Читать книгу Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

Toe Elizma Vrydagaand by die woonstel kom, moeg ná ’n netbalwedstryd wat sy teen haar sin moes bywoon, staan Nicolette in die kombuis met ’n halfvol kartonboks voor haar op die tafel en ’n gevaarlike frons tussen haar wenkbroue. Werktuiglik steek Elizma haar hand uit na die bottel wyn wat langs Nicolette op die tafel staan, maak ’n kassie oop om ’n wynglas uit te haal en skink voor sy die verwagte vraag vra.

“Hoekom lyk jy so boos?”

Nicolette skud net haar kop, knip haar oë en kyk haar vriendin simpatiek aan. “Jy lyk gedaan. Was dit erg?”

Elizma skop haar tas uit die pad en gaan sit op die rand van die tafel. “Goddank dis Vrydag,” sug sy en drink ’n diep sluk. “Ek gaan sommer nou-nou slaap, want Heinz wil ook vroeg ry. Het ek al vir jou gesê ek haat netbal?”

“Dikwels.”

“Dan weet jy. Ek rig eerder die junior rugbyspanne af.” Nicolette glimlag skewerig. “Net so.”

Elizma wys na die kartonboks. “En jy? Hoe gaan dit hier? Jy lyk kwaad.” Sy onderdruk ’n onwillekeurige gaap. “Ek het jou ook dae laas gesien.”

“Ja, ek het jou baie laat gisteraand hoor inkom. Hoe was die konsert?”

“Beter as die netbal. Aansienlik beter. Ek lei af jy het toe iemand gekry om saam te gaan?”

“O ja,” sê Nicolette. “Philip.”

“Hy het toe ingestem?”

Nicolette knik en tel haar eie wynglas op. “Sonder om een vraag te vra. Herman het my verseker as ’n meisie ’n man nooi om alleen saam met haar weg te gaan, sien hy net een ding en dis ’n wilde naweek. Philip sien dit blykbaar nie so nie, want hy’t nie een beswaar geopper nie. Nie ’n woord nie. Net aangebied dat ons in sy motor gaan en dat hy die vleis en wyn sal bring.”

“Hy’t beter maniere as Herman.”

Nicolette kyk haar vriendin ondersoekend aan. “Maar sou jy nie verwag het dat hy vra nie? Hy’t nie eens gevra of Jack hiervan weet en indien wel wat hy daarvan dink nie. Niks.” Haar oë flits skielik. “Nie dat dit natuurlik in die minste saak maak wat Jack dink nie. Mauritz. Ha!”

Elizma skop haar skoene af. Die wyn maak ’n lekker warm kol van ontspanning op die krop van haar maag. “Wat beteken dit? Is jy vir Mauritz ook vies?”

Nicolette ruk ’n supermarksak so hardhandig nader dat dit skeur en ’n paar blikkies uitrol. Sy pak hulle gewelddadig in die boks voor haar. “’n Naweek vir die manne,” sê sy bitsig. “Is dit nie ook hoe jy dit verstaan het nie? Boot en krewe en vis en sulke soort goed.”

Elizma swyg taktvol hieroor. Haar hart bons ook maar as Jack vir haar glimlag, maar sy is nie blind of dom nie. Jack se idee van pret is baie mense om hom – waarvan die helfte mooi meisies moet wees.

“Wel, nou hoor ek dis ’n hele groep wat gaan,” sê Nicolette. “Nie net mans nie, meisies ook. Onthou jy daardie rooikop wat eenkeer afgelos het by ons toe Rosina siek was? Sportmal. Wel, sy is een wat saamgaan en is dit aan die begin vir my genoem? Is ek genooi?”

“E …” begin Elizma versigtig. “Jy weet jy hou nie van bote nie.”

