Читать книгу 1795 - Dan Sleigh - Страница 6

2

Оглавление

Saasveld, skuins agter die Kompanjiestuin, enkelverdieping onder ’n plat dak, lank, smal en hoekig, is soos hy, dink William. Die hele bouwerk strek weg van Oranjestraat en skep ’n indruk van afsydigheid; die skraal aansig bevat net ’n deur tussen twee lang vensters onder ’n reguit kroonlys en herinner aan ’n blokhuis. Elke onderdeel is simmetries geplaas, gepleister, gewit. Dit het eers ’n wit barokgewel gehad; vriend Thibault het dit vier jaar gelede, ter wille van vernuwing en steeds enig in die Kaap, ’n neo-klassistiese aansig gegee, maar die huis het nie sy ou, ou gees verloor nie.

William ruik sy werf se aandreuke van suurlemoene en groen koejawels, hy ruik koel, vars reën in die lug. Winter is maande laat, die jaar is in sy helfte, swaels het lankal vertrek. Hy was bekommerd oor die weer, want die Paasmaan het vanjaar in Maart gekom en boere hou oral die lug dop maar kon nêrens ploeg en saai nie. Dit raak hom persoonlik; hy, met dieselfde verantwoordelikheid as Josef in Egipte, moet sorg vir brood aan die skepe, garnisoen en dorp, in dié orde. Hy is administrateur van graanskure, met nege klerke wat in die regering se drie groot pakhuise boekhou en vier-en-veertig slawe met gesigte wit van stof, wat die los graan oophark, omkeer, sif teen muf, muismis en kalanders, vol mudsakke op en af teen lere dra en soms, swaar en diep, slierte taai slym uit die longe hoes.

’n Kers in sy deur se bolig verlig die stoep. Hy sluit oop; die afwesigheid van menslike warmte in die stil en donker huis reik na hom toe hy binnegaan. Saasveld het koud geword, nié alleen omdat argitekte die kaggels moes uithaal toe brandhout op die Vlakte skaars raak nie. Dit het ook ’n dowwe, hol en leë klank gekry, en elke kamer hou sy spoke: Jy verbeel stemme, vrolik of treurig, jonk en oud. Niks, niks word hier vergeet nie, bitter ou boodskappe vind jou herhaaldelik, soos ’n eggo of ou spoke wat snags in jou slaap kom loop.

Die huis is stil, die slawe het geëet en toegemaak. Miskien skuil sy vrou binne, gevaarlik soos ’n gewonde dier, maar dis onwaarskynlik; Geesje Kirsten is op Alphen, by haar ouers; hulle albei verkies dit so, hul kinders gaan op Stellenbosch skool. Hy hoor in die dorp dat dit met haar goed gaan, dat sy gesond lyk, maar nie dat ’n ander man in haar belangstel nie. Dit is jammer. Hy kyk deur die vensters. Sy oorgroeide tuin omhels die huis.

Tot vandag het hy geen skeibrief nie. Hy het die aansoek om egskeiding persoonlik by die hof ingedien. Dieselfde drie lede, sy kollegas en vriende wat hom en Geesje vóór hul troue ondervra het, was agter die tafel. By die eerste, gelukkige geleentheid was die voorsitter glimlaggend, informeel: Wie is julle (asof hy nie reeds weet nie), en van watter ouderdom? Voorname en familiename is genoem, geboortedokumente is oorhandig, met aanstaande skoonvader Kirsten se permissiebrief, omdat Geesje minderjarig was.

Religie en huidige huwelikstaat? Jonge dogter en wewenaar van dié gereformeerde gemeente. Dokumente van doop en aanneming is oorhandig.

Met of sonder huwelikskontrak? Daarsonder; Geesje sou op die helfte van alles wat hy hier en in Nederland besit, geregtig word.

Waarom wil julle in die huwelik tree? Uit wedersydse toegeneentheid. Het hulle nie hand aan hand, soos Adam en Eva voor God, daar gestaan nie? Hy sal altyd vir Geesje op hul troudag, in haar hoepelrok van blou satyn met ’n ligrooi roos voor die bors, onthou. Maar u weet, kollegas: Daar is tóé en daar’s nóú, dis ’n feit waarop ek my kop sal wegsweer.

Die tweede keer sit die Huwelikshof daar en lyk verleë en bekommerd. Egskeiding is raar, amper monsteragtig raar in hul dorp, waarom dring Willie daarop aan? Die stemme was simpatiek omdat hulle oor persoonlike sake moes uitvra: “Watter gronde bied jy vir egskeiding?”

