Читать книгу Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux - Страница 13

Hoofstuk 10

Оглавление

Dinsdagoggend sit Nicolette skaars in haar kantoor toe ’n bode klop en ingesteier kom met die grootste bos rooi rose wat sy nog gesien het. Dis eintlik ’n goeie ding dat Herman nog in ’n vergadering is, want die rose staan die hele kamer vol. Sy haal die kaartjie uit.

“Kan jy my ooit vergeef, liefste pop?” staan daar. “Ek het jou afgeskeep; ek het jou laat swaarkry. Vergewe my. Liefde, Jack.”

Sy lees dit ’n hele paar keer oor voor sy die kaartjie in haar laai gooi en begin plek maak vir die blomme. Eintlik is sy lus om dit vir die ontvangsdame te gaan gee, dit sal fraai lyk by die ingang. Maar Jack sal dit daar sien en kan afgehaal voel. Sy het die rangskikking ook net in ’n hoek voor die venster ingewig toe Herman inkom.

“Wel, wel, wel,” sê hy. “So ’n verloofde moet ’n meisie hou.”

“Dis van Jack,” sê sy.

Hy snuif aan die rose wat na niks ruik nie. “Is daar ’n tweespalt in ons emosies of wat?”

“Ag, hou op,” sê sy. “Jy weet Jack stuur altyd blomme.”

“Maar nie, sover ek weet, aan verloofde meisies nie.”

Sy haal net haar skouers op. Die vorige aand toe sy haar wedervaringe van die naweek vir Elizma vertel het, is sy daar ook met skeptisisme begroet.

“Ek het jou gesê jou plan gaan lol,” was Elizma se uitspraak. “Onder Jack se vleuel is jy miserabel en onder Philip s’n verloop alles glad en geniet jy die naweek. Wat gaan nou vir wat?”

“Dit was net ’n slegte sameloop van omstandighede,” het sy verdedig. “Die weer en alles.”

“Jy sê dan jy was nog nooit so bly om Philip te sien nie? Hy was soos ’n engel uit die hemel, was jou presiese woorde.”

“Natuurlik was hy. Jy weet mos watse soort mens hy is. Bedagsaam en ingestel op ander mense se gerief. Dit beteken nie ek het Jack afgeskryf nie.”

“As Heinz my deur soveel ellende gesit het, het ek dit ernstig oorweeg om hom af te skryf. Nie dat hy dit natuurlik sal doen nie. Jack is nie bekend vir sy onselfsugtigheid nie. Jammer om hom te moet kritiseer, maar dis waar.”

Nicolette het liewer begin uitvra na Elizma se naweek. Sy het ook nie vir haar vriendin vertel van Louisa nie, hoofsaaklik omdat sy self nie verstaan waarom sy so gereageer het nie. Philip het dit ook nie verstaan nie.

“Sê my net een ding,” het hy die vorige aand gevra toe hulle terugry stad toe. “Jy het jou bereid verklaar om my met Amelia te help, maar jy was baie boos toe Louisa e … vatterig raak.”

“Amelia is ’n ander saak.”

“In watter opsig?”

“Sy is … jy is lief vir haar en wil haar hart wen.”

“En Louisa?”

Sy het hom agterdogtig aangegluur. “Is jy lief vir haar?”

“Nee, sy is net ’n ou vriendin.”

“Nouja, dis die verskil.” ’n Onlogiese argument, maar al waaraan sy kon dink. En hy het ook nie verder uitgevra nie.

Sy word deur nog ’n ondervraging gesit toe haar ma net voor middagete by haar kantoor inloer. “Hallo, skattebol,” sê sy. “Ek neem my dogter uit vir middagete. Is al heeloggend by die winkels. Jy het nie ander planne nie, het jy?”

Sy skud haar kop. Sy het gehoop Jack wil haar uitneem sodat hulle dinge kan uitpraat, maar sy het nog geen teken van hom gewaar nie. Sy laat dus toe dat Herman eers op sy gewone manier met haar ma flankeer, kry haar handsak en stap uit. Philip het nie iets gesê van saameet nie, en dit verbaas haar glad nie. Ná die naweek is hy seker ’n bietjie moeg vir haar en haar dramas. Oorblootstelling is nooit ’n goeie ding nie.

Toe hulle in die restaurant sit, val haar ma weg. “Wie is Philip?” vra sy.

“Ma het hom dan ontmoet!”

“Dit beteken niks nie. Hy kom my voor as ’n baie gawe man, aantreklik en …”

“Dink Ma hy’s aantreklik?” vra Nicolette verbaas.

“Natuurlik is hy. ’n Baie mooi man, sou ek sê. Jy moet hom net nie langs Jack sit nie. Dis soos ’n tarentaal langs ’n pou met gespreide stertvere. As jy die tarentaal op sy eie sien, is dit ’n pragtige voël, vol besondere en unieke eienskappe; langs die pou lyk hy vaal en oninteressant.”

