Читать книгу In die buitenste ruimte - Danie Marais - Страница 16

Gebed in ’n Boeing

Оглавление

Op pad terug Duitsland toe

het ek die Sahara

soos God se pinkie-afdruk tjoepstil

onder my

sien lê.

Ek het gedink aan die vakansie,

aan alles wat verby is

en per ongeluk gebid

in Afrikaans: O Here van my ouma

laat staan ons tog nie soos daai oompie

wat vrek en trek aan ’n bewerige sigaret

in die wagkamer met vuil plastiekstoele nie;

alleen soos skytbang

in ons ou ekkies nie.

Laat ons tog een keer nog

soos op ’n kleuterpartytjie

klim en inbondel

in my oorlede oupa se ’74 bruin Audi

en gaan ry met die oop pad – die Groot-Karoo

agter Jean se vuil voete op die dashboard

as ons sing en lawaai

soos die son sing en swaai

aan die truspieëltjie.

Laat ons die vensters wyd oopdraai

dat ons ons harte mag hoor rumoer

soos ’n somernag vol krieke

dat ons ons verste verlang kan beluister

soos ’n ou gunsteling

soos vir Valiant en vir Koos

tot ek en Ciel en Jean

so saam onder deur die maan

oorloop soos die Gariepdam donder

oor die rand

van die nag se wydste kant.

In die buitenste ruimte

Подняться наверх