Читать книгу 1795 - Dan Sleigh - Страница 14

10

Оглавление

Die vyand se verkenning is skerp, doeltreffend; hulle weet wie op die Kaapse Raad sit en probeer individuele lojaliteite toets om die geheel te ondermyn. Van hom weet hulle reeds sy naam, hulle wou lord Hunsdon spreek. Wat wou hulle by hom hoor of van hom hê? Met kaarte en moontlik selfs die bouplanne van ons batterye in besit, ken hulle nou die Kaap se krag. Ken hulle die staat van gereedheid? Hulle ken waarskynlik die swakhede, hoe min soldate, hoe klein die reserwe. As die Engelsman se verklaarde doel – beskerming vir die duur van die oorlog – opreg was, was geen voorwendsels of agteraf gedrag nodig nie. Verwag dus voortgesette lis, ondergrawing van eensgesindheid, die saai van tweedrag in die gemeenskap. Verdink kollegas, verdink die hoë rang, status en amp, wantrou die gewone groet, die gelukwensing, die ete-uitnodiging. Luitenant Veegezak is reg, die vyand het te ver gekom om met leë hande terug te gaan.

Henri Campagne, sy eerste klerk, groet en wys met sy pluim na die kantoordeur. “Madame de Rem’ny wag binne.” Henri is oor ’n tweegeveg met swaarde waarin ’n rektor se neef ’n oog verloor het, uit die Sorbonne geskors. Daarna was hy ’n ongewilde en ontevrede sersant van die Switserse huurregiment, maar is nou een van sy beste in die Korps Pennisten.

“Wie? Stuur vanoggend meel aan die bakkery in Simonsbaai. Genoeg brood vir driehonderd man vir ’n week.”

“Goed. Madame de Remony verlang meneer se hulp.”

Sy is ’n lang vrou, amper so lank as hy, sy staan op toe hy binnekom; die seun bly vooroor geboë, sy elmboë op sy knieë. Haar gesig is ovaal, met die kalm statigheid van die Madonna wat Hans Memlinc drie eeue gelede geskilder het. Sy dra ’n donkergroen mantel om haar skouers, onder die mantel sien hy swart crêpe. Haar dik bruin hare onder ’n plat swart mus is agter haar nek gerol en gebind. Sy praat met hom en hy hou haar mond dop: Aan weerskante is ’n duidelike regaf keep soos van ’n vaste glimlag. Haar Nederlands word deur ’n Franse uitspraak versag en dit klink of sy soms effens hakkel, maar oor die donderende kanonne buite is dit moeilik om haar te volg. Sy raak aan die seun se skouer en wys hom om te staan en sy hoed te verwyder. Onder die hoed is ’n bos oranjerooi hare; daar is beserings aan sy gesig, pers kneusings onder sy oë, aan sy mond en sy neus. Sy oë bly neergeslaan.

“William van Oudshoorn.” Hy beduie na sy ore. “Verskoon asseblief die geraas. Ons moet ’n alarm na die platteland deurkry, maar die weer is klam en dit mag ’n ruk duur. U naam?”

“Francine-Marie de Remony.” Sy hou haar hand uit, sy het haar fyn swart handskoen uitgetrek. Sy dra ’n smal silwertrouring. Miskien dertig, vyf-en-dertig jaar oud. “My seun is André. My man was Pierre André de Remony van Moutier in Frankryk.”

Hy vind die effense hakkel in haar spraak raar en interessant, sy oë rus op haar mond terwyl sy praat. Is sy gespanne, senuweeagtig oor die geluide van oorlog buite? Êrens in sy geheue klop iemand aan ’n deur: Francine de Remony, waar het hy dié naam gehoor? Sy hou haar kop regop. In die profiel is die ronde voorkop waaroor ’n donker kuif hang, ’n reguit neus, ’n vol warm mond, sterk ken en kakebeenlyn, twee groot ore soos seeskulpe.

“Wil u sit?” Sy sak stadig neer op die stoel, met haar rug regop, die skouers netjies haaks. Sy lyk moeg, haar vel is bleek. Sy kyk in sy gesig; haar oë is donkerbruin. Hy vra: “Wil jy sit, André?” en beduie na sy eie stoel agter die skryftafel, maar die seun skuif stil agter sy ma in.

