Читать книгу 1795 - Dan Sleigh - Страница 10

6

Оглавление

Hy voel koud en rol hom weer toe in sy soldatemantel, opgestop en deurgestik, gemaak vir marse deur diep sneeu, ysige wind. Wanneer hy koud is verlang hy na sy Neeltje, die vriendin van sy jeug, nou ’n skim op die agtergrond in sy gedagtes. Van die beste op God se groen aarde was sy, warm, goed en mooi. Op die koudste reëndag van sy derde winter in Leiden het hy sy dakkamer met sy toga en sy boeke onder sy arm binnegegaan en haar, ’n nuwe kamerbediende, gesien, besig om sy bed op te maak.

“Goeiedag.” Sy het voortgegaan om sy kussings op te skud, die holtes en bulte van sy verematras gelyk te maak. Sy stryk met haar hande oor sy bed. Het sy hom nie op die trap gehoor nie? Sy is ingedagte. Waaraan dink sy? Toe hy sy goed neersit, kyk sy om. Twee appelrooi wange, blou oë, liggeel hare onder die rand van haar blou kappie. Wes-Fries, so eg soos botter, soos room. Sy het regop gestaan en hom aangestaar, haar hand teen haar mond.

“Goeiemiddag. Ek is William van Oudshoorn.”

Sy het met ’n kniebuiging geantwoord, met haar oë neergeslaan. “Ja, edel heer.”

Hy het gelag. “Niks daarvan nie. Wat is jou naam?”

“Neeltje, edel heer.”

“Van?”

“Nêrens nie, edel heer.” Waarskynlik ’n vondeling, uit die weeshuis gehuur.

“Moenie ‘edel heer’ sê nie, Neeltje. Ek is ’n student. Kyk daar deur die venster, buite loop nog honderde ander. Hoe oud is jy?”

“Hulle weet nie. So sestien, sewentien, seker.”

“Aangename kennis. Gaan aan met jou werk, en ek gaan met myne voort.” Hy het sy stoel reggeskuif en sy boeke op die tafel oopgemaak. “Môre moet ek aan professor Voorda verduidelik waarom, of waarom nie, ’n Hottentot voor die wet aan ’n Christen gelyk is.”

“Ek glo nie dit sal gebeur nie, heer student. ’n Hottentot is arm en kan nie ’n prokureur bekostig nie.”

“Professor Voorda sal redeneer dat prokureurs pro Deo beskikbaar is.”

Sy herinner hom: “Maar die Kaap het geen prokureurs nie, net ’n Fiskaal. En die vraag is ook nie hoe ryk of gelyk jou mense is nie, maar hoe onpartydig die hof. Ek het gehoor hoe genadeloos Kaapse fiskale kan wees, mense soos Boers en Van Lynden. Ek ken Van Lynden, hy woon nou in Den Haag. Ek het ses maande in sy huis probeer uithou.”

Hy kan hom die ou man se hande, die ou vrou se giftige jaloesie, voorstel. En sy weet dat hy van die Kaap af kom, sy weet goed wie hy is. “Daar is wel uitsonderings. Ek kan voorbeelde noem. Verskeie.”

“Dit mag so wees, maar die aangeklaagde ly vandag, of môre, of gister. En daar is nog die saak van eie taal, en waardigheid voor die hof, en vooroordeel.”

Hy het Huig de Groot, die Corpus Iuris Civilis en De Damhouder se Praxis Rerum probeer lees en aantekeninge gemaak en sy het die bed opgemaak, alles afgestof en die vloer gevee, maar haar teenwoordigheid, haar warmte, die blou van haar oë het sy aandag oorwin. Hy het meer en meer na haar omgekyk, hulle het met mekaar gepraat en hul asems het teen die koue ruite en sy spieël aangeslaan. Die volgende dag het hy haar gehelp om die bed op te maak, en na ’n paar dae het hulle dit nie meer opgemaak nie. Sy vensters was gedurig vaal verwasem, druppels het stadig teen die glas af na die vensterbank en die vloer geloop, en die bed het warm en onopgemaak gebly.