Die wet ken net twee gronde vir egskeiding, geagte kollegas, dit is onherstelbare verbrokkeling en geestesversteuring. Wel, kollegas, vriende: Ek vermoed albei is hier ter sprake. Ek kan nie haar neerdrukkende buie ontduik of ignoreer nie en soek toevlug in my werk en oormatige drank. Sy is veeleisend, sonder rede foutvinderig en gedurig nukkerig. Ek verstaan dit nie. Ek het uit afkeer opgehou om met haar te kopuleer en is dankbaar dat ek op daardie gebied van haar bevry is. Is dit nie genoeg rede nie? Ek vind ook haar gedrag onbehoorlik, sy tree kru en ongemanierd op voor gaste. Van julle was teenwoordig en weet daarvan. (Die ander sou dit wel in die dorp verneem het.) Fiskaal van Ryneveld sou dit só stel: Daar was dade en dae wanneer hy seker was dat die Satan sy huis ingeneem het.

“Onversoenbare verbrokkeling,” het hy geantwoord.

“Aldus aangeteken. Die hof verwag van jou, William Ferdinand, baron Van Reede van Oudshoorn, ’n beëdigde verklaring, mondeling of skriftelik, om jou eis te steun.”

“Ek sal.” Wie gaan hy as getuies roep, haar ouers, sy ma, hul kinders of die arme slawe?

Skoonvader Kirsten was gereed met ’n teeneis: Sy dogter Gezina staan egskeiding teen en eis herstel van huweliksregte. Die voorsitter het sy hamer een maal geslaan: “Uitgestel. Die hof verdaag.”

Hy het die kollegas se simpatie waardeer. Sy plek is by hulle op die geregsbank, nie daarvóór nie. Hul saak duur nou al jare lank terwyl hy in sosiale riool van verklarings, teenverklarings deur kwaadgesindes, onbeholpenes en onopgevoedes sink. Tot vandag toe geen skeibrief nie; Geesje weier. Hy skryf in sy gedagte aan haar: ‘Waarde Geesje, dit is tien jaar vandat ons saak voor die hof was. Ek is oortuig dat ons nooit tot versoening sal kom nie. Ek vra u om tog tot egskeiding in te stem. Gee asseblief die nodige opdrag, en voorsien my van u eise teen ons boedel. Hoogagtend, die uwe. William.’

Sy oë word aan die skemer gewoond. Hy hang sy sleutels agter die deur en loop die ruim voorhuis binne. Alles lyk gereed: Stoele, uit ander kamers ingedra, staan in rye vir die vergadering, die spreker se tafel met tafellaken, ’n karaaf en waterglas, ook die voorsitter se hamer en halfuurglas, die sekretaris se pluim, ink, papier en kladpoeier. Kerse en lampe staan reg om opgesteek te word. Teen die agterste muur, onder sy vader se skildery, slaap die groot klavier onder sy swart kleed. As jy die doek sou lig, staan voorop ‘Pianoforte’ en die maker se naam ‘Christofori,’ in sierlike silwer geverf. Op die swart doek is ’n swaar silwerkandelaar met drie bleek kerse. Die klavier het stil geword toe sy oorlede ma alleen hier gewoon het. Musiek, daaraan ken jy jou geluk, daaraan weet jy hoe dit met jou huishouding gaan, het sy pa gesê. Laaste om dit te bespeel, op ’n soel lenteaand lank gelede, was ’n bloedjong Luxembourgse luitenant met ’n dubbele naam, die een met wie sy haar skandaal gemaak het.

William stoot sy eettafel vas teen die muur, bring ’n doofpot met kole uit die kombuis, blaas dit aan, steek een kers op en dra dit deur die voorhuis om ’n dosyn ander in hul blakers en hoë hangkandelare op te steek. Dié op die klavier verlig sy pa se portret: Sober, smal gesig, hoë voorkop, vroeg bles, daagliks geskeer, Pieter, baron Van Reede van Oudshoorn, 1714–1773. Stigter van die Kring Athenaeum.

Kring Athenaeum was die plesier van sy pa se lewe. “Ons saak is vir vryheid, Willie. Dat ons Jan Kompanjie se greep hier afskud en ons eie vlag hys, so ’n bloue met die vrou en anker op.” Dit het hy vertroulik met ’n glimlag en ’n knipoog gesê, want hy was toe die regering se sekunde én geswore onafhanklike fiskaal, en daarby ’n goeie vriend van hul goewerneur. “Ons land het ’n toekoms so blink soos Amerika s’n, met elke kans in die wêreld vir wie hier wil woon, maar sónder Jan Kompanjie, sonder Jan Kompanjie, Willie. Hou jy jou bakhuis toe, hoor. Ons tyd kom.”

