Читать книгу 1795 - Dan Sleigh - Страница 9

5

Оглавление

Die kommervolle gees styg uit die liggaam om teen wanhoop en ander duiwels te gaan veg, en los die liggaam soos ’n leë lykkleed op die kooi. Dis ’n bekende gevoel, oeroud, wanneer mense gode aanroep. Koning Dawid gebruik dit in omtrent elke psalm (‘Ek kyk op na die berge … Waarvandaan sal tog hulp kom?’). Xenophon vertel hoe hy dit twee millennia gelede ervaar het: Voor hulle was ’n rivier wat sy walle oorstroom, vlak op hul hakke was die wilde Koerdiese leër, anderkant die rivier het ’n regiment Persiese ruitery gewag, rondom hulle was ysbedekte berge: ‘Ek droom ek is met kettings gebind, om my hande, om my arms, bene en nek. Ek worstel lank op die grond maar kan nie regop kom nie. Ek bid tot Apollo die Verlosser, maar hy antwoord nie.’ In uiterste nood, beproef alles. Probeer bid.

William trek sy gestopte mantel, vir noordelike kampanjes gemaak, op oor sy skouers. Hy moet probeer vergeet en slaap. Maar sy gedagtes val rond en die slaap vlug van hom soos van ’n veroordeelde wat gesê is om hom met eerste lig vir die vuurpeloton gereed te hou. Waaraan dink een wat van ’n groot hoogte na sy dood val? Pynlike tye moet dit wees, want jy kan van vrees alleen nie sterf nie. Sal dit waar wees dat jy dan jou hele lewe voor jou sien verbygaan?

Die mantel waaronder hy lê (‘skuil’ is ’n beter woord) het langs vreemde paaie na hom gekom. Sy pa was ’n enigste kind, met voorsate soos Godhard van Reede, die Hollandse maarskalk van ’n Engelse koning wat armoedige Iere in die swart turf in verdelg het en daarvoor beloon is met Ierse titels soos Hertog van Athlone en Lord Hunsdon en groen landgoede waarop teringlyers met bloedskuim om die mond in ewige reën vir hom vrot aartappels uit die modder grawe. Uit Heer Godhard het sy pa Pieter gestam, die Amsterdamse advokaat en veertiende Heer van Reede, wat vir hom gesê het: “Willie, ter wille van my gewete werk ek vir my gesin, anders kan ek nie snags slaap nie.” Maar die familie is oud; in Oudshoorn se kerk is hy die grafserk gewys van ’n Heer Hendrik van Reede, uitgebeeld as gespoorde ridder, met helm, harnas, skild en swaard, sy bene by die enkels oormekaar: ’n Kruisvaarder. Hy was ewe bly oor die ervaring van gewapende stryd in sy bloed as die totale afwesigheid van veglus in sy gees.

Toe hy op die ouderdom van agtien verstaan dat hy Middeleeuse titels erf, het hy rakke vol ridderromans verower: Chanson de Roland, Heer Halewijn, Tristan et Iseult, Sir Gawain and the Green Knight, Lancelot and Guinevere, The Palace of Pleasure, en alles van Gower, Monmouth, Chaucer, Malory, Cervantes en Chrétien de Troyes wat hy kon bekom. Hy wou weet hoe dit hom raak. Hy leer dat ’n ridder in ’n boek aan sy koning wapendiens skuld, en daarnaas en daaraan gelyk, hulp aan elke vrou wat deur ’n draak geteister word. Krygsdiens is tydelik, ongereeld, die vrouediens is onophoudelik, jy begryp dit wanneer jy volwasse word. Dit is ’n plig, waarvan en waaruit jy leer. Die draak, ook slang of wurm genoem, is sinoniem met die duiwel en kan in enige gedaante verskyn: Ander vrou, prins, rower, beer, heks, die rooi draak van geweld, geel draak van jaloesie, swart draak van die dood. Of die ou, bleek draak, die een met sterwende kleure soos visskubbe wat op droë grond vervaag, die een uit die put van illusie, mislukking, wanhoop en verlies van liefde; Heer Jesus, bid vir ons.

Wat William eerste leer is dat ridderskap korrekte gedrag in oorlogstyd verwag, algaande leer hy van die allegorie van die sogenaamde Liefde, ’n subtiele studie met ontmoetings in tuine met rose én dorings, soos in De Loris en Meun se Le Roman de la Rose, van 22 000 sentimentele reëls met goue ink op perkament geskryf en met goue verf versier. Die oordaad stoot af, dis ook nie duidelik of die ridder sy roos pluk nie. Uit tekste soms subliem, soms romanties of idealisties, soms bloot heroïes, leer hy: Die woord ‘liefde’, misverstaan, wangebruik, beteken in ridderverhale vertedering. En die vrou in nood is altyd getroud. Waarom, altyd getroud? Op agtien verstaan jy nog nie. Dit is die ridder se plig om die dame in nood by te staan. Hoor wat haar behoefte is, kyk wat in die weg daarvan staan. Doen wat sy gebied: ‘Ek wil jou nie weer sien nie.’ Gehoorsaam haar, dood dié draak. Jy gee elke maal jou eed, en jy moet dít goed verstaan: Jy kan teen die draak verloor.

