Читать книгу 1795 - Dan Sleigh - Страница 15

11

Оглавление

Halfvier; dit reën nog. Hy loop terug Kasteel toe, werk toe. Die strate is leeg. In die skemer laatmiddag word die kanonne stil. Die teken van Soutrivierdrif af is duidelik gesien, dié van Tygerberg en afgeleë Kanonkop is van hulle hoogtes gehoor. Ses- en twaalfponderskote weergalm nou van kranse af, dawer die klipperige passe en steil klowe van Gantouw, Houwhoek en Piekenierskloof op na die volgende seinpos, vyf-en-dertig, veertig myl verder. Die alarm dreun teen dié tyd oor Bottelary, Wamakersvallei, Moordkuil en Winterhoek se boere, oor die Koeberg se Van der Spuys, oor die Slagtersveld en Groene Cloof se Louws en Bassons, oor Piketberg se Dippenaars, die Sandveld se Loubsers en Besters, die Koue Bokkeveld se Witkop van der Merwes en die Engelbreghts en Nieuwoudts by die Olifantsrivier, en het al die rustige Steyns, Mullers en Lourense by Breederivier bereik. Ses ure, van Soutrivier af tot Swellendam. Nog vannag behoort sersant Abue by Mosselbaai daarvan te weet, môremiddag hoor poshouer Meeding in Plettenbergsbaai van die Kaap se nood. Die eerste gewapende boere uit die Swartland en Agter-Paarl sal vroemôre die dorp binnery. Die Burgerraad is verantwoordelik vir inkwartiering; voorsitter Van Breda en sy Raad sal sorg dat dit volgens voorskrif geskied: Stalling en voer vir perde, serviesgeld om daarvoor te betaal, diensroosters vir die stadspatrollies, ekstra meel aan bakhuise vrygestel vir daaglikse vars en hardbrood vir duisend nuwe siele in die dorp. Die Kaap gaan daarvan weet.

Hy dink, met spyt: Wie nie gaan opdaag nie, is die Swellendammers en Graaff-Reinetters, wat moedig, en volgens sy begrip met goeie reg, hul rug op Jan Kompanjie gedraai het. Graaff-Reinet se boere het die VOC se landdros weggejaag en sy vlag neergehaal om te verbrand, omdat hulle belasting aan hul regering betaal maar geen hulp teen die rowende Makosa kry nie. Vroeër vandeesmaand het Swellendam dit ook gedoen, die gesant verjaag, die vlag verbrand. Daar was lankal waarskuwende tekens, soos weiering om plakkate te gehoorsaam, die optrek by te woon, die weerhou van belasting, maar die Kaapse regering was te stompsinnig om die simptome te herken of daarop te reageer.

Hoë Kommissarisse het landdros Woeke van Graaff-Reinet ontbied om die burgers se ongelukkigheid te kom uitlê. Sy aankoms was ’n rare gesig uit die wilde grensgebied waar die VOC se stem nie meer reik nie en sy wêreldwye roem minder werd is as een vlak asemteug, een hartslag of ’n enkele traan. Kapenaars het gestaar soos na twee spoke uit ’n droom: Vaandrig Moritz Hermann Otto Woeke, ’n regop, geüniformde Pruis en gerespekteerde offisier, is ’n dekade tevore met wetboeke, psalms, pluime, ink en ’n nuwe kaart van die Agterveld op ’n wa hier weg, duidelik die ideale man vir die taak. Maar die oosgrens het hom getem én wys gemaak, hy was nou leeg van illusies, fatalisties en ’n merkwaardige skut met die lang geweer. Die siel in hom was geroes en gekanker, maar sy praktiese Pruisiese verstand het bewaar gebly. Sy perd was ’n stofvaal skaduwee met ’n ribbekas soos ’n voëlkou, sy agterryer ’n kaal Bossiesman met ’n lendevel, ystervarkpenne in die hare, pylkoker en boog agter die rug, ’n barbaar uit ’n boek.

