Читать книгу 1795 - Dan Sleigh - Страница 12

8

Оглавление

Goue lig flits voor sy venster; hy skrik en ruk die gordyn toe. ’n Rammelende stem dreun soos drie hamerslae op die dak: Datta! Dayadhvam! Damyata!

Sonderling.

Soos die aand na sy pa se begrafnis; hy en hadji Sadulla het agter die huis, onder die prieel voor die stal gewag. In Saasveld se kersverligte voorkamer was ’n viering. Was hulle bly dat sy pa oorlede is? Hulle was soos vreemdelinge vir hom. Wens hulle mekaar geluk, bespreek hulle elkeen se erfporsie? Die geraas daar binne moet om middernag ophou wanneer die Sabbat begin; die Kerk verwag dit. Die hemel het ná sononder uit die ooste toegetrek, swart wolke het ingerol; wit weerlig kraak oor die dorp, donder ruk en skud die grond onder hulle. Dit was warm; groot druppels het geklap op die laaste van die herfsblare, rooi en swart in die werf se fakkellig.

“Hoor wat die swareweer sê, Willie,” sê Sadulla. “Datta. Dayadhvam. Damyata. Gee. Troos. Bestuur. God wil dit.”

Hy probeer dit memoriseer. “Watter taal?”

Die taal is Hindi. Sadulla herhaal met ontsag: “Gee aan die armes. Troos die bedroefde. Bestuur, sodat almal oorleef.”

Met die kers in een hand en sy sakhorlosie in die ander leun hy oor die pot op die herdvuur en hou twee ganseiers dop wat in kokende water dans. Orde en beheer neem skepe oorsee, hou die gesin bymekaar, bestuur die kantoor en laat die boeke klop, dit hou die gragte skoon en die dorp gesond.

William dink aan die dorp as ’n vrou, jonk en onervare. Onskuldig slaap sy, stilte omhul haar in die wintervoordag. Later word sy wakker met kanongedreun en rook en die stank van swael en salpeter in die lug, soos by Oudenaarde en Malplaquet destyds: Alles vreedsaam met dagbreek maar in die namiddag swart, smeulende puinhope en dale van doodskaduwee. Hy voel vir haar jammer, oor die dreigende einde aan wat sy was. Sy sal skielik leer, soos een wat deur ’n gewapende verkragter bekruip word. Net ’n week of twee, miskien ’n maand, en sy word ook wat sy arme ma geword het, ’n slagoffer van vreemdelinge se gierigheid.

Begeerlik is sy wel, sy dorp, met natuurlike skoonheid geseën en verstandig deur mensehande getooi. ’n Eie persoonlikheid het sy, onmiskenbaar. Vir een só jonk is sy ook ryk aan besittings. Daaroor word lankal wêreldwyd geskryf; oor haar kommersiële potensiaal is dit in geesdriftige paragrawe, oor haar skoonheid kort frases in wetenskaplike terme. Sy dra nog die naam uit haar kindertyd, maar nie meer lank nie en sy kry dalk ’n nuwe naam, miskien méér name soos sy ouer word, ook meer en meer uitheems: King George Town. New Westminster. South London. New Albion. Word wakker, dogter, suster; jy is nie gereed vir wat met jou gaan gebeur nie. Jy weet nie hoe jou wêreld gaan verander nie, dat niks weer soos gister en eergister kan wees nie.

Na ontbyt haal hy sy sambreel van die kapstok by die deur en loop in die reën werk toe. Hy loop tussen huise, pakhuise, kroeë en kerke met hul gesluierde, reëngespikkelde ruite asof almal vanmôre vroeg gehuil het. Die mense, die inwoners, moet wakker gemaak en gewaarsku word. Hy moet hulp soek, vriende vra om saam te staan. Dink weer: Is daar enige talent of bruikbare drome onder hulle? Hy kan sy tyd mors. Hy ken hulle, die kern is nie solied nie. Hulle is uit die hoeke van Europa hier saamgegooi onder ’n regering van vreemdelinge wat hulle nie toelaat om ’n eie stem te ontwikkel nie. Eweredig aan die verskeidenheid is die kanse vir verraad; miskien moet hulle eers saam val soos graan, daarna saam opstaan.