Nicolette vind dit nogal ’n goeie vergelyking, maar sy sê dit nie. “Hy is my baie goeie vriend.”

“Mens raak nie verloof aan goeie vriende nie, veral nie as jy twee jaar lank smoorverlief is op iemand anders nie. Ek ruik ’n komplot.”

Nicolette breek ’n broodrolletjie en begin botter smeer. Sy ken haar ma en sy weet sy staan nie ’n kans nie, haar ma gaan grawe tot sy by die waarheid uitkom. “Ja, goed,” erken sy. “Die idee is om Jack tot sy sinne te bring. Dis nie ’n regte verlowing nie.”

Haar ma bestudeer haar gesig sorgvuldig. “En Philip is bereid om saam te speel?”

“Ja, hy het nie ’n sekonde getwyfel nie. Die verlowing was sy idee, ek het hom net saamgenooi vir die naweek in die berge. Drie weke gelede. Hy’t gedink dít op sy eie gaan nie veel indruk maak op Jack nie en hy was reg. Jack beskou Philip as skadeloos, net ’n goeie vriend.”

“En het die verlowing hom laat skrik?”

“Ek weet nie,” moet Nicolette erken. “Daar was vanoggend weer rose, die bos wat Ma gesien het. En ek was die naweek weg saam met hom.”

“Saam met wie?” vra mevrou Meiring.

“Jack. Wel, Philip ook op die ou end.”

Mevrou Meiring se oë rek en sy bestel witwyn. “Albei? En hoe het dit verloop?”

Nicolette gee weer eens die stryd gewonne en vertel haar ma wat gebeur het. “Ma kan dus sien, Philip neem sy taak as verloofde ernstig op,” eindig sy die relaas.

“Waarvoor ek net dankbaar kan wees. Die gesit in die reën klink vir my haglik.”

“Dit was.”

Haar ma lyk baie ingedagte vir die res van die ete, maar sy torring nie verder aan Nicolette nie. Daar is ook ander groot en belangrike nuus: Nicolette se ouer suster wat ’n jaar gelede getroud is, verwag ’n baba.

“Niemand gaan my glo as ek sê ek is ’n ouma nie,” sê mevrou Meiring. “Maar ek gee nie om nie, ek is in die wolke. Jy weet hoe erg is ek oor babas.”

Nicolette weet dis waar. Haar ma kan met die elegansie van ’n model deur ’n kamer beweeg, maar sit ’n baba voor haar neer en sy smelt ineen in ’n hoop onsamehangende moederlikheid.

“Jy en Philip moet by my kom eet,” sê haar ma voor hulle ry. “Kom Sondag, nee wag, ek is uitgenooi. Volgende Sondag. Al is hy net ’n speel-speel verloofde wil ek hom tog graag beter leer ken.”

In die week wat op die langnaweek volg, word daar elke oggend ’n bos blomme vir Nicolette afgelewer. Sy steek hulle in die stoorkamer weg tot sy huis toe gaan, want dit word ’n verleentheid. En ’n irritasie. Jack self sien sy nooit nie, dis net die daaglikse ruiker blomme met die liefdevolle boodskappe. Vanselfsprekend is Philip ook hiervan bewus omdat hulle ’n paar dae saamry en hy haar moet help om die blomme in sy motor te laai.

“Van Jack?” vra hy.

Sy lyk moedeloos. “Ek weet nie meer wat om met al die blomme te doen nie! Elizma sê sy kry hoofpyn in die woonstel, so soet ruik dit. Die laaste twee ruikers was proteas en fynbos en sy is allergies daarvoor. Ek het dit vir die opsigter gaan gee.”

“Meisies hou mos van blomme,” is sy neutrale opmerking.

“Nee, nie as dit in die plek is van …” Sy soek na woorde. “Hy moet self na my kom en verskoning vra vir die naweek. Ek het hom nog nie met ’n oog gesien sedert hy daardie aand by ons … by jou chalet ingebars het nie.”

“Ek het gehoor hy is in Johannesburg.”

Dit maak haar net kwater. “Hy kon my gesê het!”

“Miskien gee dit julle al twee afkoelkans. Tyd om te dink oor die verhouding.”

“Ja,” sê sy, en omdat sy nie kans sien vir hierdie verleentheid nie, vertel sy hom dat sy die volgende week weer haar motor elke dag nodig het en hulle nie sal kan saamry nie.

“Dis in orde,” sê hy op sy kalm manier. “Ek is self nou baie besig.”

