Читать книгу In die buitenste ruimte - Danie Marais - Страница 18

Lank ná die hartseer man

Оглавление

Lank ná die hartseer man

in die reëndag se stadige bus

kom klim het

om skuins voor my

te kom sit

op die sagte bank

om deur die nat ruit

te kyk

– te kyk nes ’n kind van agter ’n kombuisvenster

hoe Oldenburg se lente haar bes probeer

met ’n rooi emmertjie en ’n grafie in ’n sandput

in die reën –

het ek oorgeklim

in die skemertrein na Bremen

om nog steeds te sit en helder te onthou van verbydinge

van BMX’e en Old Brown Sherry Menlopark se vyfde rugbyspan

van al daai watertand navy-blou pantyhose

onder skooluniforms in die vierkant

van wag vir my ma by die skoolhek

met ’n asem vol Camel en Clorets

van guitar solo’s voor histeriese groupies

met ’n tennisraket op ’n deurmekaar bed

van my eerste double-deck tape recorder

met detachable speakers van Goldstar.

En toe kom ’n ou song line na my toe terug

sodat ek hom voel soos op sestien:

and at the bottom of our hearts

we felt the final cut

En skielik sit ek verleë soos ’n Kersboom op Nuwejaar

in die skemertrein na Bremen

en die oomblik word so bittersoet waar

soos daai reënerige Augustus-oggend

met haar en Leonard Cohen in ’n karavaanpark in Gordonsbaai

toe my virginity skielik verby was

soos hoërskool

soos eerste liefde

en ’n naweek by die see.

In die buitenste ruimte

Подняться наверх