Читать книгу 1795 - Dan Sleigh - Страница 5
1
ОглавлениеWilliam werk laat in die graanskuur in Strandstraat. Uit grootboek, kasboek en joernaal bereken hy hoeveel graan die vorige maand aan bakkers en brouers verskaf is en wat die Kompanjie daarby gaan baat. Die Edel Heer se bode bring ’n brief: Die raadslid is vir lykskouing gekommitteer. Matteas Behrens is in sy hut by die klipkuil dood, dis nodig om die oorsaak en die hand daaragter te vind. Hy teken vir ontvangs van die nota en bedank die bode. Is Matteas dood, toe? ’n Paar nagte gelede het hy hom nog op straat gevra hoe dit gaan, toe sê Matteas: ‘Ek skryf, ek leef.’ In die donker het hulle mekaar se oë gesoek, geknik, weggedraai.
Hy vermenigvuldig mudde koring, gars en rog met gulden teen bepaalde pryse, werk die bedrag na ryksdalers om, gaan sy syfers na, onderstreep dit dubbeld en onderteken sy berekening: W.F. van Reede van Oudshoorn, 11 Junie 1795. Daarna bedank en groet hy die pakhuisbaas, sy klerk en die halfdosyn slawe in hul stowwerige skemer by die soldertrap.
Buite dwarrel wind om hom. Die lug is koud. Straatop, agter die dorp se uitgerafelde soom waar armes woon, teen ’n agtergrond van grys onweer, lê die klipkuil in Vlaeberg se hang. Straataf staan die Kasteel, oor die honderd jaar al gerusstellend solied en gereed. Hy knoop sy jas toe en loop teen die wind geleun heuwelop na Behrens se hut, verby die netjiese predikantshuis, die Lutherse kerk met ’n koperswaan op sy kort toring en die vensterryke kosterhuis waar jong koster Erzy by kerslig van agter sy raam groet.
Matteas was ’n amptenaar wat nie bevorder kon word nie, ’n bleek klerk in die Hof van Klein Sake. Na ’n lewe tussen rakke en tafels het hy as pensioenaris op die regering se krummels bestaan. Sy pa het gesê Matteas is ’n dromer; dié wat alleen droom bereik niks, dié wat sáám droom kom êrens. Die probleem was, die arme man was linkshandig, vir ’n klerk is dit fataal. Die laaste tyd was Matteas, op ’n hoë stoel in die ambagskwartier, sewentig jaar oud of meer, ’n tydhouer met ’n stowwerige oorjurk wat hulpeloos toekyk hoe die bleek sand deur die uurglas val, weer die glas omkeer en swaar in sy bruingevlekte sakdoek hoes.
Strandstraat is steil en leeg, sy deure bly dig teen die stof. ’n Stad ervaar jy die beste te voet. Hy let op kort en lang straatfronte, leë stoepe, leë ruimtes tussen huise, leë steë. Kan die brandweerwa daarin draai? Aan weerskante volg die huise die helling. Die straatbeeld is een van eenvoud en harmonie. Die mure is liggeel of wit, die houtwerk is groen. Die meeste huise het twee verdiepings, die dakke is plat, die aansigte skoon met nege groot vensters, elk met twee skuiframe, elke raam het dertig ruite. Die deure is stewig en breed met ’n versierde bolig waarin gewoonlik vier-en-twintig ruite is. Merkwaardig, elke voormuur het amper seshonderd reghoeke ruitglas. Hy let op reguit lyne, gewels, op skoorstene rond, vierkantig of spiraal. Mooi, dit doen die dorp eer aan; die Burgerraad verdien daarvoor dank. Die huise het hoë stoepe met gemesselde sitbanke, ’n plek vir vermaak en vertoon, ’n plek om van af te kyk en om op gesien te word. Daar sit hulle, kou tabak en bespreek die weer en skeepvaart, of beskou vensters en deure oorkant en bespiegel oor handel en vreemde verbygangers. Dis sy dorp, sy mense; soos spioene loer hulle van agter gordyne: Waar gaan die raadslid amper skemeraand met sy lang treë?
Die seewagter op die Kop het vanoggend nege maal geskiet, sy maat was later uitasem hier met die berig: Oorlogskepe, Franse vlae, koers suid. Maar, dit kan van enige nasie wees; die volke van Europa is nogmaals aanmekaar en lieg, bedrieg en voer oorlog onder vals vlae. Vlae? Gekleurde lap, dit gaan oor handel, oor méér geld, groter huise, mooier meubels, mooier rytuie, mooier slavinne.