Jy kon dié twee amper ruik aankom; die middeljarige landdros sit ingedagte in sy velklere en velskoene sonder kouse, donker gebrand onder sy slap hoed met die luiperdvelband; hy laat die teuels oor sy perd se nek hang en kerf en kou tabak soos hy ry. Aan gebreide rieme wat heen en weer oor sy bors kruis, hang ’n verkyker om sy nek, ’n geweer agter sy skouer, ’n vuilgevatte kruithoring op sy heup en ’n pistool in ’n volstruisvel-holster op sy bobeen. Sy baard en hare, soos sy perd se maanhaar, is lank, taai en deurmekaar. Soms sluk hy uit ’n fles met donkerbruin vloeistof wat hy uit sy saalsak haal.

Woeke moes buite wag terwyl Robert aan die Hoë Kommissarisse en die Raad uitlê wat met ‘grensgebied’ en met ‘grens’ bedoel word. Daar, op die stoel langs die deur waar luitenant Veegezak ’n jaar later sterk en regop met gevoude arms sou sit, het Woeke met sy elmboë op sy knieë en sy velskoene wyd uitmekaar die tyd met sy holgeslypte herneuter en ’n entjie swart tabak verwyl, terwyl Gordon binne groot kaarte ooprol: Wentzel se wonderlike reiskaart van 1752, Brink s’n uit 1768, dié van Leijste uit 1779 en Van der Graaff se saamgestelde kaart van 1794 was op die tafel gestapel. Die raadslede se oë het vaag, onbegrypend en amper dromend daaroor gedwaal, hulle sien wit plekke op die kaart soos brak kolle in ’n saailand. Dáárdie, op die kaart, was nie die Kaap nie, dit was ’n vreemde land en na behore nie hul saak nie. Nie húl saak nie.

“’n Grens is ’n lyn op papier,” verduidelik die kolonel. “Politici bepaal dit, dan word van soldate verwag om dit in stand te hou. In die praktyk beteken ’n grens iets natuurlik soos ’n rivier of ’n berg, maar soms is dit mensgemaak, ’n aangeplante heining of ’n klipmuur met wagposte en doeanekantore. Maar ’n grensgebied is ’n streek waarin buurnasies soos die Afrikaner en die Afrikaan mekaar ontmoet, en daar is ’n uitruil en vermenging van kulture. Hulle maak met die Europeër se kos en klere kennis en ons met hulle s’n. Ons ruil besittings, soos ’n ou hemp vir ’n skaap. Een steel van die ander; ons steel hul land en hulle steel ons vee. Een toets die ander se krag, hoe ver ons mag waag, hoe ver ons toegelaat sal word. Daar kom verskille wat tot gevegte lei. Later koel dit af, die gebied stabiliseer en ons versamel hul skilde en spiese en kalbasse om teen ons mure te hang. Dan skuif die wenner weer die grens. In die tussentyd word hulle meer soos ons; hulle neem ons name aan en ons neem hul vrouens. Meer kinders met bruin oë word gebore en die Nederlandse taal vervlak tot ’n barbaarse gebrabbel. Die gebied kom tot rus sodat die vrouens kan aanteel om die gebied te bevolk. Dan skuif ons weer die grens.”

Die ouer Hoë, wêreldwys, het gesê: “Verstaanbaar. Columbus het pokke aan die Indiane gegee en sifilis teruggebring.”

“Die Kompanjie kan nie langer so ’n toestand bekostig nie,” het Nederburg, die jonger Hoë, gesê. “Ons sal uitbreiding belet.”

“As ons nie die burgers kan beheer nie, kan ons hulle vrylaat,” het William voorgestel.

“Om die Swartes te onderdruk en te verslaaf en besteel, en hul land af te neem?”

“Dis nie wat ek bedoel het nie. Die Kompanjie kan van die boere ontslae word deur sy hand van hulle weg te neem.” Maar die Kompanjie sal hulle nie vrylaat nie, want hy het die boere se trekosse nodig, die produkte van hul arbeid, hul belastinggeld, hul perde, wapens. Dit was ’n ekonomiese saak: Boere, soos slawe, is ’n kapitale bate. Jy gee nie boere weg nie.

“Roep die landdros.”

Woeke se stem was skor en stowwerig, sy boodskap aan die Raad was asof met bloed geskryf. Iets het in die wildernis met sy kommunikasie verkeerd gegaan, miskien te veel en te groot afstande, ’n landskap té ruim, te veel volke en nasies, te veel onverstaanbare taal om presies te dokumenteer, onoplosbare probleme, koppige boere, ver te veel mensebloed, wanhoop, swak gehalte brandewyn, of alles tesaam. Alstesaam, miskien. Woeke het nie geweet hoe sy kluitdroë woorde, sy reuk van veld en sweet en sy woeste harigheid die gladde Haagse raadslede verontrus nie.

