Читать книгу 1795 - Dan Sleigh - Страница 8

4

Оглавление

Saasveld is elegante argitektuur in wit steen. Hy lyk solied en sterk, maar ondersoek sy struktuur en jy vind ’n massa glas deur ’n paar granietblokke en geelhoutbalke bymekaar gehou. Hy het Louis daarom gevra, hy wou dit só hê. In die vier buitemure is twaalf groot vensters, met sestig ruite in elkeen, altesaam sewehonderd-en-twintig ruite, benewens dié in die versierde boligte oor die voor- en agterdeure. Stap jy by die deur in kom jy in die voorhuis met rooi Bataafse teëls bevloer, waar die stom swart klavier staan. Toe Louis die vooraansig verbou het, is dié groot voorkamer gevorm deur binnemure weg te breek, sodat meer mense hier kan vergader. ’n Portefisie met agt-en-veertig ruite lei uit die voorhuis na die gaandery (‘gang,’ sê Kapenaars) met sy ses deure, drie aan elke kant, van die slaapkamers. ‘Slaapkamer’ is sy pa se uitvindsel; hy was van die eerste om vertrekke vir individuele en spesifieke gebruik toe te wys. Die kombuis met sy koel spens is twee ruim vertrekke langs die agterdeur.

“Dis mooi, Will,” het Louis gesê. “Maar jy gaan glas hoor breek wanneer ’n retoervloot sy afskeid vuur.”

“Dit hang af hoe die wind waai. En dis maar een of twee ruite, een maal per jaar. Ek gee nie om nie.”

“Jy sal omgee wanneer hier klippe gegooi word, soos in Parys se strate. Of as bomme oor ons dorp bars. Jy, meer as enigeen, gaan skade ly. Laat ek ’n derde van jou vensters met steen toebou. Een kwart.”

“Nee. Bomme en klippe in dié deel van die dorp is onwaarskynlik. Die huis gee my plesier, soos hy nou is.”

Nou is daar twyfel, en onrus. William lê wakker. ’n Verlamming soos diep moegheid, of erger, soos die begin van ’n ernstige siekte, het in die nag oor hom gekom. Hy, hulle almal, het hul eenvoudige verlede, met alle pligte en verantwoordelikhede so duidelik en onder beheer, gisternag verloor.

Hy het die belangrikste werk in die kolonie, om brood op elke tafel te besorg en aan skepe hul skeepsbrood. ‘Twee bakken,’ bis cuit in die Frans, ‘beskuit,’ sê die Kapenaar en gooi ’n dubbele handvol soet rosyne uit die Hexrivier in die deeg. Gister was hy gelukkig omdat die pakhuise vol was. Graan is ’n stryd van nege maande; jy ploeg in Maartmaand of April en oes in Desember. Van Maart vanjaar af het hy die kolonie deurkruis en koring, rog, erte en bone opgekoop, want niemand weet hoe lank ’n droogte kan aanhou nie. Toe dit aan die einde van April steeds nie reën nie, het hy die Kommissaris oorreed om ’n ekstra twee gulden per mud vir broodkoring te betaal en met dié belofte die graanboere ’n tweede maal besoek, tot hulle net hul saadgraan oorgehou het. Maar toe was die pakhuise vol, en hy was tevrede.

Asof ’n vertroude horlosie gaan staan het, is sekerheid en gerustheid nou verlore. William hoor die geritsel van druppels teen sy ruite, soos ’n sagte wind tussen blare. Hy het gisteraand ontsteld en bekommerd in die reën van die Kasteel af huis toe geloop, hy het net sy nat jas aan die kapstok gehang, sy modderige skoene langs mekaar op sy grasmat geplaas, sy krawat en onderbaadjie losgeknoop, op sy bed gaan lê en hom met sy swaar mantel toegetrek. ’n Uur later was hy weer wakker, koud, met ’n naar gevoel op sy maag. Is hy aan siek word? By die afgematheid voel hy ’n gespannenheid van senuwees wat nie vroegaand met die Athenaeum daar was nie. Dit kan ’n ligte griep wees, maar hy kry nooit griep nie; dis iets erger, meer soos die verlammende skok van ’n doodstyding. Oor ’n paar ure moet hy die dag tegemoet gaan, met só ’n gevoel asof hy ’n kanker of ander ongeneeslike siekte vermoed.