Toe hy sestien was het sy pa hom sekretaris van die Kring gemaak. “Die jammerte is,” het hy gesê, nie sonder verwyt nie, omdat hy in Nederland tevergeefs vir ’n hoërskool gepleit het. “Daar is al van 1750 af ’n universiteit in New York. ’n Universiteit, hoor; en na net drie dekades van hoër onderwys was die Amerikaner slim genoeg om die Engelsman uit sy land te jaag. Vry en onafhanklik; hulle het ons nou myle vóór geraak. Waar sit ons vandag? Praat van agtergeblewe.”

In die halfdonker, terwyl die kerse onseker flikker, loop hy tussen die rye stoele en draai dié op die punte effens binnetoe, dat elke ry ’n vlak halfmaan vorm en die oë almal op die spreker gerig sal wees.

“Ons moet erken, Willie, die Kompanjie het sy kinders skandelik gefaal.” Sy pa het sy seuns Europa toe laat gaan, twee broers het daar stadslug geproe, advokate geword, getrou en van Saasveld vergeet.

Sy pa het sy skouers opgehaal: “Dan moet ons nou maar self. Niemand gaan dit vir ons doen nie. Ons mense gaan veronnosel. Ons gaan bywoners word, met bywoners se brandsiek vee, brandsiek houding en brandsiek praatjies, en die Kompanjie gee nie om nie. Ek sal jou vertel wat ek wil doen. Luister en hou jou bakhuis toe: Amsterdam se burgemeesters het jare gelede die regering gevra om ’n universiteit soos dié van Leiden, wie se reputasie nou om die wêreld strek. Jy kan jou voorstel, die Leidse professore het gou gekla toe hulle daarvan hoor; hulle was bang hul studente trek Amsterdam toe agter die stadslug, dan sit Leiden se geleerde here daar in hul swart sonder werk. Die Haagse regering het met Leiden saamgestem, die twee is immers bure. Dus word Amsterdam ’n universiteit geweier.”

William steek sy staanlampe aan, versigtig. Elke duur oliebak met die dun, helder olie wat Amerikaanse walvissers uit die potvis se voorkop put, skud hy en luister. Elke porseleinskerm, fyn wit soos eierdop, lig hy af om ’n skoorsteentjie van skoon glas op te stoot. Die pit van geweefde katoen draai hy hoër en hou ’n kort kers daarby, draai elke vlam tot dit rég brand, laat sak weer sy skoorsteen, sit weer sy wit skerm op. Uit die lamp straal ’n sagte, diffuse lig wat wit op die vloer en teen die mure skyn. Hy plaas die lampe op tafeltjies in die voorhuis; hy het ses daarvan uit ’n Amerikaanse katalogus bestel, met spaaronderdele. ’n Nuwe uitvindsel is die staanlamp, ’n geskenk van hom aan die Kring, aan Saasveld en sy donker werf, want op someraande maak hy al sy vensters oop dat die lig buitetoe skyn. Nou lees hy saans ure lank, nie meer by kerslig soos toe hy sy kinders van Rooikappie vertel het nie. En soms loop hy laataand óm sy huis om te geniet hoe die lig die blou plaveisel onder die eike verlig.

“Mooi, jou lampe,” het sy vriend Jan van Reenen gesê, waar Louis Thibault ook by was. “Maar dit skyn my ons nooiens wil eerder by kerslig opsit, want dis mos meer soos skemertyd as aandskaduwees uit die grond opkom en met jou wil praat. Ons gewaar dit lankal, Willie, maar ons kan verstaan jy moet in boeke lees, en dan is meisies ook nie meer so volop hier by jou nie.”

Niks kon die patrisiërs van Amsterdam, daardie fenomenale stad, keer nie, want kennis gee mag om te ontgin soos wat jy die goud uit rou erts smelt. Hulle vermy die naam van universiteit, ken ook nie grade toe nie en noem hul instelling Kring Athenaeum, na die hoogwaardige godin van rede, wysheid en geregtigheid. Dit klink ook effens soos die wydgeroemde Muiderkring, ’n vereniging van kunstenaars. Hulle werf die beste meesters en betaal hulle behoorlik om les in wiskunde, medisyne, geskiedenis, teologie en klassieke tale te gee. Soek wysheid, goedheid, nie eksamenkennis nie, is die beleid.