“Nou, met Bossiesmans is daar nie ander raad nie as om hulle saam met die ondier uit te skiet. Hulle hou nie vee nie, hulle soek nie rykdom nie, net kos. En ons vee is vir hulle ’n godsgawe, veel makliker om te jag as wild, wat ook al lelik deur ons mense uitgeskiet is. Die Bossiesman voel dis sy doodstryd. Dis nou sulke tyd.”

Albei Hoës draai na William. “Sukketyd?”

“In die Kaaps, Hoogagbares. Hul laaste oomblik het aangebreek.”

“Laat hom dan so sê. Bevéél die kêrel. Laat hom dit sê.”

“Nou, jou Makosa is ’n totaal ander storie, totaal, dit verskil soos water en soos bloed. As ’n Makosa in ’n vrou sin het moet hy tien, twaalf bees gee, en die Makosa-hulle vat sommer vier, vyf vrouens, dis elke keer vyftig bees. Nou het hulle gesien hier loop troppe rundvee met ’n enkele herder en hulle kan dit voor die liewenheer nie glo nie want in húlle se land pas altyd dertig, veertig jongens tesaam bees op. Nou stroom hulle oor die Keiskamma en die Vis, die Suurveld binne agter óns mense se bees aan. Die boere se huise word oor hul koppe afgebrand, hulle vlug van hul plase af, hul lyke bly daar onder Gods son vir die aasvoëls en jakkalse lê.”

Die Raad het elke frase in stilte gehoor en die koppe geskud. Woeke was uit ’n vreemde wêreld, ver en anders soos die maan, ’n streek waarvan net kolonel Gordon enige kennis gehad het, en dit ook net as reisiger. Die landdros beduie met sy twee hande: “Makosa wil jy liewers nie in jou land hê nie. Hy is onregeerbaar, die kolonel kan dit beaam. Hy ken geen god of sy gebod nie en respekteer ook nie andermansgoed nie. Hy glo alleen in die assegaai en gee g’n om vir ander se lewe nie. Nou meen ek dis tyd dat die Kompanjie ’n sterk man stuur om met hulle te gaan sit en ’n grens neerlê: Kyk, hier loop die rivier, julle se land is sonopkant. Ons, óns bly sononderkant, dis óns se land. Nou, waar jy jou grens trek en jou soldate posteer hang af van jou krag, want die Makosa lees nie alte graag kaarte nie. Hy erken skaars sy hoofman en as jy met een stamhoof praat hoor jy hy het nog twee, drie ander bo hom. Konings kry jy by die halfdosyn, dié dra graag tiervel. Die kolonel kan dit bevestig, hy het dosyne van die Kompanjie se grenadiersmusse daar weggegee, oor die strook tiervel daaraan. Watter rivier kies jy nou? Die Vis, die Keiskamma of dalk, as jy braaf is, die Kei?”

Dit was die Makosa; oor hulle en hul leefwyse lees jy in vaandrig Beutler se joernaal van ’52. Hy skryf daar dat wanneer jy die Keiskamma oorsteek, jy ‘meteen in de land van de Caffres’ is. André het ’n boekmerkie daarby gelaat.

Die Raad het nie antwoorde vir Woeke gehad nie. Dit was ’n lelike storie. Die grensgebied se werklikhede, totaal bo die Kompanjie se vermoë, was onwelkom in hul beraad. Woeke, die landdros, moes gesorg het dat daar nie probleme is nie. Hoe wikkel hulle hieruit los? Vind fout met die boodskapper, beskuldig hom, bring hom onder verdenking, dan stenig ons hom.

Hoë Kommissaris Nederburg se winterbleek gesig was vars geskeer, as jy naby hom kom, ruik jy muskus. Sy Eksellensie het onwetend met sy netjiese middelvingernael op die tafel begin tik, eers sag, ’n fluistering, maar later harde, skerp skote: “Daar is tog goeie Makosas ook?” het hy met irritasie in sy stem gevra.