“Dit maak nie saak nie. Jack het goedsmoeds óns naweek eenkant gesmyt omdat daar iets meer in sy smaak opgeduik het. Dit sal ek aanvaar, ek is nie onredelik nie. Hy wil liewer iets meer avontuurlik doen as om saam met sy geliefde voor ’n vuur in ’n berghut te sit. Hy soek nie stilte nie, dit weet ek en ek het aanvaar dat hy en Mauritz ’n nat, koue, woeste naweek wil hê, maar ek is nie vertel dit wemel van sexy meisies nie.”

“Ai,” sê Elizma, want sy weet nie eintlik wat om hierop te sê nie.

Nicolette kry ’n ander soort lig in haar oë en gaan kalmer voort met die inpak van slaai en tamaties en uie. “Maar hy gaan spyt kry. Ek gaan hom ’n les leer. Twee kan hierdie speletjie speel.”

Elizma glip van die tafel af om te gaan bad. “Weet hy wie nou saam met jou gaan?”

“Nee, hy’t nooit eens gevra nie, net vanmiddag by my ingewip om totsiens te sê. My ewe liefies gesoen en gesê hy hoop ek geniet my naweek en is al my sake gereël.” Sy gooi ’n sak broodrolletjies bo-in die boks. “Ek sal sy sake vir hom reël!”

“Man,” sê Elizma. “Jy weet jy het die afgelope weke baie hard gewerk. Jy het die naweek nodig, geniet dit nou sonder om die hele tyd wraakplanne te maak. Vergeet van Jack en geniet dit.”

“Ek kan jou verseker ek gaan van hom vergeet.”

Die volgende oggend staan Nicolette stil op om Elizma nie wakker te maak nie, trek ’n langbroek en trui aan, gooi die band van haar drasak oor haar skouer en dra die kartonboks na die hyser. Dis vir haar baie mooi so vroeg in die oggend. Die hele woonstelkompleks is doodstil en donker, en van buite hoor sy net nou en dan die geluid van ’n vroeë motoris. Toe sy die deur onder op straatvlak oopstoot, haal sy diep asem en skud die laaste slierte slaap van haar af. Aan die oostekant, agter die groot eikebome wat die grasperk van die straat skei, word die lig ’n onseker gryserige pienk en die eerste voëls begin gesels. Sy wil net aanstap na die ingang van die parkeergarage toe ’n motor voor haar ingly en stilhou.

Dis Philip wat uitspring. “Môre, Nicolette,” sê hy en kyk fronsend verby haar na die deur. “Hoekom dra jy die swaar goed? Waar is die ander? Waar is Jack?”

Sy gee alles gewillig oor in sy hande. “Die ander? Dis net ek en jy wat gaan.”

Hy bly verstar staan voor die oop bak. “Wat van … waar is Jack dan?”

“O, hy het ander planne vir die naweek. Ek dog ek het dit duidelik gemaak?”

Hy laat sak die boks, vat haar drasak ook en maak die bak toe. “Nee, dis nie soos ek …”

“Ek is jammer jy het my misverstaan.” Sy kyk hom skerp aan. “Wil jy nie meer gaan nie?”

Hy skud sy kop, lyk of hy iets wil sê, maar doen dit nie. Hy maak die deur vir haar oop en sy klim in, haar vreugde in die vroeë môre gedemp.

“Ek is jammer,” sê sy weer toe hy langs haar sit. “Ek het regtig gedink jy verstaan dis net ons en … jy sien, ons het klaar die hut bespreek toe Jack … toe hy uitvind hy moet iets anders doen en …” Sy glimlag met meer selfversekering as wat sy regtig voel, want sy voel meteens skuldig. Philip is ’n goeie mens, te goed om te kul of om die bos te lei. “Hy het gesê ek moet iemand anders nooi om saam te gaan, siende dat alles bespreek en betaal is.”

Hy kyk na haar met ’n uitdrukking wat sy glad nie kan peil nie. “En Elizma?”

“Sy en Heinz gaan na sy ouers.” Sy kyk hom ongelukkig aan. “Wil jy nie meer gaan nie?”