“Verlore tale, Willie. Athene se prestasies en kennis weg en vergete. Hoor jy daardie aaklige stiltes? Hou vas aan jou Grieks en jou Latyn.”

Kring Athenaeum, het sy pa die genooides genoem wat Donderdagaande in Saasveld se voorhuis vir voorlesing uit boeke en bespreking van interessanthede vergader. Een keer per jaar debatteer hulle formeel, maar dit is ongewild omdat dit voorbereiding en denke verg: Almal hier aanvaar maar gewoon, sonder argument.

“As ons in Amsterdam kom, gaan wys ek jou die borsbeeld van die godin Athena in hul voorportaal. ’n Engelse digter het haar by ’n dom Griekse visser gekoop en in Amsterdam van die hand gesit. Sy het ’n mooi en waardige gesig; jy weet jy kan haar respekteer en wens jy kon haar ontmoet. Ek wil só een vir Saasveld se voorhuis laat maak. In ons eie huis gebeur dit voortaan, Willie. Eers net ’n lesingkamer, maar met tyd groei dit nog tot ons eerste parlement. Kies jou sprekers sorgvuldig; probeer die intellektuele peil lig en kyk hoe hoog jy kan haal. Hier kom swerwers wat beweer hulle het by universiteite doseer, maar die gebreke is opsigtelik en eintlik ’n verleentheid.”

William besoek ’n halfaam Franse brandewyn in sy spens, proe met sy vinger by die kraan, tap ’n karaaf vol en bring glase en tabak uit die hoekkas. Sy pa was vrygewig met brandewyn en sterk, swart koffie: ‘Ryk, swart en bitter soos die sultan van Mokka,’ het hy daaroor gesê. Mokka was die Kompanjie se bron van koffie teen ’n derde van die werklike waarde, tot die sultan geprotesteer het en daaroor uit sy land verban is.

Vir die dorpenaars wat nie Kring toe kom nie is daar klawerjas, dobbel en drink. Omtrent ’n driekwart van dié dorp verkies dit. “Ons behoort vrouens spesiaal te nooi, Willie, want oningeligte vrouens maak dom kinders groot. Vir my lyk dit of vrouens wat uit vrye wil kennis soek, hierlangs skaars is.” Vrouens wil tot vandag nie bywoon nie. Inteendeel, hulle het sy pa beskuldig dat hy hul mans met drank na sy salon lok. “Onkunde en vooroordeel, Willie. Die enigste doodsondes.”

“Wat wil Kaapse boere met geleerdheid?” is sy pa in Amsterdam geantwoord. “Pasop maar vir jou geleerde boer, meester Van Oudshoorn, wanneer jy nou daar goewerneur word. Daar is deesdae boere wat reken hulle is groter as die Kompanjie. Jy ken die soort met hul laaie vol klagskrifte en petisies. Gee hulle een vinger en dadelik wil hulle jou land regeer. Nee, laat sy Hottentot en slaaf saai en oes, God gee dat sy graan en wingerd groei en sy bees en skaap fok vanself voort. Leer jou boer net skiet, ons mag hom op ons grense nodig kry. Hou hom goedgesind. Hou kruit en lood se pryse laag, deel vuurstene gratis uit.”

Ná skipper Duminy se lesing oor warmlugballonne was hier verlede keer ’n vraag van die vloer af, of ’n lewende liggaam wat uit ’n groot hoogte val, dood is voor dit die grond tref. Duminy het ’n koerantknipsel gewys: ’n Engelse pasteibakker het in ’84 by Oxford met ’n ballon uit ’n weiland opgestyg en ’n uur lank oor kerktorings, ’n rivier, landerye waar hooi gemaai word, die hoë skoorstene van ’n steenmakery, ’n groen heuwelhang met ’n reuse hardlopende perd in wit kalkgrond gekap, ’n berkewoud vol kraaie, ’n skaaptrop op ’n plaaspad en ’n skoolwerf vol kinders heen gedryf en weer veilig geland. En in Januarie ’85 het twee mans, een Engels, een Frans, met ’n ballon uit Engeland óór die Kanaal tot in Parys gedryf, nogal met ’n possak vol briewe en die meeste van die tyd bokant die wolke.