“Ek is al ’n maand lank in die land, monsieur. Die resident in Simonsbaai het my werk aangebied as goewernante vir sy dogters. Met sy guns het ek met die waens boodskappe en briewe aan u gestuur, sonder om ’n antwoord te kry. Dit het te erg geword; die kinders van die resident het André daagliks aangerand. Franse hond, sê hulle, en noem hulself helde van Oranje. Ek kon nie verstaan dat ek nie van u hoor nie. Ons was soos gevangenes. Ek het onrustig geword: Ons is vreemdelinge, ons kom hier en hier is oorlog, twyfel, vyandskap selfs tussen kinders. Ek het ons kiste gepak en toegesluit. Ons het geloop, met net die sleutels in my hand. Ek het nie verwag dat dit so sal reën nie. Twee Engelse offisiere het ons naby Mont Souris opgelaai en tot hier gebring. In die losieshuis van monsieur De Wit is ons klere gedroog.”

Hy luister na haar sinsbou: Die kinders van die resident … In die losieshuis van monsieur De Wit … Les enfants du Résident. Dans le pensionnat de monsieur De Wit. Mont Souris is ’n deel van Parys. Berg van muise? Muysenburg; twee ure lank te voet in die reën. Dit is waaragtig braaf van haar. En sy sal baie moeg wees.

“Kan ek u van diens wees, madame? Ek kan vir u koffie aanbied.” Franse drink tee wanneer hulle siek is, as medisyne.

“Ja, dankie. Pierre de Remony was die onderwyser wat u uit Nederland laat kom het.”

Hy sê by die deur: “Henri, vra koffie by die kok. ’n Pot, met koppies en pierings, nie kommetjies nie. Op ’n skinkbord met ’n skoon kleed. Enige koek of suikerbrood wat hy beskikbaar het.” Dan kom hy teenoor haar sit.

“Dit is so. Ek het my broer in Rotterdam gevra om ’n onderwyser vir my kinders te werf. Ek het nog niks van hom verneem nie. Pos is altyd stadiger en meer wisselvallig in oorlogstyd. Is u man nog in Simonsbaai?”

“Pierre is op see vermoor.” Haar stem bewe. Daar is nie trane nie, maar woede in haar oë.

“Ag, nee. Ek is spyt om dit te verneem. Op watter skip? Is die saak aan die skipper bekend gemaak, vir ondersoek?

Sy swyg; sy kyk na die seun. “Ek moet die heer vertel.” Sy hou haar kind dop tot hy sy kop effens beweeg in instemming of miskien apatie, dan draai sy vorentoe. Haar stem en hande bewe.

Hul skip was Verschil van die Rotterdamse kamer. Die skipper is Jacob Joppe de Jonge, sy eerste offisier Diederik Kikker, die tweede Och Ochse, die derde Nils Oskar Peterson, die vierde Albert Alfons Jansz. Hulle het by die ewenaar bygedraai en die seile opgegei en ingebind sodat die skip stil lê. Paasdag op die ewenaar, die dag van die Opstanding, ’n Sondag. Joppe was trots op sy navigasie en het dit van vroeg af gevier. Hulle kon dit hoor, hy was dronk. Hy het gesê vandag word dié wat nog nie die linie oorgesteek het nie, gedoop, donderse varke, wat kom soek julle in koning Neptunus se domein, wat het julle te sê ter versagting van vonnis? Later het dit onder die kajuitgaste uitgekom, dit was ook Joppe se eerste oorsteek van die linie.

William weet van die Groot Doop, ’n opgemaakte tradisie vir die vermaak van geweldenaars, hy het dit self gesien: Die sogenaamde ‘wagenspoor’ is twee parallelle potloodlyne op die kaart. In dié smal gang alleen, steek jy van halfrond na halfrond oor, as jy suid vaar uit die Guineestroom na die Brasiliaanse Stroom, as jy noord vaar uit die koue Benguela na die warm Golfstroom. Dis ’n moeilike plek waar jy van een towertapyt op ’n ander oorklim. Die blinkgroen see strek hier sonder beweging in elke rigting en ’n skip lê dae aaneen op die spieëlgladde oseaan, net aan sy weerkaatsing geanker. Die tropiese hemel is dynserig en die lug drukkend bedompig en ongemaklik warm; dis moeilik om asem te kry. Matrose skep potlepels vol lou drinkwater uit die vat by die grootmas, hul kaal bolywe blink van sweet, hulle stink onder die arms en in die lieste, hul asems vrot. Hulle skep met emmers slierte groen kroos uit die see en drapeer dit op die boord en in die wante, hulle versier die troon van greinhout en seil wat vir koning Neptunus voorberei is met groen seewier. Die timmerman en smid het vir hom ’n kroon en ’n drietandvurk gemaak. Daar sit skipper Joppe, kroes in die hand. Dronk van oormaat arak voel die seevolk vir dié uur of twee van die seedoop welgesind teenoor hul skipper en offisiere, selfs teenoor hul bliksems van kwartiermeesters met hul ewige entjies tou.