Oorlog in die Noorde, en oor hul Oosterse kolonies word die Kaap betrek. Maak klaar vir waak en gereed bly, leer leef met onsekerheid, afwagting, krygswet, jou tafelsilwer in die agterplaas begrawe, vrouens en kinders platteland toe gestuur. Waarheen, in dié geldgek wêreld, is Franse oorlogskepe nou onderweg? En as hulle ons retoervloot op see teengekom het, hoe was die ontmoeting? Vanjaar se vloot, ná twee eeue dalk die Kompanjie se laaste, is verlede maand hier uit, en die skepe was skaars oor die horison of die Raad, onrustig soos ’n ouer ná ’n kind se vertrek, het op tyding begin wag.
Die klipkuil in die berghang, sewentig of tagtig voet diep, ewe oud as die dorp, is ’n skat van stories. Hieruit kom die hele Kasteel, die burgerraadhuis, twee kerke, twee hospitale, ’n slawelosie, woonhuise, die Franse Linie en Seelinie se massiewe mure, die gragmure, die magtige kusbatterye. Sy huis, Saasveld, kom uit die klipkuil. Amper die hele dorp kom hier uit, stuk vir stuk in blokke blou-en-bruin graniet losgeskiet, uitgelig, weggekruie, opgekatrol en êrens ingemessel.
Die klipkuil het ’n stem; wanneer dit nie oor die dorp praat nie, praat dit oor die dorpenaars. Trompetters en tamboers kom hier oefen. Soldate met ’n fles wyn en kaarte of dobbelstene kom ná werk hier speel. Laas jaar was hier ’n tweegeveg met pistole tussen Switserse offisiere; die wenner is gefusilleer. Verliefdes wat alleen wil wees, loop hierheen, die wat liefde verloor het kom hier treur. Vrydagmiddae hou die Islams kerk in die kuil; hulle sorg ook dat dit skoon bly. Hul geloof is verbode, maar daaroor praat die Raad nie, gee voor dat dit nie gebeur nie. Dit is nie uit welwillendheid nie, hulle weet die dag kom wanneer die Islams vryheid gaan eis: Merdeka! Hari Merdeka! Stel dié gedagte uit, stel dit uit. Skoolseuns kom in die klipkuil, alleen of twee-twee. Slawe met gespoorde veghane kom Sondagmiddae hierheen. Die kuil is vir almal. Soms sterf iemand hier, dan moet beslis word: Geval, gestamp, gespring?
’n Handvol nuuskieriges, leeglêers, werklose mans, kaalvoet vrouens, laat van ver sien waar dit gebeur het. Voor die verwaarloosde hut met verrotte seil oor die venstergate wag sy mede-gekommitteerdes. Hy groet burgerraad Van Breda, met ’n kind se blou oë en wit bebaard tot sy middelste knope, daarna jong fiskaal Van Ryneveld onder sy kraaiswart pruik, gekrul en gestapel soos ’n onheilswolk. Wat wag binne?
Die Fiskaal stoot die onderdeur met sy skoenpunt oop. Kakkerlakke vlug uit ’n bloedpoel toe lig oor die vloer val. Die mompelende, vertoiingde nuuskieriges met hul hooplose gesigte en stank van suur wyn en bokking – dieselfde wat by teregstellings soos aasvoëls om die galg drom – steek skouers in, probeer binnetoe beur. Van Ryneveld verdryf hulle met sy swart stok (‘kierie,’ sê die Kapenaar) en geweldige dreigemente, druk met moeite die bodeur op sy velskarniere dig, draai die taai houtwerwel aan en vee sy vingerpunte skoon aan ’n swart sakdoek.
Die lug in die hut is dik van die mens se oerreuk van houtrook en sweet. Agter die deur hang ’n halssnoer olierige haringkoppe, deur die oë geryg; Matteas het die bokking geëet, hul brommerbespikkelde koppe vir sop gehou. ’n Bossie helderpers blomme, van die taai, donkergroen onkruid wat tussen granietskerwe op die klipkuil se vloer en in sy kranse se splete groei, staan in ’n geteerde houtbeker met ’n bietjie water op die tafel. Hulle buk met afkeer en in ongewyde stilte oor die koplose oorskot, ’n armoedige sak maer bene in andermansklere op die herdvloer. Wat kon die oorsaak wees? Hulle bespreek die moontlikhede van moord, manslag of roof, sonder oortuiging of gevolgtrekking. Van Ryneveld krap met sy ampstok van ebbehout in die pappery van roet en bloed. Wat was Matteas Behrens? Op die laaste dag van die maand was Matteas vyf gulden op die rol van pensioenarisse, origens was hy van geen waarde, ’n allemansvriend sonder vriende, onskadelik, onaantasbaar.