Hy kom by die kerk aan die Heerengracht, agter die wit kerkhofmuur. Sy pa was die laaste wat onder dié kerkvloer begrawe is; sy stoel staan steeds regs voor die preekstoel. Hier binne is gebid vir reën, vir ’n einde aan die pokke, verlossing van ’n sprinkaanswerm en die veilige tuiskoms van die retoervloot. Hier is gedank vir vrede in Europa, die kolonie se suksesvolle eerste eeu en die geboorte van ’n Nederlandse prins, dieselfde wat hulle nou, vyftig jaar later, aanskryf om hul vaderland aan die Engelse te gee.

As hy in die geadverteerde preek belangstel, kom hy Sondagoggende kerk toe. Hy vermy die voorste stoele en vind sitplek tussen sy medeburgers, waar hy ’n leë plek sien; dít het Geesje glad nie geval nie. Miskien dink hulle dat hy maar sy plig doen om hier gesien te word, maar hy waardeer die kerk se regulerende rol in die gemeenskap, die kerk doen goed. Soms, uit oordrewe behoudendheid, nie.

Hy kom hier om te probeer verstaan wat en waar sy god is of wat met die woord ‘siel’ bedoel word, wetende dat predikante geen geheime inligting oor ontstaan, lewe en dood het nie. Hy kom om van die menslike aard te leer. Van sy kinderdae af het hy in figure soos Abraham, Simson of Dawid belanggestel, daar was iets besonders aan hulle. Hy begryp die bejaarde Abraham nou beter, ’n trekboer wat op hoë ouderdom met engele, prinsesse en babas moet sukkel. Dan Dawid, van stowwerige skaapwagtertjie agter die kleinvee weggeroep tot beswete man met die hart en knaters van ’n leeu en baie bloed aan sy hande. Vesting na vesting wen hy grond terug wat Saul aan die Filistyne afgestaan het. En groot Simson, man én kind, verskriklik in sonlig maar ’n totale dwaas ná dit daal. Of skatryk Salomo, die wyse (‘soos stortreën op ’n lekkende dak is die kyfsieke vrou’), die romantiese digter met vierhonderd vrouens en ’n harem van honderde. Dan die jong eunug Daniël, uit sy verstand gedryf deur bonatuurlike stemme en visioene, wat volhou dat sy gevange volk deur ’n Griek verlos gaan word, terwyl nêrens iets soos ’n Griek bestaan nie. Wonderlik ook die onvergelyklike profeet Elisa wat yster op water laat dryf, en brawe Paulus van Tarsus, met die moed om die Romeinse pantheon én regering van sy tyd uit te daag. Werklike helde, almal deur engele aangeraak. Hy geniet dit om van hul hoë dade te hoor. Hy vind die Ou Testament ’n goeie manlike dokument, die Nuwe sagter, vrouliker.

Hy kom na die voorlesings luister, hy leer hoe die mens met sy lot moet maak. Dis ’n eindelose taak en benodig geduld. Hy hoop ook om eendag ’n antwoord op die vraag Waarom? hier te hoor. En as die Antwoord kom, wat maak hy met predikante, kerkrade, heemrade en raadslede? Hy luister nie wanneer predikante beloftes van hemel maak of dreigemente van hel nie; dit het geen oplossing vir die mens op aarde nie, maar dít is wanneer fiskaal Van Ryneveld langs hom ophou asemhaal en met ’n potloodjie aantekeninge agter op ’n gevoude brief maak.

Hy luister met aandag wanneer uit die tweede boek van Konings gelees word, oor die vernietiging van die volk Israel en die stam Juda se ellendige sterwe, ’n hele volk ontwortel en in slawerny weggesleep, hul stadsmure en tempel tot die grond afgebreek, die koning se oë uitgesteek, al die jong mans gekastreer. Hy luister hoe hul dominee die woord ‘eunug’ vermy en van ‘kamerheer’ praat. Vals! Máár, sal die leraar verdedigend sê, dis tog die korrekte vertaling uit die Grieks? Weet jy, gee ons liewer die rou Joods, dominee, want waarheid en openlikheid is wat ons regtig nodig het.

In die aanbiddende gemeente sien hy sy dorp se welstand, watter families groei, watter kwyn, watter vriende oud word en met ’n kierie kerk toe kom, wie in swart of in grys rou, watter jongmense groot word, wie meer na mekaar sit en kyk as na die predikant (’n erkende Kaapse vorm van hofmakery), wie laat doop of gebooie laat lees, wie ryk geword het met ’n robyn in die krawat. As die predikant sê: ‘Laat ons bid,’ kyk mans met ’n skyn van eerbied neer in hoede, vrouens leun leë gesigte teen oop waaiers, kinders loer nuuskierig deur hul vingers. Die beweging van hande oor die kollektesak verontagsaam hy, dit is aan omstandighede gebonde.