Die natuur het hulle vir mekaar gegee, nou wou hy vir hom en haar vryheid hê. Hy wou nie wag tot die waardin haar beskuldig of oor haar werk aanmaan nie, hy wou sy sieraad besit en saamneem Kaap toe. Hulle is voor die stadsklerk van Leiden getroud, in die stadhuis met die roepstoel, in Breestraat, en het aan die sonkant van Pieterskerk in ’n huurhuisie gewoon, armer as ander studente, want twee moes nou uit sy toelae leef. Hy het haar Kaneeltje genoem omdat sy lekker ruik en sy het hom Wil genoem.

“Ons gaan nog twee jaar lank swaar kry, Kaneeltje, want ek moet die graad behaal, dit is my lisensie om te werk. Ek wil nie op my pa se erfgoed bestaan nie, dat ek nie deur ander verwens of beny word nie. Ek wil vry wees daarvan. Ek sal jou nie in die steek laat nie, maar ons gaan vereers arm wees.”

“Waar ’n Wil is, is ’n weg,” sê sy. “Ek wil graag my werk by die losieshuis hou.”

Alles wat hy doen, gedoen het en nog wou doen was sodat sy makliker kan leef, en sy sê daarvoor dankie terwyl hulle met ’n mandjie langs die bevrore Raapenburg mark toe loop, dankie as portiers van die turfskip op die grag donkerbruin sooie met hul draagbaar by die deur indra en langs die herd pak, dankie terwyl hulle ’n gerookte paling uit Volendam eet. Haar vel was warm en sag, so soet soos room. Na ’n paar maande was sy swanger, nog ’n paar maande en sy en hul seun is in haar kraambed dood. Sy sal nooit oud word nie, het sy pa gesê, sy is die ouderdom gespaar. Die vroedvrou het gesê: Dis wat gebeur as groot mans klein vrouens trou. Hy het haar ring aan haar vinger gelaat en haar en hul kind in een kis in die herekelder op sy pa se landgoed Drakenburg weggelê. Twintig jaar gelede, nou.

Wat te skielik weggeneem is en weg gebly het, was die gloed van haar lyf, haar sysagte vel, die gelukkige sug, die glimlag, die klem van haar arms, die saamlag soos hane wat kraai, die fluweelsag slaap met haar in sy arm of met haar hand in syne. Wat ook weg is, was haar blomme in die sonlig agter die raam en in die stukkie aarde teen die Raapenburg; haar tuintjie, tulpe in erdepotte, het van skok versterf.

Hy weet nie hoe om kos te maak nie en wou nie eet nie. Hy het soos ’n matroos op brood, soutvis en bier geleef. Soms was daar ’n stuk kaas en ’n beker wyn, maar die herd het koud gebly, die huis muf met stof in die hoeke, ys teen die ruite, die tafel kaal, die mure klam en die kos soos as in sy mond. Saans het hy hom toegedraai en gaan stap, ver van sy huis af weg.

Soos ’n kind was hy bang om alleen te slaap. Hy loop met sy hande in diep jassakke langs die bevrore Raapenburgse grag, met die brug oor die Galgewater waar skaatsers op maanligaande laggend in pare draai. Klasmaats trek aan sy arm, roep en bied ’n fles aan. Daar is musiek, vrolike vure en geroosterde kastaiings, en ’n geel volmaan wat haas deur hoë wolke. Teen dié tyd loop sy trane. Hy vlug weg, in die maanskaduwee langs die stadsmuur, deur die Wittepoort, die donker in, weg uit die stad. Hy loop ver met die trekpad langs die wasemende Vliet, in Delft se rigting, myle en myle ver, tot Voorschoten se honde aan die regterhand blaf en hy die skout met sy lantern deur die mistigheid herken. Die koue laat hom omdraai. Die Galgewater is verlate en hy kruip soos die verlore seun terug deur die Singels, na Raapenburg en Pieterskerk toe. En hy sluit oop, loop die donker in. Hy stoot sy boeke weg en slaap by sy tafel met sy kop op sy arms tot hy van die koue wakker word.