“Overal!” word geroep. Die skipper stuur kwartiermeesters om die skip te deursoek en van nuwelinge leeg te maak. Hulle word soos skape in die kuil bymekaar gejaag. Daar word hul gesigte swart gesmeer met pik en hulle word ’n pot gemors gegee om van te drink. Die skipper drink skoon arak in die voormiddag, kap met die kroes teen sy troon: “Laat hulle van die grootra loop!” skreeu hy deur die roeper uit sy hoë stoel en beduie omhoog met die drietand. “Grootra!” juig die ongewaste horde in die kuil. Dié wat nie kan of nie wil begin nie, kan hulle nou loskoop; dis drankgeld vir die oorlamme, die ou manne.

Die grootra se witgeverfde punte hang oor die see, vyftig voet hoog bo die rimpellose water. Die dopelinge word met slae want-op gedryf. Die punte van kwartiermeesters se entjies tou is teruggesplits en dik geteer, hulle laat daardie swart tonge na links en na regs flikker, na links en na regs, en met mening, om bloed te trek. “Op daar, baar dônners, op daar. Op daar.”

Die nuwelinge moet die want op; hulle klou vas, sommige versteen, kreunend. Dié wat die kruis bereik, moet op die ra uitloop om van die punt af in die see te spring. Hulle klou aan ’n tou wat vir hulle gespan is, hulle skuifel voet vir voet uit oor die see of sit wydsbeen op die ra en skuif-skuif vorentoe. ’n Bootsman wag daar ver op die punt gereed om die wat huiwer te help, van die paal af tot in die see ver onder. Die see voel hard soos grond wanneer hulle dit tref. ’n Roeiboot lê beman in die water om hulle hygend en proesend uit te lig as hulle opkom.

“Ons het nie geld gehad nie,” sê sy. “Oor Pierre se naam uit die laer adel het ons voor die rewolusie landuit gevlug, Nederland toe, om daar te probeer bestaan. Die verdraagsaamste land van almal, is ons vertel. Toe val die Franse Nederland binne. Ons het in Rotterdam van dié werk in die Kaap verneem, en het dadelik aan u geskryf. As ons aanhoudend moet vlug, het ons gedink, gaan ons nou die einde van die aarde soek, waar André vry kan grootword. En ook, die winters het ysig koud geword, oral ys en sneeu, alle water bevrore.”

Maar, dink hy terwyl hy haar moeë en bleek gesig dophou, die donker oë, die mondhoeke met twee droewe kepies en luister na haar sagte, welopgevoede stem met die onverwagte ligte hakkel: Vryheid is hier nie gewaarborg nie, hier heers die Kompanjie en het die noodlot al vele ongelukkiges ingehaal.

“Pierre het as soldaat aangesluit om vir ons passaat te werk. Ons reis was ook ’n vorm van doop, ’n oorgang van een lewe na ’n ander. Toe kom daardie aanranding op die ewenaar. Hy het geweier, hy sou uit beginsel nie betaal nie en ook nie aan hul sotlikhede deelneem nie. Hy was altyd trots en het dit gehaat om aangeraak te word. Stoot, slaan, stamp, met dade of ook net met woorde, verstaan u. Die ergste was dat minderes hom probeer dwing of waag om hom aan te raak. Hy het hom op die skipper beroep en is uitgelag. Hy was alleen teen die dronk horde. Toe hulle hom met toue slaan en aan sy arms gryp om hom in die want op te sleep, het hy vloekend teruggeveg, toe losgeruk en in die see gespring. Hy het vloekend om hul skip geswem; toe hul boot nader roei het hy aangehou om dit te ontwyk. Toe hulle hom inhaal het hy sy arms oor sy kop gelig, opgekyk na die hemel en regaf weggesink. Die roeiers het daar onder die son op hom gewag, op hul spane gerus, skreeuend met drankflesse in die hand en brakend in die see. Die skipper het deur sy trompet oor die see geskreeu: Nou kry ons jou vrou, terwyl sy volk oor die boord hang en lag.