Nou bly daar Geloof, Hoop en Liefde; dit klink mooi, dit is goed. Geloof val eerste, dan Liefde, en wanneer Hoop verlore is, bly jy aan die ideaal getrou, tot die dood.

Hy sluit op die kerkplein aan by poshouer Momsen, die Kompanjie se sogenaamde melkboer met twee kanne vars melk aan ’n juk, en loop met hom saam Kasteel toe. Momsen is soggens eerste op, hy sien die laaste van die nag en eerste van die dag, en het soms nuus waarmee hy hom vir sy werksdag kan voorberei. Momsen sal eendag hiervoor beloning verwag, iets klein maar onwettig, en hy is gereed om hom teleur te stel.

In ’n ommuurde perseeltjie tussen die hospitaal en Kasteel word aan die regering se galg gewerk. Die dorp se laksman staan op ’n leer met sy hamer en ’n mond vol spykers en lig sy hoed om hom goeiedag te wens. Die Kompanjie se galg, soos sy kerk, hospitaal en weeshuis, is aan gemeenskapsdiens gewy. By afwesigheid van ’n hoërskool wedywer kerk en galg om die naam van voorste opvoedkundige instelling. ’n Slaaf met beenkettings trap die leer se voet in die modder vas, krap in sy neus en inspekteer die produk van sy arbeid. ‘’t Groene zoodje,’ heet die kampie met sy pakhuis en wit heining; die deurweekte grond is welig met opslag begroei.

Anderkant Strandstraat, agter die pakhuise en ekwipasiewerf, raas die hooggeryste grou see. Die wind het op noord vasgesteek, meer reën is aan kom. Die paradeplein voor die Kasteel is met modderige waterplasse oortrek soos dit somers van wit waaisand oortrek is. Van die paradegrond hoor hy stemme wat ou krygsformules roep: Links, regs, links, regs! hier presies soos in die vyand se kamp. So hoort dit; ons moet al ons vyand se kennis en kunste aanleer. Sy afdeling, die Korps Pennisten, honderd-en-twintig klerke wat die Kasteel sal verdedig, is aangetree, afgetel, geïnspekteer en gereed vir hom. ‘Verlede nag, terwyl ons geslaap het …’ sal hy begin.

Hy is hul bevelvoerder, maar ken hulle beter as klerke uit die kantore van finansies, justisie, weesheer, hof van klein sake, wapenmagasyn, houtstoor, hospitaal, graanstoor, slawelosie, wynpakhuis, negosiepakhuis, soldykantoor, oral waar Jan Kompanjie woeker, boekhou en bestuur. Hulle werk bedags met pen en ink aan die regering se korrespondensie, grootboeke en registers, op koue dae gewoonlik met hul bene om die pote van hulle driebeenstoele gekrul. Hy ken hul herkoms en gebrekkige skoling, onreëlmatige handskrifte, spelfoute, kinderlike onvermoë met hoofreken. Verskeie is hier omdat hulle iemand se nefie is, mense in poste waaruit hulle nie ontslaan kan word nie en daarin gaan verouder en vermuf.

Sy Korps kan nooit die voortreflikste op parade wees nie, want hulle is ’n gemengde lot soos wat jy op ’n armmansveiling aangebied word, van gryskoppe tot baardlose kinders, almal met klerke se ronde skouers, die meeste met bril op die neus en die regering se swart ink aan hul vingers. Agter in die afdeling marsjeer die kortste klerkie van skaars vyf voet en vóór die heel lange van oor die sewe; ander afdelings, selfs die publiek wat hulle sien verbytrek, lag. Maar in ’n geveg tel vertoon nie, dáár is paraatheid alles en in dié opsig is die Korps, glo hy, so goed as enigiets wat Gordon se bataljon kan aanbied. In hul donkerblou en swart, met ’n reënkleed van rooi seil om die skouers, lyk hulle vir hom goed genoeg. Werk meer aan die harte, aan die verstand.

Tot nou was hulle die enigste korps wat daagliks vóór werk oefen; hulle kla natuurlik daaroor: Waarom ons alleen, wat van die ander? Hy het hulle sy antwoord gegee: Omdat julle die laaste linie gaan wees, met die vyand tot vlak voor jul vesting gevorder. Dis vir jul werkgewer, jul soldy, vir jul eie brood. Tog vra hulle, kla hulle. Hulle moet gedril word tot dit end kry.