Hy kan nie studeer nie, sy belangstelling daarin is dood. Waarom De Damhouder memoriseer? Sy was nie meer hier nie en weet nie waarmee hy besig is nie, daarom is niks wat hy doen nodig nie. Alles het doelloos geword. Waarom doen hy hier moeite, waarom daar ’n hoek van die eettafel dek? Hy weet nie. Sy is oorlede. Waarom trek hy dié skoon hemp aan? Hy weet nie. Hy het gehuil as hy aan die slaap raak, gehuil as hy wakker word. Hy glo hy hoor haar asemhaling langs hom en luister, maar dit is nie daar nie. Hy droom dat sy hom besoek en hulle sit langs mekaar; albei weet dat sy lank weg was maar noem dit nie, dis ’n stille ooreenkoms. Sy sê nie waar sy was nie en hy durf nie vra nie, want albei weet waar sy is. Sy is dood. As hy dit sou sê, moet hy erken dat hy droom en dan hou dit op en verdwyn sy. En hy weet hoe min oor is van die droom voor hy moet wakker word, daarom vertel hy haar liewer wat hy in die biblioteek gelees het, in die straat gehoor het, van sy lang staptogte, en hulle hou mekaar se hande vas tot hy heeltemal wakker is.

Hy het nie geleer om kos te maak nie en was nie honger nie. Hy het op brood en kaas geleef, later op brood en rooiwyn, toe net op wyn. Na arme Neeltje se dood het ’n brief van Kaapse vriende gekom dat goewerneur Tulbagh na ’n swaar siekbed heen is. Sy pa is alleen Amsterdam toe met sy koets en twee groot Frieslandse perde om vir die vakante pos te gaan vra. Miskien het hy ’n bedrag daarvoor betaal; die Direkteure stel graag mense met ’n privaat vermoë aan sodat hulle nie soos die Van der Stels hulle aan die Kompanjie se eiendom vergryp nie. Toe hy uit die stad terugkom het hy gesê: “Kom, Willie, ons gaan Kaap toe. Dis die kans waarop ek lank gewag het. Ons gaan ’n loot van die Hollandse stam plant wat ’n groot boom gaan word. Ek glo dis die land van ons belofte, óns gaan nog vir die Amerikaner wys hoe dinge gedoen behoort te word. Here Sewentien het my goewerneur gemaak en jou ’n onderkoopmanspos aangebied, maar ek het dit van die hand gewys en om ’n persoonlike sekretaris gevra.”

Sy pa, die aangewese goewerneur, het sy geërfde sakhorlosie, onverganklik, altyd korrek, uitgehaal, tevrede daarna gekyk, dit opgewen en versigtig laat wegsak. “Nou begin ons die ding waarvan ek jou gesê het. Die tyd is daarvoor geleë. Jy weet wat van fiskale soos Van Plettenberg en Boers gesê is, dat hulle smokkelaars begunstig en die eerlike volk onderdruk. Hedendaags word van ’n Fiskaal verwag om ’n skelm goewerneur se apologeet te wees. Ek wil nie hê dat jy Fiskaal van die Kaap word nie, ons twee mag nie saam regeer nie. Jy moet vry wees, en jy sal die Politieke Raad se konkelary beter verstaan as jy dit van binne ken.”

Hy was dankbaar, want hy was ongelukkig en ontevrede met sy hede, met herinnerings wat hom neerslagtig maak. Hy het gevoel dat hy met die lewendes wil leef en wou weg uit Nederland. Hy het sy regstudie gestaak en sy toga en boeke in die huurhuisie aan Pieterskerk se sonkant gelaat, vir die huisvrou om aan ’n arm student te verkoop. So het hulle uit mistige, dromende Gnephoek en slapende groen Ridderbuurt na die werklikheid van betekenisvolle arbeid weggekom.

Sy lewe as die nuwe goewerneur se sekretaris (‘geheimskrywer,’ sê die Kapenaar) begin toe hy help om sy pa se afskeid en vertrek te reël. Hy het geleer hoe om oplettend op die agtergrond te bly, wanneer om te swyg, wanneer om te praat, hoe om ’n agenda op te stel, om aan die onderpunt van die tafel te sit wanneer sy pa gaste het en by ’n sytafel wanneer hy notule hou. Hy het die diplomatieke styl geleer, die stewige handdruk met ligte buiging, die hoflike aanspreekvorms en protokol van ’n amptelike brief (‘Edele ernfeste, wijze, vrome, voorzienige, zeer discreete Heer en Heeren’). Hy het die Franse taal geoefen, geleer om vir amptelike geleenthede te klee, hoe om met ’n briewekis op sy skoot te skryf, om sy pa se reiskiste en dokumentetas te pak, om die korrekte ordes op sy pa se bors te speld, hoe om papier te koop en te sny, om ink van die regte kwaliteit te meng en pluime tot ’n punt te sny, om met lak, seël en vuurslag te werk, hoe om lyfbediendes tuis en in die openbaar te hanteer.