Die Fiskaal, haastig om klaar te maak, glo Behrens was weer besope, en in dronkverdriet, bedruk en bedroef omdat hy God nogmaals gefaal het, gaan hy op die herdvloer staan en skiet sy kop weg, waarna aangepakte roet uit die skoorsteen hom toeval. Klaar soos daglig, die Satan heers hier; hy voel dit, sê hy.
Wag eers. Burgerraad Van Breda buk en beduie asof hy ’n kort geweer, soos ’n donderbus, teen die skouer hou: Behrens se skoorsteen kon aan die brand geraak het, ’n algemene ding wanneer dit nie gevee word nie sodat rietdakhuise soms daardeur afbrand, en soos boere maak het hy ’n skoot hael in die skoorsteen afgetrek om die vuur te laat val. Omdat hy nie die wapen behoorlik gelig het nie, skiet hy hom met die opkyk per ongeluk raak.
Van Ryneveld wil dit nie hoor nie en Van Breda trek sy hoed oor sy gedagtes neer en soek in al sy sakke na sy snuifdoos.
William vind ’n gefrommelde papier en stryk dit plat: Die verrassings van die Liefde, een van suster Machteld Schmidt se gedrukte traktate met godsdienstige retoriek wat vroeër tot in Saasveld se slaapkamer gelees is. Ha! Hy frommel dit in sy hand. Verrassings van die liefde, die hemel help ons, is dit nie sy eie storie nie? Die Fiskaal neem die papier om sy stok se silwer spyk af te vee. “Wat dink jy, William?”
Hy spreek nie ’n mening uit nie; die lewe is vol onsekerhede. Dan maak hulle inventaris; so lyk die kamer: Tafel, stoel, katil, ’n bruingevlekte klapperhaarmatras met vuil soldatekombers en ’n gevoude kampanjejas as kussing.
“Dié ding, dat soldate hul goed verkoop,” sê die Fiskaal skrywend, sonder om sy sin te voltooi. “Plakkaat, 30 Mei 1716: Lyfstraf en geldboete, drie maande se soldy. Ek neem dit uit die boedel.”
Is dit redelik om ’n dooie te straf? Kan ’n lyk geroep word om te getuig, gearresteer en aangekla word, tot lyfstraf en ’n boete gevonnis word? Is dit redelik?
Daar is ook ’n watervat met verroeste hoepels, ’n geduikte skepbeker. Geen enkele stuk breekgoed nie, alles, lyk dit, is al gebreek. Langs die tafel is ’n boekrak van drie kisplanke op bakstene. Hier staan interessante titels, in Duits (Klopstock, Herder) en Engels (Defoe, Fielding). Hy trek een of twee uit; dit kan iets op ’n vendusie haal, dorpenaars is honger vir boeke én dit sal geld vir die begrafnis inbring. Hier is Cervantes in Frans. Hy besit dit nie. Hy blaai honger, lees ’n halwe bladsy staande.
“Steek in jou sak,” sê Van Ryneveld, skrywend.
Hy sit die boek op sy plek. “Skryf dit op.”
Die kombuiskas is ’n vetterige grot met ’n herdvurk, pot, ketel en pan, alles swart. Geen bord, bak, mes of lepel nie; die man en sy hond het uit die pan geëet. Die lyk se orige kleding hang aan twee spykers aan die muur, dié vodde is met die oumansreuk van bokstal deurtrek. Verder agtertoe staan ’n tafel met ’n kers-en-blaker, inkflesse, pluime, ’n dun lêer met ’n skuldbewys, ’n huurkontrak en ’n ongetekende testament vir ’n klant wat wag om gehaal te word. Elke dokument dra die tekens van Matteas se gebrek, hoe die linkerhand en pols die nat ink woord vir woord klad. Onsuksesvol, ontevrede en arm, was Behrens notaris vir die armstes wat met vis of koolblare betaal. Hy het geen brief of testament nagelaat nie; sy dood was nie die dokumentering, die ink en papier, werd nie.
