Читать книгу In die buitenste ruimte - Danie Marais - Страница 7

Up so close

Оглавление

A writer is essentially a spy,

a writer is essentially a crook.

– Anne Sexton, “The Black Art”

Nick en ek en ons lewens aan Schmizz se lang bar counter –

Saterdagaand se Sondagmôre

lank ná twaalf.

Nick vertel van hulle huiskoop.

Hy’s nou diep in die skuld,

maar Tomas is so mal oor die huis, en die tuin.

Nick sê hy voel nou erg bourgeois,

maar hy wil ’n hond ook hê.

En ek dag, soos mense maar wil kinders hê,

maar ek sê dit nie.

Ek sê ek dink hierdie burgerlik of nieburgerlik wees

is sommer stront.

Dit sou jammer wees

as hulle blasé was oor die huis.

Tomas het grootgeword in ’n hol blok beton in Oos-Berlyn –

dis great dat hulle nou ’n plek met ’n kaggel en ’n tuin kan bekostig.

Nick vra of ek nie vroeër vanaand

bietjie ongeduldig was met my vrou nie –

die arme ding is immers op krukke.

Ek sê ja dis seker waar,

maar dis asof ek so half voel

dat sy amper aspris gaan val het met haar rollerblades.

Net sodat ek nou weer alles moet doen,

terwyl ek ondersteuning wil hê met my tesis.

Ek’s seker maar nog suur

oor sy destyds met haar “Diplomarbeit” nooit rêrig dankie gesê het

vir al die skottelgoed en inkopies en wasgoed nie.

Ag, ek weet,

dis seker kleinlik,

maar wat weet jy in elk geval van die mense

wat jou bed en lewe deel?

Ek sê dis soos daai lekker song van Cake:

Up so close

I never get to see your face

Microscope

I might as well be out in space

Ons Irish coffees kom,

Nick steek ’n sigaret op

en ek bedel ook een.

“Wanneer laas het julle seks gehad?” vra Nick.

“Twee naweke gelede,” antwoord ek.

Ja, dis by hulle ook maar so,

dis seker maar normaal,

sê hy, amper tevrede.

Ek ken mos vir Jens met die lang goue engellokkies?

vra hy, en ja natuurlik, sê ek.

Toe Tomas in Italië was op daai ekskursie, toe’t hulle ’n affair gehad,

sê Nick skuldig.

Hy kon nie help nie – “that sinewy body”.

Jens is sterk, sê hy, gooi jou op die bed rond, hy’s ’n dier,

dit was ongelooflik,

dit was die beste,

dit was so goed soos met Tomas reg aan die begin,

ses jaar gelede.

En Tomas wéét en dis cool en Tomas het ook al

’n “Seitensprung” gehad en dit was minder cool

want by Tomas is so iets net ernstiger, meer intens,

meer emosioneel.

Ek is seker bietjie stil

want Nick stotter nou van te vinnig vertel,

vat aan sy voorkop,

vryf hard en gewroeg oor die plek waar hy pan begin word.

Hy voel skuldig, sê hy, dat Tomas se maag hom pla,

maar dit is so, dis,

hy weet nie maar hy’s soms sommer net seksbesete,

hy hy . . .

hy’s so lief vir Tomas –

elke keer as dit reën

dra Tomas hulle potplante uit op die balkon,

net sodat hulle die reën kan voel.

Dan wil hy altyd

vir forever

net saam met Tomas wees.

In die buitenste ruimte

Подняться наверх