Hy lyk weer asof hy iets wil sê en daarteen besluit. “Natuurlik wil ek gaan,” sê hy en skakel die enjin aan.

Hulle ry uit die slapende stad en teen die tyd dat hulle die Weskuspad vat en sy die Sederberge in die vroeë son voor hulle sien, begin sy weer opgebeur raak. Behalwe opmerkings oor die weer of verkeer ry hulle nog die hele tyd in stilte, maar nou rek sy haar effens uit en lek oor haar droë lippe.

“Ek het eiers en goed ingepak vir ontbyt,” sê sy. “Maar ek wens nou ek het ’n fles koffie ingesit vir die pad. My keel is nou lekker droog.”

“As jy agter my sitplek voel, sal jy dit kry,” sê hy. “Daar is bekers by en ek het nie geweet wie gebruik suiker en wie nie; dus is die suiker apart.”

Sy is verstom, maar buig dadelik na agter, kry die mandjie op haar skoot en skink versigtig koffie in twee bekers. “Dis besonder bedagsaam van jou, Philip,” sê sy. “Ek is die een wat dit moes onthou en normaalweg sóú ek seker, behalwe dat ek gisteraand so kwaad …” Sy bly vinnig stil. “Neem jy suiker?”

“Een, asseblief.”

Sy het die deksel van die mossienes oopgeslaan en roer sy koffie voor sy dit aangee, maar hy kyk in sy truspieëltjie en trek dan van die pad af.

“Moeilik om warm koffie so in die ry te drink,” sê hy. “En ons kan vyf minute bekostig, daar was so min verkeer dat ons vinnig gery het.”

“Lekker koffie,” sê sy. Sy wens hy wil haar uitskel of ten minste met haar raas, dit sal haar baie beter laat voel. Maar hy sê niks nie, drink net sy koffie voor hy die deur oopmaak, ’n kamera van die agterste sitplek lig en voor die motor gaan staan om ’n foto van die pienk verkleurde berge te neem. Sy sit doodstil na hom en kyk. As daar nou een ding is wat Jack irriteer, is dit mense wat foto’s neem. Hy beskou dit as ’n mors van tyd: mense wat staan en korrel na iets, of erger, staan en wag dat die lig of ’n voël presies reg moet wees voor hulle die knoppie druk. Sy self het vyf jaar gelede op haar een en twintigste verjaardag ’n baie goeie kamera by haar ouers gekry en dit lê grotendeels ongebruik in haar kas as gevolg van Jack se houding.

“Ek moes my kamera ook gebring het,” sê sy toe hulle weer ry. “Daar was ’n tyd toe ek nogal geesdriftig was.”

“En nou nie meer nie?”

Sy skud haar kop.

Hy gee ’n goedige lag. “Ek kan my nie voorstel dat Jack lank genoeg sal stilstaan om ’n foto te neem nie.”

“Presies.”

Hy wei nie verder uit nie en teen die tyd dat hulle van die teerpad afdraai en sy met die aanwysings op haar skoot moet beduie watter kronkelpaadjie hy moet vat, is daar ook nie tyd om oor Jack te dink nie. Sy is heimlik verlig toe hulle voor die houthut stilhou, want dis die eerste keer dat sy die plek op haar eie moes kry.

Die son skyn nou uit ’n blou lug, maar toe hulle uitklim, is dit tog koel. Philip vat die sleutel by haar, sluit die deur oop en begin hulle bagasie indra terwyl sy vensters oopmaak om van die muwwe reuk ontslae te raak.

“Sien jy, daar is twee slaapkamers,” sê sy vir hom. “Dis nie asof ek …” Sy bly stil omdat sy nie weet wat sy eintlik wil sê nie. Sy weet net dat sy nie meer heeltemal in beheer van die situasie is nie. “En hier in die sitkamer is die banke ook beddens as mens die kussings afhaal. Ons was al vantevore hier in ’n groot groep en mense het sommer orals geslaap.”