Laaste item is die bloedbesmeerde, outydse donderbus op die vloer. Van Ryneveld lig die wapen aan sy draband, skud ’n kakkerlak uit die bloedgekoekte slotwerk, trap dit op die vloer dood, vloek en sluit die huis. Die hospitaal kan die lyk verwyder, sy dieners sal vanmiddag die goed kom haal en môre die krot afbrand.
Hul lykskouing is onbeslis, die kommissie is voltooi, Van Ryneveld sal die papierwerk afhandel. William loop huis toe met sy eie onsekerheid én ’n storie wat klaar op straat versprei word. Die regering wil weet, want die grafgrawer moet hoor of Behrens binne of buite die kerkhofmuur begrawe word. Die kerk sê selfmoord is sonde, die dader brand in die hel. Só ’n plek is sy Kaap, ’n eenvoudige dorpie waar agterdog, onkunde, vooroordeel en bygeloof soos onsigbare burgers woon. Hy ken jong mense wat aan ’n plat aarde, voorbodes, spoke en drome glo, of sout oor die skouer gooi, want dít en dát is sieal en bring ongeluk. Miskien gee sulke dinge die Kaap sy Oosterse smaak.
Selfmoord is seldsaam en opspraakwekkende skinderstof vir die dorpenaars, amper soos ’n egskeiding. Jong stories spoed straataf, met stoeptrappies op, klouter huise deur oop vensters binne, snel gangaf en by kombuisdeure uit, waai oor werfmure en spring van dak tot dak die dorp vol soos ’n uitbraak van masels. Origens het Matteas se dood geen enkele betekenis vir die Kapenaar nie, vir niemand is daar ’n erfporsie nie, dit veroorsaak nie ’n vakature met bevordering vir enigeen se nefie nie. Werk is skaars; min sterf, niemand bedank nie. Leef daar ’n erfgenaam, êrens? Dis bekend dat hy ’n hond gehad het.
William loop langs die Buitengracht se lae wit muur huis toe. Die geplaveide sloot is al maande lank droog; onderin lê blare en sand ’n voet diep. Dit kan oorstroom, dit moet skoongemaak word. Na ’n dag agter die lessenaar geniet hy dit om sy bene te strek. Onaktiwiteit, lang ure met die pen oor die lêers gebuig verstop die hart en longe, maak jou skouers krom, die litte styf en die asem kort. Hy stap graag en ver, verkieslik alleen, verkieslik in die nag, dit help om uit sy huis te kom en sy leë aande korter te maak. Dan loop hy asof hy die strate patrolleer, soos ’n boer wat sy landpale omry met die gevoel dat dit sy eie is. Hy kyk na geboue, die toestand van strate, wat daar in die gragte dryf, of hy rotte sien, watter dakke slordig vertoon, watter huise om verf aan houtwerk of mure vra. Huise vertel heelwat oor die eienaars. Hy praat óór erfmure met mense wat hy teenkom. Die Ratelwag ontmoet hom: “Welaan, heer Raadslid!”
“Goeienaand, kleppermans. Is alles wel?”
“Als wel.”
Wanneer is die kleppermans se ratel die eerste maal in dié dorp se strate gehoor? Dit was Oujaarsaand van 1687. Te veel taphuise, matrose en soldate snags op straat het dit nodig gemaak. Behrens se dood hinder hom. Sy woorde, ‘Ek skryf, ek leef,’ dra ander gedagtes oor as wat die koplose lyk op die vloer vertel. Daar was hoop in, ten spyte van groot armoede. Het hy bedoel dat hy nog ’n bestaan kon maak met pluim en ink?
William kyk straatop. In hierdie buurt woon welaf, tevrede mense. In die klam skemer ruik hy hul aandetes, vet en ryk aan speserye. Na die slawe geëet het, kry hul honde wat oor is: skaapvleis met murgbene, rys en saggekookte groente met dik bruin uiesous. Twee of drie vragte duinehout is vir die aandmaal uit die Vlakte aangery, nóg soveel vir môre se ontbyt, nóg soveel vir hul middagmaal. Die dorp eet hom uit sy enigste brandstof; tien jaar van nou is die Vlakte ’n woestyn en moet hulle met miskoeke vuurmaak. Duinehout word met wortel en tak uitgespit, die Resolusieboek verklaar dat die kleinste haarworteltjie wat in die grond agterbly, weer gaan groei. Maar een retoerskip vra veertig wavragte duinehout vir sy tuisreis; kommissaris Sluysken en sy papegaaie sal mekaar sugtend bekyk en dalk vir Van Riebeeck, dood en vergete, blameer.
