Читать книгу Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux - Страница 11

Hoofstuk 8

Оглавление

Nicolette is so oorstelp dat sy verbete aan sy hand vasklou om haar te vergewis hy is nie ’n skim nie. “Ek is honger,” bibber sy. “En koud en moeg en …”

Hy glimlag gerusstellend. “Ek weet, Nicolette. Ek het jou kom haal.”

Jack het hom raakgesien en kom vinnig nader, sy glas rooiwyn stortend oor sy hand. “Dis ’n verrassing!” roep hy vrolik en probeer klap na Philip se skouer behalwe dat hy mis en net meer wyn stort. “Sluit jy by ons aan?”

“Hallo, Jack,” sê Philip. “Nee, ek het vir Nicolette kom haal. Sy is nou moeg.” Hy wag ook nie om te hoor wat Jack hierop te sê het nie, hy trek Nicolette met hom saam. “Hier is my motor,” sê hy vir haar.

Sy knip haar oë in die stromende reën en sien hoe hy die deur vir haar oophou. “Ek is … ek is te nat. Jou sitplekke …”

“Klim in,” sê hy.

Sy doen dit en kyk deur die venster na die verbaasde gesigte om die vuur, almal in haar rigting gedraai. Op hierdie punt gee sy nie om wat hulle dink of spekuleer nie. “My tas …” sê sy toe Philip wegtrek en die steil, klipperige pad na die chalets vat.

“Ons sal dit eers kry,” verseker hy haar. “Watter chalet is joune?”

Sy beduie met ’n bewende voorvinger en hy stop so naby moontlik en hardloop saam met haar na binne. Afkeer is duidelik op sy gesig toe hy in die woonkamer staan en na die deurmekaar gemors van klere en slaapsakke en nat duikpakke kyk.

“Ek …” sê sy en verdwyn in die slaapkamer wat nie veel beter lyk nie. Dit vat haar net ’n paar minute om haar tas te kry en haar toiletsakkie in te druk en sy kyk nie eens terug nie so bly is sy om die deurmekaar kamer te verlaat.

Philip vat die tas by haar. “Is dit al?”

“Daar is die kos wat ek … maar dit kan maar bly.”

“Ons het dit nie nodig nie.” Hy druk sy nek in sy baadjie en hulle haas hulle terug na die motor.

Sy is te miserabel om reguit te dink, maar dit val haar tog op dat hy nie wegswaai in die rigting van die grootpad nie, maar net hoër op bly ry tussen die chalets deur. “Waarheen gaan jy?” vra sy.

Hy hou stil en kyk haar verskonend aan. “Ek het hierdie chalet gehuur.”

“Het jy?”

Hy klim uit en twee minute later staan hulle in ’n woonkamer identies aan die een wat sy nou net agtergelaat het, behalwe dat hierdie een leeg en netjies is. Afgesien van die opgevoude koerant op die koffietafel, is daar geen ander tekens dat iemand hier bly nie. Sy bly staan, voel hoe waterdruppels in haar nek afloop en bars in trane uit. Sy kan dit nie help nie, sy druk haar vuis teen haar mond en huil. Hy sê niks nie, stap net verby haar na die badkamer en draai die badkrane oop.

“Eerstens ’n warm bad, “ sê hy en trek haar baadjie uit. “Jy is nat tot op jou vel.”

“Ek weet,” huil sy. “En ons het ontbyt laas geëet en ek het gisternag amper niks geslaap nie en my kop is seer en ek gaan nooit in my lewe weer droog en warm wees nie.”

“Nee, jy sal,” sê hy en maak haar tas oop. “Kry jou slaapklere.”

Sy haal dit uit met bewende hande en loop na die badkamer. Selfs toe sy onder die warm water ingly, is haar kop nog te verward om te weet wat aangaan. Miskien is dit alles ’n hallusinasie, niks anders as wensdenkery nie. Sy gaan haar oë oopmaak en terug wees onder die lekkende afdak, tussen lawaaierige mense wat nie wil eet nie. Die hitte van die water laat haar byna aan die slaap raak, maar sy bad, was haar hare en trek haar nagklere en kamerjas aan.