“Oorlog beteken geweld, van die eerste dag af,” het hy teen middernag in die vergadering gesê. “Dan moet jou voorbereiding, jou inoefening, bevoorrading, jou papierwerk klaar wees. Wees verseker: Jou vyand het syne klaar, én versterkings én ’n tweede plan, alles gereed. Op dag een word die morele oorwinning behaal.” Dit het hy in die vergadering gesê, in Robert se afwesigheid. Die kolonel is laat roep, maar was nie tuis nie.

“Kalm eers, William. Daar was geen dreigement van oorlog nie.”

“Ek weet, heer kommissaris. Dit maak ons posisie soveel gevaarliker.” Dit moes op die kommissaris se hart gedruk word. Dis soos die storie van koning Dawid en die mooi vrou, die gelykenis van die ryk boer en die arm bywoner met één lam. Stuur skepe, skop deure oop, pleeg ongebreidelde geweld. ’n Oorlogsvloot is gestuur. Magtige vreemdelinge kom eis sy vaderland op.

Trek op ’n landkaart ’n potloodstreep van die Bergrivier se mond af suidoos na die Breederivier se mond, en daar het jy die vaderland. Dit is die repie grond, kleiner as Nederland, wat oor is ná Swellendam en Graaff-Reinet afgestig het. Dit beslaan twee distrikte met vyf kerke waarom dorpies groei, en ’n enkele taal. Twéé tale, moet nie die Koina vergeet nie. Daar is drie goeie hawens en die ingesetenes produseer graan, wingerd en vee. Die strook is nie Afrika nie; Kapenaars het lank en hard gewerk om dit anders as Afrika te maak. En dié klein landjie is hy; land, dorp, huis en hy is één. Dis sy lewe, dis sy bloed en asem in hom, waarsonder niemand kan leef nie. Verloor hy dit, word hy niks. Van gisteraand af is dit onder beleg. Hy moet dit vashou, aanhou om dit te besit.

William kyk by kerslig na sy plafon van geelhoutbalke en goeie breë planke uit afgeleë Houtenikwasland. Dié huis is sy skuiling, sy aardse skat, sy enigste. Hy, huis, boeke en kaarte woon lankal tevrede saam. Hier in sy gang, in kaste met loodglasdeure, staan Bogaert, Kolbe, Valentijn, Mentzel en La Caille se uitgebreide beskrywings van die vroeë Kaap, langs die nuwes deur Thunberg, Le Vaillant, Sparrman, De Jong en Stavorinus. Hier is sy landkaarte, die plaaslikes deur Jones, Barbier en Van der Graaff en ouer atlasse van Blaeu en Visscher, wat Jan Kompanjie se greep op die suidwestelike punt van die kontinent en kennis van sy vaarwaters bevestig. Wat nog, bind hom aan die land?

Hy besit hier twee karperde en ’n koei in ’n kampie. In sy waenhuis staan ’n karet en ’n kapkar. Winter en somer stroom die standhoudende meulsloot voor sy deur verby, sy tuinier lei water vir sy groente en wingerd daaruit. Hy het sy slawe van agtien tot twee verminder en beplan om hulle ook vry te stel, die ruim slawehuis gebruik hy as werkkamer en pakhuis vir graan, veevoer, hoendervoer, meel, gekapte brandhout. Dit is sy Saasveld. Nou kom onrus hier, met ’n dreigende oorlog deur sterk, vasbeslote invallers. Geen eerlike gees sal dit duld nie.

Sy maag ruk, hy dink dat hy gaan opgooi; moet hy opstaan en sy kamerpot soek? Die Engelse het vannag oor sy land neergesak soos die pokke van ’13. Gister sononder was hy gerus, vanoggend marsjeer die noodlot teen Saasveld, dit het laas nag op sy werf gekom en na hom geroep: ‘Lord Hunsdon, Lord Hunsdon!’ Dié tyding lê soos ’n klip op sy bors.