“Dis baie gerieflik,” stem hy saam.

Sy haas haar na die oop kombuis en begin die kos uitpak. Hy hurk voor die yskas en steek dit aan asof hy sy hele lewe lank met paraffienyskaste werk. Alles is baie skoon en sy onthou vaagweg dat daar die laaste keer ’n huishulp opgedaag het. Meneer De Wet, aan wie die plek behoort, sorg altyd dat alles in ’n goeie toestand is. Die beddens is skoon oorgetrek en in die klein badkamertjie hang sagte handdoeke. Hy verhuur die plek net aan mense wat hy ken.

“Sal ek die ontbyt maak?” vra Philip vir haar. “Ek is nou lekker honger.”

“Nee, nee, ek sal.” Sy steek die gasstofie aan en val weg. Sy het gedink hulle sal sommer by die toonbank eet, maar Philip dra die klein tafeltjie uit na die houtterras buite die voordeur en sy moet erken dat dit wonderlik is om ’n halfuur later in die son te sit met ’n bord eiers en spek en tamatie, om haar net groen bossies en ruwe grys rotse en die geluid van voëls.

“Is dit nie lieflik nie?” vra sy en strek haar bene voor haar uit. “Dis vir my net die saligste plek op aarde en as ek my sin gehad het, was ek elke naweek hier. Dis asof … asof mens hier die enigste mens op aarde is.”

Hy knik, skink vir hulle koffie en met sy oë op die dynserige verte, praat hy. “Wil jy nou vir my vertel wat presies die doel van die naweek is?”

Sy sug en besluit dat eerlikheid die beste is. “Ek wil vir Jack ’n les leer. Ek weet hy hou nie regtig daarvan om hiernatoe te kom nie, maar hy’t gesê hy sal en toe trek hy kop uit. Wil liewer saam met sy vriend uitgaan op sy boot. Hulle gaan duik of so iets.”

“Ek sien.”

Sy kyk vinnig na hom, maar hy sit steeds in die verte en kyk en uit sy profiel word sy niks wys nie. “Dit gebeur nogal dikwels,” sê sy. “Ek dink hy aanvaar my as vanselfsprekend. Hy weet ek is altyd daar en ek vergewe hom elke keer, maak nie saak hoe hy my in die steek laat nie.”

“Weet hy ek is saam met jou hier?” vra hy in ’n veraf stem.

“Nee.” Haar stem word sterker soos sy opnuut kwaad word. “Hy het nie eens gevra wie ek saambring nie en dit terwyl ek nou uitvind dis nie net hy en Mauritz nie, dis ’n hele groep, onder andere mooi meisies.”

Hy glimlag effens oor die laaste woorde, maar sê niks nie.

“Ek voel regtig sleg dat ek jou onder valse voorwendsels saamgebring het,” sê sy. “Dit was glad nie doelbewus nie. Ek het regtig nie gedink jy verstaan dit so nie. Ek meen, ek was nogal verbaas dat jy so vinnig ingestem het en nie eens vrae gevra het nie. Nou is dit ten minste duidelik.”

“Ons gaan nie die hele tyd daaroor sleg voel nie,” sê hy. “Dit was ’n misverstand. Ek aanvaar dit so.”

Sy kyk dankbaar na hom.

“Wat ek nog graag sou wou weet, is waarom jy mý gevra het.”

Sy blaas haar asem versigtig uit en begin soek na die regte taktvolle woorde, maar hy voel dit aan en draai sy kop in haar rigting.

“Die waarheid, Nicolette.”

“Ja, maar …” sê sy. “Ek het gedink jy …”

“Die waarheid,” herhaal hy.

“Ek het ’n lys gemaak van die mans wat ek ken,” sê sy. As hy nou kwaad word en in sy motor spring en terugry stad toe, is dit haar verdiende loon. “Mans wat vry is, as jy weet wat ek bedoel. E … ongetroud en nie in vaste verhoudings nie. Nou nie sommer enige man nie, natuurlik. Mens kan nie sommer enige man saamvat vir ’n naweek nie.”