Ballonne kan ’n vloek wees, sê Duminy. Hulle moes saamstem; dit bly ’n groot waagstuk en lewensgevaarlik. Dink hoe ’n brigade voetsoldate of ’n vrag bomme nou luglangs na jou stad toe aangedryf kom? ’n Nuwe, sterker soort kanon word nodig en die duiwel gryns en vryf tevrede sy hande. Toe vra een: Val jy uit jou mandjie, skipper, is jy seker dood vóór jy die grond tref? Hofmeyr van Welgemeend het geantwoord: Waarskynlik nie, op sy weiplaas in die Overberg het hy gesien hoe ’n jakkalsvoël uit die wolke duik op ’n haas, en die haas is al wat daarvan dood is.

Só gebeur dit, so kom en verander dinge: ’n Pasteibakker sien ’n flarde verkoolde papier in sy skoorsteen opstyg, dan styg mense, dan possakke, môre reën dit bomme. Maar die ondernemingsgees en waagmoed van die lugvaarders was belangriker as die wetenskap van warm lug. Dié sekerheid het die gehoor nie opgemerk nie; hy moes hulle daarop wys dat Engeland pas uit ’n oorlog teen Amerika opgestaan het, hul vloot- en leëroffisiere se bloed is heet maar hulle sit werkloos. Luister tog, en kyk: Hulle maak waaghalsige planne, ontdek en verower wêrelddele, dink in spronge vorentoe en skep probleme vir dié wat nie byhou nie.

In die vorige oorlog het verpligte wagdiens Kring Athenaeum van vier vergaderings per maand tot twee laat krimp. In Van der Graaff se tyd het offisiere gekla die Kring gee onnodige opposisie aan Vrymesselary. Juis toe kry die dorp ’n komediehuis waar soldate flou klugte met ’n skootjie moord, bedrog of gerugte van owerspel vir die garnisoen en slawe se vermaak opvoer; hulle vreet die peule wat die varke nie wil hê nie. Op versoek, bowenal van vrome suster Machteld Schmidt wat Woensdagaand-bidure begin hou het en haar oorlede vriend dominee Van Lier, vergader Kring Athenaeum nou net op die tweede Donderdag van die maand.

Suster Machteld het voor haar vyftigste jaardag twee mans, sewe kinders en ’n kleinkind begrawe; op die Pinksterdag daarna kom sy tot bekering. Wáárvan, bekeer? Dit is haar saak. Maar, die geprewel en hallelujakrete het nie by háár begin nie. Die behoefte om in die openbaar te bieg en om vergifnis te pleit het agter haar soos ’n heilige gekheid oor die Kaapse gemeente gedaal, die mense was mal daaroor. Woensdae het biduuraand geword; die kerk het die piëtistiese oplewing verwelkom, want meer eerlike silwer en minder oorgeblaasde koper val in die kollektesak. Vrouens het biduur toe gestroom agter dié nuwe gier. Tussen die stoele voor die preekstoel het hulle op die blou stene neergesink en geweekla: God, wees ons genadig. O God, hoor ons arme sondaars, red ons, ons gaan vir ewig verlore. God, hoor ons arme sondaars. Vreemd, ongekend was dit om nou so in die gemeentelike trop te bely. Was die Nuwe Jerusalem naby, die Opstanding op hande? Dan mag niemand tuis bly nie.

Arme Geesje Kirsten het soos ander in ’n kring bely: ‘God, vergewe my. O God, begenadig, vergewe my. Wees ’n vervloekte sondaar genadig.’ Miskien het ’n voorvader geslagte gelede in ’n handelshuis of hoenderhok gesondig, maar wat het Geesje in haar hoepelrokke van ligblou en geel sy om te bely? Sy pleit roerend om vergifnis, bely skuld aan ’n misdaad wat sy nie gepleeg het nie, noem haarself onrein, skarlaken, bevlek en selfs ‘snood’ en ‘vuig’, twee outydse woorde, uit hul graf gespit en soos ’n banier van die hele beweging dikwels gebruik.

Benewens bidure by suster Machteld in Langstraat het Geesje haar op Sondae twee keer kerk toe laat dra. En daar op haar blote knieë of lankuit op Saasveld se vloerplanke, wou sy vir onbekende sondes vergewe word. Die geweeklae en gekerm wat sy kinders ontstel, het hom aan die Middeleeuse geselaars herinner: Kyrie eleison! Kristi eleison! Slaapwandelaars in ’n histeriese droom, besete met selfkastyding, boetedoening en genadebede. Kyrie eleison! Kristi eleison! Geesje wou die doringtak, die haarrok, ashoop en potskerf hê; in haar verwarde gedagte was sy halfpad hemel toe en kon nie meer met hom of hul kinders praat nie.