“Waar is jou pantoffels?” vra hy toe sy later terugkom in die woonkamer.

“Ek het hulle nie gebring nie.”

Hy loop weg, kom terug met ’n paar van sy droë sokkies en hurk voor haar om dit aan haar voete te trek. Sy kyk af op sy hare wat begin droog word en is meer oortuig as vantevore dat alles net ’n droom is. Hy het die verwarmer in die kombuiskas gekry en hulle nat skoene en reënbaadjies hang oor die eetkamerstoele om droog te word.

“Ons eet sommer dadelik,” sê hy. “Jy wil seker nie meer drink nie.”

“Ek het nie baie gedrink nie,” sê sy gekrenk.

Hy glimlag effens. “Dit was nie ’n beskuldiging nie.”

Hy loop na die kombuis en kom terug met ’n skinkbord waarop ’n bord, mes en vurk is. Al hoe meer voel sy dat alles onwerklik is. Waar kom hierdie geurige, warm bredie vandaan? Watse goeie feë duik uit die donkerte en die reën op haar af en sit haar in ’n warm bad en bring vir haar warm kos? Sy sal later daaroor dink, neem sy haar voor, nou moet sy eet.

“Beter?” vra hy toe hy die skinkbord wegvat ná sy klaar geëet het. “Wil jy nog hê?”

Sy skud haar kop. “Dit was wonderlik. Die lekkerste kos wat ek nog ooit geëet het.” Haar oë voel swaar. Die kamer word warm, sý is warm en droog en versadig en dis met moeite dat sy haar oë op Philip fokus. “Waar?” vra sy. “Waar kom jy vandaan? Hoe …?”

“Ek het vanoggend vroeg wakker geword en gesien hoe dit reën,” sê hy kalm. “Toe bel ek my vriend by die weerkantoor en hoor dat nog swaarder reën en stormsterk wind verwag word. Toe bel ek hierdie plek, hoor dat daar heelwat kansellasies was as gevolg van die slegte weer, bespreek ’n chalet en kom. Baie eenvoudig.”

Sy veg teen die vaak. “Ja, maar hoe het jy geweet ek …?”

“O, ek het julle daar onder gesien toe ek so teen middagete gekom het, maar ek wou nie inmeng nie. Ek het net gedink ek sal hier wees ingeval jy my … e … nodig het. Toe dit begin donker word, het ek afgestap. Julle het my nie gesien nie, maar ek kon sien jy lyk nie baie gelukkig nie.”

“Jy moes my toe al kom kry het.”

Hy gee ’n hoesie. “Ek wou nie die partytjie ontwrig nie, maar toe ek nou-nou sien julle is nog daar het ek begin dink jy moet nou al baie koud en nat wees, ek beter jou maar gaan haal.”

“Ja,” sê sy. “O ja, Philip. Ek is so bly jy het.”

Sy glimlag is vol deernis. “Jy lyk of jy kan omval. Sal ek vir ons koffie maak?”

Sy trek haar regop, want sy het begin skuins kantel op die bank. “Ek sal … die skottelgoed was as jy die … die koffie maak.”

“Jy sal net daar bly,” gebied hy toe hy opstaan. “Ek sal die koffie bring.”

Maar toe hy terugkom, lê sy plat op die bank, een been half op die mat en haar oë toe. Hy sit die koffie saggies neer, gaan haal ’n kombers uit die slaapkamer en kom gooi haar toe. Sy slaap so vas dat sy nie ’n geluid maak toe hy haar been versigtig op die bank skuif en ’n kussing onder haar kop instoot nie. Toe gaan sit hy oorkant haar, tel sy koffie op en gooi suiker by. Hy drink dit stadig, sy oë op haar gesig. Haar wange het nou weer kleur van die hitte in die vertrek, haar hare word droog en val oor die een helfte van haar gesig, en een hand het onder die kombers uitgekruip en lê ontspanne langs haar, die palm na bo gedraai, die vingers effens gebuig.

Maar op sy gesig is geen uitdrukking nie. Later staan hy op en gaan haal sy boek, van tyd tot tyd kyk hy op en rus sy oë lank op die slapende Nicolette voor hy weer sy aandag terugdwing na die bladsye voor hom.