Woeke spoeg in die kwispedoor en veeg sy harige handrug oor sy baard. “Waar? Jy kan miskien nog meer van hulle vrouens sê as van hulle mans. Het jul kolonel nie vir julle vertel nie? Daar is soldate nodig.”

Die Hoë se afkeer was op sy welgeteelde gesig en in sy hooghartige Haagse houding. Hy wuif ’n verbiedende hand. “Landdros, waaroor jy nou praat is nie jou sake nie.”

“Nie? Sê dan vir my: Waarom sit ek op Graaff-Reinet en waarom het julle my Kaap toe laat kom? Wat het julle se kolonel in godsnaam op die grens kom soek?”

Robert het hom verontskuldig: “Ek het geen Makosa dié kant van Algoabaai teengekom nie, Hoogedeles. So iets bestaan nie.”

“Mag toe so gewees het,” het Woeke volgehou. “Maar kom kyk nou.”

“Begryp jy wat ’n grensgebied is?”

“Dis waar jy mensmis net sonkant van die bosse kry.”

Die kaart van 1780, met ’n dik swart lyn langs die Visrivier en ‘Land van de Caffres,’ sierlik en groot in rooi ink geskryf, was bo-op die ander. Die Raad het dié grens gerespekteer al het van sy burgers anders daaroor gevoel. Soos ’n stofstorm uit die woestyn of ’n warrelende, verterende sprinkaanswerm val massas Makosa nou die kolonie binne.

Gordon het opgestaan en drie verskillende riviermonde op die kaart aangewys en die Hoës het gekyk en hulle koppe oor al drie geskud.

“Volksverhuisings is nie ongewoon nie,” sê Nederburg. “Ons ken dit in Europa, die ou Hunne, Franke, Gote, Vandale. Sulke verskynsels is natuurlik.”

Onwaar. Trekbokke trek natuurlik, mense trek agter die behoeftes van die liggaam aan, bestendigheid, voedsel, ’n vrou, buit. William het voorgestel: “’n Berede grenswag is nodig. Nie soldate nie, gewapende kommando’s van dertig man, maandeliks afgelos.”

“Juis, meester,” beaam Woeke. “Oplaas praat hier ene met ’n bietjie verstand. Kommando’s. Skiet hulle t’rug oor die Keiskamma. En daardie bly dan hulle se land, en ons s’n is deuskant.” Woeke het oor Gordon se skouer geleun en ’n breë swart vingernael op Algoabaai gedruk om te wys hoe ver die inval gevorder is, toe vee hy sy bakhand oor die kaart asof hy krummels van ’n tafeldoek vee en met sy oë op die jonger Hoë, skuif hy sy oop hand stadig verder en verder weswaarts, oor die Houtenikwasland, die Langkloof en Klein-Karoo, Mosselbaai, oor Swellendam, die Overberg, Stellenbosch, tot by Tafelbaai, Robbeneiland. “Stop ons hom nie, kan jy maar jou pluim in rooi doop en dwarsoor dié hele boel skryf, ‘Land van de Caffres’.”

Rhenius het gelag en gehoes. Ha-ha. Onmoontlik. ’n Belaglike gedagte. Oordrywing. Woeke klink dronk.

“Miskien moet die Kamdebo se boere die ongerief van veeroof verdra eerder as om op die Kompanjie se koste oorlog te maak,” het die ouer Hoë voorgestel. Dít was destyds die Huwelikshof se voorstel ook: Kan jy nie maar verdra nie, Willie, eerder as die onaangenaamheid van ’n egskeiding? Dit verwag hulle van Graaff-Reinet se burgers. Die ouer Hoë het Kamdebo as ‘Champs de Bois’ uitgespreek: Skielik was daar ’n lowerryke groen oerwoud in die dor en klipperige Karoo en in dié woud was kabouters, poue, eenhorings, dwerge, feë.

Woeke het met ’n styfgeklemde vuis gestaan, ’n blink nattigheid het uit die hoek van sy oog langs sy neus af in sy baard gesukkel terwyl hy nadruklik pleit: “Nein! Keine Feen und Zwerge. Julle hoor my nie. Lieber Gott, waar moet dit heen? Moet Christenvolk onder die barbaar vergaan?”