Gisteraand was sy huis warm, gesellig, vol lig, sy gaste was belangstellend en gemoedelik, geamuseer deur die dokter se relaas en bly oor die welkome reën. Alles was ordelik, bekend, deur lang gebruik gevestig. Daar was gerustheid vir nog ’n jaar; dié week nog word ploeë oral ingeslaan en saad in die grond gesit. Dit het hom plesier gegee, hy het geweet dat sy omstandighede gemaklik en aangenaam is, hy was in beheer van sy lewe, tevrede met sy vermoë. Waarom kon dit nie so bly nie?

William sluit sy oë. Hy is met ’n sterk verbeelding gebore, die honderde boeke wat hy gelees het, het dit verder ontwikkel. Geheue en verbeelding is een; herinneringe val hom binne soos helder ligte, hulle daag op in kleur, klank en besonderhede. Sy gaste, deeglik teen die winteraand bedek, kom in ’n welgevoede en glimlaggende stroom sy huis in, hul jasse is oopgestoot vir ’n groot vertoon van geborduurde onderbaadjies. Meesterbouer Schutte wat ’n oog en ’n hand in die klipkuil verloor het kom binne, die lang Van der Byls kom binne, die blonde Louws, die aantreklike Bergh-broers met hul donker oë en hare van ’n Bengaalse voormoeder geërf (die ouer een is koel, netjies en giftig, die jonger een vriendelik en informeel). Hul oudste broer, as landdros van Stellenbosch, was destyds die Patriotse boere goedgesind en is Nederland toe om hul petisie aan Here Sewentien te gaan gee. Hy is al vyftien jaar van huis en haard verban.

Fiskaal Van Ryneveld kom groet; hy stel in die okkulte en onverklaarbare belang. Hy het hier van Franz Mesmer se vreemde eksperiment vertel, hoe dié Duitse dokter mense, soms ’n saal vol, in ’n soort slaap laat val en in dié toestand bisarre bevele laat uitvoer: Eet dié rou ui, trek jou klere uit, kruip op die vloer en maak soos ’n hond, gee my jou horlosie, jou beurs, jou sleutels. Hy domineer hul wil en kan hulle in daardie toestand laat duiwels aanroep of moord pleeg, so het fiskaal Van Ryneveld hulle vertel. Hoe kla jy ’n oortreder onder sulke omstandighede aan? Wat sê die Corpus Iuris Civilis daaroor? Geen woord nie; die Corpus is deur rasionele denkers saamgestel. Dokter Mesmer het voor ’n gehoor van honderde water in wyn verander. Hieroor het die Kapenaars begin lag en een het ‘Aksyns betaal!’ geskreeu. Of, Van Ryneveld vra onverwags: ‘Had Johannes op Patmos glas in sy ruite? Weet jy, William?’ Erzy, die Lutherse koster, kom groet. De Wet, medelid van die Raad van Justisie, eienaar van Waterhof se soet pruimboorde en uitheemse turksvybos, kom groet saam met Bresler van Leeuwenhof, baas van veertig slawe. Kaptein Thibault beduie met albei hande aan kreupel dominee Serrurier van ’n vreeslike lot wat hom teister: Hy het ses folio’s met Mozart se musiek uit Parys gekry, en ’n duiwel van ’n prys moes hy daarvoor betaal. Hy wil die musiek hoor, maar hier is niemand wat dit kan lees nie! Mozart is al vier jaar dood, Europa is gaande gek oor sy musiek, gedenktekens en marmerbeelde gaan oral op. Wat as hy self môre sou sterf? Moet hy nie uit sy pos bedank en Europa toe reis nie, wat sou die eerwaarde predikant hom aanraai?

Serrurier glimlag vir die Fransman, spraaksaam van onverdunde brandewyn, en wonder of die intelligente kêrel met hom gekskeer. “Geloof, monsieur Thibault. Daar is groot krag in geloof.” Hy knik na regs: “Eendag hoor jy dit nog in hierdie kamer op dáárdie klavier gespeel.”