“Begryplik genoeg.”

Sy kyk hom agterdogtig aan, nie seker of hy vir haar lag nie. “Ja, wel … dit moes ’n man wees wat nie … Ek het Herman ook op my lys gehad. Ken jy vir Herman?”

“Nee.”

“Hy werk saam met my en hy is ’n baie goeie maat, maar toe ek vir hom vra wat hy sal dink as ’n meisie hom vir ’n naweek nooi, het hy gesê hy sal sjampanje inpak en hom regmaak vir ’n wilde naweek van …” Sy kug. “’n Wilde naweek, as jy weet wat ek bedoel.”

“Ek dink so,” sê hy.

“Jy lag vir my,” sê sy beskuldigend.

“Nee, nee,” verseker hy haar. “Gaan voort. Jy het dus vir Herman van die lys geskrap.”

“Ja. Die ander mans ook. Hulle is veel erger as Herman.” Hy draai na haar. “Maar jy ken my tog nie goed genoeg om te weet of ek vertrou kan word nie?”

“Ek weet,” sê sy. “Ek … voel dit net aan.” Sy sit haar beker neer, vou haar hande op haar skoot en kyk na hom. “Jy lyk nie na die wolfsoort nie.”

“Ek dink nie ek is nie,” stem hy saam. “Maar het jy in gedagte gehou dat juis hierdie feit jou hele plan omver kan gooi?”

“Wat bedoel jy?”

“As jy vir die naweek weggegaan het met ’n man wat algemeen berug is, gaan Jack vinniger jaloers word en bereik jy jou doel. As hy hoor dit was ek, voel hy heel waarskynlik nes jy. Veilig.” Hy kyk haar skerper aan, maar steeds met die onpeilbare uitdrukking in sy oë. “Ek lei af dis hoe jy by my voel? Veilig?”

“Ja,” sê sy.

Hy staan op, die gesprek afgehandel en sy kyk hom benoud aan, nie seker of dit die regte antwoord was nie. Maar hy maak die vuil borde bymekaar en dra dit na binne en sy staan ook op en help opruim.

“Ons gaan tog nie heeloggend hier sit nie,” sê hy. “Ek sal was as jy afdroog en dan gaan ons darem seker ’n ent stap. Jy het gesê daar is ’n waterval? Ek sal dit graag wil sien.”

Sy val gewillig by hierdie planne in en hulle ruim vinnig op, hy kry sy kamera en hulle vat een van die voetpaadjies wat vir haar lyk na die een wat na die waterval lei. Dit blyk verkeerd te wees, maar hulle geniet die wandeling so, klouter oor rotse en gly teen skuins paadjies af en kom eintlik heel toevallig op die waterval af. Hy laat haar poseer op ’n rots en neem ’n hele klomp foto’s.

Sy neem een van hom, en toe hy op ’n klip sit en rus, dwaal sy rond en pluk ’n hand vol heide wat hier in oorvloed groei. “Dis mooi, nè?” vra sy toe sy ook sit.

“Baie, baie mooi,” stem hy saam. “Dankie dat jy my genooi het.”

Sy kyk hom agterdogtig aan. “Bedoel jy dit? Jy’s nie sarkasties nie?”

“Ek is nooit sarkasties nie.” Hy kyk na haar. “As ons die naweek wil geniet, moet jy nou ophou skuldig voel.”

“Ek weet,” sê sy eerlik. “Ek wil net nie hê jy moet voel dis ’n belediging as ek sê jy is ’n veilige man nie.”

“Waarom op aarde sal ek dit só sien?”

“Wel, as iemand vir Jack sê hy is veilig, sal hy beledig wees.”

“Maar ek is nie Jack nie.”