Nicolette, wat weggesink het in ’n slaap so diep, voel asof sy van ’n ver, ver plek teruggesleep word toe daar skielik ’n harde klop aan die deur is en direk daarna ’n vlaag koue, nat lug oor haar gesig. Sy maak haar oë verward oop en kyk op. Philip het opgestaan, sy hoor hom praat. “Kan ek help, Jack?” vra hy sag.

“Waar is Nicky?” hoor sy Jack se harde stem. “Moenie dink ek is dom nie. Ek het gesien jy ry nie weg nie, ek het gesien jou motor staan hier buite.”

“Sjj,” sê Philip waarskuwend. “Nicolette slaap.”

Sy maak dadelik weer haar oë toe en hou hulle so.

“Waar kom jy daaraan om Nicky net op te raap en weg te ry?” vra Jack. Sy kan aan sy stem hoor hy het te veel gedrink en is nou aggressief. “Sy is hier saam met my. Sy is mý verantwoordelikheid.”

Nicolette haal baie saggies asem sodat sy alles kan hoor.

“Jy het dit mis,” sê Philip bedaard. “In die groter opset is sy my verloofde en dus my verantwoordelikheid.”

“Nie hierdie naweek nie! Sy het saam met my gekom!”

“Dan het jy nie baie verantwoordelik opgetree nie,” sê Philip in sy onverstoorde stem. “Sy was baie nat en miserabel.”

“Dis nie vir jou om te oordeel nie. As ek gedink het sy is ongelukkig, het ek haar huis toe gevat!”

“Dis nie die indruk wat ek gekry het nie. Na my raming het sy omtrent agt uur lank, indien nie langer nie, daar in die reën en wind gesit. Sonder kos.”

“Daar was baie kos.”

Philip ignoreer die nukkerige stemtoon. “Moenie so hard praat nie,” versoek hy beleef. “Sy slaap. As sy môre wakker word en sy wil verder saam met julle partytjie hou, is dit natuurlik haar keuse. Ek sal haar nie verhinder nie. Nou is sy egter baie moeg en sy slaap.”

“Ek wed sy slaap,” sê Jack ru. “Seker lekker in jou bed.”

Nicolette suig haar asem vinnig in. Sy kan sien dis die beste om te maak asof sy slaap en die heel laaste ding wat sy wil doen, is om die situasie te vererger, maar as Jack weer so iets sê, gaan sy opspring en hom deur sy aantreklike gesig klap.

“Ek dink jy is ook moeg, Jack,” sê Philip. “Sal ons nie môre verder gesels nie?”

“Ek wil haar sien!” dring Jack aan.

Sy kan hoor hoe Philip sug. “Sy lê hier op die bank.”

Voetstappe beweeg en dis net met harde konsentrasie dat sy haar ooglede gesluit hou en haarself dwing om asem te haal asof sy nog diep slaap. Sy kan sweerlik voel hoe Jack se oë op haar gesig brand.

“Tevrede?” vra Philip. “Sy was regtig baie moeg, weet jy.”

“En hoe lank gaan sy daar lê?” vra Jack, darem nou in ’n sagter stem. “Wanneer skuif jy haar oor na jou bed?”

Nou gaan Philip kwaad word, dink sy, maar hy doen dit nie. Sy stem is so gelykmatig soos altyd. “Dit het regtig niks met jou te doen nie, Jack. Stem jy nie saam nie? Sy is my verloofde en ons privaat lewe het eintlik niks met jou te doen nie.”

“Sy is mý meisie!”

“Nie meer nie, nee.”

Nicolette ys eintlik vir wat Jack gaan doen, maar tot haar verbasing sê hy niks verder nie en ’n sekonde later hoor sy die voordeur saggies toegaan. Sy sit regop, trek haar hande deur haar hare en knip haar oë.

“Is jy wakker?” vra Philip.

“Dink jy regtig ek kon deur daardie argument bly slaap? Ek het net baie wyslik besluit dis beter om te maak asof ek slaap.”