Herr Anreith, beeldhouer en kunsonderwyser, lig die kandelaar met drie kerse om sy pa se skildery te ondersoek, versigtig om nie was te stort nie. Hy is ’n jongman met ’n fyn gees, heel sag van aard. Wat maak Anton hier in die Kaap? Hier is geen studente, afgestudeerdes of digters as geselskap vir hom nie. Die dorp se moeders stuur hul dogters na sy skool toe, maar hy bly alleen. Hy het hier oor Europese skilders kom praat en gekleurde afdrukke van hul werk gewys; een daarvan was Brueghel se verskriklike Dood dans met die Lewe. Die grynsende geraamte was ’n kop langer as die dame, aan haar kleredrag duidelik ’n jong edelvrou, en jy kon sien wie vir wie gaan huis toe neem aan die einde van die wals.

Kolonel Gordon, met sy blas vel donkerder gebrand deur die Roggeveldse son, leun met sy elmboog op die klavier en ondersoek die gehoor se rugkant met ’n halfoop mond, sy groot gesig is sonder veel uitdrukking, vier vingerpunte trommel sag op die donker doek. Gordon is nie heeltemal gemaklik tussen die dorpenaars nie, hy is eerstens amptenaar, ’n lid van die regering, en voel hom sosiaal miskien effens hoër as hulle. Hy het hier van sy bydraes tot Diderot se ensiklopedie van die wetenskap en kunste vertel; hulle het nie geweet waarvan hy praat nie. Aan die einde was hul applous beleefd maar kort. Miskien wil die kolonel graag vertel van die Afrika-rariteite wat hy vir die Prins van Oranje versamel, maar hulle ken almal kwaggas, kameelperde en verkleurmannetjies. Hy het beloof om vanaand iets te sing.

Die kolonel is nie gewild nie. Wat het Robert die Prins beloof in ruil vir ’n kolonel se rooi baadjie, die opperbevel, geborgde ekspedisies met totale vryheid van beweging, afwesigheid van sy werk en sonder ’n woord van verslag? Kaptein Thibault kan sy bevelvoerder skaars verdra en noem hom ’n bedrieër. “Die man wil bewonder word. Hy is dronk van verwaandheid en dubbeld gefrustreerd. Selfs as natuurkundige is hy gefrustreerd. Omdat hy nie ’n rooi akademiese jas het nie, troos hy hom met die militêre rooi, en die bataljon weet dit.”

’n Veteraansoldaat met twintig jaar diens kry nege gulden die maand, maar hier loop Klein-Robert, van sy negende jaar al ’n vaandrig teen veertig gulden. En Pietertjie, net sewe en waaragtig kadet in pa se bataljon teen twaalf gulden. Wat kry die Kompanjie uit die kolonel se kinders?

Naby die deur gesels Goetz, die Raad se sekretaris, met Hofmeyr van Welgemeend en De Wet van Waterhof oor die welkome weer. “Winter is ongetwyfeld voor die deur.” “Beslis; dis nou bepaald hy dié.” “Is nooit anders nie. Ons het darem ook lank genoeg gewag.” Die Kaapse weer bind almal, elke lewe, elke dag. Môre, miskien vannag nog, sal dit reën; hy gaan oor ’n dag of twee hoor dat die boere aan die ploeg is, aanstaande jaar se brood is eindelik verseker.

Jan van Reenen van Ganze Craal en sy pa van De Brouwerij is hier, eners soos ’n tweeling in hul outydse swart dorp toe gekom vir die verpagting van die vleiskontrak. Jan sit ’n linneslopie op sy tafel. “Johanna stuur dié. Bietjie beskuit wat sy gebak het.”

“Sê dankie, Jan. Hoe gaan dit met haar?”

“Goed. Sy verwag weer. Jy moet kom kuier, kom kyk laas jaar se skaap uit die Kamdebo. Dra klaar broek en reg vir die mark.”

Die Kapenaars rook die kamer blou. Party bewonder sy fyn olielampe. Van Reenen bied tabak aan uit ’n sakkie van gestreepte molvel met ’n riempie toegeryg. Ander stop uit leersakkies beklee met Oosterse salempoeri, niniqua en bontgeblomde chintza (‘sis,’ sê die Kapenaar), wat met fyn silwerknippies sluit. Party verkies gegeurde snuif uit wit porseleindosies met blou patrone en silwerskarniertjies, ander het silwerdosies, soms met ’n familiewapen gegraveer; Kapenaars, selfs hul Edel Heer, is gek oor die vertoon van familiewapens. Hulle neem snuif met duim en wysvinger of skud dit uit in die holte op die handrug waar duim en pols ontmoet en asem dit in. Op die wyse wat jy snuif gebruik sal jy geoordeel word.

