Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 74
Pasiënt
ОглавлениеEn sal ’n rooikruiswa vandag miskien
hom vinnig wegvoer na die stil balkon
waar hy kan mymer in die môreson
terwyl die blonde vrou hom teer bedien?
Daar sal hy skepe in die hawe sien
of heeldag in pantoffels en japon
die ewigheid ontdek teen die plafon
– hy en sy wond in kamer nommer tien.
Maar hy besef die arts sal stetoskoop
en bril neerlê en so terloops opmerk:
“Jou hart en niere, alles is gesond.
Neem deel aan sport, besoek die bioskoop
en elke jaar die Strand.” Dus, van werk
na kroeg, van vrou na werk sleep hy sy wond.