Читать книгу In die buitenste ruimte - Danie Marais - Страница 6

’n Pass op ’n pap hart

Оглавление

Twee Vrydae gelede

– die eerste keer in ’n lang tyd –

maak ’n meisie ’n pass op my.

Veral toe sy hoor

ek kom van ver vir ’n ander vrou.

Gesê dis wonderlik,

jy’t jou hart gevolg.

O, as iemand so iets vir haar sou doen …

Gesê sy’s moeg om Sondae in Bremen alleen wakker te word.

En ek sê ek’s dalk bietjie dronk,

maar dit werk nie so nie.

Die hart is ’n erdwurm – jy kan hom nie volg nie,

jy sny net stukke wurm af,

aspris of per ongeluk,

en hulle sukkel blind aan

in die seesand van kleintyd

in ander tale, in ouma se Bybel, in jou ma’le se bedkassie,

in ou girlfriends se foto’s …

Ek sê: snags as die huise asemophou luister

hoe die maan ou geheime in kat-ore fluister,

weet jy die hart se brûe bly onverbrand

selfs al woon jy ver

in ’n ander land.

In die buitenste ruimte

Подняться наверх