In die verhaal van Don Quixote het hy duidelikheid gevind: Alles is geoorloof in liefde en oorlog. Skrywers van ridderverhale het vryheid om hul verbeelding los te laat en met elke menslike talent, met alle kennis en ervaring tonele en gebeure te skep, boudoirs, roostuine, donker woude, seereise en strandings, skatkamers, kastele, koue kerkers, aardbewings, soet liefdespel en bitter veldslae, met die algemene doel om te vermaak en te onderrig. Cervantes sê so in sy sewe-en-veertigste hoofstuk. Nou kon hy, soos Odusseus, sy weg alleen baan.

Dit het hy ook by Cervantes geleer: Geskiedenis bewaar die herinnering van hoë dade, is getuie van die verlede, ’n voorbeeld vir die hede en ’n waarskuwing oor die toekoms. Dit is goed, dit pas hom. Sy pa is die pos van onafhanklike fiskaal aan die Kaap gegee en onder goewerneur Tulbagh tot sekunde bevorder. Dit was ongeveer dié tyd dat hy in hierdie huis Saasveld, agter die boonste hoek van die Kompanjiestuin, gebore en in die Groote Kerk gedoop is met die voorname van sy Ierse grootoom, William Ferdinand Carey, lord Hunsdon, waarvan sy pa die enigste erfgenaam was. Daar, soos hulle sê, kom hy nou in die prentjie. Met die dood van sy oupa in Nederland het sy pa die titel Baron Van Oudshoorn tot Nederhorst ook geërf, en daarmee leenheerskap van die gemeentes Oudshoorn, Gnephoek en Ridderbuurt.

Sy pa het sy werk hier bedank en Holland toe gegaan om sy erfenis op te eis, en hom, sy oudste seun, saamgeneem. Dit was vir die eeufees van die gereformeerde gemeente Oudshoorn, wat ’n jaar lank uitgestel is om op sy pa se koms te wag. Sy ma wou nie Europa toe gaan nie, hy onthou haar volgehoue en humeurige weiering. Sy was nie lus vir ’n lang seereis se ongerief nie. Sy pa het haar en drie jonger kinders hier gelaat, en sy vriend hadji Sadulla oor Saasveld se grond aangestel.

Gnephoek was ’n gehuggie wat lyk of dit deur kabouters gebou is, op die Ryn agt of tien myl oos van Leiden. Daar was ’n reuk van water in die lug, breë heldergroen landerye en tuine tussen die trae, vaal rivier en die houthuisies wat in ’n vierkant om hul kerk staan. Hul mure was laag, skaars skouerhoog onder ruie turfdakke wasemend in die koue lug. In die huisies was kinders, kalwers, lammers en ’n boerin wat in ruil vir ’n modderige bestaan haar lewe aan ’n gesin offer. Agter die gehug was die hoë wit herehuis met sy rug teen ’n donker sparrebos waaruit jy in die lente koekoeke hoor roep. Die balju, ’n afgetrede predikant, het die huis bewoon. Vir sy Kaapse oë was die sagte, boomryke landskap, deurspoel met al die blink water in damme, slote en riviere, soos ’n skildery. Die somers was windloos, mistig, die son skyn uit ’n newel asof lig daarin gesmelt het. Winters was donker en koud, wit van sneeu, ’n ysige wind het in die sparrebos geruk en gekletter. Ver weg het soggens en saans ’n kloosterklok gelui.

Gnephoek, Oudshoorn en Ridderbuurt het hulle soos adel verwelkom. Middeleeuse stelsels het gegeld; die balju en huurders het sy pa ‘edel heer’ en vir hom ‘jonge heer’ genoem, met die hoed teen die bors gedruk. Die balju het die heer sy huurders laat sien, tandelose kleinboere in bruin knielengte jurke wat met ’n pluk aan die kuif groet, en die landgoed se ou leergebonde joernale met verslete hoekplate en gespes van silwer, met lyste van eiendomme en huurders en die inkomste wat sy pa daaruit maak. Hy is ook ’n sakhorlosie aan ’n swaar ketting oorhandig wat aan sy oupa behoort het; saam met die titel gaan dit van pa tot seun. Dit bly nou in sy eie onderbaadjiesak, saam met sy seëlring aan die fyn silwerketting, ’n enkele toegewing aan die Franse gewoonte. Die maker se naam, ‘Joseph Windmills London 1690,’ is meer as ’n eeu tevore op die stewige binnewerk gegraveer.

As student in Leiden het hy gou tuis gevoel, want die atmosfeer in professor Voorda se klas was amper soos Saasveld se voorhuis, met die Romeins-Hollandse reg se stil waardigheid, boeke en beleë rooiwyn. Op die ou end het sy pa kasteel Drakenburg ook gekoop, en hulle het ses jaar daar gebly.

William draai weer sy horlosie na die kers toe. Miskien is sy verlamming vanoggend ’n vorm van diepbegrawe vrees. Hy moet dit oorwin; hy moet opstaan en gaan werk, want alles hier is in gevaar. Die luiaard sê: Wag, lê nog, buite is ’n leeu in die strate. Spreuke van Salomo. Wees gerus, Kasteel de Goede Hoop, die Seelinie, Franse Linie en die kusbatterye se mure sal sterk genoeg staan. Bowenal sal die mense se moed hoog en onbuigsaam wees, die vyand sal hulle verenig vind, bereid om te veg. Of nie? Die De Wits behoort geïnterneer te word; hul huis aan die Heerengracht, vlak teenoor die Kasteel, is ’n tuiste vir vreemdelinge, ’n uitkykpos van die vyand en ’n skuiling vir spioene.

1795

Подняться наверх