebou het sulke woonstelle nie,” sê sy en sit op die rand van die bad om haar grimering te begin afhaal.

“Ek het nogal gewonder wat daar aangaan,” sê Elizma. “Mens kan die bome van die straat af sien.”

“Ek het dit nog nooit opgelet nie.”

Elizma droog haar gesig af en bekyk haar vriendin. Nicolette dra nog die dik trui en lyk soos ’n dogtertjie wat in ’n kombers toegerol is. Sy skud haar kop effens. “Jy was nog nooit baie oplettend nie, Nico,” sê sy.

“Ek is!”

“Nee, jy is nie. Jy sien net wat jy wil raaksien. Vir die mees ooglopende goed het jy ’n blinde kol.”

Christine le Roux Omnibus 8

Подняться наверх