“Miskien moet ek liewer die woord rustig gebruik,” sê sy. “Jy weet, ek is mal oor Jack, maar partykeer is ek net moeg. Hy kan nie stilsit nie. Ons is altyd aan die gang. Alles en almal moet woel en hardloop en swem en partytjie hou. Ek het ’n behoefte daaraan om net so te sit.” Sy kyk af oor die reguit straal van die waterval en die fyn sproei waar dit teen varings en plante spat. “Soos ons nou hier sit. My kop leeg en alles om my net … mooi en rustig. Sommer net. Geen beweging.”

“Ek hou van stilte,” stem hy saam. “Mag ek net een laaste vraag vra? Hoe weet jy ek is nie in ’n verhouding nie?”

Sy klap haar hand oor haar mond en kyk hom met groot oë aan. “O, herder, is jy?”

“Nee, maar hoe het jy dit geweet?”

Sy haal haar skouers op. “Ek weet nie,” sê sy lammerig. “Ons was darem mos al saam op goed en jy was altyd op jou eie. En jy sou mos so gesê het as ek jou gevra het, sou jy nie?”

“Ja,” knik hy. Hy sien haar benoude gesig en lag. “Ek dog ons het ooreengekom jy hou op skuldig voel?” Hy staan op, hou sy hand uit en trek haar regop. “Kom ons stap terug. Dink jy jy sal die pad terug kry?”

Sy kyk onseker om haar rond. “Een van hierdie paadjies moet ons daar kry. Ons het nogal laag gekom, nou moet ons net boontoe stap.”

Hy stap voor. “Toemaar, ek het ’n goeie sin vir rigting, ek sal ons daar kry.”

Sy volg hom, skielik baie vaak van al die vars lug en die vroeg opstaan. Sy kyk na sy lang bene wat so sekuur voor haar uitstap en wonder skielik hoe oud hy is. Ouer as die res van hulle vriendekring, vermoed sy. Jack is dertig en sy weet hy beskou Philip as sy senior. “Hoe oud is jy?” vra sy.

“Sewe en dertig.” Hy draai om. “Hoekom, is jy bang ek kom nie teen die berg uit nie?”

“Nee,” sê sy uitasem. “Ek het net gewonder.”

Hy wys na ’n uitsteeksel groot rotse. “Ons kan daar sit en ’n bietjie rus. Mens misgis jou, ons het maklik afgeklim, maar dis steil terug.”

Sy is inderdaad baie dankbaar toe sy op die rots kan neersak. “Ek is nou lekker vaak,” sê sy en gaap.

Hy bly langs haar staan, sy oë weer op die voue van die berge wat die een op die ander volg asof niks anders bestaan nie. “Ek het ’n voorstel om te maak,” sê hy. “Ons raak verloof. Dit gaan ’n groter indruk maak op Jack. As jy hom ordentlik tot sy sinne wil ruk, moet jy drastieser optree. ’n Onskuldige naweek saam met ’n ou vriend gaan min effek hê. Jy moet hom konfronteer met iets meer finaal.”

Sy maak haar mond oop en toe. “Verloof?” vra sy oplaas.

“Ek dink so.” Hy spring van die rots af. “Kom. Weet jy, dis al eenuur? Ons kan sommer ’n broodjie eet, dan kan jy slaap. Vanaand braai ons.”

Sy staan op met knieë wat lammerig voel en begin weer stap. “Wil jy nie ook slaap nie?” vra sy om iets te sê.

“Nee, ek slaap nooit in die dag nie. Ek het ’n boek saamgebring om te lees.”

“E … ja,” sê sy oorstelp en is baie bly toe hulle skielik oor ’n kruin stap en die hut voor hulle op die gelykte sien staan.

“Jy lyk uitgeput,” sê hy simpatiek.

“Ja,” sê sy dronkerig. “En ek is nie honger nie. Maak vir jou iets, ek gaan nou lê.”

Christine le Roux Omnibus 8

Подняться наверх