“My seun het dié dag ’n ou man geword. Hy het van toe tot nou nog skaars weer gepraat. Al wat hy gesê het was dat hy ’n geweer wil hê, hy wou vir geld werk om een te koop. My kind, ’n geweer? Ek verstaan dit nie. Die aand het die wind opgekom en ons het daarvandaan weggeseil. Ek was weke lank verlam, ek kon nie loop of praat nie, ek kon nie regop sit nie, ek kon net lê, ek kon net huil. Toe ek weer opstaan, kon ek nie behoorlik praat nie. Ná drie maande was ons in Simonsbaai, en ek het my beklag daar by die resident, monsieur Brand, gedoen en hy het beloof om my verklaring aan die Fiskaal te stuur. Die veertien dae wat die skip Verschil in Simonsbaai bedien is, het skipper Joppe in resident Brand se huis loseer, en ek het gesien hoe bale linne en vate haring en botter uit die skip na sy huis toe gedra word. Ek weet nie of dit onwettig was nie, ek weet net dat dit my seergemaak het om te sien hoe die resident met dié monster Joppe en sy offisiere om die eettafel fuif terwyl ek en my kind in sy kombuis met die slawe eet. Nie oor die afsondering nie, daaroor was ek dankbaar, maar omdat my man se moordenaars voor my oë onthaal word. Na twee weke het die skip weggeseil, Ooste toe.”

Onskuldige mense ly, dié wat dit moet aanskou, dra die las, lewenslank. William sien die leë koppies in hul pierings op die skinkbord rittel en dans van die aanhoudende kanonskote agter Catzenellenbogen se muur. Dit lyk of alles van vrees bewe en retireer. Sy neem die koffie wat hy haar aanbied, maar die seun weier, ook die snytjies soet amandelbrood, goudgeel van saffraan. Sy neem van die bruin suikerblokkies om dit in sy hand te sit maar hy draai daarvan weg. Brand het haar in diens geneem, sê sy, maar sy kon dit nie by hom uithou nie. Sy is verplig om hier te vertoef tot die hofsaak afgeloop is, daarna moet sy terug Europa toe; haar moeder woon nog in Moutier. Tot dié dag moet sy vir hul verblyf en hul passaat huis toe werk. Sy het nou kom vra of monsieur Van Oudshoorn haar in haar man se plek sal neem, as onderwyser vir sy kinders vir dié paar maande, tot die hofsaak verby is.

Hy ken dié gevoel van verlies, die genadelose noodlot se lewensveranderende slae. Hy moet haar natuurlik help. Sy voel dubbeld veronreg, deur haar oorlede man én deur die Kompanjie wat sulke misdaad toelaat.

“Wat eet André? Eet hy enigsins?”

“Omtrent niks, en net wanneer hy alleen is. Sy ouma sal na ons omsien.”

“Dit is moeilike tye wat ons beleef, madame. Ek het nie van u koms geweet nie, want ons skepe oorwinter dertig myl hiervandaan. U het die Britse vloot in Simonsbaai gesien. Hier dreig oorlog, want hulle maak aanspraak op die land. Ek is bekommerd dat ons miskien nie weer ’n vloot Europa toe sal stuur nie, maar ek is bly dat u op my advertensie gereageer het en sal u in diens neem soos ek beloof het. By u vergoeding is losies ingesluit, vir beide van u. Ek sal u bagasie by poshouer Brand laat haal.”

Sy kyk in sy oë, reik hom haar hand en neem syne in ’n sterk greep, asof sy ’n kontrak met hom sluit. Haar siel, openlik en opreg, is in die warm, sagte hand. “Ek is u dankbare dienaar, monsieur. Ek kan ook naaldwerk en Frans onderrig.”

William glimlag na haar. “Dit sal my goed doen om meer van die taal te leer. Ek vind die manier van tel, van tagtig af verder, moeilik. Hier kom soms ’n Franse regiment en ek moet van hul verstrekking boekhou. Eers die nodige: Ons kantore sluit van twaalf af tot drie-uur. Ons stap dus binnekort na my huis in die dorp, waar ek u iets te ete kan aanbied. Aangaande die hofsaak wil ek u vra om ’n verklaring daaroor voor my klerk en twee getuies af te lê. Ek sal by wees wanneer u dit aan fiskaal Van Ryneveld gee, vir ondersoek en vervolging. Skipper Joppe gaan twee jaar lank in die Ooste bly, en as hy oorleef en terugkom, word al die aandadiges hier aangekla. Wil André miskien buite van die kanteel af kyk hoe die kanonne skiet?”

Sy vra nie die seun nie. “Nee,” sê sy, “dankie.”

