Читать книгу In die buitenste ruimte - Danie Marais - Страница 17

Ná die vakansie

Оглавление

Die vakansie is verby.

Ek en Jy

weer afwesig saam

om ons oggendkoffie.

Ons eet ontbyt

want die wekker sê dis oggend,

maar dis nog winternag buite.

Jy kyk stip nêrens

iewers op die kombuisvloer

en ek staar rigting koffiemasjien.

Tot die soutpotjie

dit nie meer kan hou nie,

sy arms in die lug gooi,

skreeu en hardloop

gil en stort

oor die rand van die tafel.

Morsdood, maar ons, ons drink koffie –

jy joune,

ek myne.

Ek MOET gaan skoolhou.

Ek MOET oor 15 minute

by die bushalte wees.

Ek wonder waar ek die moed vandaan moet kry

om in die bus te klim

wat my skool toe sal vat.

Ek hou van kinders,

maar as daar nie hoop vir Suid-Afrika is nie

dan

Ek meen daar kan tog nie hoop vir Suid-Afrika wees nie

want anders sal ek mos nie hier sit in Duitsland

en skoolhou vir Duitse kindertjies nie,

of hoe?

En as daar nie hoop vir Suid-Afrika is nie

is daar ook nie meer hoop vir my kinderdae nie.

Ek kan nie sonder my kinderdae nie.

In die buitenste ruimte

Подняться наверх