Daar was ’n afskeidsmaal met skitterende lig uit silwerkandelare, heildronke en toesprake in kasteel Drakenburg se trekkerige bosaal, wat so ver van die kombuis af was dat die kos koud op tafel gekom het. Om die tafel was sy pa se gaste: ’n Vername afgevaardigde na die State-Generaal, twee van Here Sewentien, drie burgemeesters, drie predikante en ’n magistraat, die plantkundige professor Van Rooij en sy afgetrede broer van die Universiteit van Leiden wat lank met oorlede goewerneur Tulbagh in Latyn oor Kaapse plante gekorrespondeer het en dit graag met die nuwe goewerneur wil voortsit. Daar was sewe bejaarde offisiere van buurskap Ridderbuurt se skuttersvaandel (sy pa was hulle Groot-Majoor), wat met hul outydse klere en lontgewere uit ’n vroeë skildery van Rembrandt kon gestap het, en vier advokate van die Hof van Holland, kollegas formeel in toga, wolpruik en bef. ’n Priester van die katedraal van St. Catherina in Utrecht waar sy pa gedoop is, het kom dankie sê vir ’n groot donasie aan hul weeshuis.

Grys misnewels het op die middag om die ysige bosaal se fakkels gedraai, sodat bediendes vure in die kaggels moes kom pak. Die ouer lid van Here Sewentien, die kraag van sy jas met hermelyn afgewerk, sy neus pers van jenewer en noordelike koue, het ’n onsamehangende toespraak met vele heildronke gemaak. Die jonger een, wat na gegeurde snuif ruik, het tussen die voorgereg en die speenvark sy mes neergelê en met ’n vertroulike hand op sy skouer aan hom gesê: “Hoor eens, jonge! ’n Geskenk van my, neem dít saam Kaap toe: Politiek is die kuns om besluite uit te stel tot hulle nie langer ter sake is nie.”

Geskenke is gegee en ontvang, ’n staanhorlosie, ’n silwerinkpot en -sandhouer, ’n kragtige verkyker, ’n swart, waterdigte sysambreel uit Milaan. Sy pa se balju het ’n afskeidsbrief voorgelees met meer as veertig merktekens van sy huurders, wat op dié oomblik in die warm kombuis om lang tafels met sy bediendes en ou mans uit Oudshoorn se armhuis feesvier. Ná die maal het hy sy pa ondertoe gevolg om elkeen se hand te skud.

Hulle het in Oktober ’72 as welvarende kajuitsgaste met Asia uit Texel vertrek, in een vloot met Aschat en Jonge Thomas. (Die Direkteure het destyds hul oudste kinders vernoem: Jonkvrou Gertrude Wendela, Juffrouw Hillegonda Jacoba, Jonge Willem, Jonge Lieve, Jonge Thomas.) Daar was rotkoors in die skip. Sy pa is op 23 Januarie ’73 suid van die ewenaar oorlede. In April het Asia noodskote buite die Kaapse reede geskiet, met meer as vyftig dood, waaronder die nuwe goewerneur, nuwe fiskaal en sy vrou, nuwe predikant en sy vrou, al die skeepsoffisiere, een bootsman en al vier bootsmansmaats. Tussen die kanonne op die oorloopdek het nog tagtig mense dodelik siek en hulpeloos gelê. Net twee gesonde matrose was staande. Vier ligters vol seevolk uit die ekwipasiewerf moes Asia van agter Robbeneiland gaan binnehaal. Dié reeks sterfgevalle het hom gebring waar hy nou is.

Sy pa se kis is dieselfde oggend Kasteel toe gedra. Die vlae was oral halfmas vir die oorlede goewerneur, battery Imhoff het ’n saluut geskiet, voor en agter die lykswa het ’n erewag geloop. Die gebalsemde lyk het ’n week lank in die raadsaal in staatsie gelê, met wagte met omgekeerde muskette op die vier hoeke. By die huis het William sy ma gevind, met ’n geselskap geparfumeerde jongmans en feesmaaltye wat hom aan Odusseus se tuiskoms herinner het. Daaraan het hy later ’n einde gemaak en vir haar ’n huis op Stellenbosch gekoop. Driekwart van die groot erf genaamd Tuin van Oudshoorn, uit natuurlike bos en klip gewen, het hy van die hand gesit. Die oorblywende beboude deel was Saasveld, en hy was Saasveld se nuwe baas met te veel slawe om hom, ’n bestendige inkomste uit sy Nederlandse eiendomme, ’n donkerblou mantel geborduur met ’n newel sterre en die verwaarloosde pos van eerste klerk in die houtmagasyn.