Hy roep sy klerk binne. “Skryf madame De Remony se verklaring neer, Henri. Bring ’n getuie om by te staan as ek dit aan haar voorlees en haar eed aanhoor. Skryf dat die waens wat die meel wegneem haar bagasie na my huis toe bring. Sy sal ’n lys maak vir die drywer. Sê ek wil hoor in watter toestand hulle die bagasie vind. Slotte mee gepeuter, kiste oopgebreek, so voort. Onthou om Brand in jou briewe ‘poshouer’ te noem, nie ‘resident’ nie.”

Hulle loop onder William se groot sambreel huis toe. Die pad is vol modderpoele. Madame de Remony se swartgeklede hand rus op sy arm asof hulle in die koninklike tuin by Versailles wandel, met die linkerhand lig sy haar rok van die grond. Haar seun kyk nou belangstellend om hom na die huise, die swart slawe uit Madagaskar kaalvoet en sonder hoed, die Oosterlinge met toering, kabaja en kaparrings. Sy loop moedig die lang afstand langs hom. Al is sy uitgeput sal sy dit nie wys nie, want haar stil seun steun op haar soos ’n soldaat op sy offisier. Geen offisier laat ooit merk dat hy moeg is nie.

William skud die water van sy sambreel af en terwyl hy sy skoene aan die voetskraper by die voordeur skoonmaak, bekyk sy Saasveld, die smalheid en diepte daarvan, die honderde ruite. Waaraan dink sy? Dan hou sy aan sy arm vas terwyl sy die sole van haar swart steweltjies met hul beskadigde punte een na die ander afskraap.

Die stoele, tafels en kandelare van die vorige aand se vergadering is weggesit, maar die Athenaeum-reuk van tabakrook, sweet en brandewyn, dinge waarin ’n Kaapse lewe verberg lê, kleef aan die tafelkleed, aan die klavier se swart bekleedsel, aan gordyne en stoelkussings. Hy stoot vensterrame op en stel haar en die seun aan sy slavin voor.

“Flora, dit is madame De Remony en André.” Die slavin groet met ’n kniebuiging en Francine-Marie steek haar hand in die swart handskoen uit.

“Francine-Marie. Ek is bly om u te ontmoet.”

Flora se ma van Java het haar dogter Florisina genoem, ter gedagtenis aan ’n Hollandse matroos van verbygaande betekenis. ‘Sapitahu,’ sê hulle, wie ken hom?

William vertel kortliks soos hulle deur die ruim voorhuis loop: Flora is hier gebore; sy is ’n hoeksteen van sy huis. Sy is vir hom onmisbaar.

Flora dek die tafel en sit vir hulle koue ham, jong uie in asyn gepekel, witbrood en rooi kweperkonfyt voor. “Wat’s dit met dié ene?” vra sy en wys na die seun met die bleek vel wat by die tafel se hoek staan en deur reëngespikkelde ruite staar na die kortgesnoeide pruimbome, asof hy voëlverskrikkers sien wat die huis omsingel.

“Hy het sy pa verloor. Hulle bly hier tot ek raad weet met hulle. Sy ma sal vir hom kos na sy kamer toe neem. Maak die vensters oop dat hier lug inkom en hang water oor, as ons gaste wil was.”

Hy lei madame De Remony deur die huis. Hy laat haar kies watter kamers sy wil gebruik en sy kies die een met twee enkelbeddens en ’n uitsig oor die reede en die vlakte tot by vaalgevlekte Tygerberg, twaalf myl ver. Sy eie seuns het in dié kamer geslaap, maar dit staan jare al in onbruik. Sy wil graag vereers vir André by haar hê, sê sy. Hy kyk dat alles daar is wat nodig is, ’n olielamp op die kleedtafel, ’n kom-en-beker op die wastafel, twee blakers met regop vaderlandse kerse en in die bedkas ’n sonderlinge kamerpot, buite en binne geblom met baksteenrooi en turksblou en helderblou krisante, die geskenk van ’n Persiese ambassadeur op pad na Den Haag. Hy maak die klerekas oop om in te kyk, alles is leeg en bruin, dit ruik na hout en kamfer. Maar eerstens, eerstens moet hy raad vind met daardie Engelse skepe in Simonsbaai. Hulle moet vóór in sy gedagte bly, sy kanonne moet op húlle rig, aksie moet volg.

“’n Spieël, miskien?” Ses of agt groot spieëls in vergulde rame is saam met Geesje hier uit.

“Asseblief, as dit moontlik is.”