Die Buitengracht het mooi wonings; die meeste lyk amper eners, want sy medeburgers is oer-demokrate, uitgesproke ten gunste van gelykstelling en eenvormigheid. Buite die onderskeie kamers, rade en komitees mag geen kop hoër as ’n ander s’n kom nie; die wat uitstyg word sonder versuim gelykgesny. Hulle is geniepsig met familiename, opsetlik krenkend; vir Laubscher noem hulle Losper en vir Lochner Logenaar, Löttering is Loodring, Meissenheimer is Muisnemer en die manhafte burgerluitenant Gregorius Pentz is Gorie Pens. Voorname word neerhalend verdraai: Herklaas, Jooswa, Alsanner, Gijon, Adderjan, hulle doen dit opsetlik. Hy het al gewonder hoe sy eie naam in sy afwesigheid klink. Byname is blywend beledigend: Bombam, Besemboudjie, Jannetje met Ere.
Sulke sosiale vernedering word met ’n vulgêre familietrots bestry. In hul voorhuise hang sogenaamde familiewapens, sameflansings van onheraldiese simbole wat ook op koetsdeure, drastoele en grafstene kom; blameer die afwesigheid van hoër onderwys wat die verstand moes ontwikkel. Naas status verlang die Kapenaar min; hy is redelik welaf, die huiswinkels is tegnies smokkelarye (Jan Kompanjie bly die enigste wettige handelaar) en agter hul fraai gordyne ruik die sierlike huise na negosiegoed: kerse, seep, saffraan. Klop maar aan enige deur. Maar nie by Behrens nie, daar was geen aanstellerigheid nie, net armoede en ’n eensame dood, ’n man op die koue rand van die gemeenskap.
Hy sal Behrens onthou soos hy hom laatmiddae op ’n onseker koers van kroeg na woonplek sien verbygaan het: Lank, maer, slingerend soos ’n skip met swaar bowelas. (‘Bowwelas,’ sê die Kapenaar, of ‘bawwelas,’ soos hulle ‘bowwejaan’ sê vir ‘baviaan’.) Op Oujaarsaand van 1651 het Van Riebeeck se Dromedaris van bowelas omgeslaan. Tien, twaalf tree agter Behrens, asof hulle ’n meningsverskil gehad het, was ’n lelike hondjie so groot soos ’n makou, wat met sy grys snoet naby die grond loop.
Dit het kouer geword; die wind, vol seereuke van bruin bamboes en nat seegras stoot sterk uit die noorde oor Groenpunt en die Duintjies. Hy trek sy jas vaster. Helderrooi lug in die noorde kleur nou die huise en Tafelberg se strak, regaf gesig, soos die geverfde doek agter die verhoog in ’n komediehuis waar klugte en tragedies gespeel word. Leeukop kry vanaand ’n rooigrys mus en op die reede het die vier geankerde landsbote saam kop teen die wind gekeer, see toe. Origens is die baai leeg; die totale seediens het eind April vir die winter Simonsbaai toe getrek en sal tot September daar bly.
Somers is Tafelbaai se reede ’n lewendige toneel: Tussen die rustende bruin skepe sien jy beweging van ligters, jolle én die spits lateinseil van ’n watersmous se kadraai, maar winters is ’n tyd van stilte vir die Kapenaar en groot armoede vir sy herbergiers. Want sy dorp, uit die see gebore, maak sy enigste bestaan uit die see en benodig die goeie skepe hier. Sy dorp verlang na skepe uit behoefte, soos ’n man na ’n vrou verlang, én gedurig. Ek het behoefte aan ’n vrou se sagte hand, het Goethe geskryf. Dit is geen vlak, versadigbare honger nie, maar ’n bodemlose behoefte aan die rus en troos in ’n vrou se arms en van haar hande oor sy gespanne rug en skouers tot in sy ondefinieerbare wese waar daardie behoefte die swaarste lê.
Persoonlik is hy nie ’n handelaar nie, maar ’n talassofiel, ’n seevriend. Die see bring hom dikwels iets sonderling, iets ryk en raar; met dié gedagte kom hy tuis, terwyl donker wolke uit die noordweste inrol en die rooi lug oor sy dorp verdonker.