Hy het nie gesterf met die gestorwenes nie. Sy kop was koel Europees, sy hart afgesonder, romanties. Hy was ’n rustelose jongman van twee-en-twintig, welgesteld maar sonder invloedryke vriende, met die plig om hom op te werk tot waar hy hoort, dáár waar die beste man die finale besluit neem. Waarom nie? Van Kervel, Swellengrebel en Tulbagh het dit reggekry.

Fiskaal van Plettenberg, waarnemende goewerneur, het Asia en die ander twee skepe op die Tafelbaaise reede gehou vir herstel van seeskade. Dit was hoogs onverantwoordelik en totaal onwettig, want dit was winter: Alle skeepvaart moes Simonsbaai toe. Op die laaste dag van Mei was daar swaar weer met donder en weerlig, geweldige wind, geweldige reën, en onmiskenbaar in die vroeë ure, kanonskote uit die donker: Asia, Aschat en Jonge Thomas was in die moeilikheid. Al wat goewerneur Van Plettenberg daardie oggend sónder ’n dagbreek gedoen het, was om in die grou skemer ’n galg by Jonge Thomas se wrak op te slaan en soldate teen strandroof uit te plaas.

Miskien was die wat verdrink het die gelukkiges, want Jan Kompanjie se vaste reël vir matrose wat rampe oorleef, is: Skip verlore, alles verlore. Kontrakte verval, soldye staak dadelik, op alles te goed op die boek word beslag gelê, gaan soek self jou kos en land jy in die hospitaal betaal jy die rekening. Dié wat op wrakhout land gehaal het en die dosyn of meer deur ou poshouer Woltemade uit die branding gered, het kaal deur die dorp geswerf. By Saasveld se hek het hulle met bakhande kom staan en woordeloos ‘bakshish’ gevra, want bedel is verbode. William was skaam om volksgenote so te sien en het sy jas en hemp uitgetrek en gegee, meer klere, dekens (‘kombers,’ sê die Kapenaar), kos uit sy kombuis en kontantgeld. Hulle het op strooi in sy stal geslaap tot die hofsake afgehandel was. By hulle het hy van poshouer Woltemade gehoor, ’n onbeduidende man, van sy opoffering, en van die Edel Heer as enigste oorsaak van die rampe en ellende omdat hy nie volgens wet die skepe Simonsbaai toe gestuur het nie. In ’n beskaafde land sou ’n Edel Heer vir sy misdaad verantwoording doen, sy pos kwyt wees en skadevergoeding betaal. Hier nie.

Die kortste dag van korporaal Woltemade se lewe was teen sesuur die oggend, twee ure vóór sonop, verby. Sy grys lyk is die volgende middag saam met honderd-en-veertig ander by die Duintjies in ’n lang graf gestop. Sy perd, die Kompanjie se perd, het op Robbeneiland uitgespoel, dankbare bandiete het dit met klippe in stukke gekap en rou geëet. Die reën en wind het nog ’n week aangehou, die son het dae lank nooit verskyn nie.

Hy draai op sy sy, hou weer die swaar sakhorlosie langs die kers: Nog ’n uur. Buite, ver weg, hoor hy ’n dowwe gerammel soos van kanonne, dit laat sy vensterraam liggies skud. Donderweer, ’n bewys dat die seisoen eindelik verander, dat winter begin.

Hy besit geen portret van Neeltje nie. Aan amper elke Leidse grag woon ’n portretskilder, maar hulle twee was mos onsterflik. En nou het haar beeld oor die jare verdof, haar stem word baie sag, haar oë verloor kleur, sy word verder en kleiner, Neeltje van nêrens; dit is net die gloed van haar lyf wat hom soms nog uit ’n droom wakker ruk. Wat nie verminder nie, is die gevoel van skuld omdat hy leef en sy nie, dat hy vir haar dood verantwoordelik is.

1795

Подняться наверх