In plaas van dat dit haar beter laat voel, is sy die hele volgende week humeurig en so kort van draad dat tot Elizma lig loop. Philip kom nie in die aande kuier nie, hy nooi haar nie om middagetes saam te eet nie. Hy bly uit haar pad uit. Die blomme droog ook op en Jack is terug op kantoor. Sy sien hom net in die verte of by ander kollegas en hoewel hy altyd vrolik groet of vir haar soentjies waai, praat hy nie met haar nie. Omdat sy Philip nooit sien nie, bel sy hom een aand om hom saam te nooi na haar ma die Sondag.

“Dankie,” sê hy in ’n afwesige stem. “Dit sal lekker wees.”

Sy wag dat hy uitvra of verduidelik waarom sy hom nie sien nie, maar hy vra net hoe laat hy haar moet kom oplaai en lui toe af.

Die Saterdagaand is Elizma uit en Nicolette so opgeskeep met haarself dat sy iemand te lyf wil gaan. Philip het altyd ingeloer as hy weet sy is alleen, al was dit net vir ’n koppie koffie. Nou sit sy al die hele dag op haar eie. Jack flenter seker rond met sy ballerina en Philip met Louisa, dink sy bitter. Sy maak die yskas oop, tuur somber na die inhoud en besluit sy is lus vir roomys. Sy vat net haar beursie, trek haar jas aan en stap na die superette ’n blok van die woonstelgebou af.

Dis ’n groterige plek en sy draal tussen die rakke omdat sy nie wil teruggaan na die leë woonstel nie. Sy pak haar draadmandjie vol onnodige goed: roomys, appeltertjies, ’n pak skyfies, koeldrank en laaste die koerant. Daar is ’n hele paar mense voor die kassier en sy beweeg in daardie rigting, al lesende, toe sy hard teen iemand stamp en goed hoor val.

“Ai, jammer tog,” sê sy en druk die koerant in haar mandjie. “Ek het nie gekyk waar ek loop nie.”

Dis ’n vrou en sy is baie kwaad. “Kyk net!” roep sy hard. “Alles is op die vloer!”

Nicolette buk en begin optel. Ongelukkig was een van die vrou se inkope ’n dosie eiers en hulle het gebreek.

“Dis stukkend!” gil die vrou. “Jy’t die eiers gebreek!”

“Ek sal hiervoor betaal,” paai Nicolette en kry gou nog ’n dosie. Teen dié tyd is die vrou se man ook by en hy is net so ontstoke. Nicolette maak weer verskoning en die vrou het net brommend na die kassier gestap toe ’n nuwe herrie losbars. “My beursie!” gil die vrou. “Sy’t my beursie gesteel!”

“Ek het nie,” sê Nicolette oorbluf. “Goeiste, mevrou, ek het net per ongeluk teen u vasgeloop en …”

“My beursie is weg! Dis wat julle sakkerollers doen. Julle stamp kastig teen ’n mens en al die tyd …”

Teen dié tyd het die man vir Nicolette aan die arm beet en hy hou haar so hard vas dat sy uitroep in pyn.

“Wag nou,” probeer die kassier keer. “Ek het gesien wat gebeur het, mevrou, en dié dametjie het …”

Op daardie oomblik swaai die glasdeur oop en Philip kom binne. Hy knip sy oë in die skielike helder lig en kyk Nicolette verbaas aan.

“Philip!” roep sy en sou vorentoe in sy arms geval het as die man haar nie so knellend vasgehou het nie. “Hierdie mense dink …”

Almal praat gelyk. Die man ruk Nicolette aan die arm rond asof sy ’n ongeleerde hond is, die vrou beskuldig haar in ’n hoë, skerp stem en die kassier probeer paai.

“Dis totale onsin,” sê Philip. Sy koel stem val soos reën op die opvlammende humeure en het die oombliklike effek dat almal gelyktydig stilbly.

“Maar my beursie …” mompel die vrou.

Philip stap verby hulle, buk en tel iets op wat half onder die naaste rak lê. “Is dit u beursie?”

“Ja,” sê die vrou.

Philip kyk na die man. “Sal u asseblief u hande van my verloofde verwyder?”

Die man los Nicolette se arm asof dit hom brand. Sy vryf die arm en die vrou begin verduidelik. ’n Paar weke gelede is haar handsak op straat gegryp in ’n identiese insident. Die man het teen haar gestamp, verskoning gevra en weggestap; toe sy weer kyk, was haar handsak ook weg.

“Ek het simpatie daarmee,” sê Philip. “Dit gee u egter nie die reg om links en regs beskuldigings rond te slinger nie.”

“Betaal tog dat ons kan wegkom,” sê die man vir sy vrou en stoot haar vorentoe.

Nicolette bly staan waar sy is tot die glasdeur agter hulle toegaan. Die kassier vra ook om verskoning en Philip vat haar mandjie en pak dit uit.

“Middernagfees?” vra hy en wys na al die snoepgoed.

Sy begin histeries lag en moet haar hand oor haar mond druk om tot bedaring te kom. “Wag,” sê sy en stoot verby Philip met haar beursie. “Jy gaan nie betaal nie.”