Hy rol sy sambreel toe, laat sak die spyk tot op sy skoenpunt, en hou hul drilwerk dop met sy hande om die greep van liggeel elpebeen. Die handvatsel het ’n breë silwerband, in lopende skrif gegraveer: ‘Aan onze Edele Heer gebooden door de gemeente Ridderbuurt, 1772’. Kapenaars fluister oor die sambreel, hulle noem dit verwyf as ’n man met ’n sambreel loop. Drilwerk is nie die belangrikste nie; laai en skiet, laai, skiet tot jou loop so warm is dat jy moet gewere ruil, dis anders en veel meer. Maar die hart moet daarin wees, en dit is sy verantwoordelikheid. Hy lig sy sambreel om aan die luitenante te beduie: Ek wil met hulle praat. Sy sersant-majoor marsjeer die Korps tot voor hom.

Op die paradeplein se rand knik hy hulle toe. Hy ondersoek die gesigte van links na regs. Almal geskeer? Goed. Hulle is burgers van sy dorp, meer as die helfte is getroud, met gesinne. Hulle is die eerste wat hy vandag wakker maak, en hy weet dat dit teen die gebruik is, dat hy behoort te wag tot kommissaris Sluysken self gepraat het, maar hy stel hom in dié klerke se plek. Verklaar openlik, dan is daar geen griewe of rede tot later verwyt nie.

William lig sy stem: “Offisiere, onderoffisiere, manskappe. Nege Engelse oorlogskepe met omtrent drieduisend soldate en matrose het gisteraand in ons seewater geanker. Hulle toon geen respek aan ons vlag nie, en het mense met ’n brief gestuur. Kommissaris Sluysken het die Raad laat vergader om te hoor wat hulle verlang. Niks minder nie as dat hulle van ons verwag om ons vlag te stryk en ons land in hul beskerming te gee so lank as die oorlog in Europa duur. Hul brief dra die Prins se handtekening en seël. Die Raad het dit van die hand gewys. Julle gaan vanmôre kanonskote hoor wat die burgermag oproep. Gedra julle soos soldate, moet om jul naam onthalwe nie vingers in jul ore steek as dit afgaan nie. Sluit jul ore alleen teen gerugte. Ons grootste vyand is onkunde. Onthou die gesegde: Eerste wat in enige oorlog sneuwel, is die waarheid. Laat ons almal met ons werk voortgaan. Na die raadsvergadering vanoggend sal die kommissaris bekend maak wat gaan gebeur. Gedra julle altyd só dat die vyand vir julle respek het. Ons gaan oefen en daar moet geen verwarring of geskree wees nie. Van vanmiddag af dril julle ook vir ’n uur na werk, elke dag behalwe Sondae, tot julle al my bevele verstaan en vooraf kan verwag. Onderoffisiere: Deel aan elke manskap ses nuwe vuurstene uit. Offisiere, handig vanoggend jul degens by die swaardveër in om geslyp te word. Sersant-majoor, verdaag die parade.”

Die sersant-majoor salueer met sy halfpiek en draai flink op hak en toon. William knik hulle sy dank, knyp sy sambreel onder sy arm en loop Kasteel toe terwyl ’n dun stem uit die middel van die korps kla: “Maar sa’majoor, namiddae oefen ek koor.”

“Nie so voor op die paal nie, jong. Môre, oormôre sing ons almal by die engeltjies. Netjies nou, as ek die bevel gee … Korps, verdaag!”

Roetines vir graanbou en skeepvaart, hofmakery, kooroefening, dis ou, ou heiligdomme wat nou bestorm word. Van die paradeplein af na die Kasteel toe, oor die bruggie, tussen twee oranje leeus op hoë wit pilare deur, is enkele tree. Kyk na regs en jy sien hoe Kasteel de Goede Hoop sy ouderdom wys: Onder elke waterspuit wat reën van die geteerde dakke lei is ’n modderstreep teen die muur waarin groen mos groei. Dis drie jaar laas, vir die Hoë Kommissarisse se besoek, skoongemaak.

Toe begin die klok bo hul koppe sy vals gelui, agt sidderende slae wat die hele toring laat vibreer en sy eie lae gebrom voortbring. Kapenaars is met die onegte klank bekend. Dis ’n Amsterdamse klok, honderd jaar oud (‘Claude Fremy me fecit … 1697’), wat so vals hier gekom het. Mentzel het ’n halfeeu gelede gewaarsku: ‘Hüten Sie sich vor dem Land, wo die Glocke geschlagen wird mit der Hand.’

1795

Подняться наверх