“Miskien.” Hy kyk af op haar. “Wil jy nou iets drink? Warm Milo?”

“Dit sal lekker wees, ja.” Sy hou die kombers om haar gedraai. “Jy was ’n ster gewees, Philip.”

Hy antwoord nie en eers toe hy terugkom met hulle bekers, herhaal sy dit.

“Jy het hom presies reg hanteer.”

“Vir hom was dit ook ’n lang dag,” sê hy redelik. “En hy het te veel gedrink. Môre sal hy kalmer wees.”

Sy drink ’n sluk en kyk na hom met groot oë. “Jy het gesê as ons môre uitgerus is, kan Jack my weer kry. Wat ek bedoel is, kan ek verder saam met hulle jolyt hou. Maar ek wil nie.”

“Dan hoef jy nie.”

“Al is hulle uitgerus en alles. Al skyn die son. Ek wil nie weer daar onder die afdak sit nie.”

“Dis in orde.”

Sy kyk hom dwingend aan. “Al vra Jack om verskoning? Al erken hy hy was verkeerd? Jy sal nie toelaat dat hy my terugdwing nie?”

“Nee.”

Sy drink nog ’n sluk. “Ek is nog glad nie uitgeslaap nie.”

“Ek is self nogal moeg,” sê hy. “Ek het gisternag ook nie eintlik geslaap nie.”

“Foeitog,” sê sy simpatiek. “Wat het jou wakker gehou?”

Sy lippe trek net effens. “Ek weet nie, ek kon net nie slaap nie.”

“Sal jy vanaand slaap?”

“Ek reken so, ja.”

Sy drink die Milo klaar, sit die beker neer en kyk af na die bank. “Wat hy netnou gesê het,” sê sy ongemaklik. “Hoeveel slaapkamers is daar hier? Ek het baie lekker geslaap op die bank en ek kan weer hier slaap.”

“Nicolette,” sê hy. “Watse soort man dink jy is ek? Hier is twee slaapkamers en as daar net een was, het ék vanaand op die bank geslaap.”

Sy word rooi. “Dis nie wat ek bedoel … ek weet mos jy sal nie … ek meen, jy het sulke wonderlike maniere en …”

Hy lag en staan op. “Vat die slaapkamer aan die linkerkant. My goed is in die ander een.” Hy sluit die voordeur en draai die knop om seker te maak dis toe. Sy het intussen opgestaan, die kombers slepend om haar en voor hy die lig afskakel, kyk hy deur die groot ruit af na die baai, ver onder. “Ek kan net noem dat hulle nog altyd besig is om partytjie te hou,” sê hy. “Ek sien hulle nog daar onder die afdak.” Hy skud sy kop en toets of die venster stewig toe is. “En dis nou ’n orkaan wat waai.”

“Ek dink ons moet môre huis toe gaan,” stel sy voor. “Ek het glad nie krag vir verdere rusies en onplesierigheid nie.”

“Rusies?” vra hy en sy een wenkbrou lig. “Ek maak met niemand rusie nie.”

“Ja, maar Jack …” Sy bly stil. “Jy het hom wonderlik hanteer, moet ek sê. Hy was lus vir baklei, maar as jy so kalm bly, kan niemand … wel, jy haal soort van die wind uit sy seile.”

“Ek is regtig nie bang vir Jack nie,” sê hy. “Maar ek dink self ons kan vroeg ry. Ek wil jou nie verder blootstel aan sulke onplesierige gedrag nie.”

“Ek wil net weer dankie sê,” sê sy en bly staan. “Jy was soos ’n … ek weet nie wat nie. ’n Engel uit die hemel. Teen die tyd dat jy uit die niet verskyn het, het ek begin dink ek is vasgevang in ’n nat, koue nagmerrie waaruit ek nooit gaan wakker word nie. Ek weet nie wanneer ek laas so dankbaar was om gered te word nie. Ek dink dit was toe ek omtrent vyf was en te hoog in die moerbeiboom geklim het, en niemand by die huis was nie en ek doodseker was ek gaan vir die res van my dae daar bly sit en toe kom my sussie vroeg van atletiek af en sy help my af.”