Hy ignoreer haar, tel die winkelsak op en maak die deur vir haar oop.

“Dankie,” sê sy. “Weer eens.”

Hy stap langs haar terug. “Ek wil jou nie ook berispe nie, maar wat doen jy uit op straat as dit al donker is?”

“Dis nie ver nie.”

“Maar dis al donker en dis gevaarlik op jou eie.”

“Asof jý omgee,” sê sy.

Hy sê nie ’n verdere woord tot sy haar voordeur oopgesluit het en hy die sak neergesit het nie. “En wat is dit veronderstel om te beteken?”

“Ek het jou ’n week laas gesien,” sê sy. “Jy gee nie om wat van my word nie. Elizma was gisteraand uit en vanaand weer en ek sit hier stoksielalleen en jy gee nie om nie. Die hele week al.”

“Jy’t gesê jy is hierdie week baie besig. Het baie goed om te doen ná werk, dis waarom jy jou motor nodig het.”

“Nie in die aand nie!”

“Hoe moet ek dit weet? En jy moet begryp, dit sal vir my nogal onaangenaam wees om hier aan te klop en jy en Jack …”

“Jack is nie hier nie!”

“Ék weet dit nie,” sê hy redelik. “Ek was onder die indruk ná die bombardement blomme is julle nou besig om julle verhouding te … te herstel.”

Sy trek haar jas uit, rol haar hempsmoue op en kyk na haar arm. “Kyk net! Dis klaar blou gekneus. Daardie nare man.”

“As jy alleen in die nag uitgaan, stel jy jou bloot aan so iets.”

Sy kyk hom oorstelp aan, geskok deur sy gebrek aan simpatie. “Jy …” sê sy en haar oë word vol trane. “Jy is gemeen!”

Hy skud sy kop. “Sit,” sê hy en druk haar in die leunstoel neer. Hy loop na die kombuis, kom terug met ’n blou yspak wat Elizma normaalweg in hulle koelsak sit en druk dit teen haar arm. “Dit sal help.”

Sy gee hom ’n verwytende kyk.

“Jy kan nie vir mý kwaad wees nie,” sê hy. “Jy het dit duidelik gemaak dat jy besig is en my nie nodig het nie, jy het alleen in die aand rondgeloop en ons is nie regtig verloof nie. Ek het geen aanspraak op jou nie.”

“Jy het my nietemin weer gered.”

“Blote geluk dat ek daar was.”

“Ek het nie geweet jy kan so hardvogtig wees nie,” sê sy in ’n klein stemmetjie. “Ek het gedog jy … gee tog bietjie om.”

Hy antwoord nie dadelik nie. “As jy dit so verkies,” sê hy, “kan ons die … e … magte van hierdie verlowing bietjie uitbrei. Ek kan jou dan verbied om saans op jou eie uit te gaan.”

“Ek was lus vir roomys,” sê sy.

“Dan moet jy bel en my vra om saam te gaan of die roomys vir jou te loop koop. En as ons dit meer soos ’n regte verlowing wil laat lyk, verbied ek jou om verdere ruikers van Jack te ontvang of om hom te sien.”

Sy knip haar oë verbaas en lig die yspak van haar arm wat begin doodgaan. “Wat moet ek met die ruikers doen?”

“Gooi hulle weg.”

“En as ek Jack nie meer mag sien nie, hoe gaan ek ooit weet of ons plan …”

“Jóú plan,” sê hy.

“Die verlowing was jou idee!”

“Dis waar.” Hy glimlag en staan op. “Ons hou alles maar soos dit was en jou roomys is seker besig om te smelt. Sal ek vir jou ’n bakkie inskep?”

“Ja dankie.”

Hy bring vir hom ook ’n bakkie en hulle sit dit in stilte en eet. Nou en dan kyk sy hom ondersoekend aan, maar nes sy sy oog vang, kyk sy vinnig weg.

“Wil jy nog môre saamgaan na my ma?” vra sy.

“Met graagte, waarom sou ek nie?”

“Jy’s dan nou kwaad.”

Hy vat haar leë bakkie. “Ek is nie kwaad nie, Nicolette. Hoogstens ’n bietjie … onseker.”

Die uitdrukking in sy oë ontstem haar. “My ma weet dis net ’n speel-speel verlowing,” verander sy die onderwerp. “Mens kan nie iets vir my ma wegsteek nie. Sy het dit dadelik raakgesien.”

“En?” vra hy. “Sal ons dit so hou of probeer ons haar oorreed om dit anders te sien?”

“Wat bedoel jy?”

“Dit was net ’n vraag,” sê hy. “Besef jy ek het nooit die melk gekoop wat die rede was waarom ek na die winkel gestap het nie?”

Christine le Roux Omnibus 8

Подняться наверх