“Natuurlik. Flora sal dit bring. Ek kom vanaand teen sononder huis toe. Neem uit die spens wat julle verlang. Kyk buite rond; daar is ’n paar karperde en ’n koei in die kamp, hoenders, ganse en so. As u klere of iets nodig het, gaan gerus dorp toe en laat dit op my rekening maak; ek trek die koste later van u loon af. Hilletje Verwey is die beste, hoor ek. Flora sal u wys.”

Flora sê: “Hilletje naai vir bediendes en vryswartes. Juffrou soek vir Sara van Sumbawa. Sy kyk alles af wat inkommers dra.”

“So. Flora sal u wys.”

“Dankie, maar ek maak self my klere. Wanneer kan ek u kinders ontmoet, monsieur Van Oudshoorn?”

“Daar is twee seuns. Hulle woon nie by my nie. Maar ek het vriende wat jong kinders het. Of dalk wil u as assistent vir ’n ander werk, soos vir Herr Anreith. Sal dit goed wees?”

“Dit sal goed wees.” Noudat sy meer sekerheid het en effens ontspan, sien hy diep moegheid in haar oë en voel hy verontwaardig oor die misdaad en onreg wat haar en haar kind met brutale geweld deur offisiere van ’n Kompanjieskip aangedoen is. Hy, onregstreeks, het haar in daardie gevaar laat kom. Sy sal wel later wil weet wat van Saasveld se huisvrou geword het.

“En barones Van Oudshoorn?” vra sy.

“Sy woon by haar ouers op hul plaas.”

“Is sy gelukkig?”

Sy bedoel, is Geesje tevrede? “Nee.”

Sy vra nie meer inligting nie en hy gaan na sy voorhuis terug. Dit ruik hier soos enige taphuis, Joop op de Hoek, Le Coq d’Or of De Laaste Stuijver, behalwe dat die suur reuk van klam saagsels afwesig is. Mans alleen ken dié reuk, eensame mans wat goedkoop geselskap soek, ’n vrou sal sê dit stink. Sy huis was lank leeg, dit voel al vir hom of dit nie meer ’n hart het nie. Madame De Remony wou weet of sy hier oortree, of sy in veiligheid en rus mag bly. Hy sal dit aan haar stel dat dit van haar afhang, dat sy kan bly so lank as sy wil. Hoe sy huis stil geword het kan hy nie aan ’n vreemdeling vertel nie, maar Geesje is weg, hier is niks meer van haar nie, behalwe haar stem. Hy skink ’n glas rooi Constantia, ruik en proe daaraan, sluk twee monde vol.

Trou, as jy eensaamheid wil ken. Suster Machteld en dominee Van Lier het Geesje laat verander, hulle het sy bestendige lewe aangeval en verander. Hy was twee maal ongelukkig en het nie meer op ’n derde kans gehoop nie. Nou is hier iemand anders wat ook van ’n huwelik se vriendelike toegeneentheid, ondersteuning en vastigheid beroof is.

Onheil sluip jou huis ongesien binne, wanneer jou vrou vroom word en nie kan ophou bid nie. Vir Geesje het Suster Machteld se bidure belangriker as haar eie gesin geword. Sy kon nie soos ander mense met god en natuur tot ’n verstandhouding kom en eenvoudig met die lewe voortgaan nie, onbekend, moeilik en kort soos dit is. Wanneer Geesje met gevoude hande kniel, moes bediendes op hul tone loop terwyl hulle haar kinders grootmaak. Maar daaraan is niks te doen nie; ons word slawe van ons noodlot voor ons gebore is en dit vervolg ons tot ná ons dood om selfs ons nagedagtenis en nagelate naam te teister.

Wat sy wou hê is kinders, dis haar reg, die agbare status van mater familias. Hoeveel? Miskien dertien of veertien, soos juffrou Baumgardt. Hy moes dit voorsien. Amper gelyktydig met haar vroomheid, en asof dit daaruit gevloei het, het Geesje binne maande stuurs en venynig geword, asof sy dink: Ek het godsdiens, ek het mag.

Aan die begin het hy met haar gelag en gehoop dat humor haar sal genees. Hy sê: Jy lees my die leviete voor en gaan direk voort met fariseërs, samaritane en filistyne. Hy kon nie uitvind wat haar houding veroorsaak nie. Tussen haar voorsate was miskien skoolmeesters of sieketroosters, want haar teregwysings het nie opgehou nie. Dit was nie humeur alleen nie; haar hele geaardheid het na die negatiewe geneig. Vra haar iets eenvoudigs en sy begin met ’n weerspreking of ’n siniese teenvraag wat, as hy hom nie dadelik aan die gesprek onttrek nie, oploop tot ’n bitter tirade wat hom moedeloos en treurig laat. Asseblief, asseblief, Geesje.