“Stop van myne, messieurs. Uit Amerika,” nooi skipper Duminy. Hy is ’n voorbok van die Vrymesselaars en jy wonder oor die lê van sy vingers in ’n handdruk, of hy dalk iets te kenne wil gee? Sigare, die beste Havana, opium uit Agter-Indië vir die pyne van maagkanker, tering en rumatiek? Gee die teken met die middelvinger op my gewrig. Een ons renosterhoring vir die ouer man? Tik die duim op die wysvinger se kneukel. Vanaand het hy keurgraad Virginies, in fransbrandewyn verouder, onverkrygbaar op die ope mark. Selfs met ’n vet beurs aan jou gordel moet jy ’n fiskaal óf ekwipasiemeester ken om daarvan te bekom.

“Lekker plekkie wat jy hier het, William,” kom sê swaer Frederik Kirsten, met ’n vol glas in die hand. “Goed geleë, op die dorp se hoek, naby jou werk en die kerk.”

Freddie is ’n welgeklede kêrel, dra die hoë Engelse kraag en krawat, praat ook graag Engels, hy het dit jonk geleer toe sy pa poshouer in Simonsbaai was en in sy ma se naam ’n losieshuis vir skepelinge aangehou het. Daar het Freddie ook van privaathandel geleer. Vroeër was hy Skelm Frikkie; vandag is hy onderkoopman Kirsten, eienaar van Veldhuijzen langs die grootpad by Wynberg, en elke poswa met vrag vir Simons Baaij rol gerieflik voor sy voordeur verby. Terwyl sy eie werkgewer in die handel kwyn, bedien Freddie die Engelse Kompanjie se nuwe driedekskepe. Engelse is nou veel vrygewiger met geskenke as vroeër en word sy gunsteling-besoekers in die baai. Hy maak hom diensbaar, kweek benewens hul taal ook enige Hindi-frases aan: Europeërs is topiwallahs, hoededraers, wasvrouens is dhobiwallahs, die kok, chowwallah. Die kêrel klim klaar uit die Kompanjie se sinkende skuit en maak hom diensbaar vir ’n nuwe baas.

“Alles aan oorlede pa te danke.”

“Seker die meeste werd van hierdie tuine. Jou kinders sal goed versorg wees.”

“Ek verkoop nie. Sê dít aan jou pa en jou suster.”

“Nee, nee. Dis nie wat ek bedoel nie. Ons wil natuurlik nie ’n skandaal hê nie.” Só sê swaer Freddie terwyl hy breed glimlag asof Saasveld reeds in sy familie is, en draai weg om boekhouer Baumgardt te groet, wat na rose ruik.

Skandaal; wat sy arme ma aangedoen is, hou hulle nog teen hom. Die klavier in die hoek is dertien jaar lank stil. Sy ma was een-en-sestig jaar oud, tien jaar al ’n weduwee. In haar huis het sy die aandag geniet van luitenant Hippolyte de St. Maurice, as dit sy regte naam was, ’n snuiter van twintig uit die huurregiment Luxembourg, met die aantreklike voorkoms (sy sjokoladekleur krullebol was met blou lint in sy nek gebind), die elegante houdings, sjarmante maniere en duurste uniform algaar tesaam in een persoon verenig, soos waarvan jy in Perrault se stories lees. St. Maurice het in haar geselskap (miskien) ook plesier gevind, en sy ma het haar plooie met poeier gekalfaat, voorgegee asof sy veel jonger is, rooi gebloos oor totaal niks en soos ’n kind gegiggel tot selfs die slawe verleë was.

Een middernag, terwyl die Kaapse dorp in die donker droom, moes haar koetsier haar, in haar oorlede man se diepblou mantel toegedraai, na kolonel De Huguenet se losie langs die Heerengracht neem, waar St. Maurice wag met Champagne-wyn, ’n halfdosyn lang glase en getuies.