“Het jy bome geklim?” vra hy geamuseerd.

“Altyd. Maar dankie, Philip. Regtig. In my wildste drome het ek nooit gedink dat jy …”

“Dis waarvoor verloofdes daar is,” sê hy.

Sy antwoord liewer nie hierop nie, wens hom ’n goeie nagrus toe en klim in die bed. Dit was lekker om op die bank te slaap, maar dis beter op ’n sagte matras en dit duur nie lank voor sy weer vas slaap nie. En toe sy Sondagoggend wakker word, voel sy soos ’n nuwe mens. Dis al agtuur, maar die huisie is nog doodstil en sy trek die gordyne eenkant toe en kyk uit.

Dit reën nie meer nie; alhoewel daar nog wolke is, dryf hulle los verby op die fris wind en skyn die son in kolle op die see en baai. Onwillekeurig kyk sy af na die braaigedeelte, maar ook daar is dit verlate en stil. Sommerso in haar pajamas en op kaal voete loop sy na die kombuis en bly verras staan toe sy Philip sien. Hy dra ’n geruite kortbroek en wit T-hemp en staan gebuig oor die stoof. Hy het nogal mooi bene, sien sy voor sy nader staan.

“Môre,” sê sy vrolik. “Wat maak jy so intens?”

Hy skrik regop. “Môre. Ek e … ek wou vir jou ontbyt in die bed bring, maar …”

Sy staan nog nader en loer verby sy skouer. Op die stoof is ’n vinnig kokende kastrol water waarin slierte stollende eierwit die interessantste patrone maak. “Ek is op,” sê sy onnodig. “Wat is dit dié?”

Hy lyk baie verleë. “Ek wou vir ons geposjeerde eiers maak en hier is nie ’n posjeerpan nie, maar ek onthou toe iets wat my ma gesê het. Van hoe mens die eier net so in die kokende water gooi. Die ding is net, daar is glo ’n sisteem. Dit moet in dieselfde rigting as die bewegende water gaan of juis teen die stroom … by wyse van spreke. Ek kon nie onthou wat nie en soos jy kan sien …”

“Ja,” sê sy, haar oë vol lag. “Ek het ook so iets gehoor. Kloksgewys of nie.”

Hy wys na die malende bondel geel en wit slierte. “Dis ’n gemors,” sê hy somber.

Sy raak liggies aan sy skouer. “Los dit vir my. Ek het nie ’n besondere voorkeur vir geposjeerde eiers nie. Ek sal ontbyt maak.” Hy lyk verlig en staan weg.

“Maar is jy nie …?”

“Nee. Gisteraand was ek bedroef en bedroë, maar vanoggend is ek my ou self. Jy hoef my nie langer te bedien nie.”

Hy bekyk haar in haar strepiespajamas, besef dan dat hy self nog nie aangetrek is nie en lyk nog meer verleë. “Ek sal gaan aantrek.”

“Doen dit, ja. Ek wil net koffie kry dan trek ek ook aan.”

Hulle eet ontbyt voor die venster wat afkyk op die baai wat nou weer groen is en nie die nare grys-swart van die vorige dag nie. Sy tuur na Jack-hulle se chalets, maar daar is nog geen beweging daar nie. Geen wonder nie, dink sy suur, maar sy bly op haar hoede. Noudat dit nie meer reën nie, gaan Jack haar kom haal.

Asof hy haar gedagtes kan lees, kyk Philip op van sy roosterbrood. “Ek het gedink ons kan ry, as jy wil. Daar is ander plekke langs die kus waar ons kan … Of as jy liewer huis toe wil gaan, maar aangesien dit tog ’n langnaweek is en ons eers môre …”

“Ja,” sê sy dankbaar. “Ek … die plek is half bederf en ek is nie lus om my weer vas te loop in die ander nie. Veral omdat dit nie meer reën nie. Hulle gaan nou-nou opstaan en …”

“Ons eet klaar en ons ry,” sê hy.

Sy kyk na hom en soek die regte woorde. “Dankie, Philip,” is al waaraan sy kan dink.

Christine le Roux Omnibus 8

Подняться наверх