Hy het betaal vir die klere wat Geesje wou hê, en nuwe meubels, Franse styl, want Saasveld s’n was vir haar te ouderwets, en dik gordyne en spieëls met vergulde rame. Dit het nie gehelp nie. Hy het gewens dat sy met hom wil praat, kla soos ’n vrou wat afgeskeep word of huil soos een wat veronreg voel. Kom, praat met my, Geesje. Kom, kla. Kom, sê: ‘Jy het my bedrieg, William, waarom wou jy met my trou, ek kon iemand anders gekry het wat soos ek is en wat van my mooi huis hou en dink ek lyk mooi in my rokke. Jy het ’n óú gees, ek het nie geweet jy lewe soos ’n paap nie, jy wil nie eet nie, jy drink net. Ek het nooit so ’n lewe geken nie. Waarom eet jy nie my kos nie, ek het die hele dag voor die herd gesweet. Ek verlang na my susters en vriendinne, ek wil jongmense nooi en danse gee soos ons op Alphen gemaak het, ek wil met jou tric-trac en ganzenbord speel. Mag ek nie dans in Saasveld nie? Jy is altyd so besig, jy sit en lees by jou lamp, jy sien nie my mooi klere nie, of jy sit in die voorhuis en praat met jou ou mans en ek moet die kinders stil hou. Jy kom nie eens Sondag saam met my kerk toe nie, dis net altyd die natuur, kyk die lenteblomme, Geesje, of die mooi sononder, Geesje, my pa en Freddie sê die natuur is ons gegee om te tem. Jy is met jou werk getroud, jou plig, jou plig, jy bly halwe nagte van die huis af met jou plig, wat weet ek waarmee jy besig is. Waarnatoe loop jy snags? Ek wil ook sien wie met die skepe aankom, hul nuwe hoede en goed. Ek wil vendusies toe gaan, wonderlike mooi dinge kry jy daar en tafels vol te eet. Ek kan die dorp van hier af sien maar wat help dit, ek kan net so wel op die eiland sit. Jy’s op die Raad en kan vir ons ’n servies van honderd-vier-en-twintig stukke met ons familiewapen uit Oosinje bestel, ag asseblief. My vriendinne wil hoor wanneer ek hulle vir ’n soir dansant gaan nooi; ek is jonk, die Bybel sê geniet die dae van jou jonkheid, en jy praat net oor jou mense, jou dorp, jou land …’

Waar het hy hom misreken? Praat met my, Geesje. Ja, dans. Dans asseblief. Kom, praat met my. Ek onthou hoe jonk en mooi jy was, ek onthou jou jong gesig en vrolike geaardheid. Kom hier, ek wil my arms om jou sit. Ek het nie vergeet nie. Asseblief, ek onthou. Toe, vertel my dat jy jou beste jare en jou skoonheid in dié huis mors. Jy is reg; ek sal luister.

Maar sy wou nie, want om te praat was om blind en gewond in onverkende terrein te dwaal. En vir musiek gee sy nie om nie. Vra haar ’n eenvoudige vraag en sy antwoord met ’n afjak. Met sy hande sluit hy sy ore teen die krete, maar hy voel hoe dit binnetoe bloei, bloei, bloei.

“Jy was met ’n kamermeid getroud. Moenie dink ek is so nie.”

“Laat haar rus.”

Soms was daar skuim om haar mond. Was sy siek, was sy aan gek word? Dit gebeur tog met jong mense ook. Hy het met dokter Van Riet oor Geesje gepraat. Die dokter het gesê sy is te jonk vir die oorgangsjare se versteuring. “Is jy nie die oorsaak van haar onrus nie, William? Is daar ’n ander vrou?” As Geesje gewillig is, sal hy na haar kom kyk, maar miskien is daar ’n geestelike oorsaak, miskien sal ’n predikant beter weet.

Met sy stem so rustig as hy dit kon kry, het hy dit aan haar voorgestel: Hoor net, luister net na wat Van Riet sê. Hulle weet van amper alles. Miskien is net ’n bietjie medisyne nodig.

“Ek, dokter toe oor jou? Die skandaal; jy wil my laat mal verklaar en op die eiland sit, soos jy met jou ma gemaak het.”

“Waarvan praat jy? Watter eiland?”

“Heiland. Heiland!” skreeu sy in sy gesig met haar lang naels in sy nekvleis geslaan. Wat sê sy? Wat beteken dit? Asseblief, liewe Here.