Die lopende slytasie aan die Kring se bywoning beskou hy as vervlakking, agteruitgang onder ’n kultuurarm volk wat in heillose donker wegsak. Almal hier is gestadig aan veronnosel; luister maar na hul taal. Amerika snel vooruit, bou stoomskepe, Engeland en Frankryk bou stoomtreine en stoomgedrewe weefmasjiene. Elke Europese stad het boekdrukkers en uitgewerye. Sy dorp het nie eens ’n koerant nie; die kerk se drukpersie druk handbiljette vir vendusies en begrafnisse vir ’n inkomste. “Begin weer met die Athenaeum wanneer jy tuis kom,” het sy pa hom aangemoedig, onderweg huis toe uit Europa. “Jy kan op die Kaap se voorste families staatmaak. Onthou om vrouens te nooi.”

Saasveld staan gereed, helder verlig asof afwagtend en opgewonde oor die byeenkoms. William skink ’n glas rooi Constantia en proe daaraan. Vandat Colijn dié plaas in die twintigerjare gekoop het, hemel Here Direkteure sy wyn ongelooflik op. Dit het oorsee ’n wonderlike naam en ’n groot mark verwerf en hulle dring in elke brief met nadruk en selfs dreigemente aan op versendings van ‘de beste sortering, zeer delicieus van smaak, wat de naam van Constantia verdient. Uwlieden moeten wel begrijpen dat de wijnen hier te lande niet als een ordinaire drank maar enkel voor een liefhebberij gedronken worden, de particulaire smaak die zuijver en lieffelijk is.’

Hy roer die wyn in sy glas om en ruik daaraan: Sonderling. Waarna ruik dié nooitvolprese wyn? Herfsblare, grond en bokbloed. Daar’s ’n emmer boerbokbloed in elke aam, dis Cloete se geheim. Raadslede koop dit teen ’n redelike prys uit die regering se pakhuis, die res is vir Europa bestem, waar konings en koopmanne dit by die bokaal wegslaan en dromers en digters glimlaggend met toe oë daaraan proe. Die gewone Kapenaar ken nie die smaak nie. Jan Kompanjie het die arme verskaffer lewenslank onhebbelik beet, sewentig jaar lank al hou die regering ’n monopolie op sy hele oes.

Die kombuis is vol van die geur van vars koffie wat op ’n tes op die herd trek. William eet sy aandmaal van groenbonebredie met rys wat Flora in ’n hoek van die herd warm gehou het en klee hom daarna informeel. Vandat Geesje die kinders weggeneem het, woon hy alleen, eenvoudig soos ’n boer. Hy mis haar en die kinders nie. Sy werksklere oornag in die armoire by ’n swart kerkpak, ’n swart-en-blou uniformjas met goue epoulette van ’n majoor in die Korps Pennisten en die dik, diepblou deurstikte fluweelmantel met Nederlandse en Britse ridderordes geborduur, wat hom na sy pa se dood toegeval het. Dit dra hy nooit. ’n Groot silwerspeld van gekroonde jaghorings met diamante beset, hou die mantel voor die bors toe. Soos sy pa, steur hy hom weinig aan sy titels; hy het nie vir één van daardie silwersterre of rooi-en-blou skilde met goue kruise en klimmende leeus gewerk nie. Titels erf jy op papier. Wat tel is wat niemand sien nie: Die bloed in jou are, die rooi stroom wat jou meul laat draai, waarmee jy jou lewe lei en jou brood verdien.

Saasveld se lig val buitetoe soos dié van ’n vuurtoring. Buite het dit donker geword. Hy skuif die rame af, hy verwag reën. Die staanhorlosie uit Gnephoek, sy groot wit wyserplaat versier met geverfde skepe wat op ’n kantelende blou-en-wit see wieg, slaan agt dowwe slae in die voorhuis. Die eerste gaste kom aan. Sekunde Rhenius sukkel sy lyf uit ’n drastoel by die stoeptrappe, dis moeilik met ’n swaard in ’n drastoel, hy hoor hom twee of drie ander groet wat onder die bome aangeloop kom. Rhenius se sinne eindig gewoonlik met ’n lag en ’n ratelende hoes. Hy moet die ou sekunde dophou; hy raak soms in sy stoel aan die slaap.

1795

Подняться наверх