De Huguenet het sy regimentele kapelaan laat haal: “Bevestig dié paar in die huwelik,” beveel hy met sy hooghartige, passievolle gesig. Die priester het verskoning gemaak; dit was tog onwettig, hulle is van verskillende gelowe. Maar sy ma het haar hand opgesteek om te sweer sy gaan dié oomblik oor na die enigste ware kerk. Dan gaan haal ek my soutane, formulier en wywater, het die priester gesê, maar hy het weggebly en kon nie weer gevind word nie.

Later die nag roep die Ratelwag twee vreemdelinge aan wat hul perde langs die donker straat lei.“Wie is julle? Waarvandaan? Wat is jul sake hier?”

Hulle was ordonnanse van die Stellenbosse landdros. Seur landdros het hulle met ’n tas dokumente gestuur. Barones Van Oudshoorn het hom per brief versoek om al haar bates, kontant, verwerkte goud en silwer, grondbriewe, slaweaktes, skuldbriewe en wissels wat in sy bewaring was, Kaap toe te stuur, om aan haar persoonlik by De Huguenet se huurhuis oorhandig te word. Die ordonnanse het die vet pakket by De Huguenet se voordeur gebring, sy het geteken en hulle het oorhandig, maar die Franse se vingers was te vinnig en die ordonnanse te stadig om te volg wat voor hul oë gebeur.

Die Ratelwag neem die ordonnanse na die Burgerwaghuis op Groenteplein om verklarings af te lê, en vóór hanekraai was die Fiskaal met afgevaardigdes van die Raad van Justisie in St. Maurice se losie. Die goud, silwer en kontant was klaar verdeel, maar die kosbare dokumente kon herwin word.

William, die voorsitter, het hom aan die verhoor onttrek. Sy ma het voor die hof verklaar dat sy niemand ooit so lief gehad het nie en alles moontlik sou doen om met St. Maurice te trou. Die Raad het haar persoonlike sake lewenslank onder voogdyskap geplaas; haar oudste seun was voortaan waard van haar boedel. Die Politieke Raad het ook sekere streng voorstelle aan die Luxembourgse bevelvoerder gemaak, sodat De Huguenet en St. Maurice met verlies van rang en soldy gedeporteer is.

Die goewerneursvrou se skandaal het die dorpenaars lank vermaak, selfs meer as die vroeër nuus dat haar seun en Geesje Kirsten uitmekaar is, ‘van tafel en bed geskei,’ soos hulle hier sê, asof eet en slaap die wonde aan sy siel veroorsaak het. Sy ma was toe al sestien jaar lank alleen, ses daarvan terwyl haar man in Nederland was, en tien jaar ’n weduwee, maar daarvoor was geen simpatie nie. Wat hom betref: Hy moes sy kop lig, sy naam bewaar, voortgaan om sy werk sorgvuldig te doen én sorg dra dat ander dit doen, terwyl die Kaap hom sywaarts aankyk en sy ma agter haar rug met Middeleeuse spreekwoorde beskinder. Hoogmoed kom tot ’n val? Ja, daarvoor kan jy vas op onse Liewenheer vertrou.

Vir sy ma was dit soos die laaste flikkering van ’n kers. Sy is kort daarna oorlede, niemand kon sê waaraan nie. Dokter Van-die-wieg-tot-die-graf Van Riet het sy kop oor die wit lyk geskud en niks gesê nie. Jy kon dit ook nie op sy rekening lees nie, want hy het nie een gestuur nie en op die sterftekennis was daar net haar naam, die woord ‘hart’ en Van Riet se handtekening wat bestaan uit drie kronkelende horisontale strepe met ’n punt agter elk, soos aan die einde van ’n sin.

Maar dit is nou verby. Die Engelse het gewaag om die land binne te val en Kring Athenaeum op te breek. Dit was ’n direkte aanslag, asof hulle ’n bom teen sy huis geslinger het. Dít is die skok waaraan hy ly. Hy hou sy sakhorlosie by die kers: Twee ure voor daglig.

1795

Подняться наверх