Haar vyandige houding het hom geskok. Wat was met haar verkeerd, of met hom? Hy het teleurgesteld gedink: Sy was nooit só voor hul troue nie. Senuwees; sy sal daaroor kom, sy sal moeg word vir Suster Machteld en vir bidure. Maar sy het kouer teenoor hom geword, meer afsydig, sy toenadering verwerp, en hy kon aan geen rede daarvoor dink nie. Sy skel by die eettafel op ongelukkige bediendes, oombliklik woedend oor ’n soutbakkie skadeloos omgeval (‘Soek jy om die satan oor my huis te bring?’) of ’n souslepel wat op ’n tafellaken drup. Sy skel luidrugtig, sy beskuldig hulle met leuens, met dreigemente. Sy skud haar vuis voor hul oë, sy slaan met haar sleutels na hul gesigte. Hy gryp haar arm, sy skreeu dat hy haar mishandel: ‘O God! Help my, Van Oudshoorn rand my aan!’ Die bure, die straat, die hele gemeenskap moes van haar haat weet. Of sy maak dae lank haar mond op ’n dun, reguit lyn toe, siedend van gif. Waarom?

Die draak wat haar pla was die onsigbare een. Luister: Met dagbreek een someroggend wens hy haar ’n gelukkige nuwe jaar toe; daaruit spring binne sekondes stringe verwensings en twee weke van koue tussen hulle. Wat hy ook al probeer sê, kom Geesje met ’n verwyt. Regstellings, noem sy skoonma dit. Hy voel platgeskiet en noem dit teregstellings.

Sy skoonma sê: “Sy is nog jonk, sy moet leer skel.” ’n Skoonma sal haar kind beskerm; hy moet hom verdedig. Hy vra, met afsku. “In vadersnaam, waaroor?”

“Dit maak nie saak nie. Sy moet haar kan verdedig.”

God, kom help asseblief in hierdie huis. Hy moet hier uit. Die voordeur klap agter hom. ’n Gil klink uit die huis. Buite skud die slaaf sy kop oor die graaf.

Geesje laat haar as barones aanspreek. Een wat haar man luidrugtig tussen gaste weerspreek, in die openbaar aanval en vir ’n dwaas uitmaak? Sy skel voor die slawe op hom, tot hy haar voor die slawe klap om die duiwel wat in sy huis gekom het uit te dryf. Die duiwel, vermoed hy, verlustig hom in sulke afstootlike optrede. Teleurgesteld in haar en in homself gaan hy alleen slaap, aan die agterkant van die huis. Sy beskuldig hom dat hy by ’n slavin lê en skel daagliks op die vrou, tot hy haar verkoop, die dorp uit, waar niemand haar ken nie.

Geesje begin om dreigemente teen hom te gebruik: Hy kan nie meer dít van haar verwag nie, sy gaan nie meer dát vir hom doen nie. Sy besef nie hoe hy dreigemente verafsku nie, ’n dreigement is die laaste posisie voor aggressie. Sy sou geweld teen hom gebruik; sy dreig om hom, haar man, deur ’n gehuurde party te laat sny soos hulle in Engeland maak. Te laat kastreer, soos ’n skaap?

Hy sê: “Dan sal jy nie weer ’n kind hê nie.”

“Jou neus, dat almal jou skandaal in jou gesig sien.” Sy het ook ’n manier van lag, ’n skril skreeu wat soos ’n mesgooier se lem na die keel vlieg. Hy het nie geweet dat daar sulke haat in ’n liggaam kan wees nie.

Die woord ‘ons’ is nie weer in hul huis gehoor nie. Wanhopig oor die onherstelbare saak was hy soms na aan trane. Die donker word jou vriend. Jy leer om van jou huis te bly, soek vrede in lang wandelings, jou werk en boeke. Sy was nou tot histerie geneig; later kan sy gewelddadig word, wat kon hy vir haar doen? In die ergste gevalle word sulkes vir hul veiligheid en die rus van die gesin in hul huise afgesonder, hul rame toegespyker en ’n spesiale slavin bedien hulle, die lewende dooies, agter geslote deure; hul name word nie meer in die familie genoem nie. Maar hy kon dit nie aan enigeen doen nie.

Hy was nie ’n ridder in ’n boek nie maar ’n man van bloed en been, met ’n dun vel. Hy het met haar pa gaan praat: Gaan haal haar as jy haar wil hê, ek doen aansoek om egskeiding.

1795

Подняться наверх