Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 68
Grootstad
ОглавлениеEk sal jou toon die oordeel van die
groot hoer . . . die vrou wat jy gesien
het, is die groot stad wat heerskappy
voer oor die konings van die aarde.
OPENBARING
In glanse van die son se ondergang
sien ek rooklokke van haar hare hang,
sy wat die snoere van die straat se ligte
bind om haar hals en smal gewrigte
en met ons glimlag wat haar dien,
agt uur in fabriek, masjien.
Maar as ons in haar arms die hoof
van digter en profeet beloof,
beloof om skepe in die oggenduur
weer om kanaries en kaneel te stuur,
te sorg dat sy alleen onder die son
die geheim ken van die groot kanon,
voel ons tussen heupe van haar skoot
smoor ons as saad kunsmatig dood
en deur haar tuimel torings, skure,
in die eindbrand van die vure.
In glanse van ’n son se ondergang
sien ons rooklokke van haar hare hang.