Nederburg, die jonger Hoë, het ’n wit vinger berispend geskud. “Beteuel jou, kêrel. Dit is mense waarvan jy so smadelik praat.”

Nou het die humanisme Kaap toe gekom. Maar Woeke was ernstig oor die saak: “Nee, meester. Hulle kom nie vrede soek nie, net bees. Maar ek sal vir die boere sê wat ek hier gehoor het. Hulle gaan self moet sien kom klaar.”

Frijkenius het na Gordon gedraai om te vra: “Is hulle werklik so gewelddadig en diefagtig?”

William het gedink: Die kolonel kan nou uit Beutler se joernaal aanhaal, as hy dit ken. Maar Gordon het net ’n reël uit sy persoonlike dagboek, heerlik gepas by dié geleentheid, onthou: “Ek het nêrens op aarde vryer mense gesien nie, Eksellensie.” Hy was trots op die sin; dit illustreer sy ensiklopediese denke en wye ervaring aan hierdie vername oorsese besoekers.

Die Raad het onbegrypend gekyk, die twee Hoës het gewag. Vryer mense? Wat bedoel die kolonel? Polities of sosiaal? Nasionale vryheid, sê Rousseau, beteken om aan geen ander wil onderwerp te wees nie.

Woeke het probeer antwoord: “Maar jy wil nie hê hulle moet so vry onder jou rundvee wees nie. Ek skat hier bly nou tussen ses- en agduisend Makosa in ons deel. Wil jy meer syfers hê? Van die 112 plase tussen die Swartkops en Kowie is 106 verwoes. Meer as 70 000 stuks vee is weggevoer.”

Jy, jy? Hulle het nie verder geluister nie. Hulle, die Hoë Kommissarisse, moes ontslae raak van Woeke met sy dodelike tyding. Húlle kon nie bekostig wat hy verteenwoordig nie. Hoe durf hy om optrede vra? Die vent moet sy plek geleer word.

Toe sê Woeke die woorde waarmee hy hom verdoem: “Dié brawe Nuwe Tyd is geneig om die beskawende hand te onderdruk en die verderwende hand te ondersteun.”

Hoë Kommissaris Nederburg het sy oop regterhand gelig asof hy ’n eed sweer: “Swyg. Jy is die heiden, jy is self die barbaar. Die Kompanjie het geen kwessie met jul Makosa nie. Nie in die verlede nie, en nie nou nie. Ons smeer nie ons goeie naam swart nie.”

Hulle het Woeke sonder pensioen afgedank, die perd, wapens en verkyker van hom geëis, en begin dink aan wie hulle Graaff-Reinet se landdrosamp kon gee. ’n Vooruitstrewende man van die gewenste gehalte was nou moeilik te vind. Kolonel Gordon het nie so lank gelede nie met donker behae in die Raad gesê: “Die bedelaars wat deesdae die Kaapse leër bevolk sal met afsku uit die vaderland s’n geweer word. Ek sal hulle nie my stewels laat skoonmaak nie.” Dít sê hy van die bataljon wat sy eie naam dra. Laat watsenaam, die drostdy-klerk, maar vereers alleen op die oosgrens aangaan, sonder vlag, gesag, beleid of soldy.

Bogenoemde besluite is met twee teenstemme geneem. Sluysken het soos ’n muis daar gesit, geen woord oor sy grense of sy onderdane of die toevoer van skaap- en beesvleis vir die vloot en garnisoen gesê nie en ook nie gestem nie. Sonderling. Waarom is die man die werk gegee?

Hy het vir Woeke en sy Bossiesman verblyf in Saasveld aangebied en uit hul monde die verhaal van die Kaapse oosgrens neergeskryf, en daarna die ou Pruis gehelp om ’n lappie grond langs die Bergrivier te koop, tussen die perdetelers Melck en Kotzé, wat na hom sal omsien.

Hy het Gordon gevra: “Wat bedoel jy, Robert, dat jy nooit vryer mense geken het nie?”

“Ongeïnhibeerd. Volgens ons maatstaf wetteloos.”

“Waarom het jy dit nie gesê nie?”

“Daardie twee is humaniste, dis nou die fatsoen. Luister jy na my: Die Kompanjie is nie sterk genoeg vir al daardie Makosa nie.”

1795

Подняться наверх